Die Arius-stryd
In 325 nC het die Romeinse keiser, Konstantyn, 'n konsillie in die stad Nicea bymekaargeroep. Die konsillie het biskoppe van regoor die Christendom bymekaar gebring om verdeeldhede op te los en die voortgesette eenheid van die kerk te verseker. Die mees betekenisvolle van hierdie kwessies was die stryd rondom Arius, wat so ernstig geword het in die oostelike deel van die ryk, veral in noordoos-Afrika, dat dit die voortgesette eenheid van die kerk daar bedreig het. Die Arius-stryd is vernoem na Arius wat in Noord-Afrika in die laat derde en vroeë vierde eeu gewoon het.
Arius was waarskynlik in Libië gebore, was vroeër in sy lewe 'n diaken in die kerk , maar is deur Petrus, biskop van Alexandrië, uitgesluit weens sy betrokkenheid by 'n sekte genaamd die Melitianisme. Hierdie sekte het sy naam gekry van 'n individu genaamd Melitius wat ook uitgesluit is na 'n geskil met die biskop van Alexandrië oor die toelating tot die kerk van dié wat hul geloof tydens vervolging gekompromitteer het. Melitius kon nie die kerk se standpunt aanvaar nie en dit was volgens die kerk se siening nodig dat hy uitgesluit moes word.
Na sy uitsluiting het Arius sy eie kerk begin en 'n aansienlike aanhang in Noord-Afrika opgebou. Die Melitiaanse probleem was ook op die agenda by Nicaea, maar teen die tyd van die konsilie was dit oorskadu deur die veel groter skeuring rondom Arius.
Konstantyn se poging om die twis te besleg
Die ryk was op daardie tydstip verdeel, met Licinius wat in die ooste regeer en Konstantyn in die weste. Soos die skeuring in die oostelike ryk gegroei het, het Konstantyn sy mag in die weste gekonsolideer en gewag vir die regte oomblik om sy mag na die ooste uit te brei. Hierdie geleentheid het gekom toe hy 'n verskoning gevind het om met Licinius te veg. Licinius is vinnig verslaan en die ryk was weer verenig, met Konstantyn as keiser.
Konstantyn, wat jare tevore tot Christendom bekeer is, wou nie hê dat die kerk verdeeld moes wees nie. Hy het besluit om 'n raad van biskoppe bymekaar te roep om hierdie kwessie op te los en om die kerklike leer te standaardiseer. Ongeveer driehonderd biskoppe is na Nicea genooi, waarvoor alle onkostes deur Konstantyn se staatskas betaal is.
Die Konsilie van Nicea
Die konsilie het in die laat lente van 325 nC vergader met Hosius as voorsitter. Historiese verslae verskil oor die aantal biskoppe wat teenwoordig was, met beramings wat wissel van 250 tot 320 lede. Eusebius van Caesarea, wat teenwoordig was by die raad, het geskryf dat "die mees vooraanstaande ministers van God uit al die kerke wat in Europa, Libië en Asië teenwoordig was, hier saamgetrek het."
Die biskoppe het besluit dat 'n amptelike verklaring nodig was wat die ortodokse siening van die kerk oor die verhouding van die Seun tot die Vader sou weerspieël. Eusebius van Caesarea het 'n geloofsbelydenis aan die vergadering voorgestel wat genoegsame indruk gemaak het om as 'n geskikte uitdrukking van ortodokse dogma beskou te word.
Die oorspronklike geloofsbelydenis soos uitgevaardig deur die Konsilie by Nicea is beslis anti-Arius in sy formulering: "Ons glo in een God, die Almagtige Vader..."
Die konsillie het ook ander kwessies bespreek soos die datum van Paasfees en probleme rakende uitgeslote biskoppe.
Die lot van Arius
Arius is na Illyricum verban en alle kopieë van sy geskrifte is beveel om verbrand te word. Enige iemand wat skuldig bevind word aan die verborge hou van sy geskrifte sou met dood gestraf word. Ondanks hierdie maatreëls het Arius voortgegaan om te skryf en te leer in ballingskap.
Hierdie gebeurtenisse het 'n groot invloed gehad op die ontwikkeling van Christelike leerstellings en het gelei tot 'n duidelike definisie van Christelike geloofsartikels wat tot vandag toe erken word.
In die Kerkorde word daar in Ordereël 1 na die Geloofsbelydenis van Nicea verwys:
BELYDENIS EN KERK
ORDEREËL 1
Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika bely in gemeenskap met die kerk van alle eeue ons geloof in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat alles wat vir ons verlossing nodig is duidelik en voldoende deur die Woord, die Bybel, bekend maak.
Ons belydenis word in die drie ekumeniese belydenisse verwoord, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis genoem na Atanasius; asook in drie reformatoriese belydenisskrifte, die drie formuliere van eenheid, te wete: die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.
In die Nederlandse Geloofsbelydenis verwys Artikel 9 na Nicea
Artikel 9 Skrifgetuienis oor die Drie-eenheid
Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge, veral uit dié werkinge wat ons in onsself voel.
Die getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drieeenheid te glo, staan op baie plekke in die Ou Testament en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie. Ons kan hulle onderskeidend en oordeelkundig uitkies:
Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld… God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. (Gen 1: 26, 27) Toe het die Here God gesê: ‘Die mens het nou soos een van Ons geword…’ (Gen 3: 22)
Wanneer God sê: Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, blyk dit daaruit dat daar meer as een Persoon in die Godheid is. En as Hy sê: God het… geskep…., wys Hy die eenheid van die Godheid aan. Weliswaar sê Hy nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die Ou Testament enigsins duister is, is in die Nuwe Testament baie duidelik. Want toe ons Here in die Jordaan gedoop is, is die stem van die Vader gehoor wat sê: Dit is my geliefde Seun… (Matt 3: 17). Die Seun is in die water gesien, en die Heilige Gees het Hom in die vorm van ’n duif geopenbaar. Buitendien is vir die doop van alle gelowiges hierdie formule deur Christus vasgestel: …doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Matt 28: 19).
In die Evangelie van Lukas sê die engel Gabriël aan Maria, die moeder van die Here: Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God (Luk 1: 35).
Eweneens: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees (2 Kor 13: 13; kyk endnoot 2).
Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie Persone in een, enige Goddelike wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou tog deur die Woord, terwyl ons verwag om die volkome kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet.
Verder moet ons ook let op die besondere ampte en op die eie werkinge van die drie Persone met betrekking tot ons: Die Vader word genoem ons Skepper deur sy krag; die Seun is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed; die Heilige Gees is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons harte. Hierdie leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk, van die tyd van die apostels af tot nou toe, altyd onderhou en gehandhaaf teenoor die Jode,
Mohammedane en sommige valse Christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus, Arius en dergelike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is. Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die Apostels, Nicea en Athanasius, en ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit het.