PREEKSTUDIE: EEN IN WESE MET DIE VADER
1. INLEIDING EN KONTEKS
Hierdie preekstudie is opgestel vir die herdenking van 1700 jaar van die Niceense Geloofsbelydenis (325-2025), spesifiek vir die gedeelte: "een in wese met die Vader; deur wie alle dinge ontstaan het." Die studie fokus op twee sleuteltekste: Johannes 1:1-5, 14 en Kolossense 1:15-28, wat beide die godheid van Christus en sy rol as Skepper beklemtoon. Die historiese konteks van Nicea is belangrik. Die konsilie het saamgekom om die leer van Arius te weerlê, wat beweer het dat Jesus 'n geskape wese is. Die kerk se antwoord was die Griekse term "homoousios" - van dieselfde wese as die Vader.
2. TEKSAFBAKENING
Die Johannes-teks is afgebaken om beide die skeppingsmotief (v.3) en vleeswordingsmotief (v.14) in te sluit, terwyl die proloog se volle omvang (1:1-18) in gedagte gehou word. Die keuse om net hierdie verse te gebruik, fokus die aandag op die twee kernaspekte van die tema: Jesus as die ewige Woord wat alles geskep het, en Jesus as die Woord wat vlees geword het. Die Kolossense-teks vorm 'n duidelike literêre eenheid met 'n poëtiese struktuur wat as 'n vroeë Christelike himne geïdentifiseer word. Die keuse om vers 13-14 ook te lees verskaf die konteks van verlossing waarbinne die Christologiese himne funksioneer - dit gaan nie net oor teoretiese teologie nie, maar oor ons praktiese redding.
3. TEKSKRITIESE OPMERKINGS
In Johannes 1 is die teks goed bewaar met min betekenisvolle variante. Die belangrikste tekskritiese vraag handel oor die punktuasie tussen vers 3 en 4 - moet "wat geword het" by vers 3 of vers 4 gelees word? Die meeste manuskripte ondersteun die huidige indeling waar dit by vers 3 hoort. In Kolossense 1:14 voeg sommige manuskripte "deur sy bloed" by, waarskynlik 'n harmonisasie met Efesiërs 1:7. Die frase "deur die bloed van sy kruis" in vers 20 word deur die meerderheid manuskripte ondersteun, alhoewel dit moontlik 'n latere liturgiese byvoeging kan wees. Geen van hierdie variante raak egter die kernboodskap van die teks nie.
4. LITERÊRE ANALISE
Die Johannes-proloog vertoon 'n konsentriese struktuur met die vleeswording (v.14) as die sentrale klimaks. Die beweging is van die pre-eksistente Logos na die geïnkarneerde Woord. Semitismes soos parallelismes en herhalings is opvallend, wat dui op 'n Joodse agtergrond met Hellenistiese invloed. Die ritmiese herhaling van "en" skep 'n liturgiese atmosfeer wat gepas is vir aanbidding. Die Kolossense-himne vertoon 'n chiastiese struktuur met twee duidelike strofes: Christus en die skepping (15-17) en Christus en die nuwe skepping (18-20). Beide strofes begin met "Hy is" (hos estin) en die inklusio van "eersgeborene" in vers 15 en 18 bind die twee dele saam. Die poëtiese aard van die teks dui daarop dat dit moontlik in die vroeë kerk as 'n lied gesing is.
5. WOORDSTUDIE
Logos (λόγος) in Johannes het 'n ryk agtergrond wat beide Joodse en Griekse lesers sou aanspreek. In Hellenistiese denke verwys dit na die kosmiese rede of ordeningsprinsipe wat die heelal saambind. In Joodse denke sluit dit aan by God se skeppingswoord in Genesis 1 ("En God het gesê") en die gepersonifieerde Wysheid in Spreuke 8. Johannes gebruik die term om die pre-eksistente Seun aan te dui wat beide God se openbaring en God self is. Dit is belangrik dat Johannes nie sê die Logos het "by God geword" nie, maar "was" - ewige teenwoordige tyd.
Eikōn (εἰκών) in Kolossense beteken meer as net 'n afbeelding - dit dui op 'n eksakte representasie of manifestasie. In die LXX word dit gebruik vir die mens as beeld van God (Gen 1:27), maar die beeld is beskadig deur sonde. Paulus pas dit toe op Christus as die perfekte, onbeskadigde beeld van God. Waar Adam gefaal het as beelddraer, het Christus geslaag. Die term het ook keiserlike konnotasies - muntstukke het die keiser se "eikōn" gedra as teken van sy gesag.
Prōtotokos (πρωτότοκος) verwys nie na temporele prioriteit nie, maar na status en voorrang. In die OT is Israel, God se "eersgeborene" (Eks 4:22) vanweë hulle bevoorregte posisie, nie omdat hulle die eerste nasie was nie. So is Christus die "Eersgeborene" met die hoogste rang en gesag oor die skepping. Die term weerlê die Ariaanse dwaling dat Jesus die eerste geskape wese is.
6. HISTORIESE KONTEKS
Johannes skryf waarskynlik vanuit Efese (ca. 90-100 nC) in 'n konteks waar Docetisme (ontkenning van Jesus se ware mensheid) en vroeë Gnostisisme (verlossing deur geheime kennis) opkom. Hy beklemtoon daarom beide die godheid EN mensheid van Jesus - die Woord wat God is, het werklik vlees geword. Die kulturele konteks van Efese met sy filosofiese skole maak die gebruik van "Logos" besonder treffend.
Paulus skryf aan Kolossense (ca. 60-62 nC) in 'n konteks van sinkretistiese godsdienste, engeleverering en filosofiese spekulasie. Die stad Kolosse was bekend vir sy misterie-godsdienste en die verering van kosmiese magte. Paulus beklemtoon Christus as die hoogste gesag oor alle kosmiese magte en die voldoende aard van die evangelie teenoor bykomende godsdienstige praktyke. Die gemeente het nie engele of ander tussengangers nodig nie. Christus is alles.
Die Konsilie van Nicea (325 nC) het hierdie tekste gebruik om Arius se leer dat die Logos 'n geskape wese is, te weerlê. Die keiser Konstantyn het die konsilie byeengeroep om eenheid in die kerk te bewaar, maar die teologiese kwessie was fundamenteel: Is Jesus werklik God? Die term "homoousios" (van dieselfde wese) is gebruik om die volle godheid van Christus te bevestig, teenoor "homoiousios" (van soortgelyke wese).
7. TEOLOGIESE TEMAS
Die sentrale teologiese temas wat uit hierdie tekste na vore kom, vorm die hart van die Christelike geloof. Christus se pre-eksistensie en goddelikheid word in beide tekste beklemtoon - Hy bestaan voor die skepping en is self die Skepper. Sy rol as Middelaar van beide skepping en verlossing wys dat God se skeppings- en reddingswerk 'n eenheid vorm. Die inkarnasie as God se selfopenbaring beteken dat ons nie meer hoef te raai hoe God is nie - kyk na Jesus! Die kosmiese omvang van Christus se heerskappy beteken dat geen mag of krag buite sy beheer is nie. Die kerk as die nuwe gemeenskap waarin hierdie heerskappy sigbaar word, gee aan gelowiges 'n nuwe identiteit en roeping.
BIBLIOGRAFIE
Kolossense Kommentare
Bird, MF. 2014. Colossians and Philemon. A new covenant commentary. Cambridge: Lutterworth Press.
Dunn, JDG. 2014. The epistles to the Colossians and to Philemon. NICGC. Grand Rapids: Eerdmans.
Smit, DJ. 1982. Woord teen die Lig 2. NG Kerk-uitgewers.
Van der Watt, JG. 1988. Christus is julle hoop. Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Wright, NT. 2015. Colossians and Philemon. TNTC. Illinois: InterVarsity Press.
Johannes Kommentare
Barrett, CK. 1978. The Gospel according to St John. London: SPCK.
Hendricksen, W. 1954. New Testament Commentary:The Gospel of John. Edinburgh: The Banner of Truth Trust
Morris, L. 1995. The Gospel according to John. NICNT. Grand Rapids: Eerdmans.
Groenewald, EP. 1980. Die Evangelie van Johannes. Kaapstad: NG Kerk Uitgewers
Niceense Teologie
Koekemoer, JH. 1999. "Die Heilige Gees en spiritualiteit in teologiese opleiding." HTS Teologiese Studies / Theological Studies, Vol 55.2/3, a1584, p 322-333. https://doi.org/10.4102/hts.v55i2/3.1584
Van Selms, A. 1952. Lig uit lig. Kaapstad: HAUM.
Van Zyl, FJ. 1976. "Die boodskap van Nicea," HTS Teologiese Studies / Theological Studies, Vol. 32, No. 1/2, a4137, pp. 78-84. DOI: https://doi.org/10.4102/hts.v32i1/2.4137.
_________________________________________________________
LITURGIE EN PREEK:
EEN IN WESE MET DIE VADER
Moontlike Tema: "Die Sigbare Beeld van die Onsigbare God"
Datum: [Sondag in die Niceense reeks]
Fokus: "Een in wese met die Vader; deur wie alle dinge ontstaan het."
Toetredelied
· Lied 159 - "God is hier teenwoordig"
OF
· VONKK 70 –"Abba Vader"
Responsoriese Votum: Johannes 1:1 en 14
*Liturg: In die begin...
[Stilte - 5 sekondes]
Liturg: ...was die Woord
[Stilte - 5 sekondes]
Liturg: Die Woord was by God
Liturg: Die Woord was God
[Stilte - 10 sekondes]
Gemeente: En die Woord het mens geword en onder ons kom woon.
*Indien groter gemeente kan verskillende mense se stemme gebruik word.
Seëngroet
Lofprysing
· Lied 203 - "Loof die Here al wat lewe"
OF
· VONKK 126- "Hoër as die hemel"
Wet: Kolossense 3:1 – 17
Skuldbelydenis en Genadeverkondiging
· Lied 238:1,2,3 - "God enkel lig voor U gesig"
OF
· VONKK 56 - "My God, hoe doelloos, hoe verward"
Gebed
Skriflesing: Johannes 1:1-5, 14 en Kolossense 1:15-28
Kindermoment
'n Kort boodskap oor hoe Jesus ons help om God te sien – soos wanneer ons na 'n foto kan kyk van iemand wat ver bly of iemand wat voor ons hier was.
Prediking: "Die Sigbare Beeld van die Onsigbare God"
Inleiding:
Ek wil vandag begin met 'n eenvoudige vraag wat 'n kind my gevra het: "Dominee, as God so groot is dat Hy die hele wêreld gemaak het, hoe kan ek Hom dan sien?" Daardie vraag het my diep geraak. Want dis eintlik die vraag wat ons almal vra, nè? Waar is God? Hoe lyk Hy? Kan ek Hom regtig ken?
1700 jaar gelede het die kerk presies dieselfde gevra. Meer as 300 biskoppe het in die stad Nicea bymekaar gekom omdat mense verskil het oor wie Jesus is. Party het gesê Jesus is wonderlik, maar Hy is nie regtig God nie - net 'n baie spesiale mens of engel. Ander het gesê nee, Jesus IS God.
Na maande se gesprek het hulle 'n belangrike woord gebruik om te sê wie Jesus is: "homoousios" - 'n Griekse woord wat beteken "van dieselfde wese" of "dieselfde stof". Met ander woorde, Jesus is nie net soos God nie, Hy is van dieselfde wese as God. Soos ys, water en stoom almal dieselfde molekules, H20 is - net in verskillende vorms - so is Jesus ten volle God, net in menslike vorm.
Vandag kyk ons wat die Bybel self hieroor sê. Want as Jesus nie God is nie, dan bly God onsigbaar. Maar as Jesus wél God is... dan verander alles.
1. DIE WOORD WAT SIGBAAR WORD (Johannes 1:1-5, 14)
Johannes begin sy evangelie met iets wat ons almal ken: woorde. Ons praat elke dag. Ons gebruik woorde om te sê wat in ons harte is. As ek vir my vrou sê "Ek is lief vir jou," dan maak my woorde my liefde bekend. Johannes sê: God het ook 'n Woord. Maar hierdie is nie sommer enige woord nie.
Luister wat sê hy: "In die begin was die Woord." Nie "het die Woord begin" nie. Die Woord WAS. Dit beteken die Woord was daar voor alles anders. Voor die son, voor die aarde, voor die eerste mens. Dan sê Johannes iets nog meer verstommend: "Die Woord was by God, en die Woord was God."
Wag, hoe kan die Woord by God wees en terselfdertyd God wees? Dis soos om te sê my seun is by my, maar hy is ook ek. Dit maak nie sin nie! Tensy... tensy God nie soos ons is nie. Tensy daar 'n geheimenis in God self is wat ons net kan aanvaar met verwondering. Dit is presies wat Nicea met "homoousios" bedoel het - Jesus is nie 'n aparte god nie, maar van dieselfde wese as die Vader.
Maar dan kom die grootste skok. Vers 14: "Die Woord het mens geword." In gewone Afrikaans: God se Woord het vlees en bloed geword. Die Een wat die sterre gemaak het, het ‘n babatjie geword. Die Een wat groter as die heelal is, het in 'n krip gelê.
Dink so daaraan: Jy kan nie die wind sien nie, maar as die wind deur die bome waai, sien jy die blare beweeg. Jy kan nie elektrisiteit sien nie, maar as jy die lig aanskakel, sien jy die kamer word helder. Net so - jy kan nie God sien nie, maar toe Jesus kom, kon mense God sien in aksie. In 'n mens. Met 'n gesig. Met hande. Met voete. Met 'n hart wat klop.
2. DIE BEELD WAT ALLES OPENBAAR (Kolossense 1:15-17)
Paulus gebruik 'n ander woord om dieselfde waarheid te sê. Hy sê Jesus is die "beeld van die onsigbare God." Die Griekse woord hier is "eikōn" - ons kry die woord "ikoon" daarvan. Maar dis nie net 'n prentjie nie.
Laat ek dit so verduidelik: As jy na 'n foto van jou ouma kyk, sien jy hoe sy lyk, maar die foto kan nie vir jou tee maak nie. Die foto kan nie jou hand vashou nie. Maar Jesus is nie net 'n foto van God nie. Hy IS die lewende God self wat ons kan sien.
Paulus gaan verder. Hy sê alles is deur Jesus geskep. Nie net 'n paar goed nie - alles. Die son? Jesus het dit gemaak. Die see? Jesus. Die berge? Jesus. Jou liggaam? Jesus. En hier's die wonderlike deel: "In Hom hou alle dinge stand." Dit beteken die hele skepping - die natuurwette, die orde van die heelal - word deur Hom in plek gehou. Soos 'n fondament wat 'n gebou laat staan, so hou Jesus die skepping in stand.
Maar waarom is dit belangrik? Omdat die mense van Kolosse - net soos baie van ons - bang was vir ander magte. Hulle het geglo in bose geeste, in die mag van die sterre, in onsigbare kragte wat hulle lewens beheer. Paulus sê: Moenie bang wees nie! Jesus het alles gemaak. Daar is geen mag groter as Hy nie. Geen bose gees sterker as Hy nie. Geen probleem te groot vir Hom nie.
3. DIE VERSOENING WAT ALLES NUUT MAAK (Kolossense 1:18-28)
Maar nou kom die belangrikste deel. Dis nou alles goed en wel dat Jesus alles gemaak het. Maar wat van die gemors wat ons van die wêreld gemaak het? Wat van die sonde? Wat van die gebrokenheid? Wat van die dood?
Paulus sê die Een wat alles gemaak het, is dieselfde Een wat alles kom regmaak het. Luister mooi: "God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen." Hoe? "Deur die bloed van sy kruis."
Die God wat groter is as die heelal, het aan 'n kruis gehang. Die hande wat die sterre gemaak het, is met spykers deurboor. Waarom? Om jou en my terug te bring na God. Om die gebrokenheid heel te maak. Om vyande vriende te maak.
En dan kom die mooiste deel. Paulus praat van 'n "geheimenis" wat nou bekend gemaak is. Weet julle wat is daardie geheimenis? "Christus in julle." Nie net Christus vir julle nie. Nie net Christus by julle nie. Christus IN julle. Die God wat mens geword het, wil in jou hart woon. Die Een wat alles gemaak het, wil jou nuut maak van binne af.
Sintese: Beide Tekste Saam
Sien julle wat Johannes en Paulus saam sê? Die God wat niemand kan sien nie, het besluit om Homself te laat sien. Nie in 'n visioen nie. Nie in 'n droom nie. In 'n mens. 'n Mens met 'n naam: Jesus. 'n Mens wat geëet, geslaap, gehuil en gelag het. 'n Mens wat seergekry het. 'n Mens wat gesterf het, maar opgestaan het uit die dood, want Hy is God.
Dit is wat die kerkvaders in Nicea probeer sê het met daardie woord wat ek vroeër genoem het - "homoousios" - van dieselfde wese. Onthou julle die voorbeeld van ys, water en stoom? Jesus is nie 'n kopie van God nie. Hy is nie 'n kleiner weergawe van God nie. Hy IS God, net soos ys steeds water is. Wanneer jy na Jesus kyk, kyk jy na God. Wanneer Jesus praat, praat God. Wanneer Jesus jou aanraak, raak God jou aan.
Slot:
Daardie kind wat gevra het hoe hy God kan sien? Ek het vir hom gesê: "Kyk na Jesus. Lees wat Jesus gedoen het. Luister wat Jesus gesê het. Dit is hoe God is."
Maar hier's die vraag vir ons vandag: Glo jy dit? Glo jy regtig dat die babatjie in die krip die God is wat die sterre gemaak het? Glo jy dat die man aan die kruis die Een is wat jou hart laat klop? Glo jy dat Jesus nie net 'n goeie mens was nie, maar God self wat gekom het om ons te red?
As jy dit glo, dan hoef jy nie meer te wonder waar God is nie. Hy is so toeganklik soos 'n gebed in Jesus se naam. Hy is so werklik soos die Heilige Gees wat in jou woon.
Die onsigbare God het sigbaar geword. In Jesus. En nou, deur sy Gees, wil Hy sigbaar word in jou. Sodat wanneer mense na jou kyk, hulle iets van Jesus sien. Wanneer jy liefhet, hulle God se liefde ervaar. Wanneer jy vergewe, hulle God se vergifnis verstaan.
Dit is die evangelie. God het nie weggebly nie. Hy het gekom. In Jesus. Vir ons elkeen.
Amen.
Slotgebed
Geloofsbelydenis
Laat die gemeente die Geloofsbelydenis van Nicea hardop saam sê of indien die nodige tegnologie beskikbaar is speel die video soos beskikbaar by https://sites.google.com/view/nicea1700jaarlater/geloofsbelydenis-van-nicea?authuser=0
Sang van toewyding
· Lied 309 - "My lewe bly aan U gewy"
OF
· VONKK 526 - "Vader U is genadig"
Slotlied
· Lied 468 - "Christus, die Seun, is beeld van God" – Indien bekend kan gesing word of voorgelees word. Alternatiewelik kan Lied 258 - "Vreugdevolle tyding" met klem op vers 3 gesing word.
OF
· VONKK 343 "Voordat tyd begin het”
Seën
Die genade van ons Here Jesus Christus,
wat die beeld van die onsigbare God is,
en die liefde van God die Vader,
wat een in wese met die Seun is,
en die gemeenskap van die Heilige Gees,
wat ons verander na die beeld van Christus,
sal met julle almal wees tot in ewigheid.
Amen.
"Die genade bly met julle!"
- uit Kolossense 4:18b