BELYDENIS VAN NICEA
PREEKSKETS
Robert Jones
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;
1. Inleidend
Hierdie gedeelte van die geloofsbelydenis van Nicea leen hom tot verskeie temas wat gekies kan word om in die prediking aan die orde te stel. Die tema wat in die volgende preekskets aan die orde gestel word, is die feit dat ek my geloof in God kan bely opsigself ‘n misterie is omdat God ‘n misterie is en nooit ten volle begrip sal kan word nie. Daar kan egter ook in die prediking aandag gegee word aan die betekenis van God as ons Vader en God as die Skepper.
2. Teks
Om die tema soos hierbo genoem te hanteer, word Eksodus 3:1-14 as Skriflesing gebruik en as teksvers Eksodus 3:14 Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”
In die woorde van Karl Barth is elke gesprek óór God ook ‘n gesprek mét God. Daarom is ‘n belydenis oor God ook niks anders as ‘n gesprek mét God nie. Wanneer ons as God se kinders ons geloof in Hom bely en hierdie belydenis ook ‘n gesprek mét Hom is, is hierdie geloofsbelydenis ook ‘n ontmoeting tussen my en God. Ons bely vir God te midde daarvan dat ons Hom nie ten volle ken nie, maar omdat Hy genoeg van Hom aan ons openbaar, weet ons genoeg van Hom om Hom te kan ken, ken ons Hom goed genoeg om Hom te kan bely as die enigste, lewende, almagtige God wat alles geskep het.
3. Preekskets
3.1 Nicea
Voor die preek kan agtergrond gegee word oor die belydenis van Nicea deur onder andere te verwys na die rede vir die konsilie van Nicea in 325 n.C. Dit kan ook gestel word dat die woord- en taalgebruik soms vreemd is omdat dit so lank gelede geskryf is in ‘n wêreld wat total anders is as wat ons vandag in leef.
Vertel dat Nicea hierdie jaar 1700 jaar oud is.
Gee agtergrond oor die belydenis soos bv rede vir die ontstaan – die inhoud wat in ‘n ‘antieke’ taal geskryf is en daarom nie klakkeloos verstaan moet word nie maar eerder in die idioom van vandag ‘vertaal’ word. In die laat negentigs was daar verskeie lidmate in die kerk wat hulleself nie met die einde van die belydenis kon assosieer nie omdat daar gepraat word van die lewe van die toekomstige eeu. Hulle het dit letterlik verstaan in terme van die jaar 2000 wat sou aanbreek, terwyl die belydenis nie letterlik na die volgende eeu verwys nie maar eerder na die aanbreek van ‘n nuwe era of tydperk in die lewe van gelowiges, bedoelende die ewige lewe.
Daar kan ook beklemtoon word waarom dit vir die kerk noodsaaklik is om ‘n belydenis te hê. Die opmerking kan ook gemaak word dat die belydenis gebruik word as n riglyn waarbinne die verkondiging in die kerk plaasvind. Dit dien ook as riglyn waarbinne die kerk sy teologie beoefen. Dit is ook belangrik om op te merk dat die gesag van die kerklike belydenis nooit gelyk is aan dié van die Bybel nie, in dié sin dat die Bybel se gesag bo dié van die belydenis is (norma normans en norma normata).
‘n Kernagtige inleiding oor die Belydenis van Nicea kan soos volg lyk:
Die verkondiging in die kerk is gebou op niks anders as die Woord van God nie. Dit is die bron waaruit die kerk se verkondiging gedoen word. Daar is ook niks anders wat dieselfde gesag het as die Bybel nie. Die Bybel, bely die kerk, is die manier waarop God aan die woord kom en met ons praat. Tóg het die vroeë kerk, in die vierde eeu n.C. dit baie nodig gevind om dit wat die kerk glo en verkondig oor die inhoud van die Bybel, te verduidelik en hierdie verduideliking saam te vat in ‘n belydenis.
In die jare kort voor 320 n.C. bars daar ‘n stryd los in die kerk juis oor die verhouding tussen God die Vader en die Seun. ‘n Oudste in die kerk, Arius, begin verkondig dat Jesus slegs verstaan moet word as die eerste skepsel wat deur God gemaak is. Daarom is Jesus nie ook God, soos wat ons Hom ook vandag bely as God en mens nie.
Dit was Arius se siening omdat hy saamgestem het met die leermeester Origenes wat gesê het dat God nie werklik gesien kan word as die Skepper van alles nie, maar eerder as ‘n bron waaruit alles wat bestaan voortvloei.
Met hierdie siening ontlok Arius soveel teenstand dat hy in die jaar 320 n.C. deur biskop Alexander uit die kerk verban word. Alexander is oortuig daarvan dat dit wat Arius verkondig nie ooreenstem met dit wat in die Bybel staan oor Jesus nie. Alexander het gemeen dat indien Arius sê dat Jesus nie ook God is nie, die mens glad nie seker kan wees daarvan dat hy verlos is van sonde en dood nie want dit is alleen God wat vir die mens die verlossing kan gee. Die kerk se verstaan van Jesus Christus was, en is nog steeds vandag, dat Jesus mens is maar ook God, en daarom kan God die Vader deur Jesus aan elkeen van ons die verlossing gee.
Omdat hierdie kwessie so ‘n groot stryd in die kerk afgegee het, roep keiser Konstantyn in 325 n.C., vanjaar 1700 jaar gelede, ‘n algemene vergadering byeen in die stad Nicea, en word dit bygewoon deur al die biskoppe in die kerk. Op hierdie manier wou die keiser ‘n skeuring in die kerk voorkom.
Op grond van dit wat God in sy Woord sê, kom die vergadering, oftewel die Konsilie van Nicea tot die gevolgtrekking dat die wese van Jesus en die Vader dieselfde is. Hulle is beide God. Daarom bely die belydenis van Nicea Jesus is “een in wese met die Vader”.
In Nicea ontstaan ‘n belydenis wat vandag, eenduisend sewehonderd jaar later, steeds deur die Christelike kerk die wêreld oor gebruik word om ons geloof in die drie enige God te bely. Dit is ‘n skat uit die verre verlede waarmee ons vandag steeds teenoor die wêreld bely wat ons as Christene glo.
Dit is ook so dat die woorde en die formulerings wat daarin gebruik word vir ons soms vreemd is en nie sin maak nie want dit kom uit ‘n wêreld van ‘n duisend sewe honderd jaar gelede wat anders gelyk het en anders gedink het as die wêreld waarin ons vandag woon. Dis egter nie ‘n rede om die belydenis eenkant toe te skuif en te oordeel dat dit niks beteken vir ons vandag nie.
· Dit is noodsaaklik dat ons hierdie belydenis sal lees en met mekaar daaroor sal praat.
· Dis nodig dat ons hierdie belydenis sal hanteer in ons Bybelstudie.
· Dis ook nodig dat ons oor hierdie belydenis sal hoor in die kerk en dat daar ook daaroor gepreek word.
Alhoewel dit nie dieselfde gesag dra as die Woord van God nie, maar daaruit afgelei is, vorm dit tóg ‘n onmisbare deel van ons christelike geloof, van wie ons is en waar ons vandaan kom.
Inleiding
As inleiding kan die beeld gebruik word van iemand wat skrik. Daar kan ook vir die gemeente gevra word dat wanneer hulle by die huis kom, moet hulle gaan skrik. Dit klink vreemd omdat dit nie is hoe ‘n mens skrik nie. Jy beplan nie om te skrik nie. As jy weer sien het dit met jou gebeur. Dieselfde beginsel geld ook in terme van ‘Ek glo’. Ek kom op ‘n stadium wat ek besef dat ek glo. Dit het met my gebeur.
Hierdie beeld kan uitgebou word om die konsep te verduidelik.
3.2 Eksodus 3:1-14
In ‘n volgende gedeelte van die preek kan die teks aan die orde gestel word. Moses se ontmoeting met God kan vergelyk word met ons godsdienstige handeling vandag, naamlik die belydenis van ons geloof.
· Moses ontmoet vir God op ‘n misterieuse manier by die bos/struik wat brand en nie uitbrand nie. Moses het nie beplan om met God te doen te hê nie. Hierdie ontmoeting vind plaas omdat God dit inisieer. Moses was onder die indruk dat hy ‘n vreemde natuurverskynsel hier aanskou, en skielik besef hy dat dit God is, en nie sommer iets alledaags nie. Die struik wat hier ter sprake is het algemeen voorgekom in die woestyn. Dit was dus nie die struik wat Moses se aandag getrek het nie, maar die vlam wat daarin gebrand het, en aangehou het om te brand.
· Toe hy skielik besef dat dit God is met wie hy hier te doen het toon hy dadelik sy eerbied en ontsag deur gehoorsaam aan God sy skoene uit te trek omdat hierdie ontmoeting anders is as ‘n ontmoeting met enige iemand anders.
· Moses is verward want hy kry twee moeilike opdragte – Hy moet met die farao gaan praat terwyl hy ‘n spraakprobleem het, en hy moet die leiding gaan neem van die volk deur ook hulle geestelike leier te wees. Hoe doen hy dit? – met God se hulp. Wanneer Moses met die volk praat en optree as hulle geestelike leier en hulle dit enigsins sou bevraagteken dan moet hy hulle antwoord en net sê: “Ek is, het my gestuur.”
· Die gesprek tussen God en Moses neem op hierdie stadium ‘n interessante wending. Moses is nie so seker of die volk presies sal weet wie die ‘God van hulle voorvaders’ is nie. Hulle is vir geslagte lank al in Egipte en mettertyd het kennis aangaande God en die ywer waarmee hulle Hom gedien het, begin vervaag. Daarom vra Moses wat hy moet antwoord indien die volk vra wat hierdie God se naam is.
· God gee dan die beskrywende naam: “Ek is”. Dit is onbepaald, Dit is oop. Jy kan nie met hierdie naam of op grond van hierdie naam sê presies wie God is nie. Hy is wat ons Hom noem en soos wat ons Hom beskryf maar Hy is ook alles wat ons nalaat om van Hom te sê. Hy is nie net wat Hy is nie – Hy was dit alles ook en Hy sal dit alles ook wees in die toekoms.
3.3 Konkretisering
· Om te glo is nie iets wat ek self doen nie. Dit is eerder dat ek erken ek kan myself nie meer langer handhaaf nie. Ek kan myself ook nie langer meer weghou van God of eenkant hou van die kerk nie. Om te glo beteken dat ek uit my ou manier van lewe gedwing word om in ‘n nuwe rigting te lewe.
· Om te bely ‘Ek glo’ maak ek ‘n nuwe begin deur die ou sondige mens agter te laat en laat ek vir God toe om weer van my ’n nuwe mens te maak wat dankbaar leef op grond van die verlossing wat ek in Jesus Christus ontvang het. Dit is slegs wanneer ek bereid is om my lewe te verander en voortaan in gehoorsaamheid aan God dankbaar te leef soos wat Hy van my vra, dat ek my geloof kan bely en sê: “Ek glo!”
· Broers en susters, God is anders as ons. Ons kan Hom nie ten volle verstaan, begryp of selfs ten volle ken nie. Hy bly vir ons ‘n misterie. Tog hou ons aan om ons geloof in Hom te bely: ons bou ons hoop vir die toekoms op Hom deur te glo dat Hy die een is wat ons lewenspad saam met ons loop; ons glo vas dat daar niks is wat tussen ons en Hom kan kom staan nie en dat daar selfs vir ons ‘n lewe is ná hierdie lewe; al ervaar ons die harde en skerp kant van die lewe dan moedig ons mekaar steeds aan om te glo omdat ons weet God ons nooit alleen sal los nie.
· Om vir God te ontmoet en om jou geloof in Hom te bely is anders as iets alledaags – dis iets besonders en ‘n heilige oomblik.
· Ons het met God te doen en ons weet dit omdat Hy vir ons genoeg van Homself wys om te kan glo en weet dat ons met Hom te doen het. Tóg is Hy ook baie meer as net dit. Daarom sal ons Hom nooit in ‘n formule of selfs in ‘n belydenis kan vasvang nie omdat dit elke keer maar net ‘n menslike poging bly om iets van Hom te sê. Tog gee Hy vir ons die geloof om genoeg van Hom te kan weet om Hom te bely as God en dat ons glo in Hom. Dit is een van die grootste gawes wat Hy aan ons gee – om Hom te ken en om Hom daarom ook te kan bely as die enigste God.
· Alhoewel ons Hom nie ten volle ken en verstaan nie, hou ons tog steeds aan om Hom te bely as die enigste God, Vader, Seun en Heilige Gees.
· Dit bly dus ‘n misterie om ook ons geloof in God te kan bely!
4. Liturgie
Toetrede
Gesang 163
Votum
Psalm 24:3 en 4 kan as votum gebruik word: “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom staan: Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is, wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie.
Skuldbelydenis
Ter inleiding tot die sing van ‘n skuldbelydenis kan vir die gemeente gesê word dat hulle sopas in die votum gehoor het dat ‘n mens met versugting tot God nader as gevolg van ons geneigdheid om te sondig. Daarom bely die gemeente hulle skuld voor God met die sing van VONKK 224:1, 2, 3 en 4
Seën
Noudat die gemeente hulle skuld voor God bely het kan hulle hoor hoe God hulle groet: “Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader, van Jesus Christus die Here en van die Heilige Gees. Amen”
Lofsang
VONKK 543:1, 2, 3 en 4
Gebed
Agtergrond van die geloofsbelydenis van Nicea
Hier kan die liturg kortliks vir die gemeente agtergrond gee oor die belydenis van Nicea.
Sang
Daar kan gewys word op die belangrikheid vir ‘n gelowige om sy/haar geloof in God gereeld te bely. So kan dit ook nou gedoen word deur te sing uit Gesang 260:1, 2, 3, 6 en 11.
Skriflesing
Eksodus 3:1-14
Prediking
Eksodus 3:14 Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.
Gebed
Geloofsbelydenis
Die gemeente sê hardop saam die Geloofsbelydenis van Nicea op
Slotsang
Gesang 265:1 en 2
Seëngroet
Wegsendingslied
VONKK 204:1 en 2
5. Bronnelys
Fensham, F. C. 1970. De prediking van het oude testament. Callenbach: Nijkerk.
Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 1989. Diensboek. Pretoria: KITAL.
Pont, A. D. 1991. Kerkgeskiedenis. ‘n Oorsig van die algemene kerkgeskiedenis en die geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Pretoria: Kital
Van Selms, A. 1948. Licht uit Licht. Het Christelijk geloof naar de belijdenis van Nicea. Amsterdam: Ploegsma.
Walker, W. (ed) 1992. A history of the Christian church. Edinburgh: T & T Clark Ltd.