Johan Buitendag
HTS Vol 65, No 1 | 2009
Hierdie artikel gaan oor die artikel "ter helle neergedaal" en dien as 'n goeie vergelykende studie met die Apostoliese Geloofsbelydenis (12 Artikels)
https://drive.google.com/file/d/10YWOWFbN1ocAK7IJqzHnfEUZUyHiKP4T/view?usp=sharing
Johan Buitendag
Acta Theologica Supplementum 3 | 2002
https://drive.google.com/file/d/1iOv-hRX6wIv6VWem3mMrLym-glVphS_R/view?usp=sharing
IWC (Natie) Van Wyk
HTS Vol 72, No 4 (2016)
IWC (Natie) Van Wyk
HTS Vol 55, No 2/3 (2016)
Ek glo in God die Vader
die Almagtige Maker
van alles in die hemel
en alles op die aarde.
Ek glo in hierdie Vader
met die wondernaam:
“Ek is wat Ek is”,
werkwoordelik onvoltooid
voortdurend God.
Ek glo in hierdie Vader
van wie Moses slegs die rug
kon sien toe hy gevra het:
“Wys my U gesig.”
Ek glo in hierdie Vader
die God wat Liefde is
en ons na hierdie aard gevorm het
tot vlees uit stof,
en dit gevul het met Sy Gees
sodat ons uit gewone mensesaad
mense na Sy beeld kan maak:
om hiérin onsself te wees -
om lief te hê
sonder vrees.
Ek glo in hierdie Vader
wat die waters uit Sy hemel gee
as teken van Sy seën
sodat elke volk -
wit en bruin en swart –
in eie taal die Heer kan loof
en heersend oor die Skepping
voort kan gaan
om groente in akkers te plant
daarvan te eet en te dank.
Ek glo in hierdie Vader
wat Hom geopenbaar het in Sy Seun,
die Mens wat tussen ons kom woon het
as die Waarheid teen die Leuen:
“Sien dan dié Mens! – die geheim van My gesig.”
Ek glo in hierdie Seun
die Timmerman van Nasaret
wat gekom het
en kom om ons te ken
elkeen na sy naam ¬
in die fynheid en die grofheid van sy grein
en in die jaarringe van sy pyn.
Ek glo in Jesus Christus
die Mens na God se hart
wat God se wil gekies het
om deur die haat en klein begrip
van mense ’n doringkroon te dra,
en van God geskei te word
in die Godverlatenheid van Golgota ¬
die doderyk deurgrond het
en opgestaan het
dat ons onvervreem van God
verby die dood ewig vry kan lewe.
Ek glo in hierdie Jesus
wat opgevaar het na die Vader
en vandaar die sagte oordeel bring
omdat Hy nader aan my is
as wat ek aan myself is;
my kern ken,
verby die vel
tot in die chemie van die sel;
wat weet hoe diep my blindheid is
en my vashou ¬–
styf teen die braille van Sy lyf.
Ek glo in die Heilige Gees
die Wind van God
wat oor die leegheid van my lewe waai
en die koers bepaal ¬
weg van myself weg van Tarsis
na die nood in Ninevé.
Ek glo aan die kerk wat uit Christus groei
tot nuwe skeppingswerk;
om alle mense
met geloof en hoop en liefde te verbind
aan die Koninkryk van God se Kind.
Ek glo aan die gemeenskap van stukkende sondaars
wat kniel voor die Heiligheid van God.
Ek glo aan die vergiffenis ¬
dat Genade altyd groter is
as my sonde en geskiedenis.
Ek glo aan die heropstanding van die liggaam
want ek glo in Christus.
Ek glo aan die ewige lewe
wat hier begin
en ná die dood
die blydenuus bly sing.
(Met dank aan Wilhelm Jordaan, uit “Gebedeboek met liturgiese Voorstelle”)
Om gelowige te wees, en om Kerk te wees, beteken dat ons glo en dat ons getuig van die geloof en die hoop wat in ons leef. Dit doen ons deur elke Sondag tydens die erediens ons geloof in God Drie-enig te bely met die woorde van die Twaalf Artikels of die Belydenis van Nicea.
Prof Natie van Wyk skryf in ’n onlangse artikel dat die Belydenis van Nicea die oudste algemeen-erkende belydenis van die Christendom is. Hy skryf verder dat die grootste deel van die Christendom die Belydenis van Nicea as ’n betroubare samevatting van die Bybelse boodskap beskou. Vir meer as twee miljard Christene wêreldwyd is die Belydenis van Nicea die samevatting van die Christelike geloof, ’n afgrensing teen dwaalleer en basis vir kerkeenheid.
Hierdie jaar, 2025, herdenk die groot Christelike tradisies (Rooms-Katoliek, Oos-Ortodoks, Luthers en Gereformeerd) die ontstaan van die Belydenis van Nicea 1700 jaar gelede. In die jaar 325 nC het die Konsilie van Nicea sitting geneem en onder andere die belydenis opgestel wat al die afgelope 17 eeue ons geloof in God die Vader, die Seun en die Heilige Gees verwoord.
Die Christelike belydenis is natuurlik ouer as 1700 jaar. Daar is fragmente in die Nuwe Testament wat daarop dui dat die proses van belydenisvorming reeds vroeg in die Christelike gemeentes begin het. Histories gesproke, het die Christelike geloof en belydenis reeds voor die Bybelboeke bestaan omdat die Christelike geloof aanvanklik mondelings oorgelewer is voordat dit op skrif gestel is. Belydenisvorming in sy mees primitiewe vorm kon nie berus op Skriftuurlike eksegese nie, aangesien die teks nog in wording was en die kanon nog nie vasgestel is nie. Manuskripte was ook skaars en baie gemeentes het nie toegang daartoe gehad nie. Belydenisvorming het in geloofsgemeenskappe plaasgevind en die belydenis wat ontvang is, is noukeurig van geslag tot geslag oorgelewer. Dit is dieselfde gedagte wat ons in 1 Korintiërs 15: 3 en 4 vind wanneer Paulus skryf: Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.
Die vroeë teoloë se funksie was nie om met nuwe en kreatiewe idees vorendag te kom nie of as eksegete van kanonieke boeke op te tree nie. Hul funksie was om die Christelike geloof en belydenis, soos dit van Christus en die apostels gekom het, te verkondig, te verdedig en na ’n volgende geslag leerlinge oor te dra. Teen dié agtergrond moet ’n mens ook die Belydenis van Nicea verstaan waar dit na die geloof gegrond op die leer van die apostels verwys. Die Belydenis van Nicea is die resultaat van belydenisvorming wat deur die groot ekumeniese konsilies geformaliseer is.
Die Eerste Ekumeniese Konsilie is deur keiser Konstantyn in 325 nC in die stad Nicea byeengeroep. Hy het sowat 1800 biskoppe uitgenooi, maar waarskynlik het tussen 250 en 300 dit bygewoon. Die doel van die Konsilie was om die leer oor Jesus Christus en die verhouding tussen die Vader en die Seun te formuleer in die lig van die konflik wat gedreig het om die kerk in Aleksandrië te skeur.
Die eerste deel van die Belydenis van Nicea is tydens die Niceense Konsilie opgestel. Omdat die Konsilie op die Christologie gefokus het, bevat die oorspronklike teks geen verwysing na die kerk nie. Ook die Expositio Fidei van Athanasius (328 nC) wat hy ná die Konsilie van Nicea tydens sy bevestiging as biskop uitgespreek het, bevat geen verwysing na die kerk nie. Hy volg die woorde van die Konsilie van Nicea noukeurig met die klem op die verhouding tussen die Vader, Seun en Heilige Gees en die persoon en werk van Jesus Christus. Ook ’n brief wat Eusebius van Caesarea ná die Konsilie van Nicea aan sy gemeente geskryf het, waarin die teks van die Belydenis van Nicea voorkom, het geen verwysing na die een, heilige en algemene kerk nie.
Na afloop van die Konsilie van Nicea het die stryd teen dwaalleer voortgeduur. Daar was ook verskillende variante van die belydenis in omloop. Daarom was dit nodig dat die Tweede Ekumeniese Konsilie (Konstantinopel 381 nC) weer oor die suiwer leer handel. By die Konsilie was 150 biskoppe teenwoordig in ’n poging om die leer van Arius finaal uit te roei en die regte leer vas te stel. Cyrillus (†386 nC), biskop van Jerusalem, was ook teenwoordig by die Konsilie en het ’n dokument aangebied wat ’n uitgebreide vorm van die belydenis bevat het. In die Jerusalem-variant is daar wel ’n artikel wat oor die een, heilige algemene kerk handel. Dit is daarna by die Konsilie van Chalcedon (451 nC) bevestig en het deur die geskiedenis die kern gevorm van teologiese nadenke oor die kerk.
Die Hervormde Kerk herdenk deur die loop van 2025 saam met ander kerke die ontstaan van die Belydenis van Nicea. Kerklike tydskrifte gee daaraan aandag en daar sal ook ’n publikasie daaroor verskyn. Tydens die 74ste Algemene Kerkvergadering wat in Oktober 2025 sitting neem, sal die belydenis ook aandag ontvang onder andere deur ’n beskrywingspunt wat handel oor ’n eietydse geloofsverklaring.
Die Werkgemeenskap Historiese Teologie (SA) se eersvolgende konferensie word beplan vir 12 en 13 Augustus 2025 te Gemeente Pretoria-Oos. Die tema van die konferensie is Skrif-Belydenis-Liturgie – Nadenke oor die Belydenis van Nicea. Advertensies oor die konferensie het reeds in kerklike media verskyn en belangstellendes word uitgenooi om dit by te woon.
(Prof Wim Dreyer is voorsitter van die Kommissie van die AKV)