Erediens deur Prof Wim Dreyer by NHKA Gemeente Pretoria-Oos - 1 Junie 2025
Matteus 28: 16-20
Liturgie
Toetrede: Gesang 169: 1 tot 3
Votum: Deut. 6:4-5
4Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. 5Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.
Seëngroet: Openb. 1:4-5
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die Gees voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.
Lofsang: Gesang 449: 1, 2, 3 en 4
Wetlesing: Filippense 2:1-13
Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.
My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.
Skuldbelydenis: Vonkk 278: 1 tot 3
Gebed:
Prolegomena:
Hierdie jaar, 2025, herdenk ons die Belydenis van Nicea wat 1 700 jaar gelede, in die jaar 325 nC, tydens die Konsilie van Nicea opgestel is. Die Belydenis dien al die afgelope 17 eeue as die algemeen aanvaarde samevatting van die Christelike geloof.
Ek dink baie min mense ken die geskiedenis van die vroeë Christendom. Wat ons wel weet, is dat dit alles begin het met Jesus van Nasaret, wat ‘n bekende rabbi of leermeester was en orals waar Hy in Galilea en Samaria en Judea gekom het, aan mense verkondig het dat die koninkryk van God gekom het. Hy het mense uitgenooi om deel te wees van God se koninkryk.
Ons weet ook almal dat die boodskap wat Jesus oor die koninkryk van God verkondig het, Hom in konflik gebring het met die Joodse leiers van daardie tyd. Daarom het hulle Hom gevang, aan die Romeinse owerhede uitgelewer en Goewerneur Pontius Pilatus het Hom laat gesel en kruisig. In die jaar 33 nC (ongeveer) het Hy in Jerusalem aan ‘n kruis gesterf.
Die eerste Christene, en ons, was en is goed bekend met hierdie geskiedenis. Ons is ook goed bekend met alles wat die in die Nuwe Testament oor Jesus gesê word, oor wie Jesus nou eintlik is. Ek noem enkele voorbeelde:
· 1 Tess. (45 nC): Verskillende verwysings na die Vader, Seun en Heilige Gees. Dit is opmerklik dat die heel vroegste Christelike dokumente sonder huiwering van God praat as Vader, Seun en Heilige Gees.
· Filippense 2:6-11: (62 nC – Paulus in die tronk in Rome): Vroegste Christelike lied wat iets verwoord van Jesus wat God is , maar mens geword het, gely het, gesterf het en opgestaan het uit die dood. Lied dateer etlike jare voor dit in Filippense opgeneem is.
· Markus 8: 27-29 (65 nC): U is die Christus!
· Johannes 1:1 (65 nC): Nuutste navorsing – vroeë datering – Johannes himne – In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon...
· Matteus 28:19 (80 nC): Die dissipels ontvang die opdrag om uit te gaan en mense te leer en hulle te doop in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees. Dit dui daarop dat die geloof in God as Vader, Seun en Heilige Gees reeds in die erediens gebruik is, veral tydens doop geleenthede.
Wat min van ons weet, is dat mense so van 100 nC van mekaar begin verskil het oor wie Jesus nou eintlik was. Verskillende teoloe en geleerdes van daardie tyd het allerhande moeilike vrae begin vra:
· Was Jesus net die bekende rabbi van Nasaret?
· Wat beteken dit dat Hy aan ‘n kruis gesterf het?
· Wat beteken dit dat daar soveel mense was wat getuig het dat Jesus na sy dood aan hulle verskyn het?
· As Hy uit die dood opgestaan het, wie is Hy dan nou eintlik?
· Was Jesus regtig God wat mens geword het; die Woord wat God openbaar; Immanuel – God met ons?
Daar het mettertyd dwaalleraars na vore gekom wat Christus se Godheid bevraagteken het en allerhande teorië ontwikkel het oor wie Jesus nou eintlik is, en hoe die verhouding tussen God die Vader en God die Seun en God die Heilige Gees verstaan moet word. Daar het allerhande teorië ontstaan oor die God Drie-enig – God wat een wese is maar uit drie onderskeie persone bestaan. Die leer oor die Drie-Eenheid het weer kritiek van ander teoloë ontlok.
So 300 jaar na Jesus se kruisiging was die Christelike kerk al enorm groot. Die kerk wat begin het met Jesus se dissipels het gegroei tot meer as 50 miljoen Christene wat rondom die Middellandse See verspreid gewoon het. Meer as 50% van die destydse Romeinse Ryk was Christene. Verskil van mening onder die Christene was nie net ‘n teologiese probleem of geloofskwessie nie, maar het ook verreikende politieke implikasies gehad.
Teen 300 nC het hierdie verskille oor wie Jesus nou eintlik is, so ernstig geword dat dit die vrede in die Romeinse Ryk bedreig het. Daarom het Keiser Konstantyn opdrag gegee dat al die leiers (ongeveer 800) van die Christelike kerk van destyds in die stad Nicea moes vergader, om vir eens en vir altyd uitsluitsel te gee oor die vraag:
(1)Wie is Jesus?
(2)en hoe ons die verhouding tussen Vader, Seun en Heilige Gees moet verstaan.
Die gevolg was dat die kerkleiers in 325 nC in Nicea byeengekom het. Die byeenkoms staan bekend as die Konsilie van Nicea. Die Konsilie het ‘n belydenis opgestel, bekend as die Belydenis van Nicea. Die Belydenis van Nicea is nou 1 700 jaar oud, en geld vir 17 eeue as die samevatting van die Christelike geloof. Ook ons, hier in die Hervormde Kerk, hoor dit gereeld wanneer ons almal saam ons geloof in God Drie-enig bely.
Wanneer ons na die belydenis luister of dit lees, bely ons in ons hart en ons gedagte ons geloof, saam met die kerk van alle eeue. Daar is tans meer as 2 miljard Christene wat hulle geloof in God die Vader, die Seun en die Heilige Gees in terme van die Belydenis van Nicea verwoord. Wanneer ons saam met ander ons geloof bely, word die eenheid van die kerk sigbaar en hoorbaar. Ons bely soos en saam met Christene deur die geskiedenis, en saam met Christene oor die hele wêreld, dat ons glo in God die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
Skriflesing: Matteus 28:16-20
Maar kom ons keer terug na die Bybel, en ons luister hoe het die eerste Christene oor God Drie-enig en oor Jesus gepraat. Ons lees Mt. 28:
16Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. 17Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. 18Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Dit is die Woord van die Here. Elkeen wat dit hoor en daarvolgens leef, is baie gelukkig.
Prediking:
Gemeente van ons Here Jesus Christus!
Inleidend
In hierdie gedeelte vertel Matteus vir ons dat Jesus sy dissipels beveel om uit te gaan, om mense te leer wat Jesus hulle geleer het, en om hulle te doop in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees. Hierdie opdrag om mense te doop is die oudste teks waarvan ons weet, waarin die formule “Vader, Seun en Heilige Gees” voorkom. Dit dui daarop dat die eerste Christene aan God gedink het as Vader, Seun en Heilige Gees.
Dit is opvallend dat Matteus sonder om te verduidelik oor die Vader, Seun Gees praat. Daar is by Matteus geen filosofiese beredenering, van hoe dit moontlik sou wees dat God uit drie onderskeibare persone bestaan nie.
Dit beteken allermins dat ons hier met ʼn stuk naïewe geloof te doen het. Inteendeel: Daar is ongelooflike diepte in die manier hoe Mt oor God praat.
Kom ek probeer dit verduidelik:
(1) Immanuel
Een van die sentrale gedagtes in die Mt-evangelie is dat God by ons is. God is nie weg of afwesig nie. Jesus is Immanuel (God met ons). Dit beteken onder andere dat in en deur Jesus Christus, God na ons gekom het. Dit is ‘n belydenis dat Jesus ook God is.
Dat God by en met en in ons is, is een van die sentrale temas in Mt se beskrywing van Jesus se geboorte, lewe, dood en opstanding:
· Mt 1: 23 – Josef se droom – Die maagd sal swanger word en hulle sal Hom Immanuel noem. Dit beteken ‘God met ons’.
· Mt 18:20: Waar julle in my Naam bymekaar is, daar is ek by julle.
· Mt. 28: 18: En onthou: Ek is altyd by julle.
God is met ons. God is hier, maar tegelykertyd orals. Anders as ons, is God nie gebonde aan tyd en ruimte nie. God kan nie ingeperk word tot sekere mense of ʼn tempel in Jerusalem nie. Hy is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. God is teenwoordig in mense se lewens, van geslag tot geslag.
Hierdie God, wat tegelykertyd in die hemel en op die aarde is, tegelykertyd by jou en my, tegelykertyd verlede, hede en toekoms is, is ook tegelykertyd Vader, Seun en Heilige Gees; en Jesus is tegelykertyd God en mens.
(2) Matteus gebruik taal uit die Ou Testament
Mt. 28: 16-20 gebruik die taal van Daniel 7:14, wat die Joodse lesers van sy tyd sou verstaan. In Daniel 7 word die profeet Daniel se visioen beskryf, waarin hy sien dat God oor die ganse skepping en oor alle mense regeer: “Aan die seun van die mens is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is 'n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie.”
Met die verwysing na Daniel 7 stel Mt dit duidelik: Daar is geen einde aan God se koningskap nie. In die Joodse denke is dit God wat tot in ewigheid heers en regeer. In Mt 28 word die ewige koninkryk en heerskappy van God aan Christus verbind, wat beteken dat Jesus self een met God is. Jesus Christus is die een wat tot in ewigheid regeer.
Omdat God en sy heerskappy alle grense oorskry, is die blye boodskap nie beperk tot die Joodse volk of die stad Jerusalem nie, maar dit is bedoel vir alle volke en tale en nasies en lande.
In die lig van Daniel 7, verkondig Mt aan die einde van die evangelie dat die dissipels en ons as kerk drie opdragte het:
· Gaan na al die volke en tale en nasies toe en verkondig die evangelie van Jesus Christus.
· Maak die mense dissipels en volgelinge van Jesus Christus deur hulle te leer wat Hy aan ons geleer het.
· Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
(3) Doop as eenwording
Dit is opmerklik dat Matteus die belydenis oor God as Vader, Seun en Heilige Gees aan die doop verbind. Elkeen van ons is gedoop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
In die vroeë kerk was die doop nie maar net een of ander ritueel wat ons uit gewoonte bedien nie. Die vroeë Christene het die doop verstaan as die geleentheid waar jy met God een word; ingelyf in die liggaam van Christus; jy word een met Jesus in sy dood en opstanding. Paulus verwoord dit in Rom. 6 as hy sê elkeen wat gedoop is, het met Christus een geword in sy dood en sy opstanding. Dieselfde gedagte van eenwording vind ons in die Johannes se geskrifte. In Johannes 17 bid Jesus: Vader, ek bid dat hulle een sal wees; soos wat ons een is – U in my Ek in U, ons in hulle…
My broer en suster:
Ons is met God een. Ons doop is die sigbare handeling wat van hierdie eenwording met God getuig. Dit staan nou nog in ons Doopformulier: Met die doop in die Naam van die Heilige Gees verseker die Heilige Gees ons deur hierdie heilige sakrament dat Hy in ons wil woon en in die liggaam van Christus inlyf.
Mt het nie een of ander filosofiese argument oor die Drie-eenheid nie. Dit gaan nie vir hom oor ʼn dogmatiese uitspraak of ʼn formele belydenis nie. Dit gaan om die werklike en eksistensiële eenheid wat tussen God Drie-enig en ons as gedooptes bestaan, ʼn eenheid wat ons oorweldig en bepalend is vir alles wat ons sê en dink en doen.
Mt verkondig die eenheid tussen Vader, Seun en Heilige Gees, maar tegelykertyd dat ons een is met God Drie-enig; dat God se heerskappy geen einde het nie; dat God Drie-enig altyd by ons is – God in ons, ons in God.
Slot
My broer en suster:
Ons herdenk vandag die ontstaan van die Belydenis van Nicea, ‘n volle 1 700 jaar gelede. Ons gaan ook nou weer ons geloof in God die Vader, die Seun en die Heilige Gees bely, in die woorde van die Belydenis van Nicea.
Ons bely egter nie ‘n dokument nie. Ons raak nie opgewonde oor ‘n kerklike vergadering, ‘n konsilie nie...
Ons beleef, deur die werking van die Heilige Gees, die wesenlike eenheid wat tussen ons en God bestaan. Ons glo – nie omdat ‘n konsilie dit besluit het nie, maar omdat God self, deur sy Woord en Gees, ons daarvan oortuig. Ons ken God, omdat God Godself aan ons bekend gemaak het in en deur Jesus Christus, Hy wat nie geskroom het om die gestalte van ‘n mens aan te neem en vir ons sonde ly en te sterf nie.
· Geloof is soos skrik
· Soos verlief raak
Geloof gebeur met jou, omdat God dit laat gebeur. Nie omdat ‘n Konsilie dit besluit het nie. Nie omdat die Kerk so se nie. Nie omdat jou pa of ma dit vir jou leer nie. Jy glo, want God laat geloof gebeur. Godself oortuig ons dat Hy as Vader, Seun en Heilige Ges vir ons ‘n God wil wees.
Kom ons bid dat die Here ons sal help, deur die werking van die Gees, dat ons sal glo en bely dat die Here God is! Kom ons bid:
Gebed:
Belydenis van geloof:
Kom ons bely, hier en nou, ons algemene, Christelike geloof saam met die kerk van alle eeue ons geloof met die woorde van die Belydenis van Nicea:
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sienlike en onsienlike dinge;
en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;
(God uit God) Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader; deur wie alle dinge ontstaan het;
wat ter wille van ons, die mens, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;
en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte; wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;
wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het, wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;
en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.
Ons glo aan een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.
Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;
ons verwag die opstanding van die ontslapenes,
en die lewe van die toekomstige eeu.
Amen.
Sang: Gesang 450:1 en 2
Slotsang: Gesang 453:1 tot 3
Seën:
Die Here sal julle seën en beskerm; die Here sal julle genadig wees en tot julle redding verskyn; Die Here sal sy aangesig oor julle verhef aan julle vrede gee. Amen.
Wegsending: Gesang 309: 1 tot 3