Preekskets: Lig uit Lig
“God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader…”
“Lig uit Lig” (Grieks: φῶς ἐκ φωτός – phōs ek phōtos) (Latyn: lumen de lúmine)
1. Die Belydenis se Agtergrond
Konteks van die Konsilie van Nicea 325 nC: gebruik die inligtingsblad op die HTK se webblad vir meer historiese inligting.
Die hoofrede hoekom Konstantyn die Konsilie bymekaar roep word algemeen aanvaar as die onrus wat ontstaan het vanuit Alexandrië waar Arius volgehou het met sy oortuiging dat die Seun:
· ‘n punt van ontstaan gehad het
o “there was a time when He was not”
o “voordat Hy verwek is het Hy nie bestaan nie”
· Nie dieselfde wese as die Vader was nie
Sien veral hierdie video van Michael Rees wat verduidelik dat Arius vanuit ‘n filosofiese beginsel argumenteer en dit probeer bewys vanuit die Skrif. Die kerkvaders darenteen argumenteer vanuit die Skrif. Dit belyn met die hedendaagse Barthiaanse openbaringsbegrip van die wese van God: https://www.youtube.com/watch?v=arIPKIg013A
Lig uit Lig is ‘n poëtiese uitdrukking van “God uit God” en volg die formule “X uit X” in verskeie patristiese geskrifte. Heerlikheid uit Heerlikheid, Waarheid uit Waarheid, Lewe uit Lewe ens.
Hierdie preekskets probeer juis aantoon dat hierdie formule ook vanuit die Skrif is.
Die implikasie van Arius se standpunt:
· Die Seun ontstaan ná die Vader (en per implikasie die Gees ook)
· Die Seun is nie ewig nie
· Die Seun is ondergeskik aan die Vader (en per implikasie van die Gees ook)
. Die Seun het nie vrye wil nie.
· Daar is ‘n rangorde in die Triniteit
Die kerk bely egter die Seun is geen mindere god, geen blote skepsel, nie maar die ware God self:
2. Lig in die Skrif
Die Bybel het van die begin af 'n ryke lig-teologie. In Genesis 1:3 spreek God: “Laat daar lig wees”—yehî ’ôr (יְהִי אוֹר)—en die skeppingslig breek deur die duisternis.
Daar is menigte tekste wat lig as tema dra. Hierdie preekteks fokus egter op die tekste wat die kerkvaders spesifiek voorgehou het tydens en na afloop van Nicea.
· Athanasius se brief aan die Biskoppe van Egipte en Libië en ook die Biskoppe van Afrika nav die Konsilie: https://www.fourthcentury.com/athanasius-on-nicaea-2/#Libya
o Ps 36:9 (LXX) [2020 Bybel:10] Ja, by U is die fontein van lewe,in u lig sien ons lig.
o Joh 10:30 Ek en die Vader is een.
· Die “Onbekende Historikus” waarskynlik kort na 476. https://www.fourthcentury.com/anonymous-church-history-2-5-1-2-38-14/
· Ps 43:3 (NAV 1983) Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei en my bring na u heilige berg, na u woning!
· Joh 8:12 (2020) Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
· Joh 14:6 (2020) Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
· Joh 1:1-18 (2020) In die begin was die Woord ... die lewe was die lig vir die mense ... vv.
3. Lig as Waarheid en Heerlikheid
Kerkvaders soos Athanasius en die Kappadoisiërs (Basilius, Gregorius van Nyssa, Gregorius van Nasiansus) maak dit helder: met “Lig uit Lig” bely ons twee hoofsake – God se waarheid (waarheid as bron van lig) én sy heerlikheid (die uitstraling). In die Hebreeuse denke is lig raaiselagtig/misterieus, ‘n simbool van heiligheid en van God se teenwoordigheid. Lig is nie net fisies verklaarbaar en beheerbaar, soos ons vandag in fisika sou redeneer nie. In die antieke wêreld is lig eerder ‘n raaisel, onverklaarbaar, ’n teken van God se onbenaderbare heerlikheid. Die Psalmdigter: “U bedek U met lig soos met ’n kleed” (Psalm 104:2).
Vir Paulus in 1 Tim 6:16 is God “hy wat alleen onsterflikheid het, wat woon in ontoeganklike lig (φῶς οἰκῶν ἀπρόσιτον – phōs oikōn aprositon*), wat geen mens gesien het of kan sien nie.” Ons spreek van God as lig, en tog is dié lig nie in sy volheid toeganklik nie. Hy bly misterie, raaisel, altyd meer as wat ons dink.
Verwys na Jesus se verheerliking op die berg, Matt 17:1-13; Mark 9; Luk 9:28-36;
Matt: Sy gesig het gestraal soos die son, sy klere het skitterend wit geword
Mark: Sy klere het blink geword, spierwit, so wit soos niemand op aarde iets kan bleik nie.
Luk: ... sy klere het helderwit geskitter.
Dialekties gesproke is die een “Lig” die ontoeganklike (lees die wese van God) Athanasius het nav Eusebius gestel dit is wat “laat ons lig maak” na verwys. Dit is onbereikbaar, onbevatlik vir die mens. Dit is die misterie van God. Dit is ‘n lig wat jou as’t ware verblind. Andersys is “Lig” die mensheid van Jesus. Dit is “bereikbaar” die mens kan daarmee assosisieer. Dis Jesus wat die Lig vir ons is, wat tot ons verligting is en wat sy Lig met ons deel.
Gaan ook oor die Godheid en menslikheid van die Seun: Die oomblik as ons te veel sê oor sy Goddelikheid sê ons te min oor sy menslikheid – die oomblik as ons te veel sê oor sy menslikheid sê ons te min oor sy Goddelikheid.
Twee kernsake vir die kerkvaders (spesifiek, Athanasius, Eusebius en die onbekende historikus) was Lig =
WAARHEID: Jesus se aard is dié van die Vader; Hy is self die bron, nie ‘n weerkaatsing nie. Hy is die “weg, die waarheid, die lewe” (Joh 14:6).
HEERLIKHEID (Uitstraling): In Johannes se Evangelie sê Jesus: “Ek is die lig van die wêreld” (Joh 8:12). Metafories, soos die son sy strale stuur, straal die Seun dieselfde lig as die Vader—nie as aflos nie, maar as deel van die selfde bron. Die Son is nie minderwaardig teen sy lig nie; so is die Seun nie minder nie as die Vader nie.
Die Niceense belydenis gebruik emanasie-taal (soos die son se lig) teenoor skepping of maak: Die Seun word nie “gemaak” nie, maar “verwek” (γεννηθέντα ου ποιηθέντα – gennēthenta, ou poiēthenta*). Hierteenoor het Arius probeer sê dat die Seun gemaak is. Die geloof sê: Nee, Hy is van dieselfde wese—homoousios, ὁμοούσιος—voluit God.
4. Mark 9 en die Transfigurasie
In die gelykenis met die Transfigurasie (Mark 9:2-8), kry ons iets van hierdie misterieuse Lig. Jesus se klere word stralend wit—'n beeld van sy goddelike heerlikheid (δοξα – doxa). Moses (wetgewer) en Elia (profeet) verskyn saam met Hom—Jesus is die vervulling en die bron van albei. God bevestig: “Dit is my geliefde Seun, luister na Hom!” Soos op Sinai, word die ware Lig geopenbaar, maar die dissipels verstaan dit nie heeltemal nie—hulle woorde is onbeholpe (“ons bou hutte!”). Ons assosieer met hierdie onbeholpe reaksie op die openbaring van God (die ontoeganklike Lig).
Soos die kerkvaders sê: In daardie oomblik breek die lig van wie Jesus waarlik is—die Lig wat nie net van God ontvang is nie, maar self Lig is!
5. Die Belydenis Vandag
Wat beteken dit vir ons? Kan ons dit nog bely, in 'n wêreld wat so baie ligbronne en so baie “waarhede” aanbied? Wat is die Imperatief vir ons vanuit die belydenis?
“Lig uit Lig” is nie net ’n metafoor oor mooi spiritualiteit nie. Dis ’n radikale aanspraak: Jesus is nie net nog 'n goeie mens, gestuur deur God nie—Hy is self God, die bron van alle lig en lewe. Ons bely nie omdat ons presies verstaan nie, maar omdat ons geloof in hierdie misterie rus. Die geloofsbelydenis is nie net 'n abstrakte formule nie, maar roep ons tot aksie:
AS waarheid—ons dra die lig van God in 'n wêreld van duisternis.
AS heerlikheid—ons straal sy lig uit na ander, veral die uitgeworpenes, soos Hy self gedoen het (“Ek is die lig van die wêreld…”).
Karl Barth skryf: “God het Hom bekend gemaak in Jesus Christus as die ware lig—en tog ontmoet ons Hom in ‘n misterie wat ons nooit volkome kan verklaar nie.”
N.T. Wright noem die transfigurasie “’n kykie agter die gordyn van die huidige werklikheid, ’n glimp van God se uiteindelike doel vir die wêreld—vernuwing deur Lig.”
6. Vir Jou en My
Lig uit Lig – phōs ek phōtos – is ’n belydenis, maar ook ’n roeping:
Jesus leer: “Laat julle lig so skyn voor die mense…”
Augustinus sê: “Ons sien lig deur die lig; niemand kan sien sonder die Lig nie.”
Mag ons bely: die Lig wat Lig voortbring roep my op om self lig te wees - sy waarheid en heerlikheid uit te dra.
Slot
Mag ons die Geloofsbelydenis van Nicea nie net met ons monde uitspreek nie, maar met ons lewens uitleef—want as Hy werklik “Lig uit Lig” is, kan ek nie anders as om my eie duisternis aan sy lig bloot te stel en die wêreld se donkerhoeke draagbaar te maak met Sy teenwoordigheid nie.
Preek
Teks: Mark 9:2-8
Ons kyk vanuit twee perspektiewe na hierdie gedeelte
Die eerste perspektief is om na die teks self te kyk. En dit doen ons vanuit drie kontekste, hoorders of lense.
Die eerste konteks is die van die eerste hoorders van hierdie gedeelte – maw die Joods-Christelike gelowiges van die tyd van die Evangelies.
Die tweede konteks is ’n spesifieke konteks wat ek gekies het en dit is die van gelowiges van so paar eeue later – die gelowiges van die jaar 300 tot 400. Dit is die gelowiges wat bymekaar gekom het in ’n stad met die naam Nicea en wat neergepen het die beginsels van wat ons vandag noem die Niceense geloofsbelydenis. Ons vier vanjaar die 1 700ste bestaan van hierdie geloofsbelydenis van 325 nC. tot 2025 nC.
Die derde konteks is die konteks van vandag. Dit is die belangrikste konteks want dit is waar hierdie gedeelte vir ons as gelowiges vir ons omstandighede en vraagstukke van vandag, betekenis inhou.
Soos ek sê: dit is die eerste perspektief – die van die drie kontekste. Die tweede perspektief, en dit is die een waarmee ons begin, is die van teksgedeelte self en hoe hierdie gedeelte uiteengesit is.
Ons lees hier van die verheerliking van Jesus. Dit word ook die transfigurasie van Jesus genoem.
Op die oog af klink dit na ’n baie eenvoudige gedeelte. In kort, Jesus neem ’n paar van sy dissipels teen ’n berg op en daar verander Hy van gedaante. Hulle sien toe ook vir Moses en Elia, daar kom ’n stem wat sê dat Jesus die Seun van God is en toe gaan hulle weer teen die berg af.
Vir ’n Joods-Christelike gelowige van daardie tyd, gebeur hier egter baie meer. Die maklikste om dit mee te verduidelik is om elke element wat ons hier vind so bietjie te verduidelik.
Jesus neem drie disspipels, Petrus, Jakobus en Johannes teen die berg op. Vir ’n Jood van daardie tyd was twee-of-drie getuies ’n belangrike konsep gewees. Markus beklemtoon hiermee dus die legitimiteit van wat hy nou gaan vertel in die evangelie. Drie getuies wat kan getuig dat wat nou gaan gebeur die waarheid is en nie betwyfel moet of kan word nie.
Die berg – vir die Jode het ’n berg of “die berg” ook simboliese betekenis. Dit slaan natuurlik terug na Moses wat die wil van God op die berg Sinai ontvang het. Die berg verteenwoordig die bekendmaking of openbaring van God. Markus skep hier ’n atmosfeer van afwagting vanuit die feit dat Jesus drie dissipels teen die berg op neem – hier gaan vandag iets groots gebeur. Daar word nie genoem watter berg dit is nie, en geleerdes het al gespekuleer daaroor, maar dit is in hierdie konteks nie belangrik nie.
Hulle was alleen gewees. Dit verteenwoordig die afsondering en heiligheid van die gebeure.
Jesus het voor hulle oë verander van gedaante – ons gaan binne oomblikke verder hierna kyk.
Sy klere het blink geword, spierwit. Dit dui op reinheid en suiwerheid. Die gestalte wat Jesus daar gehad het was een van heerlike reinheid en suiwerheid.
Elia en Moses. Dit is van besondere betekenis dat Elia en Moses ook hier verskyn het. Daar is eintlik ’n hele paar gedeeltes waar Elia se naam voorkom in die evangelies van Jesus. Die bekendste daarvan natuurlik Jesus se kruiswoorde “Eli, eli sabagtani” en hulle gedink het Hy roep na Elia. Elia was een van die groot profete gewees en vir baie Jode die grootste profeet juis omdat hy nie ’n gewone dood gesterf het nie, maar omdat hy in die hemel opgeneem is. So is Elia dus die verteenwoordiging van die profete – daar word mos dikwels gepraat van die konsep van “die Wet en die Profete”.
Nog ’n voorbeeld is die woorde van Maleagi 4:5: “Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom ...” Maleagi is die profeteboek wat die naaste aan die tyd van Jesus geskryf is, so 400 jaar voor Jesus.
Elia verteenwoordig dus die profete en Moses dan die Wet – juis omdat die Wet van die Here, die 10 gebooie aan hom geopenbaar is op die berg, in afsondering, maar ook omdat hulle gemeen het Moses het die boeke wat die wetboeke genoem is, geskryf. Hulle het dan losweg van daardie boeke gepraat as “Die Wet” en van die ander boeke as “Die Profete”; en saam het dit dan “Die Wet en die Profete” geword.
Die volgende waarna ons kyk is die reaksie van die dissipels en nou kyk ons ook na die verandering van Jesus se gestalte wat ek genoem het. Tot op hierdie punt van hulle lewe was Jesus vir hulle ’n gewone mens gewees, dalk was Hy ’n profeet, maar vir hulle is hy die leermeester, die Rabbi wat hulle geroep het om Hom te volg. Hy het wondertekens gedoen en wyse woorde gehad, maar hulle beskou Hom nog net as dit – ’n Rabbi met besondere kwaliteite. Op geen stadium van hulle tyd saam met Jesus het hulle die denkkategorie gehad dat Jesus die Seun van God en daarom God self kan wees nie. Selfs toe Jesus dit vir hulle gesê het, het hulle dit nie werklik besef nie.
Maar hier op die berg is hulle nou die getuies daarvan soos wat die Wet en Profete gekryf het van die Seun van God wat sal kom as redder, as Messias, as gesalfde van God – dit is God self wat dit hier aan hulle openbaar. Dit is ’n grootse gebeure van bekendmaking. En voordat hulle dit nie met hulle eie oë gesien en voordat dit nie voor hulle afgespeel het en hulle dit beleef het nie, sou hulle dit nooit kon verstaan nie. Hierdie oomblik het dit egter vir hulle verander. Hulle beleef nou iets van Jesus wat hulle nog nooit voorheen beleef het nie.
En selfs toe verstaan hulle dit nie. Hulle reaksie is lomp en onbeholpe. “Dit is goed dat ons hier is”. “Sal ons hutte bou?” Rabbi. Die woord Rabbi is hier eintlik ’n teken van hulle beperkte begrip, en dat hulle nie ’n ander woord het om Jesus mee aan te spreek nie, as maar net ’n Joodse leermeester nie. En “dis goed dat ons hier is” – goed dat ons dit nou gesien het en van kan getuig, hutte bou – weet nie hoe om te reageer nie, weet nie wat die regte ding is om nou te doen. Ook die vers aan die einde van hierdie gedeelte “hulle het nie geweet wat beteken ‘om uit die dood op te staan” nie versterk hierdie beperkte begrip en reaksie van die dissipels.
Die stem en die wolk – ek dink veral na hemelvaart is dit weer vars in ons geheue dat die wolk dikwels gedui het op die teenwoordigheid van God en spesifiek deur sy Gees. Dit slaan natuurlik terug op die wolkkolom in die woestyn en die feit dat hierdie ’n wolk is wat ’n skaduwee gooi dui daarop dat hierdie ’n digte amper tasbare wolk was.
God die Vader openbaar Homself dus in die wolk deur die Gees. Dit is die Vader se stem, die Gees se teenwoordigheid, en Jesus se ontvangenis van die die woorde “dit is my geliefde Seun”.
Die laaste paar elemente is dat hulle niemand anders gesien het nie. En dat hulle teen die berg afgegaan het en dat Jesus hulle opdrag gegee het om dit vir niemand te vertel nie.
Ons kan nou die berg afgaan verwysing verstaan in die lig van Moses wat ook teen die berg afgegaan het. Die feit dat hulle niemand gesien het nie, verwys ook na die afsondering. Dit mag dalk klink dat dit die vorige verwysing van afsondering weerspreek, maar onthou dit is nou toe hulle teen die berg afgaan dat hulle niemand gesien het nie.
Soos ek gesê het kyk ons vanuit twee perspektiewe vandag – tot hier toe was dus die eerste perspektief – die van die uiteensetting van die teks.
Nou gaan ons kyk vanuit die drie kontekste waarvan ek gepraat het.
Die eerste konteks is die van die Eerste Eeuse Joods-Christelike gelowiges wat Markus se Evangelie vir die eerste keer aanhoor. Heelwat van hulle word gekonfronteer met die reeds gekruisigde Jesus en die aanspraak dat Hy die Messias is. Hoe kan so ‘n verloorder ‘n Messias wees? Hoe kan daar redding vanuit soveel lyding kom. Hoe is dit moontlik God mens kan wees, en hoe is dit moontlik dat die mens Jesus, goddellik kan wees. Hulle word verdruk deur die Romeine en smag na ‘n sterk leier wat die Joodse volk weer sal herstel na sy vroeëre glorie toe. Of hulle smag daarna om nie meer verdruk te word en om nie verplig te word om die heidense gebruike van die Romeine te volg nie.
Vir hulle is hierdie gedeelte dus van soveel toepassing want ook vir hulle word daar van hulle verwag dat hulle sal besef hoe beperk hulle begrip van hierdie Jesus is waarvan hulle gehoor het. Ook hulle is soos die dissipels, dat hulle nie die denk-kategorie van ‘n mens wat Seun van God is kan wees nie.
Hulle moes hierdie beperking van begrip-wees oorkom. Vir hulle is hierdie gedeelte dus van soveel belang, want wat hulle sien is hier ‘n betroubare getuienis van ‘n spesiale openbaring van die aard van Jesus en dat Hy deur die stem van God uit die wolk uitgewys word as die Seun van God.
As ons nou vorentoe spring na die jaar 325 nC, dan sit ons met ‘n geloofsgemeenskap wat worstel met die aard van die goddelikheid van Jesus. Daar was ‘n sekere groepering onder leiding van Arius wat gemeen het dat Jesus is soos God die Vader, maar nie dieselfde as God die Vader nie. Die implikasie hiervan sou dus wees dat die Seun ondergeskik aan die Vader is. Maar die belydenis van Nicea gaan dus spesifiek daaroor dat die seun dieselfde aard en wese as die Vader is – daarom die belydenis “ons glo in die Seun, een in wese met die Vader."
Dit is baie interessant om te weet dat hierdie nie net ‘n kerklike debat was nie, maar dat dit deel van die alledaagse lewe in die samelewing geword het. Prof Hennie Stander het navorsing gedoen hieroor en hy het een van die kerkleiers van daardie tyd, Gregorius van Nyssa se woorde daaroor vir ons vertaaal:
“So vertel Gregorius van Nyssa vir ons dat die debat oor Christus se natuur later in die 4e eeu so heftig geword het dat “elke deel van die stad gevul is met sodanige gesprekke (oor Christus se natuur): die stegies, die kruispaaie, die markplekke, die strate. Die vrae is bespreek deur hulle wat klere verkoop het, geldwisselaars, verkopers van kos. As jy vir ‘n geldwisselaar gevra het wat die wisselkoers is, het hy eers geantwoord met ‘n lang betoog oor wat dit beteken om gebore te wees en om nie gebore te wees nie. As jy navraag gedoen het oor hoeveel brood daar is, en oor die kwaliteit daarvan, het die bakker eers geantwoord: ‘Die Vader is die grootste, en die Seun is ondergeskik aan Hom.’ Wanneer jy by die baddens gevra het of die water al gereed is, het die bestuurder van die badhuis eers verklaar dat die Seun uit niks voortgekom het. Ek weet nie wat ‘n mens hierdie boosheid moet noem nie, of dit malheid of sotheid is nie...” (Gregorius van Nyssa, De Deitate Filii et Spiritus Sancti V [TLG 46.557.19-30]).
Vir die gelowiges van hierdie tyd sal hierdie gedeelte dus van soveel waarde kan wees omdat die drie-eenheid van God hier teenwoordig is en dat nie een ondergeskik aan die ander is nie en dat die werking en die aard van die triniteit in ‘n tipe werksverhouding hier uitgedruk word. Jesus wat die Seun is en deur die Vader en die Gees erken word. Die Gees wat teenwoordig is en juis die persoon is waardeur die Vader werk en wat die Seun erken. Dit is dan juis deur Jesus se verheerliking op die berg waar hierdie waarheid bevestig word en wat ons vandag nog kan bely dat Jesus: “in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye; God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;”
En dit bring my by die konteks van vandag. Ons sit met ander probleme en vraagstukke van die gelowiges van die jare 100 en 300 nC, maar dit maak nie dat die gedeelte nie op ons van toepassing is nie.
Vandag is daar soveel mense wat Jesus ook maar net as onderhewig beskou. Sien Hom ook maar net as ‘n mens en sien Hom ook maar as een van die vele geloofs-opsies wat beskikbaar is op die mark. Hoe weet ons Jesus is waarlik God? Is amper die vraag wat ons hulle oor vra. Hierdie Jesus-ding werk nou nie juis uit vir my nie – dit steel net my genot en my tyd, sal hulle inggesteldheid wees. Ek bestee eerder my tyd met dinge wat vir my lekker is as om tyd te maak om Hom te aanbid.
Maar dan tref hierdie gebeure ons weer tussen die oë. Want ook ons in ons tyd het nog ‘n beperkte verstaanskategorie van God.
En my vraag vanoggend is – wie is ons om te besluit? Wie is ons om te besluit dat omdat hierdie Jesus “storie”, en hierdie Jesus die seun van God-‘’storie’’, en Jesus “een-in-wese” ‘’storie’’ nie vir my sin maak nie – wie is ons om te besluit dat dit nie sin maak nie? Dat dit nie die moeite werd is om my lewe aan Hom te wy nie? Het ons al beleef wat die dissipels beleef het? Is God al aan ons geopenbaar?
Wie is ons om te besluit hoe God is en hoe God werk? En hier sit ons met daardie geloofs-paradoks van die Godheid en mensheid van Jesus. Die oomblik as ons te veel fokus op Sy mensheid, sê ons te min van sy Godheid; en die oomblik as ons te veel fokus op die Godheid van Jesus, sê ons te min oor Sy menswees.
Maar wie is ons om te besluit?
Wie is ons om te besluit dat hierdie Jesus-‘’storie’’ nie vir my werk nie?
Dit is nie logies genoeg nie. Dit is nie geloofwaardig genoeg nie. Dit is te onwetenskaplik. Dit is te uitgediende kontekste.
Wat gaan dit van ons verg om dit te glo?
Dit het my laat besef – wie is ek om Jesus te betwyfel en te bevraagteken? Wie is ek om die Vader en die Seun en die Gees te betwyfel?
Ek met al my geleerdheid en teologie – ook ek is totaal en al onbeholpe in my begrip van met Wie ek hier te doen het.
Wie is ek? Dat ek so traag van begrip en onbeholpe is?
Geliefdes ons ontvang op soveel maniere die openbaring en die bekendmaking van God , sommige is groots en sommige is klein. Sommige is mediese uitdagings en ander is veldblommetjies. Sommige breek ons emosioneel stukkend en ander laat ons jubel van ekstase. Ons kan dit nie dikteer en self bepaal nie. Dit hang van God af. Dit hang van Goed af hoe Hy hom openbaar aan elkeen van ons. Ons reaksies is meestal ook maar lomp en onbeholpe.
Maar wie is ek en wie is jy om dit te betwyfel?
Amen