Simboliek: Op hierdie reis saam met God is dit belangrik om te weet dat ons nie vir die eerste keer as kinders van God die reis begin loop nie. Voor ons was daar baie ander, waarvan die gelowiges wat betrokke was by die skryf van die Bybel baie belangrik was. Op ons reis speel die Bybel as Woord van God ’n sentrale rol en ons erken dit as die riglyn van God wat deur die Heilige Gees geïnspireer is om aan ons die koers op ons reis aan te wys. Daar was ook baie ander gelowiges wat met hulle geloofspad vir ons dit makliker gemaak het. Ons dank die Here vir gelowiges wat hulle geloof in byvoorbeeld belydenisskrifte opgeteken het en erken dit as deel van ons geloofstradisie. Ons glo egter dat die belydenisse van ander nooit kan vervang dat elkeen van ons persoonlik ’n keuse moet maak oor ons geloof en reaksie op die begeerte van God om saam met ons op pad te wees nie.
Simboliek: Op hierdie reis van geloof is dit vir ons belangriker om in verhoudings met mekaar te staan as om met kennis en meerderwaardigheid reg te wees oor geloof. Ons erken dat ons geloof se oorsprong uit God se verhouding met ons kom. Ons het dit nie verdien nie en die nuwe lewe in ons lewens is omdat God uit genade aan ons alles geskenk het wat ons kan dink of droom. Ons verhouding met Hom is ’n reaksie op Sy liefde! Juis dit maak dit vir ons nodig om op dieselfde manier mekaar as gelowiges en die wêreld rondom ons lief te hê. Ons waarde van verhoudings lei ons ook tot ons oortuiging dat ’n lewe van dissipelskap deel van God se roeping vir ons is. Ons word geroep in ons eie lewe maar ook om ander te help om die groei van God se liefde te ervaar
Simboliek: As ons die reënboog van God se skepping wil ervaar moet ons erken dat God ons met meer perspektiewe as net een idee gemaak het. Ons het dikwels in die verlede op die manier waarop ons in die kerk gedink het een idee gekies en dit die waarheid gemaak. Ons glo dat God binne die ruimte van Sy Woord vir ons met al ons verskille ryker maak en dat ons nie moet probeer om oor alles eenders te dink nie. Ons manier van aanbid en ook ons idees oor God hoef nie altyd dieselfde te wees om deel van een familie te wees nie. Diversiteit groei uit verhoudings as ons respek vir mekaar se idees kry en bereid is om na mekaar te luister. Ook hier is ons oortuiging oor ’n lewe van dissipelskap onlosmaaklik verbind aan ons optrede met mekaar.
Simboliek: ’n Hart wat deur God verander is, kan nie anders as ’n hart wees wat ons roeping in ons wêreld wil nakom nie. God het ons nie groep om die waarheid te ontdek en dan vir onsself te hou nie, maar om heen te gaan en dissipels te maak. Om dissipels te maak is nie alleen om aan mense die evangelie te verkondig nie, maar dit aan hulle te leef. Ons moet God se brief aan ’n wêreld wees terwyl die wêreld nie God se Woord lees nie. Op ons pad saam met God moet ons sensitief wees vir die geleenthede en projekte wat God vir ons as individue maar ook as gemeente bring waar ons Sy liefde kan uitleef en ander kan help om die droom van ’n nuwe lewe saam met God ook in hulle lewens te waar maak.