Reëls & Regulasies
Opgedateer deur Dr C de Wet
Opgedateer deur Dr C de Wet
Leerders moet deurgaans in skoolklere deelneem.
Dieselfde toespraak moet deurgaans gebruik word en redenaars mag nie verskillende toesprake gebruik in een jaar en kategorie nie. Toesprake wat die vorige jaar tot en met Nasionale vlak gebruik is, mag nie hergebruik word nie.
Leerders mag slegs 1 inskrywing per kategorie doen. Leerders mag nie vir eerste- en addisionele taal in dieselfde taal deelneem....bv Afrikaans Moedertaal mag nie ook Afrikaans addisionele taal wees.
Dieselfde toespraak mag in Afrikaans en Tweetalig gebruik word, maar die spreker moet die vertaling self behartig. Dieselfde toespraak mag nie vir meer as 2 afdelings gebruik word.
Ons het geen voorgeskrewe temas nie en leerders mag hul eie gebruik wat by hul ouderdom pas.
Vanaf 2019 sal Gr 0-R nie deelneem na die Nasionale Finaal rondte, aangesien hul baie senuweeagtig is en sommige verboureerd raak. Moedig hul steeds aan om deel te neem aan die eerste rondte, aangesien dit vir hul ervaring en opleiding is vir wanneer hul “groot skool” toe gaan.
Lees asseblief die reëls en inligting vir elke afdeling deeglik.
Tydsduur: (BAIE BELANGRIK)
Redenaars (alle individuele afdelings)
Gr R - 3 is 2 – 4 minute
Gr 4 – 7 is 4 – 6 minute
Gr 8 -12 is 6 – 8 minute
Spanne (alle afdelings)
Neem asb kennis dat die struktuur van RR spanne ONVERANDERD bly. Let veral op na tyd
Gr R – 3 is 5 – 7 minute
Gr 4 – 7 is 8 – 10 minute
Gr 8 – 12 is 10 – 12 minute
Om die toespraak binne die tydgleuf te hou, kan ekstra bronne (soos verkies by sommige ander kompetisies) uitgelaat word.
Hierdie is die formele toespraak.
Geen motiverings-, inligtings-, of vermaaklikheidstoesprake nie.
Die struktuur van 'n toespraak bestaan uit 'n inleiding, inhoud en 'n slot. Standpunte moet bymekaar aansluit sodat die toespraak 'n geheel vorm.
Punte van belang (gebruik tydens beoordeling):
Die toespraak:
Onderwerp moet beredeneerbaar wees en pas by die ouderdom van die spreker. Kontroversiële onderwerpe rakende politiek, geloof, seksuele oriëntasie moet besonder versigtig hanteer word en word nie aangemoedig nie, maar ook nie as 'n basis afgekeur nie. Dis belangrik dat die onderwerp nie haatspraak aanmoedig nie.
Inleiding moet treffend wees - hieruit moet die gehoor kan identifiseer waaroor die toespraak gaan. Dit behoort die toehoorder se aandag te trek en boeiend te wees. Dit mag gesegdes en idiome insluit wat pas by die onderwerp aansluit. Bronne is nie nodig in die inleiding nie.
'n Aanhaling uit 'n lied mag in spraak aangehaal word, maar moet liefs nie gesing word nie.
Inhoud moet 3 duidelike en logiese argumente bevat en elke argument moet ondersteun word deur 'n volledige bron. 'n Volledige bron sluit in waar die inligting verkry is, deur wie dit geskryf is, wanneer dit gepubliseer / gespreek is en hoekom dit van belang is. Bronne mag nie ouer as 5 jaar wees nie en geskik wees vir die ouderdom van die spreker.
Vir graad 1 en 2 is twee bronne voldoende en een verwysing moet aangehaal word bv. my Ouma het genoem...of 'n eie ervaring kan gebruik word.
Die inhoud word versterk deur persoonlike staaltjies / opinies by te voeg en natuurlik kan idiome en uitdrukkings help om die inhoud op te kikker. Daar moet seker gemaak word dat die argumente direk aansluit by die onderwerp van die toespraak.
Taalgebruik moet gepas wees vir ouderdom van die spreker. Vloekwoorde en haatspraak sal lei tot diskwalifikasie, mits dit binne konteks as noodsaaklik beskou word. Waak teen deurlopende gebruik van Engelse woorde. Die gebruik van kreatiewe nuutskeppings, gesegdes, idiome en uitdrukkings word aangemoedig.
Die aanbieding:
Praat met selfvertroue. Die doel is om die gehoor te oortuig, dus moet jou sekerheid van jou eie argument duidelik wees deur jou aanbieding. Waak teen oordramatisering. Redenaars is nie 'n drama-produksie nie. Jy praat as jouself, nie as 'n karakter nie.
Stemgebruik moet natuurlik wees met aandag wat gegee word aan die uitspraak van woorde, volume, tempo en pousering.
Gebare wissel tussen sprekers. Party sprekers praat graag met hul hande, terwyl ander sprekers meer inkennig voorkom. Die suksesvolle sprekers se gebare is natuurlik, nie ingeoefen nie, en help om die standpunt te versterk. Gebare moenie intimiderend of ongeskik voorkom nie.
Oogkontak:
Vir deelname per video kan deelnemers in die kamera kyk (asof dit die gehoor is), of rondkyk asof daar 'n gehoor voor hom/haar sit. Tydens streeks- en nasionale finaal wat fisies voor 'n gehoor is, moet hulle met die hele gehoor oogkontak maak.
Notagebruik:
Die gebruik van notas word aangemoedig, aangesien dit verhoed dat die spreker vashaak en dan senuweeagtig raak. Notas kan in een of beide hande vasgehou word en notas mag tussen hande verwissel. Probeer om notas so natuurlik as moontlik te hanteer.
Die slot moet 'n kort opsomming wees van die argumente en eindelik die toespraak afsluit met 'n duidelike standpunt wat ingeneem is. Geen nuwe argumente mag in die slot aangevoer word nie en bronne is nie nodig nie.
In hierdie afdeling word GEEN hulpmiddels, musiek, sing en dans toegelaat.
Tweetalige toesprake moet 50% Engels en 50% Afrikaans wees. Verkieslik moet die 1ste helfte in die deelnemer se Moedertaal wees, en die ander 50% in die Addisionele taal.
Die struktuur van ‘n toespraak bestaan uit ‘n inleiding, inhoud en slot. Standpunte moet bymekaar aansluit sodat die toespraak 'n geheel vorm.
Geen motiverings-, inligtings-, of vermaaklikheidstoesprake nie.
Die toespraak van die tweetalige afdeling word op dieselfde punt as die moedertaal afdeling beoordeel, met die klem wat egter berus op die tweetalige vernuf van die spreker. Die toespraak moet ongeveer 50% Afrikaans en 50% Engels wees.
LET OP NA TYD
‘n Span kan bestaan uit 2-4 lede.
Spanwerk tussen lede is baie belangrik...elke spanlid se standpunt moet aansluit by die ander lid sodat die toespraak 'n geheel vorm.
Indien 'n graad 10 leerder bv in die span van graad 12 leerders deelneem, sal beoordeling volgens die hoogste graad gedoen word, en let op dat die span as "geheel" beoordeel word en nie per individuele spreker.
Samespraak moet beperk word tot 'n paar woorde of een sin, en nie oorheersend en steurend wees.
Basiese beginsels:
Die span moet saam werk om die gehoor van een onderwerp / standpunt te oortuig. Die spantoespraak is EEN gehele toespraak en nie 2-4 individuele toesprake wat slegs saam gepraat word nie.
Dit beteken een spreker "behandel" 'n argument en dan word aanbeweeg na die volgende spreker wat die volgende hoofargument bespreek. As 'n geheel bestaan die toespraak dus uit 3-4 hoofargumente, met 'n minimum van drie bronne.
Kreatiewe taalgebruik en die gebruik van humor word aangemoedig.
Die aanbieding word beoordeel op soortgelyke punte as die individuele toesprake, maar daar word ook gekyk na hoe die span as geheel saamwerk en saam praat.
Hierdie afdeling is nie so streng en formeel soos die gewone afdelings nie, en mag met meer humor en lekker energie aangebied word. Die toespraak moet steeds beredeneerbaar wees, maar mag meer dramatiese onderwerpe soos politiek, geloof, seksualiteit ens. aanspreek (dalk meer vir senior sprekers). Geen haatspraak, kru taal en afkrakende taalgebruik sal geduld word nie.
Bronne is nie ’n vereiste nie (dit is aanvaarbaar) en sprekers word aangemoedig om hul eie toesprake te skryf. Hul moet hul standpunte oortuig met eie ondervinding en hul eie opinies. Spanne mag hier ook deelneem.
Dit is belangrik om te noem dat hierdie nie 'n drama afdeling is nie. Alhoewel hulpmiddels gebruik mag word, moet die aanbieding steeds natuurlik wees en die spreker moet die gehoor steeds van 'n standpunt oortuig. Dit is die kern van redenaars.
Die eksperimentele afdeling is oorspronklik geskep om leerders 'n platform te gee om hul eie opinies te lewer. Die doel bly steeds om 'n beredeneerbare toespraak te lewer, op 'n natuurlike manier, sonder fieterjasies, danspassies en koorsang. Spanne van 2-4 lede mag deelneem, maar dit moet steeds een toespraak wees. Bronne is opsioneel en die struktuur van die toespraak is nie voorskriftelik nie. Daar kan dus enige hoeveelheid argumente wees, mits die toespraak as geheel die gehoor oortuig van een tema. Samespraak moet beperk word alvorens dit steurend raak. Daar word streng op die tydsduur gelet.
Geen voordrag word toegelaat...dit sal nie beoordeel word.
Tyd is baie belangrik:
MAKSIMUM 2 MINUTE vir Laerskole
MINIMUM 1,5 MINUTE - MAKSIMUM 3 MINUTE vir Hoërskole.
Hierdie tyd sluit die voorstelling in.
Belangrike Notas/riglyne:
Enige gedeelte van 'n storie, 'n monoloog of 'n gedig mag gelees word wat pas by die leser se ouderdom. Let net op na tyd
Volledige voorstelling: die naam van die storie/stuk/gedig en die skrywer. Bv. “Ek is Manie van der Merwe, ek lees vandag vir u ‘n uittreksel uit “Lappies” geskryf deur Dana Snyman” of 'n gedig/stuk geskryf deur......
Alle aanbiedings moet formeel wees, met ander woorde, in skooldrag, staande en geen hulpmiddels en bewegings word toegelaat. Stemgebruik word aangemoedig.
Lesers moet ‘n duidelike afskrif van die leesstuk inhandig by die beoordelaar. Hierdie is slegs van toepassing by die Streeks- en Nasionale deelname.
Dit is 'n LEES afdeling, en deelnemers wat voordra of nie 'n leesstuk gebruik, sal nie beoordeel word en dus nie 'n sertifikaat ontvang.
Waak teen leesstukke wat groot is, dit kan oogkontak met gehoor beinvloed en dit hanteer moeilik.
Deelnemers moet deurgaans dieselfde stuk lees... van uitdonrondte tot nasionaal.
Afdelings:
L01 – Afrikaans Prosa
L02 – Afrikaans Poësie (gedig)
L03 – English Prose
L04 – English Poetry (poem)
Hierdie beleid bevestig dat deur die inskrywing van u kind in die kompetisie, Radikale Redenaars, stem jy as die ouer / voog in tot die deelname van u kind en erken jy dat enige inligting of video's wat verskaf word, gebruik kan word vir die doeleindes van die kompetisie vir beoordeelaars. Radikale Redenaars wat die kompetisie aanbied, neem alle redelike stappe om die privaatheid en veiligheid van die deelnemers te verseker, maar kan nie verantwoordelik gehou word vir enige onbevoegde toegang tot of skending van enige inligting of videos wat deur die deelnemers verskaf is nie. Dit is die verantwoordelikheid van die ouer / voog om sorg te dra vir die privaatheid van persoonlike inligting en om slegs die nodige en toepaslike inligting te verskaf vir die doeleindes van die kompetisie.
Radikale Redenaars sal nooit versoek dat enige bank besonderhede verskaf moet word nie. Indien u vermoed daar is 'n poging gemaak om u inligting onregmatig te bekom, kontak ons sonder versuim by radikaleredenaar@gmail.com
Radikale Redenaars behou die reg voor om hierdie beleid te enige tyd te wysig of by te werk sonder voorafgaande kennisgewing. Dus, die deelname van u kind aan die kompetisie, stem jy in tot die bepalings en voorwaardes van hierdie beleid.
Indien daar enige navrae is, is u welkom om ‘n epos te stuur na radikaleredenaar@gmail.com
Ons versoek dat geen navrae per whatsapp, sms of facebook gestuur word nie.
Ons sien uit na ‘n RADIKALE kompetisie !!!