Hieronder is 'n lys van vorige oordenkings met 'n skakel wat lei na teks en 'n klankgreep.
(Kliek op die skakel en dan op die naam of afpyltjie om die boodskap te sien of die skakel te kry vir die klankgreep.)
Maak reg. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer iemand die wet oortree, voel ons dat dit reg is as die persoon gestraf word. Wanneer iemand verkeerdelik teenoor ons optree, voel ons ook dat dit net meer as reg is dat die persoon ten minste om verskoning vra. Maar is dit genoeg? Word verskonings nie maar leeg en sonder bedoeling nie?
En as ons iets verkeerd doen? Aan iemand anders? Wat dan? Is ’n verskoning genoeg?
In meeste gevalle, as dit opreg is en daar ware berou is, behoort dit reg te wees. Tog is vergifnis, sonder verantwoordbaarheid, nie ware vergifnis nie. Ons moet “betaal” vir wat ons doen. Só het die Here destyds ook die Israeliete geleer:
‘5Die Here het met Moses gepraat en gesê: 6“Sê vir die Israeliete, ‘Wanneer 'n man of 'n vrou enige sonde begaan wat 'n mens kan doen, sodat daar ontrou teenoor die Here gepleeg word, is daardie persoon skuldig. 7Hulle moet hulle sonde wat hulle gedoen het, bely. Die persoon moet ten volle vergoeding gee vir wat hy verkeerd gedoen het en 'n vyfde daarvan byvoeg. Hy moet dit gee aan wie hy ook al benadeel het. 8As iemand egter geen naaste familielid het aan wie die skuld vergoed kan word nie, val die verskuldigde bedrag terug aan die Here. Dit is tot voordeel van die priester, bo en behalwe die ram vir versoening waarmee die priester vir die persoon versoening moet doen.” – Numeri 5:5-8 AFR20
Die terugbetaling, en nogal met ’n rentekoers van 20%, is nie net om jou te laat betaal vir die ontrou aan die Here nie. Dit is juis daar om jou te leer om verantwoordelik te wees. Dit leer jou om die verhouding met die persoon teenoor wie jy verkeerd opgetree het weer te herstel.
Nie alle sondes het geldwaarde nie, maar ons moet juis nog meer doen om verhoudings dan te herstel. Die wonderlike ding wat Jesus ons kom leer het oor vergifnis, is dat ons – as ons verkeerd aangedoen is – kan vergewe en van ons kant af kan werk om die ander persoon hierdie les in liefde te leer.
As jy dalk iewers aangejaag het, gaan betaal jou “skuld”. Maak reg. As jy verontreg is, reik uit in liefde na die ander persoon. Maak daai verhoudings reg.
As ons maar kon teruggaan... (Kliek hier vir die klankgreep)
‘1Die hele volksvergadering van die Israeliete het op bevel van die Here, volgens hulle trekgroepe, weggetrek uit die Sinwoestyn. Hulle het by Refidim kamp opgeslaan, maar daar was nie vir die volk water om te drink nie. 2Die volk het Moses verwyt; hulle het gesê: “Gee vir ons water sodat ons kan drink!” Moses het hulle geantwoord: “Waarom verwyt julle my? Waarom daag julle die Here uit?” 3Maar die volk het daar gesmag na water, en die volk het teen Moses gemor en gesê: “Waarvoor het jy ons uit Egipte laat optrek? Om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat sterf?”’ – Eksodus 17:1-3 AFR20
Dit is baie maklik om terug te dink aan die “goeie ou dae” wanneer dinge tans nie goed gaan nie. Dis soms lekker om daaraan te dink, maar dit is nie baie gesond nie. Wanneer jy dink aan hoe dinge was en verlang daarna dat dit weer so sal wees, dan leef jy in die verlede. Soms is die verlede nie regtig so goed gewees nie, maar as gevolg van jou huidige omstandighede, lyk dit beter.
Die Israeliete was slawe in Egipte. Dinge het regtig sleg gegaan met hulle. En nou is hulle saam met God... in die woestyn. Hulle is dors en verlang eerder na die water en kospotte van slawerny – dit lyk beter as hulle huidige omstandighede! Wat gebeur net daarna? God voorsien water uit ’n rots! In die woestyn!
Ons mense ontbreek gewoonlik geduld. Ons maak gou afleidings en dink dat dinge beter was in die verlede. Ons vergeet dat God met ons is. Ons vergeet dat Hy op Sy manier werk en dat Hy kan en sal voorsien. Ons maak verkeerde aannames oor ons situasies en oor God se voorsienigheid. Ons maak ons woestyn warmer en droër as wat dit eintlik is. Ons vergeet dat God vir ons voorsien – selfs uit ’n rots in die woestyn. Hy voorsien die water van lewe. ’n Bron van hoop, troos, vreugde of wat ook al jy nodig het.
God voorsien altyd. Soms vanuit die vreemdste plekke en mense. Soms moet ons ons deel doen en bietjie soek. Wees geduldig. Vertrou op God.
Waarom slaap U, Here? (Kliek hier vir die klankgreep)
Kyk God soms eerder in die ander rigting? Het Hy dalk van ons vergeet? Gee Hy nog om oor wat met ons gebeur elke dag?
Dit klink dalk soos vreemde vrae en vrae wat ons nie mag vra nie. Tog is dit vrae waarmee die mens nog altyd in moeilike tye worstel. Selfs in die tye toe Israel verslaan, onderdruk en onteer was, het hulle hierdie gedagtes gehad. Hulle kon nie verstaan dat slegte dinge met hulle gebeur terwyl hulle gehoorsaam was aan God se verbond nie. Psalm 44 is ’n goeie voorbeeld hiervan:
“21As ons die Naam van ons God nie aangeroep het nie
en 'n vreemde god om hulp gevra het,
22sou God dit dan nie kon vasstel nie?
Hy ken immers die geheime van die hart.
23Dit is oor U dat die dood ons gedurig tref,
dat ons soos slagskape behandel word.
24Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here?
Word tog wakker! Moet ons nie vir altyd verstoot nie!
25Waarom draai U U rug vir ons?
Waarom steur U U nie aan ons ellende en smaad nie?
26Ons is tot in die stof verneder,
ons is teen die grond.
27Kom ons tog te hulp
en bevry ons, dat so u troue liefde blyk.”
– Psalm 44:21-27 AFR83
Alhoewel Psalm 44 meer soos ’n klaaglied klink, weerspieël dit hoop. Die Koragiete (die digters van hierdie psalm) weet dat God wel getrou is en dat Sy troue liefde wel kan en sal seëvier. Daarom vra hulle in vers 27 dat God Sy troue liefde sal wys. Paulus skryf ook in Romeine 8 hieroor en kleur die prentjie met baie meer hoop in wanneer hy vers 23 van Psalm 44 opvolg met ’n oortuiging en bevestiging van God se troue liefde wat in Jesus Christus aan ons bewys is.
Onthou dus elke dag (in die woorde van Paulus in Romeine 8:37-39 AFR20):
“37Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. 38Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, 39nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.”
Geloof of dade? (Kliek hier vir die klankgreep)
As gelowiges glo ons dat ons gered word uit genade alleen. Niks wat ons uit ons eie doen, kan ons red nie. Niks wat ons doen, kan ook veroorsaak dat God minder of meer lief is vir ons nie. Tog is dit nie rede of verskoning dat ons maar kan leef en doen net wat ons wil nie. As gereddes moet ons nie dink dat ons nie geoordeel gaan word nie. Maar hoe gaan ons geoordeel word? Is dit anders as dié wat gekies het om Jesus Christus as Verlosser te verwerp?
Die kort antwoord is: ja. Maar, dit is nie so eenvoudig nie. Sien, as ons dit nie mooi verstaan nie, laat ons (en ander) onsself gou glo dat ons eintlik maar kan doen net wat ons wil – solank ons darem bely dat ons glo.
Paulus skryf in 2 Korintiërs 5:10 AFR20:
“Want ons moet almal voor die regterstoel van •Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy in sy liggaamlike bestaan gedoen het, of dit goed of kwaad was.”
Ons is gered uit genade alleen en ons word geregverdig deur geloof alleen en nie deur werke nie, maar ons moet nogsteeds die vrug van die geloof dra. Hoe dan anders? As jy waarlik glo, gaan jy mos nie aspris nonsens aanjaag nie. Onthou, Jesus self het gesê in Matteus 7:21 AFR20:
“Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die •koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele.”
Ons hoef nie te weet of te bekommer oor presies wat die oordeel is nie. Ons moet net weet en glo dat die Regter regverdig is en dat ons dade wel saak maak, want dit reflekteer wat binne ons aangaan.
Mag die heerlikheid en genade van ons Here Jesus Christus – die Verlosser van ons siele – wel in jou dade reflekteer.
Hoekom is ek so alleen? (Kliek hier vir die klankgreep)
Baie keer dink ons dat ons dinge eerder alleen kan en moet doen. Ons moet mos darem op ons eie voete kan staan... Gemeenskap is nie veronderstel om ’n luuksheid te wees van kerk nie – dis ’n noodsaaklikheid. God het die mens gemaak om goeie, gesonde verhoudings met ander mense te bou – verhoudings wat gebou is op God se liefde vir ons almal en wat voed op God se teenwoordigheid in ons lewens. Dit is wat Adam en Eva oorspronklik ervaar het – dit was hoe God eintlik beplan het vir die mens om te leef, maar ongelukkig het ons keuse vir sonde dit alles bederf.
Die Prediker het hierdie waarheid ook besef, toe hy skryf in Prediker 4:8-12 AFR83:
“8daar was 'n man wat alleen was, sonder seun of broer. Tog was daar nie 'n einde aan al sy inspanning nie en was hy steeds op soek na meer rykdom. Hy moes later sê: “Vir wie sloof ek my af en ontsê ek my die aangename dinge?”
Ook hier kom dit tot niks.
Dit bly 'n harde saak.
9Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. 10As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. 11As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? 12Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou breek nie maklik nie.”
Toe die kerk nog jonk was, het mense ook agtergekom dat hulle mekaar nodig het en mekaar se laste moet dra. Handelinge 2:44-47 AFR20 sê:
“44Al die gelowiges was bymekaar en het alles gemeenskaplik besit. 45Hulle het hulle eiendom en besittings verkoop en aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het eensgesind volhard om die tempelterrein daagliks te besoek, aan huis die brood te breek en hulle maaltye met uitbundige blydskap en met opregte harte te geniet. 47Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.”
Dit is soms nodig dat ons mekaar optel, sommer net ’n drukkie gee of net ’n glimlag. Ander dae het ons nodig om mekaar streng aan te spreek en reg te help. Feit bly staan: ons het mekaar nodig. Ons het die kerk nodig. Dit is God se manier om ons te help en ook Sy evangelie die wêreld in te stuur.
My gebed vir jou vandag is dat God jou sal gebruik om ander te help en ook ander te help om jou te help. Dat jy sal besef jy is deel van God se kerk en dat jy jou plek sal vind en jou gawes en talente sal aanwend tot eer van Sy Naam.
Die Skepping getuig! (Kliek hier vir die klankgreep)
Toe dinge baie moeilik raak vir Job, het sy vriende hom probeer oortuig dat dit sy sonde was wat die oorsaak was van alles wat skeefloop. Dit was amper asof hulle die Hindoe oortuiging van Karma aan hom wou verkoop. Maar Job het van beter geweet. Hy het geweet dat as ’n kind van God sal daar nogsteeds slegte dinge ook met jou gebeur (Job 12:4). Selfs met bose mense sal dit goed gaan (vgl. Job 12:6; Psalm 37). Dis nie God se skuld nie. Dis die gevalle mensdom s’n. Dan, as sy vriende nogsteeds nie oortuig is nie, daag Job sy skeptiese vriende uit met fantastiese sarkasme as hy hulle herinner aan ’n paar dinge:
7“Maar gaan vra gerus die diere – hulle sal jou leer, en die voëls van die hemel – hulle sal jou inlig. 8Of gaan kla by die aarde, wat jou sal leer; die visse van die see sal jou vertel. 9Wie onder hulle almal weet nie dat die hand van die Here dit gedoen het nie? 10Dit is Hy in wie se hand die lewe is van alles wat leef, ook die asem van elke mens se liggaam.” – Job 12:7-10
Paulus het dit ook besef, toe hy in Romeine 1:20 sê: “20Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar.”
Van die grootste groot tot die kleinste klein: dit alles is deur God geskape en is uiteindelik wel onder Sy beheer. So ook is al ons prestasies en selfs ons teleurstellings nie te klein of groot voor God nie. Hy kan nogsteeds Sy doel daardeur bereik. Sy liefde, sorg en genade bedek steeds alles. Ons sien dit nie raak wanneer dinge moeilik is nie, tog getuig die Skepping steeds daarvan. Die sondeval het ons verblind dat ons dit nie meer so maklik raaksien nie en daarom het Jesus se offer aan die kruis weer hierdie band met God, die volmaakte Skepper, kom herstel.
Mag ons Skepper se Skepping jou vandag en elke dag herinner dat jy versoen is deur Jesus Christus met die ware, ewige God.
Vrede vir julle almal!
Vriendelikheid is ’n keuse. (Kliek hier vir die klankgreep)
Elke dag moet ons baie keuses maak. Ons keuses word soms baie bemoeilik as ons in die midde is van mense wat kwaai, skoorsoekerig of baie negatief is. Dit is dan nie maklik om positief en liefdevol te bly nie. Hoor wat sê 2 Timoteus 2:24-26 AFR20:
24'n Dienskneg van die Here moenie rusie maak nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, geduldig, 25iemand wat teenstanders met sagtheid teregwys. Miskien mag God hulle tot bekering bring, sodat hulle die waarheid kan ken, 26en hulle tot hulle sinne laat kom – vry van die strik van die Duiwel, deur wie hulle gevange gehou word om te doen wat hy wil hê.
Ja, vriendelikheid is ’n keuse. Dis nie altyd ’n maklike keuse nie, maar ons kan kies hoe ons optree in sekere situasies. Ons hoef nie die persone te wees wat kwaai, skoorsoekerig en negatief is nie. As diensknegte van die Here, moet ons vreedsaam wees. Ons moet vrede bewerk.
Konflik kan nie altyd vermy word nie, maar ons kan kies hoe ons dit hanteer. Het jy geweet jy kan ook wegloop van konflik af? Jy hoef nie te ontplof nie. Loop weg, kalmeer en wag tot jy vreedsaam en vriendelik is, voordat jy die konflik hanteer.
Kies vriendelikheid. Wie weet? Miskien lei jou vriendelikheid tot die bekering van ander. Geniet God se vrede vandag!
Die geloof (en sorg) van 'n kind. (Kliek hier vir die klankgreep)
1Naäman, die bevelvoerder van die koning van Aram se leër, was 'n invloedryke man by sy heer, en hoog in aansien, want deur hom het die Here aan Aram 'n oorwinning gegee. Maar die man, 'n dapper kryger, het 'n velsiekte gehad. 2Die Arameërs het in roofbendes uitgetrek en 'n klein dogtertjie uit die land Israel weggevoer. Sy was in diens van Naäman se vrou. 3Sy het vir haar eienares gesê: “As my heer maar net voor die profeet kon verskyn wat in Samaria is, dan sou hy hom van sy velsiekte verlos.” – 2 Konings 5:1-3 AFR20
Meeste van ons ken hierdie verhaal van Naäman se genesing (gaan lees gerus die hele 2 Konings 5 as jy dit nie ken nie). Gewoonlik sien ons die wonderlike werk wat God doen deur Sy profeet Elisa hier raak, maar ons kyk heeltemal bo-oor hierdie klein slawe dogtertjie. ’n Jong Israeliese dogtertjie wat nou ’n slavin is. Sy het alle reg gehad – volgens ons menslike oordeel – om eintlik genot te put uit Naäman se lyding. Ons is mos so... Lekker! Boontjie kry sy loontjie, of: Ja, dis die blinde sambok. Kry vir jou!
Maar nie hierdie dogtertjie nie. Sy het baie deernis en empatie met Naäman en Sy weet dat God wondere kan verrig deur Sy mense: “As my heer maar net voor die profeet kon verskyn wat in Samaria is, dan sou hy hom van sy velsiekte verlos.”
God kan ons ons ook só gebruik – nes hierdie jong slawe dogtertjie – om Sy wil te laat geskied en selfs wondere te laat gebeur. Ons moet net dáár wees, beskikbaar wees. Ons hoef nie ryk, magtig of belangrik te wees nie – net beskikbaar.
Mag die Here se sorg en liefde deur jou geloof in Hom tot uiting kom in die wêreld.
Liefde vir die vreemdeling. (Kliek hier vir die klankgreep)
Om ambassadeurs te wees vir God, beteken om oral en tussen alle mense Sy lig te laat skyn. In Suid-Afrika, die reënboognasie, het ons ’n wye verskeidenheid mense en kulture. Ons het ook heelwat mense wat van Zimbabwe, Botswana, Zambië, Mosambiek en ander lande kom. Dit is nie altyd maklik om goedgesind te wees teenoor almal – veral nie as jy sien hoe buitelanders werk kry en jou eie mense sukkel daarmee nie. Of dat hulle voorspoed geniet, terwyl ander in bouvallige, onveilige sink huisies moet bly. Dit is ook nie lekker om te hoor of sien hoe jong mense se lewens verwoes word deur Nigeriese of Senegalese dwelmhandelaars nie. Hoe kan ons lief wees vir hierdie mense?
Toe Israel nog getrek het in die Woestyn, het talle volke ook by hulle aangesluit en saamgetrek. Die mense wou ook graag deel word van die volk en God aanbid. Israel het nie hiervan gehou nie en toe hulle in beloofde land kom, het hierdie ander mense saamgekom. Hoor wat sê God toe vir hulle:
33“ ‘Wanneer 'n vreemdeling by jou verblyf het in julle land, mag julle hom nie verdruk nie. 34Die vreemdeling wat verblyf by julle het, moet vir julle net soos 'n gebore Israeliet by julle wees. Jy moet vir hom lief wees soos vir jouself. Julle was immers self vreemdelinge in Egipteland. Ek is die Here julle God.” – Levitikus 19:33-34 AFR20
God herinner die volk van hul verlange na Hom en ’n plek om Hom te aanbid en dien. Hy gee dan aan hulle ’n land, sodat dit kan gebeur. Maar, soos die mens nou maar is, sal hulle mos begin fout vind daarmee. Hulle wil God vir hulleself hê.
Miskien is die vreemdelinge in jou lewe nie eers buitelanders nie. Miskien is dit jou buurman of -vrou wat jy nog nie ken nie. Miskien is dit jou gemeente-vriend of -vriendin wat graag ook ’n dieper verhouding met God wil hê. Miskien is dit die kassier by die winkel, die petroljoggie, die tuinier, huisbediende, die dwelmhandelaar, die arm bedelaar buite KFC, of dalk jou eie familie...
Jesus self het gesê dat ons die vreemdeling moet huisves, voed, besoek, klere gee en versorg (Matteus 25:31-46). Hoeveel anders sal hierdie wêreld wees as ons vreemdelinge begin behandel soos vriende en familie – soos geliefdes. God het hulle lief. Probeer dit. Probeer om hierdie mense met God se liefde te benader. Dit is deel van die Groot Opdrag. Dit is deel van die boodskap van versoening (gister se dagstukkie) wat aan ons toevertrou is.
Mag die Here se liefde jou lei in hierdie opdrag.
Roeping. (Kliek hier vir die klankgreep)
“17Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.” – 2 Korintiërs 5:17-19
Wanneer jy wedergebore is, beteken dit juis dít: wedergebore. Jy is ’n nuwe skepsel, ’n nuwe mens. Jy het ’n nuwe identiteit wat bepaal hoe jy praat, optree, hoe jy leef. Dit is baie belangrik dat jy dit besef, want as jy nie mooi besef wie jy is nie, gaan jy nie kan weet wat jy moet doen nie. As jy nie besef wie jy is in Christus nie en besef dat jy Syne is nie, gaan jy dit ook moeilik vind om God se stem en Sy plan vir jou lewe te hoor in die Woord en deur Sy Gees.
Ons roeping hou nie op by die vraag van “wat God wil hê vir my lewe” nie. Dit gaan veel wyer as dit. Ons roeping sluit almal in. Ons is gestuurdes in hierdie wêreld en ons moet elke dag saam met God stap – ons moet naby genoeg wees om Sy stem te hoor – sodat ons die boodskap van versoening met ’n liefdevolle God en Vader met die wêreld kan deel. Dit is nie net my werk, of net ander leraars se werk nie, maar ons almal s’n.
Onthou: daar is ’n verskil tussen jou werk en jou roeping. In ons werke het ons die voorreg om die gawes en talente wat God ons gegee het toe te pas, maar in ons roeping neem ons ons identiteit in Christus op en tree ons op as ambassadeurs vir God. Jou roeping kom ook deur in jou werk en in elke aspek van jou lewe.
Mag jy jou nuwe identiteit elke dag omhels en jou roeping leef met blydskap.
Hoe lyk jou siel se klere? (Kliek hier vir die klankgreep)
In die moderne wêreld van troues, stuur mense twee uitnodigings: een om aan te kondig dat mense die datum moet dagboek en dan ’n tweede formele een. Natuurlik met die huidige COVID regulasies, mag ons nie ’n bruilofsfees hou nie. Selfs met begrafnisse en roudienste moet jy ’n beperkte hoeveelheid mense nooi! In Jesus se tyd was die bruilof uitnodigings ook streng gewees. Jy moes antwoord, soos vandag RSVP, op die uitnodiging, want daar was net reggemaak vir ’n bepaalde hoeveelheid mense. Jesus vertel dan die gelykenis van die bruilof waar die mense nie wou bywoon nie in Matteus 22. Uiteindelik stuur die koning sy slawe om almal op straat bymekaar te maak en te deel in die bruilof, maar...:
“11Toe die koning ingaan om die gaste te sien, sien hy daar 'n man sonder 'n bruilofskleed aan. 12En hy vra hom, ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder 'n bruilofskleed?’ Maar die man het geswyg. 13Toe sê die koning vir die dienaars, ‘Bind sy voete en hande vas en gooi hom uit in die duisternis daarbuite.’ Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. 14Baie is immers geroep, maar min is uitgekies.” – Matteus 22:11-14
Voor Jesus se bediening het Johannes die Doper gekom om die mense voor te berei. Hy het mense gewaarsku om terug te draai na God en hulle sondes te bely, tog het die mense hulle nogsteeds nie daaraan gesteur nie. Dan kom Jesus...
Jesus kom en maak God se uitnodiging na die ewige bruilofsfees oop vir almal. Enigiemand wat waarlik berou het oor hul sondes en terugdraai na God, word ’n nuwe kleed aangetrek in Jesus Christus: ’n bruilofskleed. God gee in genade die fees en die middele wat nodig is om in te gaan en daar te bly. Jy kan nie met jou ou vuil sondige “klere” deel wees daarvan nie. As die Here jou roep en jy is gekies, moet jy ook van jou kant af die res van die voorbereiding doen. Jy het jou lewe op aarde om voor te berei vir die ewige fees. Hoe lyk jou siel se klere?
Draai om! (Kliek hier vir die klankgreep)
12“Maar selfs nou, keer terug na My met julle hele hart, vas en huil en rou,” is die uitspraak van die Here. 13Skeur julle harte, en nie julle klere nie, draai om na die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, geduldig en oorvloedig in troue liefde, Hy het berou oor die onheil wat Hy bring. – Joël 2:12-13
Die eerste stap om God se liefde, waarvan ons gister gepraat het, te begin ervaar en te begin leef, is ’n terugkeer na God. Dikwels gaan ons na die Here toe met allerhande versoeke en vrae, of ons verwag dat God te hulp moet snel met probleme – ons neem God se seën as vanselfsprekend. Die Israeliete was ook dikwels só gewees en dan kom antwoord God hulle deur die profeet Joël met ’n opdrag van Sy eie. En hierdie opdrag is gevul met ’n belofte van genade, barmhartigheid, geduld en ’n oorvloed liefde.
Deesdae wil almal konkrete antwoorde hê. Ons soek iets wat ons kan sien en voel. As ons vra vir brood, wil ons brood hê – nie meel nie. God werk nog altyd met beloftes. Hy voorsien in wat nodig is. Hy kweek geduld in geloof. Hy voorsien die middele en die insig om daarby uit te kom. Maar: as jy nie dit by Hóm gaan soek nie, gaan jy teleurgestel wees.
Om God te probeer verstaan, om Sy wil vir jou lewe te leer ken en om God te ken en Sy liefde in die wêreld uit te dra, moet jy by Hom wees. As ons verder lees in Joël 2, sien ons hoe die Here getrou is aan Sy beloftes en hoe Hy Hom ontferm oor Sy mense.
Keer terug na God. Draai om – weg van die verkeerde dinge. Wees gehoorsaam. Die Here “...is genadig en barmhartig, geduldig en oorvloedig in troue liefde, Hy het berou oor die onheil wat Hy bring.” Mag die Here Hom oor ons ontferm wanneer ons terugdraai na Hom. Seën en vrede vir julle!
Leer God ken. (Kliek hier vir die klankgreep)
Hoe dikwels sing ons liedere in die kerk en elders, maar besef nie regtig wat ons sing en bely nie? Neem verse 1 en 4 van Lied 334 van die Liedboek (NG en NHKA). Dit is ’n bekende lied. Maar dit is ook ’n belydenis, ’n verbintenis en ’n oorgawe aan God se wil:
"God is Liefde!" juig ons harte,
en bedink wat liefde doen:
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.
As die Vader in sy liefde
dan die sondaar maak tot kind,
mag sy Seun al meer gestalte
in ons doen en late vind!
Johannes sê: “Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.” – 1 Johannes 4:8 AFR20. Om God te ken, is om ware liefde te ken. Om deurlopend hierdie liefde te ervaar en dit toe te laat om ons emosies en ons motivering vir alles te verander. Motivering om ander lief te hê. Motivering vir liefdadigheid, barmhartigheid en sorg. Selfs motivering vir werk – watter werk jy ook al doen.
Wanneer ons God leer ken en ervaar in ons hele wese, kan dit nie anders dat ons benadering tot alles in die lewe ook verander nie. Ons verhoudings, ons werk, ons gemoedstoestand – alles verander as gevolg van die dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het.
Hoe vind Jesus gestalte in jou lewe? Is dit ’n weerspieëling van jou eie kennis, begeertes en ervarings? Of is dit van ware kennis oor Hom, omdat jy Hom ken? Leer Hom ken in Sy Woord en deur die liefde wat ons deel in Jesus Christus se kerk.
God is liefde. Ken Hom. Laat jou hart juig! Mag Sy Seun al meer gestalte in al ons doen en late vind!
Wat om deesdae te glo... (Kliek hier vir die klankgreep)
Hoe verstaan ons wat aangaan in die wêreld? Hoe verstaan ons onsself? Hoe sien ons God raak deur die lae van oogklappe wat die wêreld ons aansit? Hoe verstaan ons ons doel in hierdie wêreld?
Wonder jy ook hieroor? God openbaar Homself en Sy plan aan ons en al wat Hy van ons vra, is om te glo. Te luister... en te glo.
Regdeur die Bybel sien ons hoe God deur Sy profete, drome, visioene en ander maniere met Sy mense kommunikeer. Regdeur die geskiedenis van die mens, kommunikeer God Sy plan met die mens en oral waarsku die Here dat daar nie aan Sy boodskap vir ons bygevoeg of weggeneem moet word nie. Daarom het ons vandag nog die Bybel. God se Woord: Die manier waarop ’n oneindig liefdevolle God steeds Sy plan vir ons openbaar. Hoe weet ons wat dit is? Hoe volg ons dit? Paulus se raad aan jong Timoteus is steeds geldig vir ons:
“12Almal wat godvresend in •Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word. 13Slegte mense en bedrieërs sal van kwaad tot erger gaan, deurdat hulle ander mislei, en mislei word. 14Maar jy, bly jy by dit wat jy geleer het en waarvan jy vas oortuig is, omdat jy weet by wie jy dit geleer het, 15en omdat jy van kleins af die Heilige Skrifte ken wat jou die wysheid kan gee tot verlossing deur die geloof in Christus Jesus. 16Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, 17sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.” – 2 Timoteus 3:12-17 AFR20
Moenie die halwe waarhede glo wat die wêreld bied nie. Moenie mislei word deur valse leer en leraars wat hulle waarheid baseer op menslike waardes nie. Glo die Woord van God. Bestudeer dit. Spandeer tyd daarmee en bespreek dit met medegelowiges. Vra God om dit te openbaar en te verduidelik. God se waarheid moet ons lei – al verstaan ons dit nie altyd nie en al is dit nie altyd waarvan ons hou nie.
Mag jy jou verlustig in God se Woord en vrede vind in Sy teenwoordigheid.
Godverlate. (Kliek hier vir die klankgreep)
Die volk van Israel en baie individue in die verlede het al gedink dat die Here hulle verlaat het; dat hulle alleen deur moeilike tye moet gaan. Soms lyk die uitdagings voor ons groter as reuse. Ons kyk daarna met mense-oë en dan lyk dit of ons alleen voor dit staan. Oorwinning lyk onmoontlik.
Die klaagliedere van Jeremia wys hoe Jeremia ook eers so gedink het, maar dan besef hy dat God nooit Sy mense verlaat het nie – en Hy sal nooit nie. Tog verlaat Sy mense Hom gereeld. Daarom kla, rou en huil Jeremia hieroor. Maar nie sonder hoop nie. Hy besef dat God getrou is en dat geduld en vertroue in God se goedheid en liefde ons help om vrede te vind in God se wil.
“21Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
22deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
23dit is elke môre nuut.
U trou is groot.
24Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom.
25Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;
26dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here;”
– Klaagliedere 3:21-26 AFR83
Weet jy, Jesus het ook die groot kloof tussen verlatenheid en hoop geken. Aan die kruis op Golgota , in Sy eie pyn en dood, roep Hy uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Matteus 27:46). Die verlatenheid van die kruis, word uiteindelik die hoop van ewige lewe vir alle mense, toe Jesus op die derde dag die dood vir ons almal oorwin.
Gevoelens van verlatenheid, hartseer, worsteling en pyn is alles net tydelik, maar vrede, heelheid, vreugde en genesing vir ons siele – dis permanent en ewig. Jeremia het dit ook geweet en daarom is Sy hoop op die Here.
Mag jy Hom vertrou met alles in jou lewe. Vrede!
Boeretroos... (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek onthou as kind hoe my ma se boeretroos – ’n lekker koppie koffie – gehelp het vir amper enige moeilikheid. Stukkende knieë, gebreekte hart, of sommer net mislikheid. My ma het geweet hoe om daardie koppie koffie net reg voor te berei. Die rustigheid en liefde in die voorbereiding (en seker die kafeïen) moes seker ’n rol gespeel het.
Partykeer is daar sukkel, struweling of pyn in ons lewens. Tog deur alles, is daar hoop. Hoor wat sê Psalm 119:
47In u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my verlustig.
48Op u gebooie, wat ek liefhet, sal ek al my hoop vestig.
U voorskrifte sal my bybly.
49Onthou tog u woord aan my,
die woord waarop U my laat hoop het.
50Dit is my troos in my ellende:
dat u belofte my in die lewe hou.
– Psalm 119:47-50 AFR83
Al lyk dinge nie altyd so nie, is God se plan – dit wat Hy besig is om om te doen – uiteindelik baie beter as dit waardeur jy gaan. Sy troos, Sy teenwoordigheid – dít wat Hy besig is om voor te berei vir ’n ewigheid saam met Hom – Sy belofte, is baie beter as enige slegte ding wat ons in hierdie wêreld kan deurgaan. Sy teenwoordigheid deur dit alles, is ons hoop.
Hou by God se voorskrifte. Bly gehoorsaam. Verduur die spot en pyn en sukkel in ’n wêreld wat nie wil verstaan nie. Vestig jou hoop in God se gebooie en in Sy belofte. Jesus het gesê: “En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” – Matteus 28:20b AFR20.
Jammer Mammie, maar beter troos as hierdie is daar nie!
Onveranderlik. (Kliek hier vir die klankgreep)
25Ek sê:
“My God, moet my
nie wegneem teen die helfte
van my lewensdae nie.
Van geslag tot geslag duur u jare.
26Voor alle tye het U
die aarde gevestig;
die hemel is die werk van u hande.
27Hulle sal vergaan,
maar U bly bestaan.
Soos 'n kledingstuk
sal hulle almal verslyt;
soos 'n bokleed vervang U hulle,
en hulle verdwyn.
28Maar U bly dieselfde,
u jare sal nie tot 'n einde kom nie.”
– Psalm 102:25-28 AFR20
Gaan lees gerus die hele psalm. Ons dink soms dat ons nie mag kla by die Here nie. Ons dink dalk dat dit oneerbiedig sal wees. Tog het ons die psalms wat ons wys wat opregte, openlike gesprekke met God kan/mag wees.
Psalm 102 begin in vers 1 met die woorde “'n Gebed. Van 'n magtelose wanneer hy kragteloos is en sy klag voor die Here uitstort.” Dit is eerlik en opreg.
In verse 25-28 beklemtoon die psalmis iets wat ons almal tog weet en glo: God is groter as alles, God is ewig, en God verander nooit. Alles in hierdie wêreld kan verander. Alles kan en sal verbygaan. Maar nie God nie. God bly dieselfde. Elke herfs seisoen, begin die wêreld verander en stadig dood te gaan. Kom winter, is alles kaal en leeg en dood. So is dit ook met die seisoene van ons lewens. Soms voel ons koud en (amper) dood. Soms voel ons vaal... Maar Jesus, wat in ons woon, verander nooit. Hy is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid (Hebreërs 13:8).
Onthou daarom dat ’n onveranderlike God ook onveranderlike beloftes maak. Hy sal altyd met jou wees en Sy liefde sal jou altyd dra deur elke seisoen van jou lewe. Dank die Vader dat Hy nooit verander nie.
Ons vergeet so gou. (Kliek hier vir die klankgreep)
Die laaste paar dae was moeilik. Sondag het ek geluister na ’n boodskap wat vir ons hoop bring en verduidelik hoe en hoekom ons vashou aan hierdie hoop. Maandag en Dinsdag het ek vertel hoe ons naasteliefde moet leef en hoe God wel vir ons planne van voorspoed het – veilig opgesluit in Jesus Christus se verlossingsdaad op Golgota... Dan kry ek nuus van vriende wat oorlede is. Dan hoor ek hoe hierdie virus ook verantwoordelik is vir sommige van hulle se dood. Dan besef ek dat hierdie ons realiteit is. Dit is nie normaal nie. Dit is nie die “nuwe normaal” nie. Dit is vreemd en dit is skrikwekkend. Dis nie lekker nie.
Intussen gaan die wêreld aan. Mense het nogsteeds hulle “normale” probleme. Mense wag om te hoor van my. Mense wil weer Sondag ’n boodskap kry. Ek moet nog voortgaan met normale dinge in ’n abnormale tyd. Hoe doen ’n mens dit? Hoe hou ons vas aan hoop wat maar ’n spikkeltjie lig is aan die einde van ’n baie donker tonnel? Hoe gee ons hoop aan ander, terwyl my vlammetjie van hoop laag brand? Ag, hoe gou vergeet ek tog nie die einste raad wat ek aan ander bied nie! Hoe gou vergeet ek nie hoe getrou die Here is nie!
Dalk voel jy ook so vandag. Dalk wonder jy ook hoe om aan te gaan. Dalk vergeet jy so maklik soos ek.
Dan kom God (deur Sy Woord) in die woorde van koning Dawid en sing Dawid ’n gebed vir my (en dalk vir jou wat ook so voel). Hierdie is ook my gebed vir jou:
2Mag die Here u antwoord
op die dag van benoudheid;
mag die Naam van die God
van Jakob u beskerm.
3Mag Hy vir u hulp stuur
uit die heiligdom,
en u uit Sion ondersteun.
4Mag Hy al u offergawes
in gedagte hou,
u •brandoffers aanvaarbaar vind. •Sela
5Mag Hy aan u gee wat u hart verlang,
en elkeen van u planne laat slaag.
6Ons wil juig oor u verlossing,
in die Naam van ons God
die vaandel hoog hou.
Mag die Here aan al u versoeke voldoen!
7Nou weet ek dat die Here
sy gesalfde verlos;
Hy sal hom antwoord
uit sy •heilige hemel
met kragtige verlossingsdade
van sy •regterhand.
8Party beroem hulle op strydwaens,
ander weer op perde,
maar ons, ons beroem ons op die Naam
van die Here ons God.
9Hulle sak inmekaar en val,
maar ons, ons staan op en bly staande.
10Here, verlos tog die koning!
Mag Hy ons antwoord op die dag
wanneer ons roep!
– Psalm 20:2-10
Geliefdes, vrede en seën vir julle!
Planne van voorspoed! (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons ken mos die versie. Dit word op yskaste en mure en spieëls in pragtige sierskrif geplaas:
“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!” – Jeremia 29:11 AFR83 (“Ja, Ek ken die planne wat Ek vir julle het,” is die uitspraak van die Here. “Dit is planne van voorspoed, en nie teenspoed nie, om aan julle 'n toekoms en hoop te gee.” – AFR20)
Wat ’n wonderlike belofte! Planne van voorspoed. Ons wil tog almal hê dat dit goed gaan met ons. Ons wil nie terugslae beleef nie. Ons wil nie dinge moeilik hê nie. Ons wil nie sukkel nie.
Die probleem met hierdie een versie wat gewoonlik pronk op plekke, is dat die daaropvolgende verse vergeet word:
“Julle sal My aanroep, en kom en tot My bid, en Ek sal na julle luister. Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg.” (verse 12-13 AFR20)
Hoe dikwels glo ons nie dat God se beloftes soos ’n sprokies verhaal werk nie? Dat ons maar net moet terugsit en wag dat Hy soos ’n ridder op ’n wit perd sal verskyn om alles beter te maak? Weet jy, Hy gaan eendag só kom... maar dan is dit ’n heel ander storie en dan moet ons reg wees. Dan gaan Hy vra of het ons Hom aangeroep? Het ons Hom gesoek? Het ons Hom met ons hele hart geraadpleeg?
Die lewe is nie maanskyn en rose nie. Jakobus leer ook dat ons eintlik ons moet verbly as dinge swaar gaan – as versoekings ons oorval, want dit kweek volharding. As ons dan die Here soek en Hom vind en met ons hele hart raadpleeg, glo en vertrou, skenk Hy aan ons die wysheid om bo ons omstandighede uit te styg (Jak. 1:2-8).
Vir die Jode was die voorspoed wat beplan was ’n fisiese verligting en verlossing van die ballingskap. Vir ons en alle mense, is die voorspoed ’n verlossing van die ballingskap van sonde. Dís ’n toekoms. Dít is hoop! En daardie hoop is reeds bevestig deur Jesus Christus, toe Hy ons sonde op Hom geneem het.
Soek God. Roep Hom aan, bid tot Hom en raadpleeg Hom met jou hele hart. Vind Hom. Laat Hy jou hoop herstel. Laat Hy jou die wysheid skenk om bo verwagting bo jou omstandighede uit te styg – tot Sy eer. Die Here het planne van voorspoed vir jou. ’n Toekoms en hoop. Neem dit aan in Jesus’ Naam.
Vrede vir julle!
'n Nuwe gebod. (Kliek hier vir die klankgreep)
“Ek gee julle 'n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.” – Johannes 13:34-35 AFR20
Jesus gee ons ’n nuwe gebod. Nie ’n versoek of iets wat probeer moet word nie. ’n Gebod. Ons moet mekaar liefhê. Ons moet liefde teenoor mekaar hê. Net soos Jesus ons lief het. Hoe lief is dit? Meer as wat woorde kan beskryf.
Maar dit is nie altyd maklik nie. Mense maak ons soms kwaad. Mense stel ons teleur. En as dit kom by kultuurverskille, is dit nog moeiliker. Hoe kan ons ander liefhê? Hoe kan ons mense wat van ons – en ons standpunte en sienings verskil – liefhê? Hoe kan ek die mense wat openlik sondig, sonder berou, liefhê? Hoe kan ek daardie persoon wat my aankla, my oordeel, my te na kom, my seermaak... liefhê? Is dit ooit moontlik? Was Jesus se gebod nie te veel gevra nie? Hy is immers God. Vir Hom is dit moontlik. Maar ons is net mense... Hy sal mos verstaan as ons dit nie kan doen nie...
Nee, dit is moontlik. Hoor wat skryf Johannes vêrder in 1 Joh. 4:
“Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.” – 1 Johannes 4:7-8 AFR20
Ons liefde vir die gevalle mensdom en selfs vir diegene wat ons haat, kom nie van onsself nie. Dit kom van God. God wat in ons woon. Sukkel jy met naasteliefde? Liefde vir alle mense? Laat God jou leer hoe. Laat Sy Gees jou lei. Laat Sy liefde jou oorneem. God is liefde. Hy het ons eerste liefgehad, selfs toe ons Hom nie geken het nie. Hy wil hê dat ons Hom elke dag beter leer ken en meer en meer soos Hy word. Jesus – God wat mens geword het – het ons kom wys hoe God se liefde lyk.
Mag jy God ken. Mag jy liefhê soos God jou lief het. Mag Sy liefde deur jou skyn soos ’n helder lig in ’n donker wêreld.
Seën en vrede vir julle!
Salomo was ’n wyse man. Ek besef dat hy geweldig baie wyse dinge neergeskryf het vir ons, maar soms wonder ek. Ek dink partykeer was dinge neergeskryf soos dit ervaar was. Dalk was dit net joernaal inskrywings gewees. Ek meen, ons kan maklik aanklank vind by:
"Die regverdiges begeer die goeie; vir die goddeloses wag daar net straf.” – Spreuke 11:23 AFR83
maar:
“Die luiaard se honger word nie gestil nie; hardwerkende mense het meer as genoeg om te eet.” of: “Die opregte bly behoue deur sy gehoorsaamheid aan die Here; ongehoorsaamheid laat die sondaar te gronde gaan.” – Spreuke 13:4,6 AFR83
is ook nie altyd waar nie.
Miskien wou Salomo vertel hoe dit moet wees. Miskien wou hy vertel hoe dit veronderstel is om te wees. Miskien was dit só toe hy koning was.
Ek dink tog dat Salomo baie wys was. Ek dink hy het besef waaroor die lewe en geregtigheid gaan. Hy het geweet dat ware wysheid is om die Here te dien en gehoorsaam. Toe God hom (Salomo) gevra het wat hy wil hê (1 Konings 3), het hy gekies vir gehoorsaamheid en insig. God het hom geseën met baie wysheid en hierdie wysheid het gelei tot vele meer. Dit het egter begin met nederigheid. Salomo het besef dat hy niks kan doen sonder God se hulp nie. Hy was in alles afhanklik van God.
Die lewe is nie regverdig nie. Salomo het dalk heelwat dinge geskryf soos dit moet wees, maar nie is nie. Tog het hy daardeur in ons die passie begin kweek dat dinge wel so kan wees en dat ons ook begin streef na God se geregtigheid.
Mag die Here jou seën met gehoorsaamheid en wysheid, soos met koning Salomo. Mag jy dit gebruik en toepas tot die eer van Sy grote Naam!
Partykeer word ons wakker en die dag lê soos ’n groot berg voor ons. Ons het te veel om te doen en te min tyd. Of ons weet daar wag onaangename take (of mense) voor. Ons probeer positief bly, maar hoe moet ons nogsteeds hoop?
Jeremia het ook baie slegte tye deurgemaak, maar tog het die oggend – die nuwe dag – vir hom hoop gebied. Deur slegte tye, het hy ’n punt daarvan gemaak om sy vreugde in die Here te vind en sy hoop op Hom te vestig.
“Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas. Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here;” – Klaagliedere 3:19-26 (AFR83)
Vandag is ’n nuwe dag. Elke dag is ’n nuwe dag. Moenie vashou aan gister nie – dis verby. Verwag nuwe, groot dinge. God is by jou. Verwag dat Hy nou reeds alles nuut maak vir jou. Jou woorde, jou aksies, jou houding. Hy is ons Hoop! Word stil voor die Here en laat Hom toe om elke dag ’n nuwe dag te maak vir jou. Laat Hy jou voorberei en betree jou wêreld met hoop en verwagting dat God oral met jou sal gaan en jou sal seën.
Seën en vrede vir julle.
Josef en Maria was in Betlehem vir ’n volkstelling.
“Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word, en sy het geboorte geskenk aan haar eerste kind, 'n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar nie vir hulle plek in die herberg was nie.” – Lukas 2:6-7 (AFR20)
Josef en Maria was fisies by ’n plek wat vreemd was vir hulle. Toe Jesus gebore is, kon hulle nie gou by vriende of familie aanklop nie. Die dorp was besig, as gevolg van die volkstelling. Daar was nie eers plek in ’n herberg nie. Jesus is gebore in ’n stal. So word die Redder en Verlosser van die wêreld in alle nederigheid gebore en kom woon God onder Sy mense.
Miskien bevind jy jouself hierdie Kersfees in ’n vreemde plek. Dalk is dit net ’n vreemde emosionele of geestelike plek. Onthou dat God ook daar met jou is. Onthou dat Hy self mens was en presies weet waardeur jy gaan. Onthou dat jy die rede is dat Hy mens geword het. Dat Hy vir jou verlossing gebring het.
Dalk is jy op ’n goeie plek hierdie jaar – fisies, emosioneel en geestelik. Onthou dat daar wel ander is, wat nie is nie. Bid vir hulle. Nooi hulle. Deel die vreugde van Kersfees. Deel God se liefde.
Vrede vir julle.
Romeine 12:9-21 gee vir ons baie goeie riglyne vir die Christelike lewe – of soos die 2020 vertaling dit noem: “”Rigtingwysers vir gelowiges.” Van hierdie verse is vers 12 nogal besonders, want dit gee een van die beste stukkies raad vir ons:
“Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed.” – Romeine 12:12 AFR20
Die jaar is amper verby en baie dinge het dalk skeefgeloop, maar ons kan nogsteeds vashou aan die hoop wat daar vir ons is in Jesus Christus. Dalk is volgende jaar beter, dalk nie. Maak nie saak wat oor ons pad kom nie, ons bron van krag is veilig gesetel in ons Here. Daarom – al is dit soms baie moeilik – kan ons vasstaan in swaarkry. Ons kan aanhou hoop. Ons weet dat alles in ons lewe net tydelik is en dit kan nie vergelyk met die ewige vrede en verlossing wat wag saam met God nie.
Hoe kry ons hierdie rustigheid, hierdie vrede? Deur te volhard in gebed. So eenvoudig soos dit. Hou aan praat met die Here. Vertel Hom jou hart. Wag in stilte om ook Sy stem te hoor en soek daarna in Sy Woord. Al die ander rigtingwysers in Romeine 12 begin met hierdie stap wanneer jou verhouding met ons lewende Here begin verdiep.
Wees dus bly, te midde van swaarkry, want die genade van ons Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met ons almal wees (2 Kor. 13:13).
“ 8Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. 9Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie.” – Efesiërs 2:8-9 AFR20
Nie een van ons besit die krag, wysheid, mag of vermoë om onsself te verlos – te red nie. Nie van omstandighede, siekte, sonde of enigiets nie. Ek luister soms na ander predikante wat (soms sonder om dit agter te kom) roem op “hoeveel siele hulle al gered het.” My werk is nie om siele te red nie. Ek kan nie mense bevry nie. Ek kan niemand verlos van die ewige verderf nie. Net God kan.
Die Here Jesus Christus kom uit Sy groot genade en verlos ons deur die groot versoeningswerk van die kruis. Soos Paulus ook sê, is selfs ons geloof ’n gawe van God. Hy is die Een wat ons die vermoë gee om in Hom te glo. Hy laat ons Sy almag besef. Hy doen alles... maar ons moet nogsteeds die keuse maak.
So, moet ons terugsit en niks doen nie? Nee, glad nie. Ons is Sy kerk en ons moet vertel van Sy liefde en genade. Ons moet vertel van verlossing wat beskikbaar is aan die voet van die kruis. Ons moet mense lei na die Vader – soos Jesus ons gewys het. Ons moet onsself verloën, ons kruis optel en Hom volg. Ons moet dáár wees vir mense, daar waar die Vader ons wil hê om Hom te verteenwoordig.
Besef vandag: God werk deur jou. Jy is ’n nuwe maaksel in Jesus Christus. Die Heilige Gees kan en wil deur jou magtige dade doen. Nie tot jou roem of eer nie, maar tot eer van God alleen.
Loof Hom. Prys Sy grote naam!