Kolossense 1 : 15 – 20
Eenheid is iets wat ons nie maklik met ons verstand kan vasvat nie: Hoe drie Persone een in wese kan wees? Soos wat ’n mens ouer en wyser word, kom jy agter dat die kerk nie ligtelik by hierdie belydenis uitgekom het nie. Agter hierdie woorde hoor ’n mens die onenigheid wat Arius met sy dwaalleer veroorsaak het. Hy het geleer dat Christus nie God is nie. Volgens hom was Christus ’n besondere, begaafde mens, maar nie God nie. Dit het gelei tot ’n vergadering van biskoppe in Nicea in 325 nC. Die vergadering het op ’n geskil uitgeloop waar ’n keuse gemaak moes word. Hulle moes kies tussen: Die Seun is van gelyke wese met die Vader, of: Die Seun is van gelyksoortige wese as die Vader. In die Grieks is die verskil net een letter, maar die verskil in betekenis is enorm! In werklikheid is daar gestry oor ’n bo-God en ’n onder-God, of is daar slegs een Here? Arius was van mening dat daar in die Goddelike ’n hoëre en ’n laere is. Athanasius kon nie anders nie as om die Skrif aan te haal: Hoor, Israel, die Here ons God is ’n enige Here (Deut 6:4). Wat is die praktiese betekenis van dit alles? Die verkeerde keuse: “van gelyksoortige wese as die Vader”, laat ruimte vir twyfel. Is daar nou twee magte waarmee ons moet rekening hou? ’n Opperste Goddelike mag in die hemel en die liefde wat so duidelik in die Seun na vore getree het? Is daar enige ooreenstemming tussen hierdie twee? Ons mense is so dikwels verontrus oor ons eie sonde en verlorenheid. As ons nog moes worstel met die vraag of die opperste Goddelike mag en die liefde van die Seun dieselfde is, sou dit vir ons baie erg gewees het. Nou hoef ons egter géén twyfel te hê dat die Vader wel sy stempel van goedkeuring op die Seun se liefdeswerk in ons belang sou geplaas het nie, want die Vader en Seun is één.