Wat weer sal kom met heerlikheid (eskatologie)
Die toekoms was nog altyd die kerk se anker. In die belydenis dat Jesus eendag weer in heerlikheid sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het, beleef die kerk die belofte van die wederkoms. Hierdie toekomstige gebeure staan bekend as die eskatologie, na aanleiding van die Griekse woord, eschaton, wat rofweg vertaal kan word as “die laaste ding”. In die verstaan van die goddelike raamwerk van tyd is die wederkoms van Jesus en die eindoordeel die laaste ding wat moet gebeur.
Oor die eeue is die volgende as die hoof elemente in die eskatologie geidentifiseer. Hierdie elemente is verskillend deur denominasies en teologiese tradisies geinterpreteer:
Die tweede koms van Christus – Die kerk bely dat Jesus eendag weer fisies sal terugkeer na die aarde. Hierdie element staan sentraal in alle Christelike interpretasies van die eskatologie.
Die opstanding van die dode – Die kerk bely dat die dooies in liggaam opgewek sal word en verdeel sal word tussen die regverdiges en goddeloses.
Die finale eindoordeel – ‘n Tyd sal aanbreek waartydens die ganse mensdom voor die goddelike regterstoel sal moet verskyn om rekenskap van geloof en dade te moet gee.
Hemel en hel – Die kerk bely dat daar ‘n ewige eindbestemming sal wees vir die siel van die mens waar daar of goddelike nabyheid en seëning wag of ‘n plek verwyderd van God met straf (vergelyk Matt 25:31-46).
Die millennium – Dit verwys na ‘n duisend jarige ryk waartydens Christus sal regeer, soos vermeld in Openbaring 20. Christelike tradisies interpreteer dit verskillend:
Pre-millennialisme: Christus keer terug voordat die millennium aanbreek
Post-millennialisme: Christus kom eers na afloop van die millennium
A-millennialisme: Die millennium moet simbolies verstaan word aangesien dit reeds aangebreek het
Die groot verdrukking – Dit verwys na die tydperk van swaarkry en lyding wat die wederkoms van Christus vooraf sal gaan (vergelyk Hand 14:22).
Die antichris – Die oortuiging dat ‘n figuur sal kom wat Christus sal teenstaan en die mensdom wil mislei gedurende die eindtyd (vergelyk Open 16:10).
‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde – Openbaring 21-22 vertel van ‘n totale herskepping wat sal plaasvind.
Die opneem in die hemel – Sommige Protestantse tradisies hou vas aan die belydenis dat gelowiges op die wolke die hemel in opgneem sal word om Christus te ontmoet (sien 1 Tessalonisense 4:17).
Tekens van die eindtyd – Die Bybel beskryf verskillende tekens wat sigbaar sal wees en die koms van Christus sal voorafgaan.
Die kerk se belydenis van die wederkoms van Christus en die eindoordeel hang ten nouste saam met die verstaan van die koninkryk van God. Die verkondiging van die koninkryk staan sentraal tot Jesus se verkondiging. Selfs Johannes die Doper se verkondiging begin met die aankondiging van die koninkryk (Matt 3:2). In Jesus se bediening staan die verkondiging van die koninkryk sentraal (vergelyk Matt 4:17. 4:23, 5:10, 6:33, 7:21, 8:12, 9:35, 12:28, 13:1-52, 18:3-4, 19:23-24; 24:14, 25:34; Joh 3:3-5, 18:36). Jesus beveel sy volgelinge om te getuig oor die koninkryk (Matt 10:7).
Aangesien die gedagte aan die koninkryk asook die eindoordeel vanuit die Ou Testament reeds ‘n bekende konsep is, word die konsepte nie in diepte in die Nuwe Testament verduidelik nie. Die aanbreek van die eindoordeel aan die einde van die tyd word as ‘n vervulling van die beloftes in die Ou Testament gesien (Jes 61:1-9). In Christus is die koninkryk teenwoordig (sien Lukas 17:20-21). Dit is slegs die begin, maar met die eindtyd sal die koninkryk in sy volheid aanbreek. Oscar Cullman verwoord dit as die spanning tussen die “reeds-nog nie”. Met die wederkoms sal die verlossing wat reeds in Christus volkome is, volmaak word.
Die wederkoms van Christus bestaan uit oordeel (vergelyk Matt 25:31-46 en 1 Kor 6:9-10) en hoop vir die wat God gehoorsaam dien en getrou aanbid. Moltmann sien die koms van Jesus as rede vir hoop vir die ganse mensdom. Die eskatologiese gebeure bestaan dus uit ‘n oproep tot bekering in die lig van die dreigende oordeel en ‘n boodskap van hoop vir die wat God getrou dien. Vir die kerk vandag beteken dit dat die eskatologie die geleentheid tot sending inhou – ‘n geleentheid om op te roep tot bekering en berou – maar ook as ‘n geleentheid om hoop en troos te verkondig.
Die eskatologie gaan verder ook oor etiek (vergelyk Rom 14:17, Ef 5:5). Die wat die wil van God doen (vergelyk Matt 25:31-46) en hulle medemens in barmhartigheid en liefde dien, sal die koninkryk beerwe. Die teoloë Reinhold Niebuhr en Wolfhart Pannenberg begrond die Christelike etiek in die antispering van die toekomstige koninkryk van God wat in die hede reeds deurbreek.
Die eskatologie soos verwoord in die belydenis dat Christus eendag weer sal kom om te oordeel, hou vir die kerk geleentheid in om die boodskap van die evangelie van vergifnis en verlossing met mond en daad te verkondig, van nou af tot dat Christus eendag weer kom.
Jesus sê: “Kyk, ek kom gou!” (Open 22:12 en 20).