…wat ter wille van ons mense en ons saligheid uit die hemel neergedaal het, vlees geword het van die Heilige Gees uit die maagd Maria en ’n mens geword het …
Hierdie frase vanuit die Niceense Geloofsbelydenis wek onmiddelik die vraag: Hoe kan ’n mens van Jesus bely dat Hy God en mens is of mens en God? Van Selms (1952:63) stel dat die Griekse godsdiens en mitologieë vertel van mense wat gode word - ’n lyn wat loop van onder na bo. In die Christelike godsdiens loop die lyn egter van bo na onder, in God se barmhartigheid word Hy mens. Paulus skryf juis in Filippense 2:5-12 dat God in Christus volledig van sy Godheid afstand gedoen het. Hy het homself volledig ontledig het en van sy goddelike eienskappe afstand gedoen – onder andere sy ewigheid, alomteenwoordigheid, almag en alwetendheid. God lê hierdie eienskappe kragtens die mag van die liefde af – want God is liefde. Ter wille van ons mense, ter wille van die liefde het Hy mens geword en sy Goddelikheid afgelê. En dan die kontras – hoe meer Jesus sy goddelikheid afgelê het – sy eienskappe van ewigheid, alomteenwoordigheid, almag en alwetendheid – hoe meer het sy wese na vore gekom – die grootheid van sy liefde, Want God is liefde. Hoe magteloser God word, hoe meer en kragtiger word sy wese, sy Liefde geopenbaar. Die Godheid in Jesus Christus is dus nie sy goddelike eienskappe nie, maar sy Liefde. Jesus Christus is Liefde – daar kan nie onderskei word tussen God en sy liefde nie, want God is Liefde. Wanneer God dus Homself ontledig om mens te word, doen Hy afstand van sy goddelike eienskappe, maar sy wese kan Hy nie versaak nie. Van Selms (1955:64) stel dit mooi:
“In die mensheid van Jesus Christus is die Godheid verborge; maar in die mensheid openbaar die Godheid hom as die ewige liefde in sy drievoudige ontplooiing van regverdigheid, barmhartigheid en genade. In Christus ken ons God as die Regverdige wat aan elkeen skenk wat hy nodig het; as die Barmhartige wat saamdra aan die leed van hierdie wêreld; as die Genadige wat die sondaar vergewe en terugbring na die Vaderhuis. So is die menswording van God dus ‘n daad van sy liefde, die hoogste selfverwerkliking van die liefde.”
Op grond van wat die Nuwe Testament by monde van verskillende Evangelieskrywers vertel, bely die Kerk die maagdelike geboorte. Matteus 1:18-24 is een van die min Skrifgedeeltes oor die geboortegeskiedenis waar die fokus nie op Maria nie, maar op Josef val. Teenoor die Kersverhaal van Lukas, fokus Matteus se vertelling van die verhaal op sobere saaklikheid. Wat by Lukas as ’n hemelse avontuur beskryf word, word in Matteus se Evangelie ’n ongemaklike gebeurtenis wat nie sonder verleentheid, ontwrigting en skande was nie. Matteus 1:18-25 is een van net twee plekke in die Bybel waar vertel word van die buitengewone wyse waarop die Christuskind die wêreld ingekom het – gebore uit ’n maagd, deur die wonderlike toedoen van die Heilige Gees.
Die maagdelike geboorte van die Here Jesus het deur die eeue heen al vir baie mense ’n ernstige geloofskrisis geword. Eeue lank het die kerk geworstel met hierdie vraagstuk om duidelikheid te kry oor wat ons presies daaronder moet verstaan. Tog, die blote feit dat daar in Bybelse tye baie ander belangrike persone was soos byvoorbeeld die Griekse god Hercules, wat ook, so is geglo, maagdelike geboortes gehad het, maak nie ons belydenis oor Jesus se geboorte absurd nie. Buite die Bybelse geloof lê daar ook stukkies van die waarheid, al was dit verkeerd verstaan. So het ons konsep van die lewe ná die dood (die hemel of paradys) van die Perse af gekom. Dit beteken nie ons is nou verkeerd as ons, soos die Perse van destyds, glo daar is ’n hemel nie. Bybelse geloof en - belydenisse het nie in ’n vakuum ontstaan nie. Hoekom is dit dan nodig om te glo in ‘n maagdelike geboorte? Die Kerk het deur die eeue geoordeel het dat dit een van die kardinale leerstukke van die Bybel is, en daarom dit in die 12 Artikels sowel as die Niceense Geloofsbelydenis opgeneem is. Dit is immers tog nie onmoontlik vir God om ons ook sónder die maagdelike geboorte van Jesus te verlos nie - God sou ons ook op ’n ander wyse kon red.
Hoekom was die maagdelike geboorte nodig?
1. God is in beheer
Eerstens omdat God ons iets van Homself hierdeur wou leer. Hier sien ons dat God, en God alleen, die inisiatief neem by ons verlossing. Dat daar ’n Verlosser gebore is, dat daar so iemand soos Jesus was, is nie aan mense te danke nie. Jesus Christus is nie ’n plan wat mense gemaak of uitgedink het nie. Hy kom van God af. Daarom word die werk van die Heilige Gees in die hele maagdelike geboorte beklemtoon, in Matteus 1:18-25 sowel as Lukas 1:26-38, en ook in die Twaalf Artikels en die Niceense Geloofsbelydenis, want waar die Gees werk, daar is God besig om op ’n besondere wyse in te gryp in hierdie wêreld. Dit is wat die maagdelike geboorte vir ons onderstreep: God gryp in in ons wêreld, Hy is in beheer! Die maagdelike geboorte verkondig aan ons dat God leef en self aktief besig is om sy liefdesplan vir hierdie wêreld uit te voer.
2. Nie uit dwang nie
God besluit – op eie inisiatief – om iets te doen aan hierdie wêreld wat verlore gaan. Hy doen dit self, en, baie belangrik: Hy doen dit vrywillig! Ons gewone mense het nie ’n keuse gehad by ons geboorte nie. Toe ons ons kom kry, was ons maar hier, neergesit op die aarde. Met die Seun van God was dit anders. Hy het ’n keuse gehad. En nogtans het Hy, uit eie vrye wil, besluit dat dit die moeite werd is om gebore te word in hierdie wêreld van ons. Dit vertel natuurlik vir ons hoe geweldig lief God ons het, soos Johannes 3:16 sê. Dit vertel vir ons hoe kosbaar ons vir God is. As die Seun van God dit die moeite werd geag het om aarde toe te kom, mens te word, soos jy en ek te word, dan moet ons mos met nuwe oë na hierdie lewe en na ons eie menswees kyk! Dan is dit mos die moeite werd om te lewe, dan is die lewe kosbaar en ons eie lewe ‘n gawe uit die hand van God. Want die lewe was vir Christus goed genoeg!
3. Wat geloof is
Ons sien ook nog iets in die maagdelike geboorte. Ons leer nie net vir God daardeur beter ken en verstaan nie, ons sien ook wat geloof werklik is. Ons leer wat dit is wat die lewende en werkende God van ons vra en verwag. In die lewens van Josef en Maria sien ons dat die kern van geloof nie bestaan in die uitdink en uitvoer van groot planne en idees nie, maar daarin dat jy gelowig God se wil aanvaar, al kos dit jou iets. Geloof is om jou te skik na God se wil, en daarin jou vreugde te vind, soos Josef gedoen het. Geloof beteken dat jy tot beskikking van die Here sal wees, dat Hy jou kan gebruik, soos Maria. Geloof is om ja te sê vir God en God se plan, om “amen” te sê op dit wat Hy sê oor jou lewe, en wil doen in jou lewe. Geloof is om God ’n vrye hand in jou lewe te gee. Die maagdelike geboorte vertel vir ons dat God met hierdie wêreld besig is; dat Hy ons liefhet; dat ons vir Hom kosbaar is. Daarom het Hy na ons toe gekom, een van ons geword. En dit is hoekom ons in die Kerstyd verwonderd is, bly is, liedere sing, mekaar herinner aan Christus se koms. Dit begin met gelowiges wat “ ja” gesê het op God se aanspraak op hulle lewe, en dit kry vandag nog net regtig betekenis as ons opnuut weer ja sê op God se aanspraak op ons lewe.