Augustus 2025
Toetredelied: Gesang 162: 1
1. Votum en seëngroet
2. Lofsang: VONKK 254: 1,2,3
3. Wet
4. Skuldbelydenis: VONKK 311: 1,2,3
5. Geloofsbelydenis van Nicea
6. Toewydingslied: Gesang 478: 1,2
7. Aankondiging van tema en Skriflesing:
Een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels
Efesiërs 4: 1-16
8. Gebed
9. Skriflesing: Efesiërs 4: 1-16
10. Antwoord: Gesang 478: 1,2
11. Prediking: Een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels
12. Gebed
13. Slotsang: VONKK 337: 1 (op die melodie van Gesang 487)
Gesang 487: 3
14. Seën
15. Wegsendingslied: Gesang 162: 2
Belydenis van Nicea (325/381nC)
10 – “Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels”
Literatuurverwysings:
Van Selms, A 1952. Lig uit lig, Kaapstad, Pretoria: HAUM /JH de Bussy.
https://en.wikipedia.org/wiki/Nicene_Creed
https://earlychurchtexts.com/public/creed_of_nicaea_325.htm
Die heel eerste konsilie van die Christelike kerk het van Mei tot Julie 325nC in Nicea (vandag Iznik in Turkye) plaasgevind nadat meer as 200 biskoppe deur keiser Konstantyn byeengebring is om uitsluitsel te gee oor die Christologiese vraag na die wese van Christus en sy verhouding met God die Vader.
Die deel van die Niceense belydenis wat betrekking het op die kerk was nie deel van die oorspronklike belydenis wat reeds in 325nC geformuleer is by die konsilie van Nicea nie (https://earlychurchtexts.com/public/creed_of_nicaea_325.htm). Daardie eerste weergawe van die belydenis het – teenoor die standpunte van Arius – baie sterk gefokus op die belydenis dat Jesus Christus die Seun van God is, van die Vader uitgaan en een in wese is met die Vader. Daarom het die belydenis van Nicea oorspronklik bloot trinitaries bely:
“Ons glo in een God,
Die almagtige Vader ...
En in een Here, Jesus Christus, die Seun van God ...
En in die Heilige Gees.”
Die belydenis het nie verder uitgebrei oor die Heilige Gees nie, en ook nie oor die resultaat van die werk van die Heilige Gees (waardeur die kerk onder meer tot stand gekom het nie).
Hierdie trinitariese belydenis is oorspronklik eerder gevolg deur ’n slot waarin “die heilige, algemene en apostoliese kerk” diegene verwerp wat beweer dat daar ’n tyd was toe Christus nog nie bestaan het nie, dat Hy uit niks ontstaan het, of wat beweer dat Christus ’n ander substansie gehad het as die Vader of geskep is of sou kon verander.
Tog wys hierdie stelling (waarmee Arius en sy aanhangers en hul sieninge verwerp is) dat die verteenwoordigers van Christelike gemeentes regoor die ryk reeds by Nicea ’n duidelike selfverstaan gehad het van die kerk as ’n organiese geheel wat heilig, algemeen en apostolies was.
Dit is selfs onseker of die byvoeging tot die belydenis van Nicea wat oor die belydenis met betrekking tot die kerk handel reeds tydens die tweede algemene konsilie van Konstantinopel in 381nC by die belydenis ingesluit is. Die notule van hierdie konsilie het verlore gegaan en daar is geen verwysing na die uitgebreide belydenis voor die konsilie van Chalcedon in 451nC nie. Hoe dit ook al sy, sedert die konsilie van Chalcedon in 451nC word die belydenis in sy huidige vorm aanvaar en gebruik as die gesaghebbende teks van die belydenis van Nicea-Konstantinopel.
Die Belydenis van Nicea begin in Grieks met die woorde Πιστεύομεν εἰς en in Latyn met die ooreenstemmende werkwoord credimus in (“ons glo in”). Hierop volg dan trinitaries opeenvolgend God die Vader, Jesus Christus die Here en die Heilige Gees. Wanneer die belydenis later uitgebrei word om meer te sê oor die kerk, word dieselfde voorsetsel in Grieks (εἰς) en Latyn (in) gebruik. Maar ons kan nie in Afrikaans sê ons glo “in” die kerk soos ons sê ons glo “in” die Vader, die Seun en die Heilige Gees nie. Daarom is die voorsetsel in ons Afrikaanse vertaling gewoon weggelaat:
“Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels”
Daarmee bedoel ons dat ons glo dat daar een heilige, algemene, apostoliese kerk bestaan. Of duideliker gestel: ons bely dat daar slegs één kerk bestaan, en hierdie kerk word daardeur gekenmerk dat dit heilig, algemeen en apostolies is. Dit is ’n mond vol!
Die kerk is één
Efesiërs 4:4-6 (1983-vertaling)
4 Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. 5 Daar is net één Here, één geloof, één doop, 6 één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.
Net soos die Niceense belydenis bely dat daar net één God is (Vader, Seun en Heilige Gees), so is daar net één kerk. Ons almal is – dikwels teen wil en dank – mekaar se broers en susters. Die kerk kom tot stand deur God se werking in ons wêreld. Net soos Jesus vissermanne, leerlooiers, tollenaars, Fariseërs, prostitute, rowers, Jode en nie-Jode, mans en vrouens en kinders na Hom geroep het, net so bring God deur sy Gees uiteenlopende mense byeen in sy één kerk. “Ons Here het nou eenmaal snaakse gaste. Die geur van hulle daaglikse sfeer hang nog om hulle heen.”, skryf Van Selms (1952:141).
Tog beteken dit nie noodwendig dat hierdie eenheid in die vorm van een menslike organisasie gestalte moet aanneem nie. Dit beteken ook nie dat ons mekaar moet probeer dwing om presies dieselfde te praat of doen nie, want dan sluit ons ons oë vir die verskeidenheid van vertolkinge van God se werk wat ons reeds in die Skrif vind. Dikwels is die strewe na organisatoriese eenheid in der waarheid ’n strewe na beheer – ons soek menslike waarborge dat almal soos ons sal praat en doen, en ons soek meganismes om mense by te kom wat van ons verskil. Dit maak van ons letterketters, vervlak ons tot veroordelende sektes, en eindig ironies gewoonlik in kerkskeuring.
Die eenheid tussen gelowiges word nie deur onsself tot stand gebring of bewaar nie, maar deur die Woord van God. Terwyl verskillende gelowiges ook verskillende interpretasies van die Woord van God maak, beteken dit nogtans nie dat enige moontlike interpretasie geldig is nie, want dan dreig die gevaar weer dat die kerk ’n blote buurtvereniging of welsynsorganisasie word.
Die kerk is heilig
Die kerk is heilig omdat dit deur God geheilig is, dit wil sê deur die offer van Christus aan God toegewy is. Soos ’n gewone altaar in oud-Israel deur ’n offerplegtigheid geheilig is, so is die kerk deur Christus se offer op Golgota geheilig. Die kerk se heiligheid lê dus nie in haarself nie, maar in die vergewing van sondes wat Christus vir gelowiges bewerk het.
’n Mens moet dus bedag wees op ’n soeke na aardse heiligheid wat baie maklik kan omsit in skynheiligheid. ’n Kerk wat probeer om “onheiliges” uit te ban of wat noulettend wil onderskei tussen ergerlike en klein sondes, maak die vergewing van sondes waardeloos deur mense voortdurend die sonde toe te reken.
Die belydenis dat die kerk heilig is, is ’n geloofsuitspraak. Dit kyk in die geloof na die gewone aardse mense wat God in die kerk byeengebring het. Dit hoop dat die gelowiges sal begin en aanhou worstel om heilig te wees. Dit roep sondaars onophoudelik tot bekering en vind vreugde in elke sondaar wat hom bekeer.
Die kerk is algemeen
Dit beteken dat die kerk haar prediking tot alle mense rig en niemand by voorbaat uitsluit nie.
In die vroeë kerk het “algemeen” waarskynlik in die besonder verwys na Christene uit die Jodendom en Christene uit die heidendom. Vir Joodse Christene was dit baie moeilik om met Christene om te gaan wat uit die heidendom tot geloof gekom het: hulle verontagsaming van die Joodse wette en gebruike het Joodse Christene aanhoudend ontstel en teen die bors gestuit.
In ons wêreld bestaan die onderskeid tussen Christene wat vroeër Jode en Christene wat vroeër heidene was, glad nie meer nie. Daar is dalk gelowiges wat in die kerk grootgeword het en mense wat eers later in hulle lewe tot geloof in Christus gekom het. Maar die onderskeide tussen Christene wat manlik of vroulik is, heteroseksueel of homoseksueel, gereserveerd of charismaties, geleerd of ongeskool, ryk of arm, blank of bruin of swart, Afrikaans of Engels of Sotho – hierdie onderskeide is vandag die uitdaging vir die algemene kerk.
Die vertaling van die Bybel in die omgangstaal van ander gemeenskappe was ’n revolusionêre daad. Vir die vroeë kerk wat onstaan het in ’n wêreld waar beskaafde mense oraloor Grieks verstaan het, was dit nietemin van deurslaggewende belang om die Bybel ook in Latyn, Siries, Kopties en Goties te vertaal. Net so vir die kerk van die Reformasie wat die Bybel in Duits, Engels, Nederlands en algaande al meer moderne tale vertaal het. Die vertaling van die Bybel is onvermydelik ook in die gebruik van die volkstaal in die liturgie en prediking gevolg. So het dit meegebring dat gelowiges van alle plekke en lae van die samelewing in die kerk opgeneem kon word. Maar terselfdertyd het dit tot die totstandkoming van verskillende gemeentes en verskillende kerkgenootskappe vir verskillende groepe gelowiges gelei.
Net so lei die akkommodering van Christene wat in ander opsigte van mekaar verskil dikwels tot die ontstaan van verskillende gemeentes of kerkgenootskappe. Dit geld nie noodwendig as ontkenning van die algemene kerk nie. Maar daar moet deurlopend gewaak word teen ’n superioriteitswaan onder een van die betrokke groepe, want eiewaan is onchristelik en lei tot onchristelike optrede in die kerk.
Maatreëls om verskille tussen gelowiges te akkommodeer, mag slegs tot op sekere hoogte geld. Watter verskille daar ook al mag wees, die algemene wese van die kerk moet steeds te alle tye tot uiting kom.
Die kerk is gegrond op die leer van die apostels
Wanneer ons sê dat die kerk een, heilig en algemeen is, noem ons eienskappe van die kerk. Maar wanneer ons sê dat die kerk gegrond is op die leer van die apostels, sê ons iets oor ’n wesenlike kenmerk van die kerk – die kerk hou vas aan die verkondiging van die apostels. Ons bely dat daar kontinuïteit is tussen die verkondiging van die apostels en dit wat ons vandag verkondig.
Hoe weet ons wat die apostels verkondig het? Ons weet dit alleen uit die Skrif. Daarom kan ons maklik die woord “apostolies” vervang met woorde soos “Bybels” of “Skriftuurlik”. Uiteindelik word die woorde en dade van die kerk altyd getoets aan die Woord van God. Uiteindelik moet enige kerk haarself onvermoeid en onverpoosd krities meet aan die Bybel, aan die lewende Woord van God (Jesus Christus self) en aan die verkondiging van die apostels.
Samevattend ten slotte:
“God het sy volk orals, ook onder die skeurmakers en ketters. In die voleinding eers, blyk soos ons gesien het dat die Kerk waarlik een, heilig en algemeen is” (Van Selms 1952:151).
Efesiërs 4: 1-16 – Eksegetiese opmerkings
Daar is ’n debat oor die outeurskap van die brief aan die Efesiërs – sommige geleerdes hou steeds vas aan Paulus as die outeur terwyl ander aanvoer dat die interne getuienis (die taal, styl en teologie) van Efesiërs verskil van die briewe waarvan die apostel Paulus volgens algemene konsensus beslis die outeur was (Romeine, 1 en 2 Korintiërs, Galasiërs, Filippense en Filemon). Indien Paulus nié die outeur van Efesiërs was nie, is die oorsprong van die brief nietemin van iemand naby aan hom afkomstig wat moontlik in opdrag van Paulus geskryf het of gemeen het dat hy Paulus se denke goed verwoord. Ek dink nie dat die Pauliniese outeurskap ’n belangrike faktor in die interpretasie van die inhoud van die brief is nie.
Daar is eweneens baie hipoteses oor die brief se ontstaanstyd en die plek waar dit geskryf is. Hierdie hipoteses hang gewoonlik nou saam met die siening van Pauliniese outeurskap en waar hy hom op ’n bepaalde tyd sou bevind het. Hoe dit ook al sy, die boek het waarskynlik sy ontstaan in die laat jare 50 van die eerste eeu, en is moontlik óf in Sesarea óf in Rome geskryf. Weer eens vind ek dat die keuses hieroor nie ’n groot invloed uitoefen op die interpretasie van die teks nie.
Dit is belangriker om raak te sien waarom Efesiërs saam met Filippense, Kolossense en Filemon as een van die “gevangenskapbriewe” bekend staan, aangesien hy in 3:1 en 6:20 daarna verwys dat hy ’n gevange in kettings is. Verder is daar opvallende ooreenkomste tussen Efesiërs en Kolossense, en in sommige plekke selfs woordelikse afhanklikheid. Dit het daartoe aanleiding gegee dat sommige geleerdes meen dat Efesiërs literêr van Kolossense afhanklik is (en dus later as laasgenoemde geskryf is).
Dit is verder belangrik om daarvan kennis te neem dat die gemeente aan wie die brief gerig is (“in Efese”) in heelparty van die oudste en beste manuskripte van Efesiërs (onder andere P46 en die Codex Sinaiticus) ontbreek. Dit het daartoe aanleiding gegee dat talle geleerdes van mening is dat die brief dalk nie aan “die gemeente van Efese” gerig is nie, maar eerder ’n omsendbrief aan verskillende gemeentes in Klein-Asië was, waarvan Efese die belangrikste stad was.
Al die voorgaande faktore dra myns insiens daartoe by dat ’n mens by die interpretasie van die teks eerder moet probeer om die situasie van die vroeë kerk (veral in Klein-Asië) te verstaan as wat jy poog om die inhoud van die brief met spesifieke gebeure in die lewe van Paulus of ander individue te verbind. Die realiteit van die waarskynlike ontvangers van die brief is dus vir my van groter belang as die moontlike verband met ’n spesifieke outeur, tyd of plek van ontstaan.
Die inhoud van die brief dui daarop dat die gemeente aan wie dit gerig is, hoofsaaklik bestaan het uit gelowiges wat vanuit die sogenaamde heidendom afkomstig is (vgl bv 2:11-12). Hulle was nie Jode wat in Jesus die Messias (Christus) raakgesien het wat God beloof het nie, maar heidene wat Jesus as die Seun van God aanvaar het. Hierdie gelowiges vanuit die heidendom was nou egter deel van één groter kerk waarin God mense van uiteenlopende agtergronde byeengebring het. Dít was regdeur die eerste eeu vir baie volgelinge van Christus – voormalige Jode en voormalige heidene – nog moeilik om te verstaan, te aanvaar en in hulle persoonlike lewens te verwerk. Dit is nie maklik om van ou oortuigings en gewoontes ontslae te raak nie; dis bitter moeilik om gevestigde aannames en vooroordele oornag af te sweer.
Die struktuur van Efesiërs toon ’n duidelike breuk tussen die eerste drie en die drie laaste hoofstukke. Baie van Paulus se briewe bestaan uit twee dele: ’n eerste deel wat meer leerstellig (teoreties, teologies) van aard is, en ’n tweede deel wat meer prakties of vermanend van aard is.
Die eerste deel van die Efesiërbrief (hfst 1-3) herinner aan ’n Joodse berakah (seën/gebed), veral danksy die lofprysing (1:3-14), voorbidding (1:15-21) en die gebed vir die lesers (3:14-19), gevolg deur nog ’n lofprysing (3:20-21). Dit omraam die geloofsbelydenis (1:22-23) en drie verduidelikings oor die betekenis daarvan (2:1-10, 2:11-18, 2:19-22) en fokus dus op die belang van hierdie belydenis (Efesiërs 1:22-23):
22 Hy het alles onder sy voete gestel,
en Hom aan die kerk gegee,
as Hoof oor alles,
23 die kerk wat sy liggaam is,
die volheid van Hom
wat alles in almal vul.
Die tweede deel van die Efesiërbrief spel dan tot ’n groot mate die praktiese implikasies hiervan uit. Efesiërs 4:1-16 benadruk dat hierdie belydenis roep om eenheid in die kerk. Hierop volg verskillende oproepe aan die gelowiges om hulle belydenis in hulle persoonlike lewens en in hulle onderlinge verhoudings sigbaar te maak (4:17-6:20), voordat die brief met persoonlike opmerkings en ’n seëngroet afsluit (6:21-24).
Efesiërs 4:1-16 spoor die gelowiges aan:
· Om só te leef dat hulle hul roeping waardig is (v 1)
· Om hulle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar (v 3)
· Om hulle verskillende genadegawes só te gebruik dat dit lei tot eenheid in geloof en kennis van die Seun van God (v 13)
Let op hoe hierdie perikoop (die eerste deel van die praktiese toepassing van die geloofsbeginsels) verband hou met die sentrale belydenis van Efesiërs 1:22-23: vers 13 verwys weer na die volheid van Christus, vers 15 verwys na Christus as Hoof van die kerk en vers 16 na die kerk as die liggaam van Christus.
Die liggaam van Christus (die kerk) bereik volheid wanneer daar ruimte is vir almal.
Die liggaam van Christus bereik eenheid deur nederigheid, geduld en liefde.
Die liggaam van Christus groei wanneer almal na Hom toe groei en hul gawes in liefde aanwend om te dien en op te bou.
Hermeneutiese opmerkings
Enige predikant wat al in ’n gemeente gewerk het, kan daarvan getuig hoe moeilik dit is om al die uiteenlopende mense in een gemeente te akkommodeer. Dit is nog moeiliker om die uiteenlopende lidmate van twee of twintig of twee honderd gemeentes in één kerkgenootskap te akkommodeer. En selfs moeiliker vir verskillende kerkgenootskappe (denominasies) om ekumenies met mekaar saam te werk terwyl ons ons geloof verskillend verwoord, ons eredienste verskillend inrig en verskillende oortuigings huldig oor aktuele sake. Tog laat ons belydenis ons geen keuse nie – ons móét een wees!
Juis om hierdie rede kan ’n kerk (denominasie) haarself nooit losmaak van die Christelike kerk oor die wêreld heen nie – ons moet ons eie interpretasie van die Woord van God en die implikasies daarvan vir ons daaglikse lewe voortdurend toets aan die interpretasie van die breë Christelike kerk. Ekumene is nie opsioneel nie; dit is inherent deel van ons belydenis oor die eenheid van die kerk.
Dit is dikwels die ywer om die kerk “heilig” te maak wat lei tot veroordeling en kerkskeuring. Net soos die strewe na strukturele kerklike eenheid dikwels juis tot asimmetriese magsuitoefening en konflik lei, lei die strewe na ’n “suiwer teologie” of “Geesvervulde kerk” tot sektevorming wat eerder getuig van sonde en gebrokenheid. Die strewe na heiligheid moet deurgaans opsigtelik gerig word deur die strewe na liefde – die vergewende liefde van God wat in die woorde en optrede van Jesus Christus vir ons die voorbeeld stel wat ons moet navolg.
Die belydenis dat die kerk van Christus “algemeen” is, noop ons om altyd inklusief te dink. Die menslike verskille wat ons raaksien, mag medegelowiges nie van mekaar vervreem nie. Wanneer voorsiening vir verskeidenheid of verskille verword tot uitsluiting op enige kulturele gronde, word die algemene wese van die kerk ontken. Die kerk van Christus strek oor alle tale, kulture, en wêrelddele heen.
Net so hou die belydenis dat die kerk gegrond is op die leer van die apostels in dat die kerk oor al die eeue heen strek. Wanneer die kerk haarself losmaak van die verkondiging van die apostels om allerlei eietydse utopieë na te jaag, verloën die kerk die apostoliese wese van die kerk. Geen kerk mag ooit selfgenoegsaam raak oor haar “goeie teologie” of eie insigte nie. Die kerk moet te alle tye erns maak met die bestudering van die Skrif en die interpretasie van die Skrif deur die kerk van die eeue. Ons moet die kerk se historiese belydenisse koester en so die band met die apostels bewaar.
Moontlike homiletiese riglyne
’n Mens sou die homiletiese oogmerk só kon verwoord:
Om die hoorders aan te spoor om die eenheid van die liggaam van Christus te bevorder deur in liefde te dien
Hierdie homiletiese oogmerk is egter net so vaag as wat dit vroom is. Daarom sou ek begin deur die aanhaling uit die Niceense geloofsbelydenis te problematiseer met praktiese voorbeelde.
“Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels”
Een kerk – In SA alleen is daar meer as 2000 verskillende Christelike kerkgenootskappe
’n Heilige kerk – Priesters molesteer kinders, pastore verswendel lidmate, predikante belaster mekaar.
’n Algemene kerk – Anderskleuriges of gays is nie welkom nie, arm lidmate wat nie offergawes gee nie word nie op die lidmaatregister geplaas nie, ongehude moeders word onder sensuur geplaas.
Gegrond op die leer van die apostels – Dié kerk of daardie dominee dwaal of verloën die “suiwer” “gereformeerde” leer van die Bybel
Wat sê Efesiërs 4?
· Onthou en koester jou roeping!
· Bevorder eenheid in die groot kerk van Christus!
· Moenie probeer heers nie (Christus is die Hoof), maar dien in liefde!
Wat sê ons met die Niceense belydenis?
· Ons ís een met die ganse Christelike kerk en mag nie ons ore (of deure) sluit vir ander lede van die liggaam van Christus nie.
· Ons is deur Christus geheilig (=vergewe); nie aangestel om mekaar te beoordeel of veroordeel nie.
· Christus se kerk is algemeen en inklusief – ons mag niemand uitsluit nie.
· Ons hou aan om die Bybel en die geloofsgetuienis van die kerk deur die eeue te bestudeer om ons te help om die leer van die apostels te verstaan.
Die sleutel om “een heilige , algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels” ’n sigbare werklikheid te maak, lê in die strewe om jou band met die drie-enige God te versterk en jou band met God se ander geroepenes te versterk deur met nederigheid, saggeaardheid, geduld en liefde te dien.
Dr Wouter C van Wyk
Sekretaris: Kommissie van die AKV