Ons glo in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker
Vir lank was die Heilige Gees in die teologiese denke van die vroeë Kerk aan God die Vader en God die Seun ‘n ondergeskikte wese en selfs aan engele gelyk (1953:253.) Die konsilie van Nicéa het in die teks wat gedien het gewoon verwys na die formulering ons glo in die Heilige Gees.
Die Afrikaanse woord gees dek nie dieselfde semantiese veld as wat die Hebreeuse (רוּחַ) en Griekse (πνεῦμα) woorde onderskeidelik dek nie. Die Hebreeuse woord kan dui op gees, asem of wind. Die goddelike Gees word die Heilige Gees genoem. Alles wat in die Bybel heilig genoem word sinspeel op wat aan God behoort en stel ‘n duidelike grens tussen ons wil en die Wil van God; ons geestelike lewe en die Gees van God. Volgens Van Selms (1952:96) is selfs die mees heilige menslike geestelike lewe hoogstens menslik, God alleen is Heilige Gees.
Die Kerk bely dat die Heilige Gees Here is. Hy is dus ‘n Persoon met gesag. Waar Hy werk het Hy die reg om te beveel en gevolglik word die hart waarin die Gees werk en die bewussyn van die mens, diep bewus van ‘n opdrag en ‘n verantwoordelikheid (1952:99). Die Vader en die ewige Seun is eweveel gees en heilig.
Die Heilige Gees word dikwels in die Bybel genoem waar die werk van God in die hart en binneste van die mens ter sprake kom. Die Heilige Gees is iemand wat dus besiel of soos die woord in die Credo geformuleer is: lewend maak..
Om lewend te maak plaas die fokus op die feit dat die mens wat deur die kragtige werking van die Gees lewend gemaak is, eers dood was. Hierdie dood herinner elke gelowige aan sy/haar eie verganklikheid en die sonde waarin ons so dikwels verstrengel raak. Die Heilige Gees is as Skepper Gees altyd besig om ons lewend te maak. Hierdie genade-werk bly ‘n wonder, ‘n nuwe skepping en sal op aarde nooit volledig afgehandel wees nie. Skepping en herskepping vind in die bekering van elke mens plaas en geloof is die simbool hiervan.
...wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word,
Die Heilige Gees word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik: die kennis van God die Vader is vir ons slegs moontlik deur die openbaring in God die Seun wat ons alleen ken deur die werking van die Gees van God in ons hart. Die Gees van God word vir ons hier op aarde as waarborg (Efesiërs 1: 14) gegee. Die waarborg is: die vergewing van die sonde en die werklikheid van die ewige lewe reeds nou ons deel is; ‘n lewende hoop wat deur die liefde in ons teenwoordig is.
Die Heilige Gees word veral in verband gebring met die werk wat volg van Hom wat bely word. Ons moet altyd daarteen waak om die Heilige Gees nié te verstaan as 'n goddelike krag wat los van Christus staan nie. Terwyl ons wel duidelik onderskei tussen Jesus Christus en die Heilige Gees bly die werk van die Heilige Gees baie nou met Jesus Christus verbind (vergelyk Rom 8: 9 en 1 Pet 1:11).
Die woord uitgaan in die Credo dui volgens Van Selms (1952:111) op die misterie van ‘n handelende God. In ons teologiese nadenke oor die wese van God is ons woorde beperk en geheel en al ontoereikend. Die woord uitgaan wil juis bevestig dat ‘n transendente God nie deur die denke en woorde van ‘n mens vasgevang kan word nie.
Wanneer Jesus Christus opvaar na die hemel en aan die regterhand van God, die Vader sit, dán kom God, die Heilige Gees, na ons en ons wêreld om alles wat Jesus Christus vir ons verwerf het, ook inderdaad aan ons te gee, dit tot ons eiendom te maak en om ons in besit te neem en te omvorm sodat ons Jesus Christus sal glo en so deel sal hê aan sy verlossingswerk.
...wat gespreek het deur die heilige profete...
Die Heilige Gees se werk is skeppend en nuut terwyl die mens nie daartoe instaat is om die hand op die Gees se teenwoordigheid te lê nie. Die werk van die Heilige Gees is die uitleg van die versoening in Christus. Laasgenoemde gebeur op verskillende maniere deur die handelinge van die profete en elke gelowige wat getuig.
Die profetiese woord kan alleen bestaan omdat daar ‘n goddelike Woord is. God se spreke en openbaring gaan dié van die profeet, psalmdigter, prediker en evangelis vooraf. Die profeet voer namens God die woord, maar alleen wanneer en in soverre God hom ingelig het en hom die woorde in die mond gelê het (advocatus). Hierdie taak kan nooit buite die geloof om realiseer nie. Die Heilige Gees is dus self die Een wat die profeet, psalmdigter, prediker en evangelis toerus, as werktuig inspan en help om die Woord van God te vertolk en te verkondig. Prediking is die spasie waar tyd en ewigheid op mekaar inspeel; waar die Woord van God tydig en kragdadig in die taal van die hede (hedendaagse konteks) inspraak kry.
Van Selms (1952:124) beklemtoon die rol van die Heilige Gees in die spasie waar die Woord van God tot die profeet (persoon) kom en verkondig word. Die vertroue en sekerheid moet by die prediker daar wees dat die Heilige Gees by die optekening daarvan geen wesenlike dinge laat uitval het nie. Laasgenoemde gebeur in en deur die getuienis van die Heilige Gees in die hart van die prediker.
In die prediker se worsteling om onder leiding van die Heilige Gees in verskillende spasies met die Woord van God besig te wees wend hy/sy hom/haar biddend en nadenkend tot die Woord waardeur God in ‘n bepaalde historiese tyd en situasie gespreek het. Die vraag is of die prediker ooit daarin slaag om ten volle tot die kerugma deur te dring... Dan is dit soos die Credo dit formuleer: die Heilige Gees het gespreek deur die heilige profete.