Plasing deur Prof Hennie Stander (4 dele)
Deel 1
Dit is een van die dae 19 Junie 2025. Dit is dan presies 1700 jaar gelede, volgens baie geleerdes, sedert die Eerste Ekumeniese Sinode van die Christelike Kerk te Nicea die Niceense Geloofsbelydenis goedgekeur het (dit is egter eers later so genoem). Daar is tans in die sosiale media baie verwysings hierna, maar alles kom uit moderne sekondêre bronne van moderne teoloë (wat dikwels nie self die antieke bronne gelees het nie). Ek het gedink dit sal tog interessant wees as ek so twee of drie plasings maak met uittreksels uit primêre Griekse bronne wat in die 4e eeu geskryf is en dit dan in Afrikaans vertaal om so ‘n vars en nuwe invalshoek tot die Niceense debat te gee. Net eers die agtergrond van die aanhalings:
Die aanleidende gebeure tot hierdie sinode is soos volg: Arius was ‘n baie populêre prediker in Alexandrië en het die plaaslike biskop Alexander aangevat omrede hy (Alexander) geleer het dat God en Christus dieselfde ewigheid besit. Arius het hiervan verskil en aangevoer dat Christus die eerste en hoogste van God se skepsels was, en nie dieselfde substansie as God gehad het nie. Biskop Alexander het toe seker gemaak dat Arius se leringe by ‘n streeksinode in Alexandrië in 317 veroordeel word, en uit die gemeenskap van gelowiges uitgesluit moet word. Hierna het beide Alexander en Arius begin om briewe rond te stuur aan hul vriende en ander biskoppe om steun vir hulle standpunte te werf. ‘n Streeksinode wat vroeg in 325 gehou is, het weereens Arius se standpunt afgewys. Keiser Konstantyn het van die twispunt te hore gekom, en probeer om die geskil te besleg.
Hieronder haal ek dan ‘n gedeelte aan uit ‘n brief van Konstantyn wat hy aan beide Arius en Alexander gestuur het (soos weergegee deur Eusebius van Caesarea), en wat ek uit Grieks vertaal het (soms moes ek maar bietjie dinamies vertaal om die Grieks leesbaar te maak). In die brief vermaan Konstantyn beide Arius en Alexander om nie sulke diepsinnige vrae te vra nie, en as dit wel gevra word, dit ook nie in die openbaar te beantwoord nie. Moet egter vir geen oomblik hieruit aflei dat die vroeë Christene daarvan weggeskram het om diepsinnige vrae te vra nie. So vertel Gregorius van Nyssa vir ons dat die debat oor Christus se natuur later in die 4e eeu so heftig geword het dat “elke deel van die stad gevul is met sodanige gesprekke (oor Christus se natuur): die stegies, die kruispaaie, die markplekke, die strate. Die vrae is bespreek deur hulle wat klere verkoop het, geldwisselaars, verkopers van kos. As jy vir ‘n geldwisselaar gevra het wat die wisselkoers is, het hy eers geantwoord met ‘n lang betoog oor wat dit beteken om gebore te wees en om nie gebore te wees nie. As jy navraag gedoen het oor hoeveel brood daar is, en oor die kwaliteit daarvan, het die bakker eers geantwoord: ‘Die Vader is die grootste, en die Seun is ondergeskik aan Hom.’ Wanneer jy by die baddens gevra het of die water al gereed is, het die bestuurder van die badhuis eers verklaar dat die Seun uit niks voortgekom het. Ek weet nie wat ‘n mens hierdie boosheid moet noem nie, of dit malheid of sotheid is nie...” (Gregorius van Nyssa, De Deitate Filii et Spiritus Sancti V [TLG 46.557.19-30]).
Hierdie aanhaling uit Gregorius van Nyssa is ‘n pragtige bewys van godsdiensdebatte wat in die 4e eeu reeds op die markplek gevoer is! Hieronder is dan nou Konstantyn se brief aan beide Arius en Alexander (volgens Eusebius van Caesarea in sy Vita Constantini):
“Van Victor Constantinus Maximus Augustus, aan Alexander en Arius: Ek het gehoor dat die oorsprong van die huidige kontroversie soos volg is: Toe u, Alexander, die ouderlinge elkeen afsonderlik gevra het wat hulle standpunt is oor ‘n sekere gedeelte wat in die Wet (Spreuke 8:22) geskryf staan, of liewer, ek moet sê, dat u hulle 'n nuttelose vraag gevra het, het u, Arius, daarna onnadenkend geantwoord op dit wat van die begin af nooit bedink moes gewees het nie, of as dit bedink is, eerder in diepe stilte begrawe moes gewees het. Daarom het verdeeldheid tussen julle ontstaan, eensgesindheid het verlore gegaan, en die heilige volk, verdeel in uiteenlopende partye, het nie meer die eenheid van die een liggaam beleef nie.
Bewys julle albei nou 'n gelyke mate van verdraagsaamheid, en aanvaar die raad wat u mededienaar regverdiglik gee. Wat is dan hierdie raad? Dit was in die eerste plek verkeerd om sulke vrae soos hierdie voor te stel, of om daarop te antwoord toe dit gevra is. Want daardie vrae word nie deur enige wet beveel nie; dit is eerder ‘n twisgierige gees wat dit deur nuttelose ledigheid voortgebring het, en al is dit bloot bedoel as 'n intellektuele oefening, moet ons dit eerder beperk tot ons eie gedagtes, en dit nie oorhaastig in die openbare terrein indra nie, en ook nie onbedoeld aan die algemene oor toevertrou nie....
Julle weet dalk dat filosowe, alhoewel hulle almal een filosofiese sisteem aanhang, tog dikwels oor sekere punte in twis verkeer, en dalk het hulle almal ook nie dieselfde kennis nie, tog word hulle deur die verenigende krag van hul gemeenskaplike leerstellings tot harmonie teruggeroep. As dit waar is van die filosowe, is dit nie veel meer redelik dat ons, wat die dienaars van die Allerhoogste God is, eensgesind moet wees met betrekking tot die belydenis van dieselfde godsdiens nie?....
Maar laat ons nog meer deeglik en met besondere aandag kyk na wat ek gesê het, en dan besluit of dit reg is dat, op grond van 'n onbenullige en dwase woordelikse verskil tussen ons, broers teenoor mekaar die houding van vyande moet aanneem, en die eerbiedige vergadering van die Sinode deur onheilige verdeeldheid geskeur word, as gevolg van ons wat oor sulke triviale en heeltemal onnodige punte stry? Want die waardigheid van julle sinode moet bewaar word, en die gemeenskap van julle hele liggaam ononderbroke gehandhaaf word, hoe groot ook al die geskil oor onbelangrike sake onder julle is. Want ons is nie almal eensgesind oor elke onderwerp nie, en daar is ook nie so iets soos één gesindheid en oordeel wat vir almal gemeenskaplik is nie. Wat die Goddelike Voorsienigheid betref, laat daar één geloof en één begrip onder julle wees, één verenigde siening met betrekking tot God....
Hervat dan julle wedersydse gevoelens van vriendskap, liefde en agting: laat mense mekaar weer soos in die verlede omhels; en gee weer erkenning aan mekaar, nadat julle jul siele as't ware gereinig het. Dit gebeur dikwels dat wanneer 'n versoening bewerkstellig word deur die verwydering van die oorsake van vyandskap, vriendskap selfs soeter word as wat dit voorheen was.”
Omdat die kontroversie voortgewoed het, het Konstantyn besluit om al die biskoppe te nooi om in Mei 325 na die koninklike paleis te Nicea te kom om die teologiese kwessies uit te stryk. Hy het selfs gereël dat die biskoppe vervoer na die byeenkoms verkry. Ongeveer 250 biskoppe het besluit om die sinode by te woon. Konstantyn wou dit sommer laat saamval met die naderende 20ste viering van sy keiserskap en ook om sy oorwinning oor Licinius kort tevore te vier. Volgende keer vertaal ek tekste wat interessanthede beskryf wat by hierdie Sinode plaasgevind het. Ten slotte moet ons tog ook onthou dat Eusebius gloeiende lofredes op Konstantyn gelewer het, sonder om sy tekortkominge en swakhede te belig. Eusebius was dus nie ‘n baie objektiewe historikus nie, maar hy was seker meegevoer deur die groot verandering van staatskant teenoor die Christendom wat deur Konstantyn teweeggebring is. Nietemin, Eusebius se vertellinge bied tog interessante stof vir ons oor hierdie belangrike gebeure.
Deel 2
Soos ek in my vorige plasing beloof het, gaan ek weer van ons antieke bronne besoek wat ons meer vertel oor wat alles daar by die eerste Ekumeniese Sinode te Nicea gebeur het, presies 1700 jaar gelede! Net eers as agtergrond: In die eerste drie eeue is Christene swaar vervolg deur die staat. Nou, onder Konstantyn se bewind, het daar versoening tussen Staat en Kerk plaasgevind (wat beslis ook nie altyd heilsaam was vir die Kerk nie). Nietemin, vir die kerkleiers was die beëindiging van vervolging ‘n ongelooflike verandering om te beleef! Kerkleiers van oor die hele bekende wêreld heen kon nou vir die eerste keer saam vergader om oor teologiese kwessies te besin (daarom word Nicea ook die eerste ekumeniese sinode van die Kerk genoem). Sommige van die kerkleiers wat daar langs mekaar in die sinode gesit het, het nog duidelike tekens van wonde gehad wat tydens die vervolging opgedoen is. So vertel Sokrates vir ons van Paphnutius, biskop van een van die stede in Bo-Thebes in Egipte, “wat sy oog verloor het tydens die vervolging. Die keiser het biskop Paphnutius op ‘n besondere manier vereer, en hom etlike kere na die paleis genooi net om die wond te soen waar sy oog destyds (tydens die vervolging) uitgepluk is” (Historia Ecclesiastica [HE] 1.11). Daarom ook dat Eusebius skryf dat dit “heel gepas vir die geleentheid was” dat die Sinode te Nicea gehou is, want die naam Nicea is afkomstig van die Griekse woord “Nike” wat “oorwinning” beteken, en die sinode het ‘n tydperk van oorwinning vir die kerk ingelei (Vita Constantini [VC] 3.6). Terloops, Nicea is min of meer geleë in die omgewing van die hedendaagse dorp İznik in Noordwes Turkye.
Eusebius (VC 3.5) vertel dat die geskil oor Christus se Godheid nie die enigste dispuut was wat op hierdie stadium die Kerk verskeur het nie. Kerkleiers het ook verskil oor wanneer Paasfees gevier moes word: Moet Paasfees op die 14de dag van Nisan (volgens die Joodse kalender) gevier word — dit is die dag waarop die Joodse Pasga (Pesach) begin, OF moes Paassondag altyd op die eerste Sondag ná die eerste volmaan na die lente-ewening gevier word (soos die gebruik ook tans in SA is)? Omdat ‘n deel van die kerk eersgenoemde datum nagevolg het, en ‘n ander deel laasgenoemde datum, het dit meegebring dat sommige Christene nog hartseer is oor Jesus se kruisiging, terwyl ander alreeds juig oor sy opstanding. Eusebius sê dat die groep wat die Joodse datum nagevolg het, beskuldig is dat hulle “navolgers is van hulle ( =Jode) wat verwyderd staan van die genade van die Evangelie” (VC 3.5). Die verdeeldheid in die Kerk was nie goed vir Konstantyn se ryk nie, daarom het hy besluit om ‘n sinode te belê om die geskil op te los. Eusebius vertel vir ons dat Konstantyn briewe uitgestuur het na al die biskoppe. In die briewe het hy eerstens vir die biskoppe vertel hoeveel hy hulle waardeer het. Hy het selfs gesorg dat hulle vervoer het om die sinode by te woon, en het selfs perde vir hulle gestuur om hulle na die sinode te bring (Eusebius (VC 3.6-7).
Eusebius (VC 3.7) noem dan breedvoerig van watter lande die teoloë afkomstig was. Hy sê dat hulle van gemeentes dwarsoor Europa, Libië en Asië gekom het. Daar was Siriërs, Ciliciërs, Fenisiërs, Arabiere, afgevaardigdes van Palestina, mense vanaf Egipte, Thebane en Mesopotamiërs. Daar was selfs ‘n Persiese biskop teenwoordig. Daar was ook Scithiërs wat die sinode bygewoon het. Ook Pontus, Galasië, Pamfilië, Cappadocië, Asië en Frigië het almal hulle mees voortreflike biskoppe as afgevaardigdes gestuur. Daar was selfs mense wat van verafgeleë plekke in Thrasië en Macedonië, of Agaje en Epirus, gekom het. Daar was ook ‘n Spanjaard wat baie wyd en ver gerespekteer was. Ironies genoeg kon die biskop van Konstantinopel (die stad van die keiser) vanweë sy hoë ouderdom nie bywoon nie, maar sy ouderlinge het hom verteenwoordig. Eusebius voeg by dat die diversiteit van mense wat so byeengekom het, “baie duidelik die werk van God was, omdat mense wat andersins ver van mekaar verwyder was, nie alleen in sentiment nie, maar ook ten opsigte van land, plek en nasie, nou almal bymekaar gebring is” (VC 3.6).
Eusebius (VC 3.8 ) het hierdie byeenkoms vergelyk met die verskeidenheid van mense wat teenwoordig was met die uitstorting van die Heilige Gees toe hulle gesê het: “Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere” (Hnd 2:8-11). Maar dan voeg Eusebius by dat daardie byeenkoms op Pinksterdag nie naby so groot was as die byeenkoms te Nicea nie, omdat die byeenkoms waarvan ons in Handelinge lees, nie almal kerklike amptenare van God (θεοῦ λειτουργῶν) was nie. In hierdie byeenkoms te Nicea was daar meer as 250 biskoppe en dan was daar boonop so baie ouderlinge en diakens en dienaars dat dit te veel was om te tel!
Maar kom ek stel Eusebius self aan die woord om hierdie klomp teoloë by Nicea te beskryf. Hy sê: “Van hierdie dienaars van God was daar sommiges wat voortreflik was met betrekking tot wysheid en welsprekendheid, ander was weer voortreflik betreffende hulle ernstige lewe, ander weer vanweë sterk dapperheid, en ander het sommer al hierdie gawes tegelykertyd gehad. Sommige het respek afgedwing vanweë hulle ouderdom, en ander was weer jonk, en op die toppunt van hulle verstandelike vermoëns. Sommige het pas die bediening betree. Die keiser het beveel dat daar aan almal se behoeftes elke dag voorsien moes word” (VC 3.9).
Sokrates (EH 1.8 ) vertel egter iets anders wat ek baie interessant vind. Hy sê dat daar ook baie gewone lidmate teenwoordig was wat ook die sinode bygewoon het, en alreeds ‘n dag voordat die sinode begin het, byeengekom het. Baie van hierdie mense was opgelei in die kuns van redevoering, en elkeen was gretig om die teologiese standpunt van sy groep te bevorder. So het Eusebius, biskop van Nicomedia, byvoorbeeld Arius se standpunt ondersteun, tesame ook met Theognis (biskop van Nicea) en Maris (van Chalcedonië in Bitinië). Hulle is egter sterk teengestaan deur Athanasius wat slegs ‘n diaken van die Alexandrynse kerk was. Athanasius is egter hoog aangeskryf deur Alexander, sy biskop, en baie mense het Athanasius bewonder. Voordat die sinode nog begin het, het hierdie manne ter voorbereiding van hulle onderskeie standpunte, debatte gehou voor menigte mense om ander mense na hulle kant toe oor te haal. En dan kom die pragtige storie: Onder die gehoor was daar ‘n “confessor”. ‘n “Confessor” (‘n Latynse term) was iemand wat swaar gely het tydens die vervolging van Christene, en gemartel is en dikwels in die tronk beland het, maar wat nooit sy of haar geloof opgesê het nie, en op die ou einde tog ook die vervolging oorleef het. Sokrates sê dat hierdie “confessor” was iemand wat heeltemal ongesofistikeerd en eenvoudig was. Hierdie “confessor” het egter hierdie debatteerders berispe, en vir hulle gesê dat Christus en sy apostels ons nooit enige dialektiek, retoriek of ydele taktiek geleer het nie, maar wel eenvoud wat deur geloof en goeie werke bewaar moet word. Toe hy dit sê het almal wat teenwoordig was, hom bewonder en toegegee dat hy reg was. Nadat die debatteerders sy duidelike stelling van wat waarheid is, aangehoor het, het hulle groter bedagsaamheid aan die dag gelê. So het die rumoer van al hierdie debatte tot bedaring gekom.
Die volgende dag was dit die opening van die sinode: Eusebius beskryf hierdie statige geleentheid in detail: Hy sê dat hulle in ‘n baie groot saal van die paleis byeengekom het. Aan elke kant van die saal was daar stoele, mooi gerangskik. Diegene wat na die sinode genooi is, het daar gesit, volgens rangorde. Toe almal ordelik gesit het, het daar ‘n stilte geheers, terwyl almal gewag het vir die aankoms van die keiser. Daar het eers drie van die keiser se familielede binnegekom, toe ook ander mense, maar geen soldate of wagte soos dit gewoonlik gebeur het nie. Slegs gelowiges het ingekom. Toe die keiser inkom, is ‘n teken gegee en almal het opgestaan. Heel laaste het die keiser ingekom en in die middel tussen die genooides deurgeloop. Sy klere was versier met goud en edelgesteentes, en dit het geskitter. Sy nederigheid en vroomheid was duidelik waarneembaar, en hy het afgekyk grond toe, en kalmte uitgestraal wat gepas was by sy keiserlike posisie. Hy het tot heel voor geloop waar ‘n lae stoel met goud bedek vir hom neergesit is. Hy het gewag totdat die biskoppe vir hom aangedui het dat hy maar kon sit, en toe eers het hy gaan sit, en so ook al die aanwesiges. ‘n Biskop het voorgegaan en God gedank vir die geleentheid.
Laat die sinode nou begin! Volgende keer (deel 3) vertel ek hoe hewig daar tydens die sinode debatteer is.
Deel 3
Voordat ek verder gaan om te vertel van wat alles daar by die Sinode van Nicea gebeur het, wil ek julle eers verwys na ‘n baie interessante webtuiste wat ek ontdek het. Dit gee vir ons AL die antieke Griekse en Latynse tekste (met ‘n Engelse vertaling!) wat oor die Sinode van Nicea handel. Gaan besoek dit gerus by https://www.fourthcentury.com/ancient-descriptions-of-the-council-of-nicaea/. Gaan lees daar onder andere van Theodoretus wat vertel hoe Keiser Konstantyn vir die teoloë (en hul reisgenote) donkies, muile en perde gegee het om die sinode by te woon. Theodoretus vertel ook dat daar etlike sinodegangers sonder regterarms of regteroë was omdat hulle dit jare tevore tydens die vervolging van Christene verloor het. Hy vertel ook van Paulus, biskop van Neocaesarea, wat die gebruik van beide sy hande verloor het nadat Keiser Licinius tydens die vervolging in sy woede beveel het dat Paulus se hande met warmrooi ysters gebrand moes word. Een van die interessante briewe wat jy ook op daardie webblad kan kry, is van Eusebius van Caesarea wat ‘n brief aan sy gemeente gestuur het, omdat hy aanvanklik die besluit van die sinode oor Jesus se Godheid verwerp het, en daarna van standpunt verander het en dit toe weer goedgekeur het. Hy verdedig nou in sy brief aan sy gemeente sy besluit en hy begin sy brief met “aangesien gerugte vinniger trek as akkurate inligting, het julle seker reeds van ander bronne verneem wat tydens die Sinode te Nicea gebeur het rakende die Kerk se geloofsoortuiging.” En dan verduidelik hy sy standpunt. ‘n Mens moet natuurlik, soos in alle ander gevalle, altyd hierdie dokumente met ‘n kritiese oog lees. Eusebius is byvoorbeeld ook geneig om in sy brief aan sy gemeente sy eie rol by die sinode bietjie te oordryf.
Maar terug by die Ekumeniese Sinode van Nicea wat presies 1700 jaar gelede gehou is. Die voorsitter van die sinode was Hosius van Cordova in Spanje. Hy het van 312 tot 326 as Keiser Konstantyn se raadgewer oor kerklike sake gedien (Dit is nie net Pres. Trump wat ‘n kerklike raadgewer het nie!). Nadat Hosius die sinode met gebed geopen het, het Keiser Konstantyn die biskoppe toegespreek, en gesê: “Liewe vriende, dit was my grootste begeerte om julle so saam in eenheid te sien.” Daarna het hy die hoop uitgespreek dat vrede en eenstemmigheid by die sinode sal heers.
Eusebius sê dat Konstantyn hierdie toespraak in Latyn gelewer het, maar dat iemand dit ook vir die gehoor in Grieks vertaal het. Sokrates vertel dat Konstantyn ook die aanwesiges gevra het dat hulle hul ongenaakbare gevoelens jeens mekaar eenkant moet skuif. Sokrates vertel dat sommige teoloë selfs alreeds die dag voor die sinode begin het, petisies aan die keiser voorgelê het. Die keiser vra toe dat al daardie petisies eers bymekaargemaak moes word, en eers verbrand moes word. Daarna wys hy toe daarop dat hulle mekaar se broers is en mekaar moet vergewe, en verder het hy ook vir eenheid gepleit.
Eusebius sê dat die keiser toe vir die teoloë in die sinode gevra het om hulle onderskeie standpunte te verduidelik. Filosowe en teoloë, nie net biskoppe nie, is toegelaat om deel te neem. Die eerste geskilpunt wat behandel moes word, was die kwessie oor die natuur of die wese van Christus, en Christus se verhouding met God. Arius en sy vriende, asook Eusebius van Nicomedia, het geglo dat Christus nie dieselfde Godheid as die Vader gehad het nie, en dat die Seun van God ondergeskik was aan God en ‘n heeltemal ander natuur gehad het. Arius en sy volgelinge het veral drie stellings gemaak wat hulle oortuigings verwoord het. Dit was (a) Daar was ‘n tyd wat Jesus nie bestaan het nie (b) Hy het ook nie bestaan voordat Hy verwek is nie (c) Hy is geskep uit dit wat nie bestaan het nie. Die Ariusgroep het dan ook ‘n belydenis in hierdie trant aan die sinode voorgelê. Die teoloë het mekaar dadelik hewig begin aanval en beskuldig. Uiteindelik het die meerderheid van die sinode die belydenis van die Ariusgroep verwerp. Hulle het opgestaan en Arius se geskrewe belydenis voor almal opgeskeur. Theodoretus sê dat die sinodegangers so ontsteld was oor Arius se belydenisskrif, dat hulle almal soos een man opgestaan het en Arius veroordeel het, en gesê het dat “hy die geloof verloën”. Slegs twee mense, Secundus en Theonas, het bly sit. Wat baie interessant is, is dat Eusebius vertel dat die keiser wel ook Grieks geken het, en dat hy juis deur ook soms in Grieks te praat, hy ook ‘n meer versoenende en toeganklike beeld uitgestraal het, soveel so dat hy uiteindelik die sinodegangers kon oorhaal om meer eensgesind te word.
Soos ook Sokrates vir ons vertel, was die gonswoord by die sinode die Griekse woord “homoousios”. Dit is afgelei van twee Griekse woorde, naamlik “homos” wat “dieselfde” beteken, en “ousios” of “ousia”(wat dui op die “natuur” of die “wese” van Christus). Met hierdie woord sê ‘n mens dus eintlik dat God en Jesus dieselfde natuur het, en dus dat beide die Vader en Christus God is. Eusebius vertel dat veral Konstantyn hierdie term “homoousios” verdedig het. So die vraag wat bespreek is, is of Christus “dieselfde” (“homos”) “natuur” / “wese” (“ousia”) as God gehad het, al dan nie. As Christus en God dieselfde natuur het, kan Christus nie ‘n skepsel van God wees nie, want dan sou Christus dieselfde natuur as die mens gehad het, wat ‘n skepsel van God is. “Homoousios” was nie heeltemal ‘n nuwe woord nie. Dit was eintlik ‘n filosofiese term wat onder andere ook in Gnostiese en heidense godsdienstige kringe voorgekom het. Sommige teoloë was gekant teen die gebruik van hierdie woord, omdat dit nie in die Bybel voorkom nie. Die meeste sinodegangers het egter gevoel dat dit nie saak maak dat die woord “homoousios” nie in die Bybel voorkom nie, aangesien dit wel Bybelse beginsels verwoord. Die belangrikste argument vir die gebruik van die woord was dat dit beslis die Ariaanse stellings hierbo ongeldig maak.
Die woord “homoousios” kan egter op meerdere manier verstaan word. Dit is interessant dat Athanasius byvoorbeeld vertel dat die Ariusgroep uitgevang is dat hulle vir mekaar in die sinode oog geknip het, of onderlinge vir mekaar gefluister het, wanneer hulle teenstanders hulle standpunt verduidelik en woorde gebruik wat ook heel gemaklik deur die Ariusgroep aanvaar kon word. Hy verwys dan na woorde soos “altyd”, “in Hom”, “mag”, ensovoorts.
Volgens ’n brief wat Eusebius aan sy gemeente gestuur het, het hy hulle gemeente in Caesarea se doopbelydenis aan die sinode voorgelê. Die keiser het baie van die belydenis gehou, maar wou ook die term “homoousios” in die belydenis hê. Op die ou einde het die sinode Eusebius se gemeente se belydenis geneem, aanpassings daaraan gemaak, en ook die woord “homoousios” ingevoeg. Die geloofsbelydenis wat toe aanvaar is, is naamlik die volgende:
Ons glo in een God, die Vader, die Almagtige,
Skepper van alles, wat sigbaar en onsigbaar is.
En in een Here Jesus Christus, die Seun van God,
die eniggebore,
wat uit die Vader gebore is,
dit wil sê uit die wese van die Vader,
God uit God, Lig uit Lig,
ware God uit ware God,
gegenereer, nie gemaak nie,
een in wese (“homoousion”) met die Vader,
deur wie alles gemaak is,
dinge in die hemel,
en dinge op die aarde;
wat ter wille van ons mense en ter wille van ons redding
neergedaal het
en vlees geword het
en mens geword het,
gely het,
en op die derde dag opgestaan het,
opgevaar het na die hemele
en weer sal kom om te oordeel die lewendes en die dooies.
En (ons glo) in die Heilige Gees.
Maar diegene wat sê: "Daar was 'n tyd toe Hy nie was nie,"
en: "Hy was nie voordat Hy gegenereer is nie,"
en: "Hy is uit niks gemaak nie,"
of sê dat die Seun van God uit 'n ander substansie of wese is,
of geskape, veranderlik of veranderbaar is –
dié verklaar die Katolieke (algemene) en Apostoliese Kerk as vervloek.
Sokrates sê vir ons dat 318 sinodegangers hierdie belydenis goedgekeur het. Vyf wou dit nie goedkeur nie, naamlik Eusebius van Nicomedia, Theognis van Nice, Maris van Chalcedonië, Theonas van Marmarica en Secundus van Ptolemaïs. Die sinode het ook vir Arius vervloek, en vir almal wat sy standpunt gehandhaaf het. Keiser Konstantyn het Arius verban, en hom ook verbied om weer Alexandrië binne te gaan.
Hierdie belydenis van Nicea lui egter ook ‘n draaipunt in die geskiedenis in. Gewoonlik bestaan ‘n belydenis uit ‘n aantal POSITIEWE stellings wat ‘n mens glo. Nou is daar ook NEGATIEWE stellings in die belydenis oor wat jy NIE moet glo NIE, soos die stelling dat Christus “nie gemaak is nie”. Verder het die belydenis ook ‘n stertjie gekry met ‘n slotgedeelte wat ‘n vloek (anathema / ἀνάθεμα) uitspreek oor hulle wat ander oortuigings glo / bely. Die woord “anathema” hou verband met ‘n Hebreeuse woord wat “afgesny” of “verban” beteken. En belangrikste van alles: Skielik is ook die staat betrokke om met wetgewing die Christene se besluite af te dwing. Dit sou later tot baie negatiewe gevolge lei.
Let verder daarop dat die belydenis wat dikwels in ons tyd as die “Geloofsbelydenis van Nicea” bekend staan (sien byvoorbeeld p. 266 van die “Handboek vir die Erediens”) nie dieselfde is as die belydenis hierbo nie. Eersgenoemde belydenis is eers heelwat later geformuleer.
Volgende keer (Deel 4) kyk ons na ander besluite wat die Sinode van Nicea geneem het, en ook of die gesprek oor “homoousios” ter ruste gelê is.
Deel 4
Hierdie is dan die laaste deel van my gesprek oor die Sinode van Nicea. Ek wil eerstens net kortliks kyk na ander besluite wat ook by die Sinode van Nicea geneem is, en dan wil ek ook baie kortliks vertel wat ná die Sinode gebeur het rakende die debat oor Christus se Godheid.
Die Sinode van Nicea het ook oor ‘n ander kwelpunt gedebatteer, naamlik presies wanneer Paasfees gevier moes word. Soos ek in ‘n vorige deel geskryf het, was daar twee stelle gebruike in die Kerk: Die een groepering in die kerk het Paasfees altyd begin vier op die 14de dag van die maand Nisan (volgens die Joodse kalender) — dit is die dag waarop die Joodse Pasga (Pesach) begin, terwyl ander geglo het dat die opstanding van Jesus altyd op die eerste Sondag ná die eerste volmaan ná die lente-ewening gevier moes word (soos die gebruik ook tans in SA is). As die Joodse kalender gevolg word, beteken dit dat die viering van Jesus se opstanding op enige dag van die week kan val. As die tweede gebruik gevolg word, sal die opstanding van Jesus altyd op ‘n Sondag gevier word, en dit dra sterk simboliese betekenis, ook omrede die Christene se byeenkomste op ‘n Sondag gehou is, soos ons ook in Justinus se “Apologia” lees. As daar twee verskillende gebruike in die Kerk bestaan, beteken dit dat een deel van die Kerk nog bedroef is oor Jesus se kruisiging, terwyl ‘n ander deel alreeds jubel oor sy opstanding.
Na die afloop van die sinode het Konstantyn ‘n brief geskryf en dit vir al die gemeentes gestuur om hulle in te lig dat die sinode besluit het dat laasgenoemde gebruik gevolg moes word. En dan sê hy nogal in sy brief dat “dit wat in die heilige byeenkomste van biskoppe besluit word, beskou moet word as ‘n aanduiding (ἀναφοράν) van Goddelike wil”. (Hierdie sinnetjie is al dikwels in die geskiedenis van die kerk gebruik). Eusebius het vir ons ‘n afskrif van hierdie brief bewaar, en Konstantyn gee ook redes in die brief oor waarom die sinodegangers so besluit het oor die datum van die Paasfees. Al die argumente kom eintlik daarop neer dat die Kerk baie drasties moes wegbreek van die Jodedom. Konstantyn gebruik die skerpste taal in sy brief teenoor die Jode. Hy sê byvoorbeeld: “In die eerste plek lyk dit na ‘n onwaardige besluit dat ‘n mens in die viering van daardie uiters heilige feesdag die gebruik van die Jode navolg, hulle wat hulle eie hande met ‘n groot wettelose fout gevul het, en nou met reg blind geword het in hulle siele.... Laat ons dus niks in gemeen hê met die veragtelike Joodse skare nie.... Hoe kan daardie mense gesond redeneer, hulle wat vadermoord gepleeg het toe hulle die Here doodgemaak het, terwyl hulle gelei word nie deur rede nie, maar deur onbeheerste passie, en ‘n dwase gees.” Die tweede rede vir die besluit van die sinode was bloot dat twee verskillende datums nie eenheid in die Kerk vergestalt het nie.
Sokrates vertel vir ons dat benewens hierdie twee groot dispuutpunte (die Godheid van Jesus en die datum van die Paasfees), het die sinodegangers ook ‘n aantal “canones” opgestel. “Canones” (Latyn ekv. “canon”) is kerklike reëls of regulasies. Die Griekse woord “canon” (κανών) is ‘n meetstok. So hierdie kerklike regulasies dien as “riglyne” vir die gemeentes waarteen hulle hul gebruike kon meet. Die “canones” het byvoorbeeld gehandel oor die kwessies van selibaatskap vir kerklike amptenare, reëls vir die verkiesing van biskoppe, die bediening van nagmaal aan hulle wat besig is om te sterf, ensovoorts.
Toe die sinode verby is, het Keiser Konstantyn die sinodegangers weer in die saal byeengebring. Hy het ‘n beroep op hulle gedoen om vrede te handhaaf, om strydpunte te vermy, om nie jaloers te wees nie, en om hulleself nie te verhoog nie. Daarna het die keiser hulle gevra om ook voortdurend vir homself te bid. Daarna het al die sinodegangers met groot vreugde teruggegaan huis toe.
Maar nou kom die moeilike deel wat ek net baie oorsigtelik gaan hanteer. Dit gaan oor hoe die debat oor die Godheid van Jesus en sy verhouding met die Vader verder verloop het ná die Sinode van Nicea. Die stof het nog lank nie gaan lê nie, en dit sou nog ‘n verdere meer as 50 jaar neem om die saak tot rus te bring met die Sinode van Konstantinopel in 381 nC. Maar kom ons begin by die gebeure direk na afloop van die Sinode van Nicea. Athanasius het as 23-jarige diaken voortreflik presteer by die sinode, met die gevolg dat hy kort na die sinode (in 328) Alexander (sy mentor) as biskop van Alexandrië opgevolg het. Arius is intussen ook weer hertoegelaat tot die kerk nadat hy so ‘n dubbelsinnige verklaring gemaak het. Sy teologie het ook weer opgevlam, alhoewel hyself nie meer so ‘n prominente rol in die debat gespeel het nie. Arius is egter in 336 oorlede net voordat hy sy nuwe posisie kon opneem. Keiser Konstantyn het ook die twee biskoppe wat nie by die sinode die Niceense geloofsbelydenis wou onderteken nie, weer heraangestel as biskoppe. Daar was egter baie interne spanninge tussen die biskoppe, en Athanasius self is nie minder nie as 5 keer verban (in 336, 339, 356, 362 en 365) en dan weer teruggebring. Talle biskoppe het ook al hoe meer vrae gehad oor die woord “homoousios”. Van hulle bekommernis was (a) die feit dat die woord “homoousios” nie in die Skrif voorkom nie en (b) dat die term ook deur dwaalgroepe soos die Gnostici gebruik is.
Verder is Konstantyn, wat ‘n groot rol gespeel het om eenheid onder die teoloë te bewerkstellig, in 337 nC oorlede. Sy opvolgers het ook nie almal dieselfde teologiese standpunte as hy gehuldig nie. So byvoorbeeld was Julianus die Afvallige (wat van 361 tot 363 die keiserlike troon beset het), ‘n vurige ondersteuner van ‘n universele heidense monoteïstiese kultus. Gregorius Nazianzus vertel vir ons dat Julianus probeer het om paganisme weer te laat herleef deur die priesters van paganisme te oorreed om (soos die Christenteoloë) oor moraliteit te preek en ook om liefdadigheidsprogramme in te stel. Alhoewel Julianus nie amptelik weer begin het om Christene te vervolg nie, het hy wel Christene uit gesagsposisies verwyder. Julianus het ook besluit om afgesette ortodokse biskoppe terug te bring omdat hy gehoop het dat hy daardeur die teologiese konflik kon verhoog, en so Christendom kon vernietig. Maar soos die historikus Everett Ferguson tereg sê, “wat Julianus nie besef het nie, is dat teologiese debat ‘n uitdrukking is van diep en intense teologiese oortuigings, en dat Christene floreer in sulke konflikte”. So op die ou einde het Julianus gemaak dat biskoppe wat die Niceense geloofsbelydenis goedgesind was, teruggekeer het na hul gemeentes, en hulle leringe kon verkondig. Julianus is in ‘n oorlog in Persië gedood, en volgens ‘n Christenlegende was sy laaste woorde toe hy sterf: “O Galileër ( = Jesus), jy het gewen!”
Die volgende vier teologiese groeperings rakende die Ariuskontroversie was ná die Sinode van Nicea aan die orde van die dag. Al vier hierdie groepe het oor ‘n paar letters in die woord “homoousios” verskil.
(a) Die Homoousiane: Ek het reeds genoem dat die term “homoousios” by die Sinode van Nicea aanvaar is om die verhouding tussen die Vader en die Seun te beskryf. Soos ek genoem het, bestaan die woord “homoousios” uit twee Griekse woorde, nl. “homos” (wat “dieselfde” beteken) en “ousia” (wat “substansie” of “natuur” beteken). “Homoousios” sê dus dat Christus dieselfde natuur of substansie as God het. Die spreekbuise van hierdie standpunt was Athanasius in die Ooste, en Hilarius van Poitiers in die Weste. Hierdie was dan ook min of meer die “amptelike” standpunt van die “katolieke” ( = algemene) Kerk.
(b) Later het sekere teoloë (soos Eusebius van Caesarea, Cyrillus van Jerusalem en Basilius of Ancyra) gesê dat ‘n mens eerder net een klein lettertjie moet invoeg in hierdie woord, naamlik die letter “i” sodat dit lees “homoiousios” wat afkomstig is van die Griekse woord “homoios” (wat “soortgelyk” beteken) en verder dan ook weer “ousios” (wat “wese”, “substansie” of “natuur” beteken). Die woord “homoiousios” (met die “i” wat ingevoeg is”) wil dus nie sê dat Christus “dieselfde” substansie / natuur as God het nie, maar dat sy substansie “soortgelyk” is aan die Vader se substansie. En so is daar toe ook oor hierdie lettertjie “i” verder gedebatteer. Hierdie groep staan bekend as die Homoiousiane.
(c) ‘n Derde groep het weer argumenteer dat ‘n mens eerder die “ousios” aan die einde van die woord “homoiousios” moet weglaat, en net die eerste deel van die woord moet behou, wat ook van die woord “homoios” (“soortgelyk” of “soos”) kom. Hulle wil dus sê dat Jesus in elke opsig soos God is, sonder om iets te sê oor substansie, wese of natuur. Hierdie groep wil ‘n duidelike onderskeid tussen die Vader en die Seun maak. Hierdie laaste groep is die “Homoeane” genoem, afgelei van “homoios”. Biskop Acacius het hierdie standpunt verdedig.
(d) En dan het Arius en sy dissipels voortgegaan om te verkondig dat Christus “an-homoios” is. Die voorvoegsel “an” beteken “nie”, en hulle sê dus dat Christus “NIE dieselfde substansie as die Vader het NIE! Hulle sê dat omdat die Vader nie geskep is nie, en omdat Christus wel geskep is, het die Seun nie dieselfde substansie as die Vader nie. Aetius en Eunomius was die spreekbuise van hierdie groep. Hulle word die An-homeane genoem! Hulle gonswoord was “heterousios” – “hetero” beteken “anders”, en Christus se substansie is “anders” as die Vader se natuur of sy substansie.
Verskeie kleiner sinodes is gehou om hieroor te debatteer. In 381 het Keiser Theodosius die Sinode van Konstantinopel byeengeroep om klarigheid oor al hierdie standpunte te kry. Die Sinode het die herbevestig dat die Seun dieselfde substansie of natuur as die Vader het, en ook bevestig dat die Heilige Gees self ook God is. Hulle het dus ook die geloofsbelydenis wat by Nicea aanvaar is, herbevestig en hier en daar ‘n frase bygevoeg. Verder het die Sinode ‘n “anathema” (vloek) uitgespreek oor die ander dwaalgroepe. Ná die sinode het Theodosius ‘n edik uitgevaardig wat die Geloofsbelydenis van Nicea amptelik maak, en ook verklaar het dat die Christelike geloof, soos daarin vervat, die amptelike geloof van die Romeinse Ryk was.
Hieronder is dan nou ook die Geloofsbelydenis van Nicea-Konstantinopel (ook genoem die “Niceno-Constantinopolitanum”):
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;
en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye; (God uit God) Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader; deur wie alle dinge ontstaan het; wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is; en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte; wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader; wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het, wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;
en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.
Ons glo aan een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.
Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;
ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu. Amen.
Ondanks al die redevoeringe en twiste en debatte en sinodes en menslike swakhede, glo ons tog ook dat God in beheer is.
Hiermee sluit ek dan my gesprek af oor die Sinode van Nicea, en die verdere afloop daarvan.
Amen. Ja, amen.
Na aanleiding van hierdie plasings voer Prof Johan van der Merwe 'n onderhoud met Prof Hennie Stander