1. Inleiding
“Ons glo in een God, die almagtige Vader,
die Skepper van die hemel en die aarde,
en van alle sienlike en onsienlike dinge.”
Só lui die eerste artikel van die Geloofsbelydenis van Nicea. Die Geloofsbelydenis van Nicea is een van die 3 geloofsbelydenisse wat deur die NHKA onderskryf word. Hoewel ons vanjaar die 1700 jaar-herdenking van die konsillie van Nicea in 325 nC vier, is die aanloop en ontstaansgeskiedenis van die Geloofsbelydenis van Nicea soos ons dit vandag ken, kompleks. Die Geloofsbelydenis ontstaan in ’n bepaalde konteks in reaksie op bepaalde kwessies wat die kerk van daardie tyd aanspreek. Dit is daarom belangrik dat ons ook die geloofsbelydenis teen die bepaalde historiese omstandighede waarbinne dit ontstaan het, sal interpreteer.
Dit is weliswaar ’n grootse onderneming wat ongelukkig nie deur hierdie insetsel gedek kan word nie. In hierdie insetsel word eerder gefokus op die eerste artikel van die Niceense geloofsbelydenis – die artikel wat die Geloofsbelydenis inlei. Binne die skopus van die eerste artikel, wil hierdie insetsel veral die klem plaas op die konsep van God as “Skepper”.
2. Die eerste artikel: ’n Algemene inleiding
2.1 “Ons glo”
Die Geloofsbelydenis van Nicea begin met dié woorde: “Ons glo”. Hierdeur word aangedui dat dit ’n gemeenskaplike geloofsbelydenis is, bedoel om deur geloofsgemeenskappe (die kerk) bely te word. Inderwaarheid is dit ook so dat hierdie Geloofsbelydenis die verskillende tradisies binne die Christelike geloof saambind. Saam met die Protestantse kerke deel ook die Oosters-Ortodokse, Rooms-Katolieke en Anglikaanse kerke hierdie belydenis (Van Selms 1952:9). Soos Van Selms (1952:10) tereg dit stel, kom ons deur middel van die Niceense Geloofsbelydenis in aanraking met die kerk van alle plekke en alle eeue.
2.2 Een God
Ná die openingsfrase “Ons glo”, volg die onderwerp waarin geglo word, te wete God. Vir God kan daar nie ’n definisie gegee word nie. Die grenslose kan nie omgrens word nie (Van Selms 1952:22). Ons kan maar net poog om God te beskryf, maar kan ook nooit daarin slaag nie. Al ons pogings om God te beskryf kom daarop neer dat God in alles anders is as ons – die Gans Andere (cf. Crysdale 2015:321). Ons kan wel iets oor God se eienskappe sê, maar ook dit is voorlopig en begrens deur taalmoontlikhede.
Hyatt (1967:369) bestudeer die betekenismoontlikhede van die naam vir God (YHWH) in die Ou Testament as uitdrukking van bepaalde eienskappe van die Here. Op grond van die wyse waarop God Godself aan Moses bekendmaak in Eksodus 3, lei Hyatt (1967:376) af dat die naam YHWH afgelei word van die woord “om te wees” en derhalwe beteken dat God die (enigste) God is wat is – wat bestaan. Die teologiese tradisie onderliggend aan die Eksodus 3 teks, hou verband met die konsep van monoteïsme wat ’n toenemende fokus geword het in Israel se teologiese denke. ’n Verdere betekenismoontlikheid van die naam YHWH word gevind in die koppeling van YHWH met die aartsvaders en voorouers. Volgens hierdie lyn kan die naam van YHWH ook die betekenismoontlikheid inhou van “Hy wat laat bestaan” of “Hy wat Onderhouer is van…” (Hyatt 1967:376). In hierdie betekenismoontlikhede word reeds die eienskap van God as Skepper vervat, ’n onderwerp wat later volledig aan die beurt kom.
Die frase “een” God verwys reeds inherent na die Drie-enige God wat in die Geloofsbelydenis bely word. Van Selms (1952:25) koppel dit ook aan die monoteïsme van die Bybel, maar gaan nóg verder deur die twee frases: “Ons glo” en “in een God” aanmekaar te koppel. Geloof kan alleen geloof wees as dit gerig is op één God, want dan beteken dit dat ’n mens al jou vertroue in hierdie één God alleen moet plaas (Van Selms 1952:26).
2.3 Almagtige Vader
Die eerste frase waarmee hierdie “een God” in die Niceense Geloofsbelydenis beskryf word, is “Almagtige Vader”. Volgens Van Selms (1952:27) moet die woord “Vader” verstaan word binne die Goddelike relasie tot die Seun. Dit gaan primêr oor die verhouding Vader tot Seun. Hierdie relasie word deur die liefde gebind. Hierdie liefde word ook na ons uitgereik – ook ons word God se kinders om Christus ontwil.
Die tweede woord in die omskrywing van God, is ’n byvoeglike naamwoord wat saam met die konstituerende element van Vaderskap gebruik word. Van Selms (1952:29) dui aan dat ook die woord “Almagtig” verstaan moet word binne die konteks van God se Vaderskap en liefde. Dit is in sy Vaderskap en liefde dat God almagtig is. Die almag van God beteken daarom dat God alles volbring wat Hy Homself in sy liefde voorneem om te doen. Volgens hierdie beredenering word die skepping ook afgelei uit die goedheid en liefde van God (Van Selms 1952:30). Dit bring ons by die volgende en kern-aspek van die eerste artikel van die Niceense Geloofsbelydenis: Hierdie een God, almagtige Vader, waarin ons glo, is die Skepper van die hemel en die aarde en van alle sienlike en onsienlike dinge.
3. God as Skepper: ’n Spesifieke fokus in die Ou Testament
Een van die mees aangrypende belydenisse oor God in die Ou Testament, is dat God die Skepper van hemel en aarde is (Sutton 2024:57). Hierdie belydenis bied nie net ’n sleutel tot die openbaring en heilsgeskiedenis van God nie, maar bied ook die sleutel tot die transformasie van die ganse skepping deur die werk van die Seun, Jesus Christus, in die Nuwe Testament (Sutton 2024:57). In hierdie afdeling word die frases waaruit die belydenis bestaan, kortliks bespreek, waarna die verskillende fasette van skeppingsteologie in die Ou Testament in meer besonderhede beskryf word.
3.1 Hemel en aarde
Die uitdrukking “hemel en aarde” is literêr gesproke ’n merisme. Die bedoeling is om die geheel te beskryf deur na die (teenoorstaande) dele te verwys. Hemel en aarde veronderstel dus dat God alles geskep het (Wood 2012:393). Die volgende frase wat daarop volg, “alle sienlike en onsienlike dinge” is ’n uitbreiding op die merisme.
Terselfdertyd is om in God te glo as Skepper van hemel en aarde, ’n bevestiging dat God ook ons geskep het en dat God as Skepper en Onderhouer ons versorg en bewaar tydens ons aardse lewe (Okamoto 2024:42). Dit bevat dus ’n temporele aspek wat ons help om met hoop te leef te midde van ’n stukkende wêreld. Hierdie hoop is egter nie bloot ’n tydelike, aardse, verbygaande hoop nie, maar is gegrond in die eskatologiese hoop dat hierdie Skepper-God, wat van ewigheid tot ewigheid is, ook óns ewigheid in sy hand hou (Okamoto 2024:36).
Tog merk Van Selms (1952:35) op dat die Niceense Geloofsbelydenis niks direk oor die mens sê wanneer dit oor die skepping praat nie. Dit stroop ons, miskien tereg, van ons antroposentrisme. Hoewel die mens ’n bepaalde taak in die skepping ontvang, sentreer gans die skepping nie rondom die mens nie. Die mens word deur God as stadhouer op aarde geplaas (Van Selms 1952:36). Dit is hoe die mens in God se skeppingswerk bedoel is. Daarmee sê Van Selms (1952:36) dat die beeld van God nie in die eerste plek ’n ding is nie, maar ’n taak. Die mens is “geroep tot leiding en koördinering, tot die onderkenning van ’n doel en die keuse van ’n weg.” Om aan hierdie bedoeling van God te voldoen, het die mens nodig om beide sienlike en onsienlike dimensies van die skepping te verreken.
3.2 Alle sienlike en onsienlike dinge
Die belydenis dat God Skepper van alle sienlike en onsienlike dinge is, wil ons insig verby dié dinge neem wat met die blote oog gesien kan word. God is nie net Skepper van alles wat ons kan sien nie, maar ook van dié dinge wat ons nie kan sien nie. Onder “onsienlike dinge” reken Van Selms (1952:35) geestelike waardes, waarheid en goedheid. Die moreel-sedelike bewussyn as onsienlike skepping wat God in die mens gesetel het, moet deur die mens gebruik word in die uitvoering van ons taak as stadhouers van God se skepping (Van Selms 1952:36).
3.3 Skeppingsteologie: ’n Veelsydige belydenis
Sou ’n mens skeppingsteologie in die Bybel naspeur, blyk dit dat dit een van die teologiese temas is wat van begin tot einde in die Bybel aangetref word. Die eienskap van “skepping” word van die begin af deur die Bybel aan God toegeskryf. Die Hebreeuse woord ברא wat in Genesis 1 aangetref word, word deurlopend gekoppel aan God se skeppingsdade (Van Selms 1952:32). Dit het ’n tweeledige betekenis: om iets nuuts te skep, tot bestaan te bring, tot stand te bring én om iets wat reeds bestaan, te hernu of her saam te stel. Dit is hierdie dubbele handeling van skepping en herskepping wat in die Bybel aangetref word as God se skeppingswerk. Geloof in God as Skepper wat skep en herskep bestaan uit verskillende aspekte in die Bybel.
Een van die klemtone in skeppingsteologie vind ons in die werk van die invloedryke Ou Testamentikus Claus Westermann. In die 1970’s het Westermann klem geplaas op die belangrikheid van skeppingsteologie in die Ou Testament. Dit doen hy teen die agtergrond van ’n (oor)beklemtoning van geskiedenis as interpretatiewe lens tot die Ou Testament. Volgens Westermann (Bellinger 1990:28), bied skeppingsteologie eerder die konteks waarbinne God se heilshandelinge in die geskiedenis plaasvind. H.H. Schmid, wat op Westermann se werk voortbou, beweer dat God deur sy skeppingsdade ’n bepaalde orde daargestel het (Bellinger 1990:29). Hierdie orde word nie net in die skepping op kosmiese vlak gevind nie, maar ook op politieke en sosiale gebied. Die orde wat God in die skepping “ingebou” het, het universele geregtigheid ten doel. Tog bestaan daar ’n diskrepansie tussen die ideale skeppingsorde wat God daargestel het en die werklikheid. Só word die narratief van die Bybel gekenmerk aan die ongehoorsaamheid van die mens wat die orde versteur, maar God wat in liefde uitreik om die orde te herstel.
Dit is hierdie aspek van skeppingsteologie wat Job ontdek in sy worsteling om betekenis in lyding. Job kom tot die ontnugterende besef dat die geskape orde in die wêreld versteur is. Die wêreld is in chaos gedompel en niks maak sin nie. As antwoord op Job se worstelvrae, bied God vir Job ’n oorsig oor die geskape orde wat Hy daargestel het deur sy skeppingsmag (sien Job 38-41). God bied nie klinkklare antwoorde vir Job nie, maar bevestig dat God die Skepper is en dat die geskape orde steeds in plek is so lank as wat God teenwoordig is (Bellinger 1990:35). As magtige Skepper tree God in persoonlike gesprek met Job – nie om vir hom ’n antwoord te gee op sy waarom-vrae nie, maar om hom eerder te verseker van sy skeppende betrokkenheid en teenwoordigheid in die kosmos én in Job se wêreld (Ham 2013:541). Ons geloof in God as Skepper bepaal die wyse waarop ons omgaan met die stukkendheid, lyding en swaarkry van die lewe.
Die wyse waarop God betrokke is by sy skepping en skepsels vorm daarom die tweede aspek van die Bybel se geloof in God as Skepper. Dit gaan hier oor die verhouding tussen hemel en aarde, tussen Skepper en skepping. Op grond van die wêreldbeskouing wat in die Ou Testament aangetref word, kan verskillende wyses van betrokkenheid afgelei word. Die eerste persepsie van God se betrokkenheid word gevind in die tipiese drie-verdieping wêreldbeeld van die Ou Nabye Ooste wat voorstel dat God op sy troon in die hemel sit. God is soewerein en regeer oor die skepping, hemelse wesens en aardse magte, maar kyk van ver uit die hemel af op die skepping (Sutton 2024:59). Hierdie beeld is die beeld van ’n God wat ver en onbetrokke is by sy skepping. Die tweede perspektief op God se betrokkenheid by die skepping fokus op God wat op sy troon in die hemel sit, maar met sy voete op die voetstoel wat die aarde is (Sutton 2024:59). Hierdie beskouing sien die skepping as die heiligdom van God. Hoewel God op sy troon in die hemel sit, is Hy steeds betrokke by die skepping. Die derde perspektief van God se betrokkenheid by die skepping stel God voor as te onderskei van die skepping. Anders as die ander twee perspektiewe is God nie utisluitlik in die hemel teenwoordig nie, maar oral in die skepping teenwoordig. Hiervan getuig Psalm 148 waar alle sfere van die hemel, die aarde en al haar inwoners opgeroep word om die Here se teenwoordigheid en betrokkenheid in die skepping te loof en prys. Hierdie verstaan van God se betrokkenheid en teenwoordigheid in die skepping word veral gevind in die na-ballingskapse tydperk, soos wat fundamentele veranderinge in die aanbidding en geloof van Israel plaasgevind het (Sutton 2024:59). Die wyse waarop ons God se betrokkenheid by sy skepping en skepsels voorstel, is nie net belangrik vir ons Godsbegrip nie, maar bepaal uiteindelik ook hoe die belydenis van God as Skepper in ons lewe grondvat.
Die derde klemtoon in skeppingsteologie vind ons in die teologie-wetenskap diskoers. Die verskillende standpunte in hierdie debatte lê buite die reikwydte van hierdie bespreking. Wat hierdie debatte wel in gemeen het en wat van toepassing is op ons bespreking, is dat dit probeer sin maak van die werklikheid van die skepping, of soos Van Selms (1952:31) dit noem, die “waarom” van die skepping. Vir die geloof gaan dit nie soseer oor ’n antwoord op die wêreld se oorsprong of oor filosofiese spekulasies nie. Dit gaan eerder oor die erkenning van die Drie-enige God as die Een wat skep deur wysheid, mag en goedheid (Wood 2012:383). Ook Bellinger (2023:361) kom tot die gevolgtrekking dat die skeppingsteologie in die Ou Testament meer oor doksologie en wonder handel as oor verduideliking. Solank daar rekening gehou word met die onbegryplike, die wonder wat die Skepper-God se skepping is, is daar dus nie wesenlik ’n verskil tussen die antwoorde op die “waarom”-vraag nie (Van Selms 1952:32). “Waarom” die wêreld dan geskep is, verwoord Van Selms (1952:31) soos volg: “Die wêreld bestaan omdat dit die voorwerp van Gods liefde is.” Die skepping is dus uitdrukking van God se liefde. Wanneer die skepping vanuit hierdie geloofsperspektief verstaan word, het dit implikasies vir ons omgang met die skepping as God se wêreld.
So ’n omgang met die skepping as God se wêreld vind ons in ons tyd in wat “ekoteologie” genoem word. Dit is die vierde klemtoon in skeppingsteologie. Bellinger (2023:361) beklemtoon dat die tekste van die Ou Testament gelowiges oproep om na die skepping om te sien. Dit word in die Ou Testamentiese konteks ’n oproep om geregtigheid te laat geskied teenoor skepping en skepsels. So ’n waarderende ingesteldheid teenoor die skepping begin by lof aan God. Om God te loof en daardeur God eerste te plaas, druis lynreg in teen ’n bestaanswyse van verbruik en uitbuit, omdat dit ons herinner dat ons nie net kan doen wat ons wil met God se skepping nie, maar ’n verantwoordelikheid het teenoor God en God se skepping (Bellinger 2023:361).
Vanuit hierdie bespreking oor die verskillende aspekte van skeppingsteologie in die Ou Testament, het dit duidelik geblyk dat ons belydenis van God as Skepper nie ’n eendimensionele belydenis is nie. Om in opregtheid te bely dat ons in God as Skepper glo, vra dat ons rekening sal hou met die veelsydigheid van hierdie belydenis.
4. Slotopmerkings
Om ons geloof te bely in God as Skepper is in ons dag en tyd nie noodwendig meer ’n gegewe nie. Daar is ’n magdom ander teorieë en oortuigings rondom hierdie saak. Dit was egter in die wêreld van die Bybel ook die geval. Israel se geloof in God as Skepper het ontstaan te midde van velerlei pogings van omliggende volke wat elk op hul eie manier die werklikheid probeer verstaan het. Die natuur-elemente is dikwels deur ander volke vereer of aanbid vanweë die vrees wat mense vir die natuurmagte gehad het. Dit was egter Israel se verstaan van één God as Skepper van hemel en aarde wat Israel van ander volke onderskei het. Die gevolg van só ’n Godsbegrip was dat mag en krag nie in die skepping of kosmiese elemente geleë is nie, maar in Godself (Sutton 2024:71).
Die belydenis dat God die Skepper van hemel en aarde is, van alle sienlike en onsienlike dinge, bly daarom sentraal tot ons werklikheidsverstaan en geloofsverstaan. ’n Belydenis van geloof in die Skepper is terselfdertyd ’n belydenis dat God ook Herskepper is. Die skeppingsmag van God is terselfdertyd die herskeppingskrag wat in Jesus Christus openbaar word. Die Skepper is nie net Onderhouer, Versorger en Beskermer nie, maar ook Herskepper. Die herskeppende mag van God bring ’n nuwe orde tot stand in Jesus Christus – ’n orde van geregtigheid, vergifnis, liefde en nuwe lewe. Dit is hierdie geloof in die Skepper-God wat ons perspektief op die lewe vorm. Te midde van lyding, onsekerheid en verwarring, kan ons ongeveer 1700 jaar later steeds bely:
“Ons glo in een God, die almagtige Vader,
die Skepper van die hemel en die aarde
en van alle sienlike en onsienlike dinge…”
5. Moontlike vrae vir nadenke
1. Hoe stel jy God se betrokkenheid as Skepper-God vir jouself voor in:
- Die skepping
- Die wêreld
- Jou lewe
2. Wat beteken geloof in God as Skepper vir ons lewe in gemeenskap met:
- God
- Mekaar/Geloofsgemeenskap
- Die skepping
3. Watter rol behoort ons belydenis in God as Skepper en Herskepper te speel in:
- Ons teologie en prediking
- Ons kerkwees
6. Hulpbronne vir preke/Bybelstudie oor God as Skepper in die Psalms:
Die volgende twee artikels kan gebruik word as addisionele leesmateriaal met die oog op preke of Bybelstudie uit die Psalms oor die onderwerp van God as Skepper:[1]
1. Bellinger, W., 2023, 'The Psalms and creation theology', Word & World, 43(4), pp. 354-361.
2. Sutton, L., 2024, 'A chiastic opus to the Creator of "heaven and earth - earth and heaven": A spatial reading of Psalm 148 and Colossians 1:15-20', Acta Theologica, Supplementum 37, pp. 56-76.
7. Bibliografie
Bellinger, W., 1990. Maker of Heaven and Earth: The Old Testament and Creation Theology. Southwestern Journal of Theology, 32(2), pp. 27-35.
Bellinger, W., 2023. The Psalms and creation theology. Word & World, 43(4), pp. 354-361.
Crysdale, C. & Ormerod, N., 2015. Creator God. Sewanee Theological Review, 58(2), pp. 299-325.
Ham, T., 2013. The gentle voice of God in Job 38. JBL, 132(3), pp. 527-541.
Hyatt, J., 1967. Was Yahweh originally a creator deity?. JBL, 86(4), pp. 369-377.
Okamoto, J., 2024. Creation and hope: How the first article teaches us to live by hope. Concordia Journal, Volume Summer, pp. 35-45.
Sutton, L., 2024. A chiastic opus to the Creator of "heaven and earth - earth and heaven": A spatial reading of Psalm 148 and Colossians 1:15-20. Acta Theologica, Supplementum 37, pp. 56-76.
Van Selms, A., 1952. Lig uit Lig - Die Christelike geloof volgens die belydenis van Nicea. Kaapstad - Pretoria: HAUM.
Wood, D., 2012. Maker of heaven and earth. Journal of Systematic Theology, 14(4), pp. 381-395.