Nicea Eredienswerkgroep
“Ons bely een doop tot vergifnis van sondes”
Tema: Wat jy moet weet van identiteit ...
Teks: Romeine 6:1-11
Dood vir die sonde, maar lewend vir God
1Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? 3Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei. 5Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. 6Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 7Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 8Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 9Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. 10Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. 11Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.
Inleidende opmerkings:
- In Romeine gaan dit daaroor dat geloof in die dood en opstanding van Christus die enigste grondslag is van vryspraak deur God vir alle mense. God stel die sondige mens met Hom in die regte verhouding, nie deur die onderhouding van die wet of eie prestasie nie. Die verhouding tussen God se vryspraak en die mens se doen en late word in fokus geplaas. In Romeine 6-8 sien ons duidelik dat ons vry is om nuut te begin – met al God se krag tot ons beskikking.
- Die brief en die inhoud van vryspraak deur geloof alleen het ‘n deurslaggewende rol gespeel in die geskiedenis van die Christelike kerk en die teologie.
- Die Romeinebrief speel ‘n rol om gelowiges te laat besef hoe hulle verhouding met God moet wees: Op grond van die vergewing van sondes wat Jesus Christus bewerk het, spreek God jou vry van sondeskuld en gee jou ‘n nuwe lewe saam met Hom. Deur die geloof wat God jou gee, maak jy hierdie vryspraak deel van jou lewe en kan jy die vrugte daarvan geniet.
- Galasiers en Romeine het dieselfde sentrale tema: Die regte verhouding met God is is alleen moontlik deur die geloof in Jesus Christus. Die Romeinebrief is meer verduidelikend van aard.
Rom. 6:3-5
3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4 Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei. 5 Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.
Gal. 3:26-28
26 Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27 want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.
- Die struktuur van die Pauliniese soteriologie is belangrik. Hierdie indikatief-imperatief dialektiek het te make daarmee dat Paulus aan die een kant van die verlossing kan praat as ‘n reeds gerealiseerde werklikheid in die lewe van die gelowige, terwyl hy aan die ander kant dieselfde gelowige oproep om die verlossing vir hulleself deur die geloof en lewe te laat realiseer. Aangesien dit in Christus vir jou ‘n werklikheid is, laat dit nou in jou lewe ‘n werklikheid word. Die imperatief is nie bedoel om ‘n samesmelting van idees voor te staan, asof daar nog iets tekortskiet aan die werk van God deur Christus en die Gees nie.
Enkele eksegetiese perpektiewe op Romeine 6:1-11
Vers 1
Die inleidingsvraag, “Wat moet ons nou hiervan sê?”, is ’n stelling wat Paulus by meer as een geleentheid gebruik om die begin van ’n nuwe argument in te lei. Die vraag volg na aanleiding van die klem wat hy op die genade gelê het wat oorvloediger word namate die sonde toeneem (Rom 5:20). Om misverstande uit die weg te ruim, beklemtoon Paulus nou dat “oorvloediger genade” nie beteken om maar gemaklik “sonde te doen” nie. Ons is verenig in Christus, en deel in Sy dood en opstanding.
Vers 2
Hierdie sterk ontkenning sê dit kan tog nie. Dit is sinneloos as ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortleef. Die stelling beklemtoon die transformerende aard van die Christelike lewe en die gelowige se nuwe identiteit in Christus.
Verse 3-4
Vers 3 is deel van 'n groter gedeelte wat die betekenis van die doop in verhouding tot die dood en opstanding met Christus bespreek. Deur die sakramentele inlywing van die doop verkry die gelowige ‘n aandeel in wat God vir Hom verwerf het.
Ons word deur die doop met Christus verenig in Sy dood, simbolies daarvan dat ons dood is vir die sonde. Ons word met Hom verenig in Sy opstanding, simbolies die aanduiding van 'n nuwe lewe in Christus. Wanneer ons in Romeine herinner word aan die doop in vers 3 dan dui dit die onmoontlikheid aan dat die gelowige nog langer in die sonde kan voortlewe.
Die uitdrukkings in Christus en met Christus word dikwels gebruik. Dit gee uiting aan die feit dat Christus ‘n besondere eenheid vorm met diegene vir wie Hy gesterf het. Ons is in Hom, ons deel ten volle in dit wat Hy vir ons gedoen het, en daarom deel ons met Hom in dit wat met Hom gebeur het. Die in Christus sê iets van die gelowige se noue verbintenis met Christus en die wyse waarop die gelowige se lewe deur Christus bepaal word.
Die opstanding van Jesus Christus uit die dood beteken vir die gelowiges die begin van ’n nuwe lewe, vry van die sonde. Die “soos”-vergelyking wat in vers 4 gebruik word, beklemtoon dat dieselfde magsdaad wat Christus uit die dood opgewek het (Ef. 1:20), en die vrygespreekte, gedoopte mense in staat stel om ’n nuwe lewe te lei. As ons met Jesus verenig is, vloei daar krag na ons, ons word verander na Sy beeld deur die werk van die Gees.
In onsself kan ons min doen, maar wanneer ons deur die geloof aan Jesus verbind is verander die moontlikhede aansienlik. Calvyn het ook ons vereniging met Christus sterk beklemtoon. Die feit dat ons saam met Hom begrawe is en saam met Hom opgestaan het tot die nuwe lewe, is ook ‘n oproep om elke dag in die krag van Christus en sy Gees vanuit hierdie eenwording met Hom te leef.
Deur die Here se genade word ons toekoms nie bepaal deur wat in die verlede met ons gebeur het nie, maar deur dit wat met Jesus gebeur het. In Hom, in Sy verlede sien ons as’t ware ons toekoms; wie en wat ons kan wees in Hom.
Verse 5-8
Die opstandingslewe bring ‘n ononderbroke en intieme persoonlike verhouding met God. Soos Christus vir die sonde gesterf het en die sonde nie oor Hom mag kan uitoefen nie, so is almal wat saam met hom gesterf het, ook nou dood vir die sonde, vry van die mag van sonde. Die dood is reeds ontwapen en word irrelevant wanneer die mag van sonde reeds gebreek is. Die Een wat ons gemaak het, wat ons ken en liefhet, roep ons terug om in gemeenskap met Hom te lewe. Die verband tussen die oorwinning oor sonde in die lewe van die gelowige en die kruisdood van die Here dui daarop dat die fokuspunt die gebeure op Golgota is en nie die eie ervaring in die lewe van die individu nie.
Moontlike homiletiese riglyne
Een moontlike vertrekpunt vir die inrigting van die prediking na aanleiding van Romeine 6:1-11 en die deel van die Geloofsbelydenis van Nicea, “Ek erken een doop tot vergifnis van sondes”, is om die gelowige se lewe in die lig te plaas van wie ons is en wat waar is van ons. Die vraag en soeke na identiteit is ‘n groot realiteit in mense se leefwêreld.
Die prediking sou kon vertrek met die hardop saamlees van slegs die bogenoemde gedeelte van die belydenis. Die kerk bely al vir eeue ons geloof. Wanneer ons die woorde bely, veral "Ek erken een doop tot vergifnis van sondes”, is die relevante vraag of dit vir ons enige betekenis inhou, indien nie, is dit maar net woorde vol stof, iets wat oorgebly het vanuit die verlede. Hierdie woorde is ‘n lewende belydenis, ‘n verklaring van dit wat God doen.
‘n Vraag direk hierna sou die tafel kon dek vir verdere nadenke oor ons nuwe identiteit in Christus. As jy ‘n skoon papier kry en iemand vra jou, “Teken jou identiteit in die lig van hierdie woorde van die belydenis ... Wat sou jy teken? Hoe sou jy jouself aan ander mense teken?”
Wat sal ons kan doen om hierdie prent dalk beter te laat vertoon, om die beste weergawe te toon van wie ons kan wees? Waar soek ons dikwels identiteit? Dit kan by ander wees, in ons werk of by uiterlike dinge.
Die teksgedeelte vertel egter dat ons saam met Christus opgewek word tot 'n nuwe soort lewe, 'n lewe wat vir God geleef word. Hierdie nuwe lewe (identiteit) is nie net 'n toekomstige saak nie; dit is 'n teenwoordige werklikheid wat begin die oomblik dat ons deur geloof met Christus verenig word.
Die doop word hier gebruik as die simbool vir die verskil wat Jesus vir die lewe van gelowiges kom maak het. Deur die doop was jy eintlik saam met Jesus in die graf, het saam met Hom gesterf en ook saam met Hom opgestaan uit die dood. Ons het saam met Jesus uit die graf uitgegaan en ons lewe saam met Hom. Ons het saam met Jesus gesterf en ons het saam met Hom opgestaan en die doop is die bewys en die simbool daarvan. Die doop is 'n uitwendige, sigbare teken van 'n inwendige, onsigbare genade. Die doop is God se genadige inisiatief, Sy belofte aan ons. Die doop is die teken dat hierdie vergifnis op ons toegepas word. As gevolg van Christus is ons sondes vergewe en is ons nuutgemaak in Hom. Waarom bely ons "een doop"? Dit wat Christus gedoen het is voldoende. Sy offer is finaal.
As ons dan dood is vir die sonde, indien ons vergifnis ontvang vir ons sonde, waarom sal ons dan wil voortleef in dieselfde posisie? Die nuwe posisie wat jy nou in Christus het, is dat jy Christus se identiteit ontvang het. Soos die Vader na jou kyk, sien Hy nie in die eerste plek jou sonde nie, net soos wat Christus dood is vir die sonde, net soos wat Hy sondeloos was, word Sy identiteit ons sin. Ons word een met die doel in Christus; een met die Gees van Christus; een met die lewe in
Christus. Dit is dikwels ‘n proses van val en seerkry, maar weer opstaan en voortgaan. Niks bly kleef, na die val, wat nie van Christus is nie. Dié val eenvoudig weg, want in beginsel is die gelowige in Christus daarvoor “dood”.
God sien ons nie meer as sondaars nie maar as mense wat dood is vir die sonde. Ons doen nie sonde nie – soos God ons sien. Hy kyk na ons deur die bril van Jesus Christus. Om te bely "Ek erken een doop tot vergifnis van sondes" is om 'n diepgaande waarheid oor God se genade en ons nuwe identiteit in Christus te bely.
Aan die einde van die perikoop vind ons 'n aktiewe opdrag! Ons word geroep om onsself te reken, om onsself te beskou, om te glo en op te tree asof ons inderdaad dood is vir sonde se mag en lewend is vir God. Ons doop is 'n konstante, sigbare herinnering aan ons identiteit in Christus en ons roeping tot heiligheid. Ons het niks gedoen nie en tog het God ons gekies om ‘n gawe vir die wêreld te wees. Ons moet in die eerste plek weet wie ons is. Dan bevestig ons lewe die belydenis.
Leef ons die identiteit van die doop uit? Rus ons in Christus se voltooide werk vir die vergifnis van ons sondes? Streef ons, deur God se genade, om daardie nuwe lewe te lewe waartoe ons geroep is? Leef ons in die lig van sy Teenwoordigheid?
Moontlike Liturgie:
Stilgebed
Toetredelied: Vonkk 254:1,4
Votum en Seëngroet
Lofsang: Vonkk 314:2,3,5
Wet
Skuldbelydenis
Ges. 245:2
Geloofsbelydenis: Geloofsbelydenis van Nicea
(Vertoon indien moontlik, gemeente bely hardop saam)
Gebed
Skriflesing: Romeine 6:1-11
Ges. 290:1,3
Prediking
Gebed
Slotsang: Vonkk 328:1,2,3 / Ges. 308: 1,3,5
Seën
As wegsending kan daar ‘n lied gesing word of ‘n alternatiewe liturgiese handeling plaasvind.
Alternatief - Moontlikheid 1:
Gemeentelede word aangemoedig om hulle hand op die skouer van ‘n medegelowige naaste aan hulle (nie die nabye gesin nie) te plaas en vir mekaar te sê: “Jy is God se geliefde kind, jy is ‘n nuwe mens”.
Alternatief - Moontlikheid 2:
Daar kan ‘n doopherinnering plaasvind.
Die liturg sê vooraf: Die doop herinner ons dat die Here altyd by ons sal wees. Hy het ons eerste gekies uit genade en Hom aan ons verbind. Hy was nog altyd by ons. Daarom kan ons vir seker weet dat ons deur Hom nuwe mense is.
Terwyl die orrelis in die agtergrond speel kan persone na vore kom en hulle vingerpunte in die doopvont nat maak en daarvandaan uitbeweeg. Of jy sou dit kon doen met die woorde: “Jy is gedoop. Jy is God se geliefde kind en Hy is elke dag by jou.