DIE VOORUITSIG
...en ek verwag die opstanding van die dode en die lewe van die toekomstige eeu.
Van Selms in Lig uit lig (1952)
Nouliks het ons oor die Kerk gespreek of ons oë was gerig op die einde van die tye. Ons het die sakramente bevind as die middels waardeur die Kerk dit uithou in hierdie tyd. Die laaste sinsnede van die Credo spreek uitdruklik oor die verwagting van die einde van hierdie bedeling. Hiermee moet ons in verband bring wat ons in hoofstuk IX byna onbespreek gelaat het, dat Christus weer sal kom met heerlikheid om te oordeel die lewende en die dode en dat sy ryk geen einde sal hê nie.
Wanneer ons hierdie vier uitsprake saamsnoer, kry ons die volgende beeld: Aan die einde van die geskiedenis van hierdie wêreld kom Hy wat opgevaar het na die hemel, die God-mens Jesus Christus, terug op hierdie aarde. Na sy Godheid is Hy altyd by ons; na sy mensheid is Hy onthef aan die tyd en ruimte, dog aan die grens van die bestaan van die aarde kom Hy weer. En dit met heerlikheid, as opperste maghebber, wie se heerskappy nie meer betwis kan word nie.
Dan sal die opstanding uit die dode plaasvind: hulle wat geleef het en gesterwe het, sal herlewe in volledige menswees, as mens wil: lewe na liggaam en siel. Hierdie opstanding vind egter nie plaas kragtens ’n innerlike noodsaaklikheid van die mens-wees self nie, dog slegs om die oordeel moontlik te maak. Die lewende en die dode wat deur Christus geoordeel sal word, is die wat op die oomblik van sy wederkoms in lewe is en die wat op die tydstip al gesterwe het. Ten aansien van die oordeel maak die eeu waarin ons lewe geen verskil nie.
Die oordeel waarvan hier sprake is, hoef nie altyd 'n veroordeling te wees nie. Die uitdrukking is in soverre neutraal dat dit sowel aanneming as verwerping as eindresultaat verdra. Tog is die woord vryspraak nouliks van toepassing in die verband. Immers, die wat in genade aangeneem sal word, het dit nie aan hulle kwaliteite te danke nie, maar aan die genade van Christus: mens word as sondaar aangeneem. Die oordeel is daarom altyd 'n oordeel; vryspraak is iets anders as genade. Selfs al sou ons wil aanneem dat almal genade verkry – waartoe die Bybel ons geen aanleiding gee nie – dan bly die uitdrukking oordeel nog van krag. Teenoor Christus verskyn ons altyd met 'n tekort.
Die woord wat met "oordeel" vertaal is, het die newe betekenis van "skei". Daar word 'n skeiding gemaak; dit sluit in dat die oordeel die een anders tref as die ander. Die afloop van die regsgebeurtenis is nie vir almal dieselfde nie. Solank as ons lewe nog in die tyd voortgaan, kan ons ook verdienste en genade aan mekaar in die tyd ondergaan; op die grens van die ewigheid hou die afwisseling op en dan val die ewige beslissing. Ons kan nie insien hoe die beslissing anders omskryf kan word as met die ou woorde "ewige wel" of "ewige weë" nie.
Die Credo noem egter net die "ewige wel". Met "die lewe van die toekomstige eeu" is naamlik niks anders bedoel as die ewige saligheid, die deelname aan die heerlikheid wat Christus verwerf het, die volkome gemeenskap met God nie. Eers is hier sprake van 'n uitdrukking van tydsduur, maar van orde: teenoor die tydruimtelike werklikheid waarin ons tans lewe, staan die ewige werklikheid, die "onbeweeglike koninkryk" wat ons hoop om te beërwe en wat dus aan die kom is, vir sover dit ons mense betref.
Oor die ander moontlikheid wat ons by wyse van teenstelling hieruit sou kan aflei, die "ewige weë", spreek die dopeling nie. Immers, hy spreek van dit wat hy kragtens die vergewing van sondes verwag; hy spreek sy eie verwagting en hoop uit en nie dit wat deur die genade van God vir ewig van hom af weggeneem is nie; hy loën die ander moontlikheid nie, maar hy weet dat dit vir hom nie meer bestaan nie omdat hy deur die doop vergewing van sondes deelagtig word. In die belydenis word nie gespreek oor wat kon gewees het nie, maar wat is: die Credo handel nie oor moontlikhede nie, maar oor werklikhede.
Ons moet nog weer teruggryp na wat ons in hoofstuk IV gevind het. Daar het ons gesien dat die moontlikheid tot die sonde uit God is, maar die werklikheid daarvan uit die mens. In teenstelling daarmee sien ons tans dat die moontlikheid om verlore te gaan nie uit die mens en die werklikheid van ons ewige behoud uit God is. Vir hom wat sy steunpunt nie meer in homself soek nie, dog in God, bestaan dan ook slegs die goddelike werklikheid van die genade.
Hierdie werklikheid wat die barmhartige vergewing van God in Christus vir ons skep, word die "lewe" genoem. Daarmee is aangedui dat daar in die ewigheid ruimte is vir die menslike bestaan, en wel dit wat die Hemelvaart van die mens Jesus Christus. Ook al vereenselwig ons denke onwillekeurig "lewe" met die veranderlikheid wat die bestaan in die tyd meebring is hierdie veranderlikheid nie essensieel nie. Die ewigheid is geen dood nie, maar lewe; die stralende lig vernietig nie, dog skenk hoër glans.
Die uitdrukking, die lewe van die toekomstige eeu is ontleen aan Joodse voorstellings wat in die eerste eeue voor en na die geboorte van Christus die denke beheers het. Dit staan ver van ons gedagtes oor die verhouding van ewigheid en tyd. Selfs die invloed van bykans twintig eeue Bybellektuur en Christelike prediking het ons nie baie nader gebring nie. Mens sou van die moeilikheid natuurlik ontslae kan raak met die opmerking: “Des te erger vir ons gedagtes!” Mens hoor nogal dikwels sê dat ons in so ’n geval so goed of so sleg as wat dit ookal gaan, moet aanpas by die gedagtes van die Bybel; die praktyk leer dat dit vir die een mens beter gaan as vir die ander, sonder dat hy daarom, vir sover ons kan oordeel, ’n beter Christen is. In elk geval is dit ’n feit dat binne die Christelike Kerk slegs ’n betreklike klein aantal mense daarin slaag om te lewe in die verwagting van die aanstaande wederkoms van Christus.
Beteken dit dat alle ander op die punt — en dus oor die hele lyn — tekort skiet? Dit word gesê maar miskien staan dit hiermee tog effe anders. Ons raak hier ’n ingewikkelde kwessie aan. Miskien tref dit hier nie soseer die inhoud as die struktuur van die Joodse en Westerse denke nie. Joods en Westers, so moet hier ten verduideliking opgemerk word, staan hier om die gedagteklimaat te kenmerk waarin die Bybelse boodskap gekom het en die een waarin ons lewe. Die teenstelling val nie saam met Oosterse en Westerse denke nie; dit het ook iets met die verskil in tyd te doen. Daar is Oosterse denke wat nader aan ons staan as die “Joodse”, soos daar ook ’n gedagtestruktuur omstreeks die begin van ons jaartelling was wat nader aan dié van ons staan as die van die Bybelse milieu van dié dae.
Sodra ons spreek oor die voleindiging, het ons ook te doen met die verhouding van ewigheid en tyd, van hemel en aarde. Waar ons in ons menslike bestaan geheel en al gebonde is aan die aarde waarop ons lewe en die tyd wat ons lewensvorme bepaal, daar spreek dit ook vanself dat ruimte en tyd die onvermydelike aanskouings vorme van ons gees is. Met ons voorstellingsvermoë kan ons daar nie aan ontkom nie. Aan die ewigheid kan ons wel in negatiewe sin dink maar ons kan dit nie voorstel nie. Ons kan dus nooit in voorstellings en woorde ’n wesenswyse by God tot uitdrukking bring solank ons in hierdie aardse, tydruimtelike werklikheid vertoef nie.
Tog moet mens daarvan spreek, altans as mens tot uitdrukking wil bring dat daar ’n grens aan die bestaan is. Nou staan daar twee weë oop: mens kan die ewigheid in die tyd projekteer met opoffering van die ruimte of mens kan die ewigheid in die ruimte projekteer met opoffering van die tyd. In albei gevalle vind daar ’n vertekende plaas, dog in albei gevalle is iets aangedui van die soortlike onderskeid tussen goddelike en menslike bestaan.
Neem mens die tyd as projekteringsvorm, dan kom mens tot die voorstelling dat “laat eenmaal” ’n ander tyd sal aanbreek, een waarin die liefde van God wat aan ons in die kruis van Christus openbaar is, alle teenstand oorwin het. Daarin pas die verkondiging van die wederkoms van Christus op hierdie aarde: ons kan daaraan slegs deel hê deur die opstanding uit die dode.
Neem mens daarenteen die ruimte as projekteringsvorm aan, dan word mens gelei tot die gedagte aan die hemel waarin nou reeds die liefde van God wat op aarde geopenbaar is in Christus, die enigste en alles is. Ons het daaraan alleen deel as ons na ons sterwe deur God in sy heerlikheid opgeneem word. Soos die opstanding uit die dode geen gevolg van die een of ander innerlike noodsaaklik van die mens-syn is nie, dog uitsluitlik ’n daad van God, so is ook met die gevaarlike woord “onsterflikheid” nie ’n eienskap van die mens of sy siel bedoel nie, maar ’n genadegawe van God.
By die “Joodse” denke oorheers die teenstelling tussen “nou” en “dan”; by die “Westerse” die tussen “hier” en “daar”. Daar is geen kwalitatiewe onderskeid nie: albei is beelde van die onuitdrukbare verhouding van ewigheid en tyd, hemel en aarde. In hulle betreklike waarde is dus albei voorstellingsreekse aanvaarbaar en dit hang af van die struktuur van die eie gees, watter een van die twee mens sal kies. Die essensiële momente is immers in albei aanwesig: sowel die “nou” as die “hier” word gedepresieer; die oorgang van ons wesenswyse hier en nou na die van daar en straks word slegs in die genade van God deur Jesus Christus gevind, en dit bly in albei voorstellingsreekse die karakter van ’n uiterste beslissing behou.
Die moeilikhede kom eers wanneer mens probeer om elemente van die twee beelde met mekaar te verenig in plaas van tot die saak kom met die drogbeelde. Daaronder moet mens reken die voorstelling van die “sieleslaap”: na die dood sou die siel sy bewussyn verloor tot die oomblik waarop die wederkoms van Christus op aarde sal plaasvind; of ook die gedagte dat die saligheid wat die siel onmiddellik na die dood te beurt val, nog iets te wense oorlaat solank as die algemene opstanding uit die dode nog nie plaasgevind het nie en eers sodanige liggaam ontbreek. Mens doen beter om in die bewussyn van ’n onvermydelike eensydigheid jou of aan die hemelvoorstelling óf aan die wederkoms-voorstelling te hou, dan bly die bewussyn ook beter lewend dat alle voorstellings, slegs gebrekkige beelde is van ’n heerlikheid wat geen oog gesien het en geen oor gehoor het en waarvan die gedagte nie in ’n mensehart opgekom het nie.
In die Bybel vind mens nie soos mens miskien sou verwag, uitsluitlik Joodse beelde in die tyd nie, maar ook die “Westerse” verkenning in die ruimte. Dit is waar dat die vaste terminologie ontleen is aan die Joodse voorstellingswêreld van die dae; vandaar die gebruik van uitdrukkings soos “die dag”, “die dag van die Here”, “die eeu”, “die voleinding van die eeue”. Maar dit is ook waar dat herhaaldelik allerhande besonderhede vermeld word wat meer pas by die projektering in die ruimte. Dit geld byvoorbeeld van die gelykenis van die ryk man en die arme Lazarus; ook van die woord van Paulus: Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees; veral ook van ’n reeks visioene in die boek Openbaring, waar ons gelyktydig met die aardse gebeurtenisse die saliges om die troon van God vergader sien.
In die verband is dit merkwaardig om te let op die derde kruiswoord. Die boetvaardige moordenaar sê aan die Heer: Jesus, gedenk myner, wanneer Gij als koning oor Uw ryk komt. — (Hier is die vertaling van Brouwer gevolg; die meeste ander tref nie die regte sin nie.) Die bedoeling van hierdie bede is dat die Heer, as Hy weer kom as koning, mag dink aan die man wat langs Hom aan die kruis hang; vermoedelik was die wens van die gekruisigde dat die Heer sorg sou dra vir sy gebeente. Die moordenaar druk hom dus hier uit in die terminologie van sy Joodse omgewing. Dog Christus antwoord: Vandag sal jy met My in die paradys wees. — Dit was ’n voorstelling op wat verwant is aan ons ruimtelike projeksie: die hemel. In die een en in die ander woord is dus ruimtelike en tydelike voorstellings albei aanwesig. Ons moet uit die feit dat Christus hier die ruimtelike gebruik, nie aflei dat dit dus die enigste is wat in die Christelike prediking geoorloof is nie; maar net sowel verset ons ons teen elke poging om die tydelike konsepsie te verklaar as die enigste geoorloofde.
Uit dit alles blyk duidelik dat dit in wese min verskil maak of mens die einde van alle dinge naby ag of net bewus is dat daar slegs een enkele skrede tussen ons en die dood lê. In albei gevalle verloor ons bestaan sy waarde en is God ons enigste behoud. Die oordeel is die oordeel of dit nou aan die einde van my lewe of aan die einde van die tye plaasvind; die enigste belangrike is dat dit die oordeel van Christus, die oordeel van ewige liefde sal wees. Wat in die Bybel gewoonlik uitgedruk word met die woorde: „Die Here is naby” kom volkome ooreen met wat ons in die Weste gewoonlik probeer uitspreek met die leer oor die alomteenwoordigheid van God. In die geval het ons die voordeel dat die woord „naby” sowel ruimtelik as tydelik verstaan kan word.
Natuurlik bied die projeksie op die ruimte sy gevare; maar die op die tyd het ook nie van misverstand vry gebly nie. Waar ons westerlinge oor die algemeen meer vertroud is met die ruimtelike voorstelling, daar het dit sy nut om die tydelike te oordink; dog in die nood keer elkeen terug na dit wat die Heiland die naaste aan hom bring. Want dit moet ons steeds bewus van bly: dit gaan uiteindelik nie om hemel of nuwe aarde nie, maar om God. Die christelike toekomsverwagting, Bybels gesproke: die hoop, is gerig op die God wat ons in Jesus Christus as onse Vader leer ken het.
By die God sal dit vir ons goed wees. Die gemeenskap met Hom is die saligheid. Wat dit nou presies inhoud kan ons hier — of nou — nie sê nie. Soos altyd kan ons dit feitlik slegs negatief uitdruk. Die saligheid is die bevryding van smart, veral ook van vrees. Vir die positiewe het ons geen woorde nie. Sommige mense het daar behoefte aan om dit aan hulle voor te hou dat ons ook in die ewigheid nog werksaam sal wees; die geykte beeld van die lofsingery met harpe en palmtakke in die hand skrik hulle ’n bietjie af. Nou goed, as werk vir u die hoogste vreugde is, dan sal daar vir u werk wees. As daar net nie agter te werklik die begeerte lê om ’n posisie afgesonderd van God in te neem nie.
Juis die een wat bewus is van die betreklike van al ons voorstellings oor die hiernamaals — ’n uitdrukking wat tyd en ruimte verenig! — sal die meeste behae skep in die mees konkrete voorstellings. Hy sien uit na die stad van God waar dit nooit nag sal wees nie, na die pêrel poorte en die strate van goud. Is dit slegs beelde? Ongetwyfeld! Daaruit volg dus dat die werklikheid nog heerliker as die lig, nog sagter as die pêrelglans en nog suiwerder as die goud sal wees. Mens kan nie dankbaar genoeg wees vir die feit dat die Bybel vir ons die hemelse lewe skilder as — ’n maaltyd, ’n feesmaaltyd, ’n bruilofsmaal nie. Dit is heelwat anders as die liggaamlose rondswerwery wat ons so geestelik lyk en heimlik laat huiwer. In die Bybelse voorstelling ontbreek selfs die wyn nie. Mens kan daaraan aanstoot neem — mens kan daar egter ook bly oor wees: soveel kom God ons tegemoet.
Ons moet nie bang wees vir die grootste beeld nie: allerlei die groteske kan die hemelse hier op aarde, altans tot gedeeltelike uitbeelding bring. Vir die Eskimo is die hemel derhalwe ’n strand met duisende seehonde en vir die digter staan die lier; en die tikmasjien gereed. Of as dit vir u te bont is — maar die hemel is bont, verruklik in duisendvoudige verskeidenheid — as dit vir u tog te bont is, keer dan maar weer terug tot die negatiewe, want reeds dit is eindeloos heerlik: „Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die HERE sal die trane van alle aangesigte afvee.”
Dit is woorde wat mens sedert baie jare van buite ken, en tog nooit sonder trane kan lees nie. Wie hierdie blye droefheid, hierdie hoop ken, stem in met ons dopeling as hy sing van die vooruitsig: Ek verwag die opstanding van die dode en die lewe van die toekomstige eeu.
Geloof sy Jesus Christus. Amen.