Brandfort

BLOEMFONTEIN. 'n Kragtige eiegemaakte bom van 30 kg is gister op 'n hoofspoorlyn tussen Bloemfontein en Brandfort onskadelik gestel nadat duisende begrafnisgangers met talle passasierstreine die naweek op dié spoorlyn na mnr. Chris Hani se begrafnis in Germiston gereis het. Mnr. Willem Kuys, streekbestuurder van Spoornet in die Vrystaat, sê die bom is by die ``op-spoorlyn'' na Johannesburg sowat 35 km van Bloemfontein gestel. Hy weet nie wanneer die bom gestel is nie, en kan dus nie sê hoeveel passasiers- of goederetreine moontlik oor die bom gery het nie. Sowat 1 600 mense het Sondagoggend vroeg met drie passasierstreine van Port Elizabeth en Oos-Londen, op die spoorlyn na Johannesburg gery. Hulle het eergisteraand met die ``af-spoorlyn'' teruggery. Die twee hoofspoorlyne lê langs mekaar. Benewens die spesiale treine het vier passasiers- en 42 goederetreine Saterdag, Sondag en eergister van die ``op-spoorlyn'' gebruik gemaak. Kapt. Johlene van der Merwe, skakeloffisier, sê die ploftoestel met kommersiële plofstof van 30 kg is deur 'n bomopruimingsoperateur op die toneel vernietig weens die onstabiele aard daarvan. 'n Oplettende man het dit gisteroggend opgemerk en die Polisie daarvan laat weet. Die Polisie het vasgestel 'n poging is aangewend om die afstandbeheerde bom te laat ontplof, maar dit was onsuksesvol. Die trefkrag van die bom is ``geweldig groot'' en sou 'n trein kon ontspoor. Dis onbekend wie die bom op die spoorlyn gestel het, maar sy kon nie bevestig of die Polisie die begrafnisgangers met die bom kan verbind nie, berig ons korrespondent.

bomme spoorweë