“EN IN EEN HEER, JESUS CHRISTUS”
EREDIENS TEMA: WIE SÊ JY?
MARKUS 8: 27 – 30
TOETREDELIED: VONKK 124 strofes 1 & 2 (Jesus bring vreugde)
VOTUM:
Ek is die Wingerdstok en julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie...
LIED NA VOTUM: VONKK 124 strofe 3 (Jesus bring vreugde)
SEëNGROET:
Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die Geloofwaardige Getuie. Die Een wat eerste uit die dood opgewek is. Amen.
LOFSANG: Gesang 184 strofes 1, 3 & 4 (Lofsing die Here)
AANSTEEK VAN DIE CHRISTUSKERS:
Liturg:
Gemeente, ons hoor vanoggend weer Jesus se vraag:
“Maar julle, wie sê julle is Ek?” (Markus 8:29)
Ons antwoord nie net met woorde nie, maar ook met ons simboliek, ons liturgie en ons lewens. Daarom steek ons vanoggend die Christuskers aan – as teken en belydenis dat ons glo:
Liturg & Gemeente:
"In een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye; God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God"
Liturg:
— soos ons saam met die kerk van alle tye in die Geloofsbelydenis van Nicea bely. Mag hierdie lig ons herinner aan Christus, die Lig van die wêreld – deur wie ons God ken, en in wie ons waarlik leef.
Amen.
Christuskers word aangesteek...
LIED NA DIE AANSTEEK VAN DIE CHRISTUSKERS: VONKK 277 al drie strofes (U is die lig wat deur die donker skyn)
Gemeente,
Ek dink u sal met my saam stem as ek sê dat vrae onlosmaaklik deel is van elkeen van ons se lewens. Van ons eerste lewensoomblikke af vra ons allerhande vrae. Dié van u wat al kinders groot gemaak het, of steeds besig is om kinders groot te maak, sal presies weet waarvan ek praat. Kinders loop behoorlik oor van allerhande vrae. Hoeveel van u kinders was nie al deur daardie “hoekom”-fase van hulle lewens gewees nie? Daardie fase waar hulle die hele tyd wil weet hoekom dinge is soos wat dit is, of hoekom dinge moet werk soos wat dit werk. Daardie fase wat ouers partykeer mal wil maak. Daardie fase waar dit nie meer vir kinders goed genoeg is dat dinge is soos wat hulle is nie, maar waar kinders nou dieper wil delf en weet hoekom dinge is soos wat dit is. Vrae is al van ons kindertyd af saam met ons en vrae verlaat ons nooit nie.
Nou, sommige vrae in ons lewens is vrae wat ONS vra. In ‘n sekere sin bly ons solank as wat ons lewe so nuuskierig soos wat kinders nuuskierig is. Ons vra lewenslank ook daardie “hoekom”-vrae. Ons wil ook almal weet hoekom dinge is soos wat dit is, en hoekom dinge werk soos wat dit werk. So aan die een kant is daar ‘n hele reeks vrae wat ONS in ons lewens vra, maar aan die ander kant is daar ook ‘n hele reeks vrae wat AAN my en jou gevra word. Ons vra nie net vrae nie, vrae word ook AAN ons gevra. Dink ‘n bietjie daaroor: Ons hele skoolloopbaan het bestaan uit ‘n reeks vrae wat ons op sekere tye en fases moes kon beantwoord. As ons dit nie kon doen nie, dan is ons net nie na volgende grade of standerds bevorder nie. Toe ons belydenis van geloof afgelê het, was daar ook ‘n reeks vrae waarop ons ‘n antwoord moes gee. Toe ons getroud is, moes ons ook vrae antwoord wat aan ons gevra is. U kan hoor: Ons lewens bestaan nie net uit die vrae wat ONS vra nie, dit bestaan ook uit die vrae wat AAN ons gevra word.
Vandag gaan ons praat oor ʼn belangrike vraag. ‘n Vraag wat ek glo elke gelowige in sy/haar lewe vra, maar dis ook ‘n vraag wat aan elke gelowige gevra word. ‘n Vraag wat elke gelowige elke dag antwoord met hulle lewens. Dit is dan ook die tema van hierdie erediens: Wie sê jy? Wat ek met hierdie vraag bedoel sal duideliker word soos wat ons met die erediens aangaan. Ek wil op hierdie punt vir u uitnooi om saam met my te lees uit die Nuwe Testament uit. Ons lees saam uit die evangeliebeskrywing volgens Markus. Ons lees saam uit Markus 8: 27 – 30. Voordat ons saam lees, kom sing saam uit VONKK 243 albei strofes as ons gebed voor die skriflesing.
27Daarna het Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gegaan. Langs die pad het Hy vir die dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is Ek?”
28Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper, party sê weer Elia, en party een van die profete.”
29“Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?”
Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!”
30Toe belet Hy hulle om dit vir iemand anders te vertel.
VONNK 243 ALBEI STROFES
Wat is besig om in hierdie gedeelte te gebeur? In hierdie gedeelte is Jesus besig om stelselmatig sy dissipels voor te berei vir dit wat op Hom en hulle wag in Jerusalem. Jesus weet wat vir Hom in Jerusalem voorlê, en daarom probeer hy nou stelselmatig vir sy dissipels daarop voorberei. Hulle is ook stelselmatig besig om nader na Jerusalem toe – en dus na Jesus se kruisiging toe – te beweeg. Dan vertel Markus vir ons dat Jesus en sy dissipels in die streek van Sesarea-Filippi aangekom het.
Nou weet ons teen hierdie tyd: wanneer Bybelskrywers plekname noem, is dit nooit sonder betekenis nie. Daar is altyd ’n rede vir die plekke wat genoem word. En die vraag is dan nou: Wat het vir Sesarea-Filippi dan nou so ‘n vername plek gemaak? Sesarea-Filippi was ‘n area wat ‘n groot klomp tempels gehad het, wat gewy was aan ‘n groot aantal gode. Die natuurgod Pan is byvoorbeeld in hierdie omgewing aanbid. Dit was ook ‘n omgewing wat net voor Jesus se tyd aan die Keiser toegewy was. Daar was tempels en geboue in hierdie omgewing wat ter ere van Keiser Augustus gebou was – in die tyd van Herodes die Grote. Die dorp het egter nog as Paneas bekend gestaan in hierdie tyd. Dit was eers na Herodes die Grote se dood, toe sy seun – Filippus – by hom oorneem, dat die dorp bekend gestaan het as Sesarea-Filippi: alles ter ere van Keiser Augustus en sy troue dienaar, Filippus. So – u kan hoor – dit was ‘n plek waar allerhande valse gode aanbid is. En teen Jesus se tyd het hierdie area ook die naam gekry dat dit ‘n plek van valse gode was.
En dis juis by hierdie plek van valse gode wat Jesus uitkies om vir sy dissipels ‘n reeks baie belangrike vrae te vra. Jesus vra vir sy dissipels in hierdie plek van valse gode, volgens Markus 8:27: “Wie, sê die mense, is Ek?” Die antwoord wat Petrus later op Jesus se vraag gee, is eintlik baie merkwaardig gegewe die plek waar Jesus hierdie vraag vra. Want as Petrus later antwoord deur te sê dat Jesus die Christus is, is dit eintlik ‘n baie gevaarlike antwoord wat Petrus gee, want die Romeine het geglo daar is net een Christus en dis die Keiser. So om in die plek waar die Keiser van die Romeise ryk en allerhande ander valse gode aanbid is, te sê dat Jesus die Christus is en nie die Keiser nie, was baie gevaarlik. Petrus kon sy lewe hiervoor verloor. So wanneer Markus sê dat Jesus en sy dissipels in Sesarea-Filippi aangekom het, en dat Jesus hier vir sy dissipels vra wie die mense sê Hy is, dan is dit ‘n baie gewaagde vraag wat Jesus hier vra.
Die antwoord wat die dissipels op hierdie vraag gee, is tipies wat ‘n mens van hulle sou verwag. Hulle noem al die Ou en Nuwe Testamentiese helde op waaraar hulle moontlik kan dink. Een dissipel antwoord vir Jesus deur te sê dat die mense dink Hy Elia is. Elia, die profeet wat daarvoor bekend was dat hy allerhande wondertekens en wonderwerke gedoen het. Elia was veral daarvoor bekend dat hy ook mense uit die dood uit laat opstaan het. Die Jode van Jesus se tyd het ook geglo dat Elia weer sal kom – soos ‘n Messias – en daarom het van Jesus se dissipels gehoor dat die mense dink Jesus Elia moes gewees het.
Van die ander dissipels het weer gehoor dat Jesus Johannes die Doper of selfs een van die ander profete moet wees. Kan u hoor? Die dissipels antwoord maar tipies soos wat ‘n mens sou verwag van mense in daardie tyd. Hulle noem al die geloofshelde in hulle stories op en sê dat die mense gedink het Jesus is een van hierdie geloofshelde. Wanneer ‘n mens Markus 6: 14 -16 lees, dan sien ‘n mens dat die mense selfs aan Koning Herodus allerhande name opgenoem het, oor wie Jesus moontlik kan wees. Daar sê hulle ook dat Jesus Elia of Johannes die Doper of selfs een van die ander profete kan wees. Koning Herodus dink selfs op ‘n stadium dat Jesus dieselfde Johannes die Doper is wat hy laat onthoof het. Wanneer Koning Herodus van Jesus te hore kom dink hy dat Johannes die Doper uit die dood uit opgestaan het. Almal het hulle eie opinie gehad oor wie Jesus was.
Wanneer die dissipels klaar vertel het wie die mense sê Hy is, dan vat Jesus sy vraag nog ‘n stap verder. Jesus draai sy vraag eintlik so ‘n bietjie om. Hierdie keer wil hy nie hoor wie die MENSE sê hy is nie. Hy wil spesifiek by die dissipels hoor wie HULLE dink Hy is. In Markus 8:29 vra Jesus sy dissipels: “Maar julle, wie sê, julle, is ek?” Kan u sien wat Jesus hier probeer doen? Jesus beklemtoon hierdie woord “julle” twee keer. Dis vir Jesus baie belangrik om te hoor wat sy dissipels van hom dink en wie sy dissipels dink hy is. Dis asof Jesus met hierdie vraag sê: Dit maak eintlik nie saak wat ander mense van my dink nie. Wat saak maak is wat julle – my dissipels, my volgelinge, die mense wat sê dat hulle in my glo – wat julle van my dink. Wie julle dink ek is, dit is vir my baie belangrik...
Want dit wat hulle van Jesus dink, gaan die res van hulle lewens bepaal. Dit gaan bepaal hoe hulle leef, hoe hulle liefhet, hoe hulle getuienis gee. Wat hulle van Jesus dink, sal in hulle dade wys. En wanneer mense na hulle kyk, sal hulle iets van Jesus daarin moet sien. Die dissipels is nie net die hande en voete van Christus nie – hulle is ook sy gesig in die wêreld. Daarom is Jesus se vraag nie net ’n teologiese vraag nie. Dis ’n lewensvraag. Dis ’n identiteitsvraag, want ander gaan vir Jesus leer ken deur wat hulle by sý mense sien. En dis juis hieroor dat dit vir Jesus belangrik is om te hoor wat sy dissipels van hom dink.
Nou weet ons dat Petrus die een was wat hierdie belangrike vraag aan die dissipels geantwoord het. In die evangelies sien ons dikwels hoe Petrus namens al die dissipels praat. Dis half asof Petrus die dissipels se spreukbuis of verteenwoordiger is. En wanneer Petrus antwoord sê hy: “U is die Christus”. Daar gebeur dan ʼn vreemde ding. In Markus 8: 30 lees ons: “Toe belet Hy hulle om dit vir iemand anders te vertel”. Hoekom sal Jesus dit nou wil doen? ʼn Mens sou verwag dat Jesus hulle sou aanmoedig om die goeie nuus te gaan vertel, maar Jesus verbied dit. Hoekom? Ek dink Jesus sê daarmee: Moenie net met julle monde bely wie Ek is nie – wys dit met julle lewens. Laat julle lewens die getuienis wees. Moenie net sê wie Ek is nie, wees wie Ek is vir ander. Ons woorde oor Christus is belangrik – maar ons lewensgetuienis spreek harder. Ja, dis belangrik dat ons, saam met die kerk van alle tye en plekke, kan bely soos in die Geloofsbelydenis van Nicea: ‘Ons glo ... in één Heer, Jesus Christus...’. Christus vra egter nie net vir woorde nie – Hy vra vir lewens wat Hom weerspieël.
Uiteindelik vra Jesus nie net hierdie vraag vir sy dissipels 2000 jaar gelede nie. Jesus vra ook hierdie belangrike vraag vir my en jou. En net soos die dissipels toe – net soos Petrus van ouds – net so moet ek en jy ook ‘n antwoord kan gee oor wie ons dink Jesus is. Maar net soos die dissipels van ouds, moet ons denke oor Jesus en ons geloof in Jesus nie net bly by mooi woorde nie. Dis maklik om vir iemand te sê God is liefde, maar dis ‘n totale ander ding om vir iemand te wys dat God liefde is. Ek hoor onlangs in ʼn kursus hierdie baie mooi stelling. Die persoon het gesê: Omgee word nie met woorde en letters gespel nie, omgee word met moeite gespel. Die moeite wat ons vir ander doen.
Ek dink dis hoekom Jesus die dissipels belet het om hulle antwoorde vir enigiemand te vertel – hoekom Jesus sy dissipels belet het om vir ander mense te vertel wie Hy is. Ek dink ons geloof en woorde oor Jesus moet uiteindelik in ons lewens ook waar word. Mense moet aan die manier hoe ek en jy leef – aan die manier hoe ek en jy liefhet – aan die manier hoe ek en jy barmhartigheid uitleef – aan die manier hoe ons vertroos en aan die manier hoe ons hoop bring – iets van Jesus in ons lewens sien. Dis waar mense vir Jesus sal leer ken – nie alleen deur dit wat ons sê en glo nie, maar ook deur dit wat ons doen en leef.
Jesus vra ook vandag vir my en jou: “En jy, wie sê jy is Ek?” Hoe gaan ek en jy hierdie vraag antwoord? Net met woorde? Of ook met ons lewens van liefdevolle toewyding? Amen
GELOOFSBELYDENIS:
Die gemeente word uitgenooi om die Niceense geloofsbelydenis hardop saam te sê.
GEBED
SLOTSANG: Gesang 524 al drie strofes (God roep ons om met woord en daad)
SEëN
***GAAN IN VREDE***