PREEKSKETS: GELOOFSBELYDENIS VAN NICEA (Frikkie van Wyk – Montana-Oos)
AGETERGROND:
Teks van die Geloofsbelydenis van Nicea (relevante artikel)
"... wat self vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is; en op die derde dag weer opgestaan het volgens die Skrifte; wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader..."
Tema: Christus se lyding, dood, opstanding en verhoging – ons verlossing voltooi
Moontlike tekskeuses:
1. Lyding en dood: Jesaja 53; Lukas 23
2. Opstanding: Lukas 24; 1 Korintiërs 15
3. Hemelvaart: Handelinge 1:9–11; Efesiërs 1
4. Sitting aan die regterhand: Psalm 110:1; Hebreërs 1:3; Romeine 8:34
Hoofpunte:
1. Christus het werklik gely (deur sy hele lewe) en gesterf (onder Pontius Pilatus)
2. Historiese egtheid en menslike werklikheid van sy dood
3. Lyding as plaasvervangende versoening – “Vir ons” - (Jes. 53:5)
4. Hy het opgestaan volgens die Skrifte
5. Ou Testamentiese verwysings - Ps. 16:10; Hos. 6:2
6. Oorwinning oor die dood en sonde
7. Grondslag vir ons hoop (1 Kor. 15:17–20)
8. Hy het opgevaar en sit aan die regterhand van God
9. Hemelvaart is die kroon van sy werk
10. Heerskappy oor alles (Ef. 1:20–22)
11. Voorspraak en teenwoordigheid vir sy Kerk (Rom. 8:34; Heb. 7:25)
Belydenisskrifte verwysing:
Heidelbergse Kategismus:
· Sondag 15–17 oor Christus se lyding, dood en opstanding
· Sondag 18 oor sy hemelvaart
Nederlandse Geloofsbelydenis
· Art. 20–21 (oor versoening deur Christus)
· Art. 26 (oor Christus as ons Voorspraak)
Inleiding:
Die vroeë kerk het ‘n behoefte gehad aan duidelike geloofsbelydenisse. Dit lei tot die ontstaan en groei van onder andere die Geloofsbelydenis van Nicea. In hierdie artikel van die Niceaanse Geloofsbelydenis word die kern van die Evangelie vasgevang – dat Jesus werklik gely het, gesterf het, begrawe is, opgestaan het en nou heersend leef. Dit is nie bloot simboliek nie – dit is histories, werklik, en van ewige betekenis vir elke gelowige.
Homiletiese toepassing/s:
Die volgende kan as temas gebruik word in verskeie preke:
· Troos: Christus het werklik gely – Hy verstaan ons lyding.
· Verlossing: Sy dood is ons versoening; sy opstanding is ons regverdigmaking.
· Bemoediging: Sy hemelvaart beteken Hy heers nou oor elke krag wat teen ons is.
· Uitdaging: Leef as mense wat behoort aan ’n gekruisigde en opgestane Koning.
PREEKVOORSTEL
Tekskeuse vir preek:
a) Ou Testament: Jesaja 53:1–12
Die krag van die teksgedeelde lê in die lydende kneg van die Here wat sy lewe aflê vir ander. Tog is dit juis iets wat volgens Jesaja vir baie mense verborge sal wees, dat hulle die hand van die Here nie daarin sal raaksien nie. Baie mense sal ontsteld wees oor sy voorkoms en konings sal sprakeloos wees oor hom, omdat hulle sy rol nie sal kan kleinkry nie.
Maar dit is juis in hierdie onaansienlike, veragte en verstote mens wat God sy krag ten toon sal stel, die transformasie van lyding, siektes, oortredings en sondes. Deur Hom sal God vrede vir ons bring en ons van ons eie pad bekeer na Sy pad toe.
Wat spesifiek besonders van hierdie dienaar is, is dat hy die hoogste prys betaal – “afgesny uit die land van die lewendes … graf gekry by goddeloses … by sondaars in sy dood” – (53:8-10a) EN daarna nog lank sal lewe (53:10b-11). Op ‘n verskuilde manier voorspel dit die opstanding uit die dood van hierdie dienaar van die Here. En God aanvaar sy skuldoffer (53:10 – vgl Lev 5:14-6:7 waar die offer selfs vir onopsetlike sondes voorgeskryf word) as ‘n losprys vir baie.
Let ook op dat die dienaar in stille vertroue sy lyding tegemoet stap (53:7) terwyl hy vir oortreders bid (53:12). Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan Jesaja 30 waar stil-wees, vertroue en gebed die gelowige se respons op groot uitdagings is. Geen wonder dat die Here hierdie offer so hoog aanslaan, trouens aan Hom die ereplek gee onder die grotes en magtiges (53:12). Want die geduld in lyding dra groot vrug.
Die Nuwe Testament maak hierdie woorde van Jesaja op vele plekke van toepassing op Jesus, omdat die skrywers in hulle lewe die vervulling van hierdie gedeelte gesien het: 53:1 in Joh. 12:38; 53:4 in Matt 8:17; 53:7-8 in Hand 8:32-33; 53:9 in 1 Pet 2:22.
Inderdaad, Jesus self het ‘n vers hieruit op Homself van toepassing gemaak aan die kruis: bv. 53:12 in Luk 22:37.
b) Nuwe Testament: 1 Korintiërs 15:1–8, 12–22
Hierdie teks skets drie implikasies:
i. As daar geen opstanding van dooies is nie, is Christus ook nie opgewek nie.
ii. Jy kan nie die opstanding van die dooies ontken, en dan nog steeds vashou aan die opstanding van Christus nie.
iii. Jy kan nie die opstanding van Christus ontken, en jouself dan nog ‘n Christen, ‘n volgeling van Jesus, noem nie.
Want, sê Paulus, dan is jou geloof sinloos. Dit beteken niks nie. Boonop het jy dan met God te make, want jy word ‘n valse getuie wat jou téén God verhef en ontken dat Hy so iets kan doen.
As die dooies nie opgewek word nie, is Christus nie opgewek nie. As Christus nie opgewek is nie, is jy nog steeds in jou sonde. As Christus nie opgewek is nie, is al jou geliefdes wat al dood is, verlore.
As jy in Christus glo – hoe jy dit ook al verwoord – maar dit is NET vir hierdie lewe, is jy die mees patetiese mens – dit is wat “bejammerenswaardigste van alle mense” beteken.
Dit is nie maar om ’t ewe wat jy glo of nie. Elke deeltjie van ons geloofsbelydenis is belangrik. Daar kan nooit ‘n diversiteit wees in wat ons glo nie. Ons kan verskil van mekaar in hoe ons lyk, hoe ons praat, waarvan ons hou, maar nooit oor die waarheid nie. Dit is die waarheid wat ons een maak, nie diversiteit nie.
As Jesus nie opgestaan het uit die dood, kan jy ook nie opstaan uit die dood nie. Is jou geloof sinloos. Is jou geloof doodgewoon pateties. “Maar nou”, sê Paulus, “Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes.” Dit het alles verander en daaraan moet jy vashou en jou lewe daardeur laat bepaal.
As ons uit die dood gaan opstaan, is niks meer tevergeefs nie. As Jesus opgestaan het uit die dood, sal ons ook opstaan uit die dood. Dit beteken, soos Paulus later in die hoofstuk sê, dat: “Ons inspanning in diens van die Here is nie tevergeefs nie.” (1 Kor 15:58).
Die dood het dan nie meer die laaste sê oor jou nie. Niks wat jy in hierdie lewe vir Jesus en sy koninkryk doen, kan ooit tevergeefs wees nie. Selfs as die lewe jou in stukke breek, kan jy steeds hoop en blydskap hê, want jy is veilig geborge in God, toegevou in sy liefde. Jy sal opstaan uit die dood aan die einde van die tyd wanneer Jesus weer kom om ons te kom haal. Dit is waarvoor Jesus, die dienskneg gely het, gesterf het en weer opgestaan het.
INLEIDING:
Daar is min sinne wat die hele Evangelie só kragtig opsom soos hierdie deel van die Geloofsbelydenis:
"... wat self vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is; en op die derde dag weer opgestaan het volgens die Skrifte; wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader..."
In hierdie paar woorde lê die hart van boodskap van die Evangelie. Dit is nie net teologie nie – dit is die ware verhaal van God se liefde wat vlees geword het, gely het, gesterf het, opgestaan het en nou leef.
Jesaja 53 skets vir ons 'n beeld van die kneg van die Here wat stilweg, sonder weerstand, die pad van lyding kies. Nie omdat Hý skuld het nie, maar "om ons onthalwe" – 'n herhalende refrein. Jesaja 53:5 sê: "Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom."
En dan lees ons in 1 Korintiërs 15:3: "Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte."
Hierdie sterwe is plaasvervangend. Dit is genade. Dit is liefde. Christus het nie net met ons meegevoel getoon nie – Hy het ons las gedra, ons straf op Hom geneem, en ons vrede daarmee bewerk.
Christus is begrawe en het opgestaan – volgens die Skrifte, tot ons regverdigmaking. 1 Kor. 15:4 sê: "Hy is begrawe en op die derde dag opgewek volgens die Skrifte." Die graf kon Hom nie hou nie. Hy is werklik dood – begrawe, sê beide Jesaja en Paulus – en tog op die derde dag opgewek.
Jesaja sê: "Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken." (Jes. 53:11)
Dit is 'n verrassende frase: die dood word nie die einde nie. Dit is die deurgang tot verheerliking. En Paulus koppel dit aan die fondament van die hele Christelike geloof: "As Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud (nutteloos)…"
Maar: "nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het." (1 Kor. 15:20)
Die opstanding is nie 'n metafoor nie – dit is ‘n werklikheid, en dit beteken: Ons sonde is vergewe. Die dood is oorwin. 'n Nuwe skepping het begin.
Christus leef en regeer – as die oorwinnaar oor dood en sonde:
· Jes. 53:12 – "Daarom gee Ek hom 'n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het. "
· 1 Kor. 15:25 – " Hy moet as Koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het."
Die kruis is nie die einde van die verhaal nie – dit is die begin van Christus se verheerliking. Jesaja sê: "Daarom..." – omdat Hy Homself gegee het, gee God Hom nou die erfdeel. Paulus sê: Hy regeer nou – aan die regterhand van God, soos ons bely. Hy is nie meer die veragte man van smart nie – Hy is die Here van heerlikheid, die Een wat oor alles regeer en voorspraak doen vir ons.
Dit beteken dat:
· Christus Jesus het nie net ons sonde gedra nie, Hy beskerm ons en regeer nou oor ons.
· Ons is nie alleen in ons stryd teen sonde, swaarkry of die dood nie.
· Ons behoort aan 'n lewende, heersende Christus!
Toepassing: Wat beteken dit vir ons nou?
· Vir die wat verslae voel – Jy hoef nie te dra wat Christus reeds gedra het nie. Hy het werklik vir jou gely.
· Vir die skuldiges – Daar is versoening. Jy is nie meer skuldig nie – Hy het jou losgekoop.
· Vir die sterwende – Die dood is nie meer die einde nie. Christus is die Eersteling – jy sal ook opstaan.
· Vir die Kerk – Ons leef onder 'n lewende Heer. Ons getuig nie net van 'n verlede nie – maar van 'n hede én 'n toekoms.
Die belydenis wat ons uitspreek is dus nie maar net leë woorde nie. Hierdie artikel van die Niceense Geloofsbelydenis bely die kern van die Evangelie – naamlik dat Jesus werklik gely het, gesterf het, begrawe is, opgestaan het en nou heersend leef. Dit is nie bloot simboliek nie – dit is histories, werklik, en van ewige betekenis vir elke gelowige.
Wanneer ons sê: "Hy is gekruisig vir ons, begrawe, en op die derde dag opgestaan…", … dan bely ons die grootste werklikheid ooit: Dat God self in Christus alles kom dra het – vir ons.
Laat ons dan leef soos mense wat behoort aan die Gekruisigde én die Opgestane Here.