Daar is 'n paar belangrike aspekte om in gedagte te hou wanneer jy jou vakke kies:
Jou belangstellings: waarvan hou jy en wat maak jou opgewonde?
Jou aanlegte en vaardighede: Is jy goed met syfers? Tale? Sport? Kook of bak? Jy gaan heel moontlik 'n beroep volg in iets waarin jy goed is. Jy kan dus jou vakke ooreenkomstig probeer kies.
Belangstellings in beroepe: sommige graad 9's weet reeds watter loopbaan hulle wil volg (en watter vakke hulle dus nodig het), en ander weet nog glad nie. Dit is wel belangrik om jou vakke so te kies dat jy jou opsies oophou vir meeste moontlikhede. As jy byvoorbeeld dink jy wil DALK 'n loopbaan in 'n mediese rigting volg, kies jou vakke so dat dit hierdie opsie vir jou oop hou.
Wat moet NIE 'n rol in jou keuse speel nie:
Wat gaan my vriende neem: Moet nie blindelings jou vriende volg nie. Julle beland heel moontlik in verskillende klasse, en dan neem jy 'n vak wat jy dalk glad nie geniet nie.
Watter vak is die maklikste: Niks wat die moeite werd is, kom ooit sonder harde werk nie. Kweek sommer nou reeds daardie ingesteldheid.
Onthou ook dat alle vakke (Lewensoriëntering uitgesluit) toelatingsvakke vir universiteitstoelating is. Sekere kursusse vereis egter wel spesifieke vakke, so doen vroegtydig jou navorsing oor vakke wat jy vir spesifieke kursusse sal benodig.
Afrikaans Huistaal en Lewensoriëntering moet deur alle leerders van ons skool geneem word. 'n Leerder se oorblywende 5 vakke word gekies deur EEN vak in elke groep te kies. Hier volg 'n uiteensetting van die groepe:
Dit is moeilik om in graad 11 of graad 12 vakke te verander, aangesien jy dan reeds agter is met die vakinhoud. Probeer eerder van die begin af die regte keuses maak, deur te kyk na jou belangstellings, aanlegte en moontlike loopbane wat jy dalk wil volg.
Wat moet jy in ag neem?
Jy sal die geleentheid kry om jou vakke (uitsluitend die verpligte vakke) uit vyf groepe te kies. Jou keuse moet dus baie mooi oordink en oorweeg word.
Leerders kan slegs twee vakke in graad 10 en 11 verander en slegs een in graad 12. Hulle moet dus baie deeglik hulle vakke kies.
Leerders kan 'n ekstra vak (agtste vak) ook kies. Indien hulle hierdie vak wil los/verander, tel dit as 'n vakverandering.
Graad 10-leerders kan slegs in kwartaal 1, 2 en die eerste week van kwartaal 3 vakke verander.
Onthou dat die onderwyser die reg het om op grond van hul kennis van die vak, wat dit vereis en of dit volgens hulle moontlik is vir jou om die agterstallige werk in te haal, jou toegang tot die vak kan weier.