Afrikaans

van die begin 

Die Radikale Redenaar is die breinbaba van Chantelle de Wet, ’n gepubliseerde skrywer en ’n bekende naam in die kring van redenaars. As onderwyseres het sy al hoe meer die nood gesien vir die ontwikkeling van sprekersvaardighede onder leerders en alhoewel daar reeds redenaarskompetisies was, het slegs enkele kinders die geleentheid gekry om hierby betrokke te raak. Aangesien Chantelle geweet het hoeveel tyd en moeite in ’n toespraak ingaan, het sy besluit om ’n redenaarsfees op die been te bring, al was dit slegs om leerders die geleentheid te gee om te kan praat. Die Radikale Redenaarsfees (RRF) is vir die eerste keer in 2007 aangebied in Pretoria. In 2008 het die RRF uitgebrei na 4 provinsies en in 2009 is dit vir die eerste keer op Nasionale vlak aangebied. Tans is daar deelname in al 9 provinsies. Nuwe kategorieë het ontstaan op aanvraag en die Radikale Leesfees het ook bygedra tot meer leerderdeelname. In 2016 het Chantelle die leisels oorgegee aan Linda Henning. 

Radikale Visie 

Die Radikale Redenaar se visie is om aan soveel as moontlik leerders die geleentheid te gee om voor mense op te tree. Beoordelaars moet positief bydra tot die leerders se sprekerspersoonlikhede en kritiek moet opbouend van aard wees. Die Radikale Redenaar streef daarna om die angel uit publieke optrede te haal en kinders se selfvertroue te verbeter. Alhoewel die Radikale Redenaarsfees ’n kompetisie is, moet die fokus deurentyd op deelname geplaas word en die ontwikkel van redenaars as lewensvaardigheid moet aangemoedig word. In die proses sal die Radikale Redenaar ook poog om toekomstige beoordelaars op te lei en onderwysers te betrek by redenaars as buitemuurse skoolaktiwiteit. Die Radikale Visie berus op die ontwikkeling van maksimum potensiaal van sprekers regoor Suid-Afrika.