GEKRUISIG ONDER PONTIUS PILATUS: ’N LEWE IN DIE SKADU VAN DIE KRUIS (EN LIG VAN DIE OPSTANDING)
1. CHRISTUS GEKRUISIG
In 1 Korintiërs1 stel Paulus dit dat hy die ‘evangelie verkondig het’ (1 Kor 1:17), nie met retoriese welsprekendheid nie, maar deur die ‘woord van die kruis’ (1 Kor 1:18). Die inhoud van hierdie evangelie (εὐαγγέλιον, euangelion) word saamgevat as ‘Christus die gekruisigde een’ (1 Kor 1:23),2 wat Paulus verstaan as die ‘hart van die evangelie’ (Borg 2011:97; 2012:58). Vir Christene deur die eeue heen vorm die dood—én opstanding3—van Christus die deurslaggewende oomblik in die geskiedenis. Alhoewel verhale oor die sterftes van geëerde figure ook in ander godsdienste voorkom, is die dood van Christus meer as ’n historiese gebeurtenis; dit is ’n oomblik wat verandering meebring (Borg 2011:97). Paulus verwoord hierdie verandering in Romeine 6:1–4: gelowiges is dood vir die sonde (Rom 6:2) omdat hulle in Christus se dood gedoop is, en word ook ‘deur die heerlikheid van die God uit die dood opgewek’ tot ‘’n nuwe lewe’ (Rom 6:4; vgl. 2 Kor 5:17).4 Dit dui daarop dat die dood van Christus ’n radikaal nuwe vorm van bestaan meebring.
Alhoewel die kruisiging nie tot ’n blote historiese gebeurtenis gereduseer moet word nie, bly die belydenis dat Jesus ‘onder Pontius Pilatus gekruisig is’5 een van die mees sekere historiese gegewens wat ons van Jesus het (Green 2011:2383). Beide Josephus (Antiquitates 18.63–64) en Tacitus (Annales 15.44) bevestig Jesus se teregstelling onder Pilatus. Hierdie historiese gegewe dien as herinnering dat Jesus op ’n Romeinse kruis tereggestel is. Jesus se kruisiging onder Pilatus6 is deur en deur ’n politieke gebeure wat in die Nuwe Testament opgeteken is, aangesien die kruis ’n instrument van imperiale verskrikking (terror) was (Elliott 1997:167). Jesus is tereggestel vanweë Jesus se passie vir die heerskappy van God—’n heerskappy wat radikaal anders was as die Romeinse heerskappy.
Jesus se verkondiging van die heerskappy van God was inklusief, nie-gewelddadig, gekenmerk deur sorg vir almal, en gewortel in geregtigheid (Borg & Crossan 2008; Crossan 2007, 2010, 2015, 2019; Van Eck 2014a; 2014b). Hierdie boodskap het regstreeks ingegaan teen die Romeinse imperiale ideologie. Rome gebruik ook die term εὐαγγέλιον (euangelion) om die ideologie/teologie van die ryk te verkondig. Romeinse ‘goeie nuus’ was een van vrede wat deur militêre oorwinning gevestig is. Die Romeinse ryk is beskou as ’n ‘ryk sonder einde’ (Vergilius, Aeneas 1.278–279). Augustus, as keiser, is vereer as pater patriae (vader van die vaderland) en gesien as die bemiddelaar van goddelike seëninge. Die Priene-inskripsie (c. 9 v.C.) verkondig Augustus se geboorte as ‘die begin van die evangelie vir die wêreld’ (εὐαγγέλια, euangelia). Hy is nie net vereer as pater patriae nie, maar ook—soos verklaar deur Romeinse imperiale teologie—as ‘seun van God’, ‘verlosser van die wêreld’, en ‘heer’ (Van Eck 2014a:105). Pilatus, as die Romeins-aangestelde goewerneur van Judea, het hierdie imperiale ideologie verteenwoordig. Johannes 19:12 noem dat die die skare Pilatus waarsku dat indien hy ‘Jesus vrylaat’ hy nie as ‘’n vriend van die keiser’ beskou sal word nie, want ‘elkeen wat homself as koning uitgee, staan teen die keiser’ (Joh 19:12b). Al vier die kanonieke evangelies bevestig dat hierdie aanklag van koningskap op die kruis bo Jesus aangebring is (Matt 27:37; Mark 15:26; Luk 23:38; Joh 19:19; vgl. Schneider 1984).
Jesus het ’n ander evangelie verkondig—die evangelie van die God van Israel. Hier is dit nie die keiser nie, maar God wat daagliks voedsel voorsien (Matt 6:11; Luk 11:3). Die voed van die skare word nie aan keiser Tiberius toegeskryf nie, ten spyte daarvan dat die See van Galilea ook as die See van Tiberias bekend gestaan het (Joh 6:1; 21:1), maar aan God (Matt 14:19; Mark 6:41; Luk 9:16; Joh 6:11). Jesus se boodskap dat ‘die heerskappy van God ophande is’ (Matt 4:17; 10:7; Mark 1:14–15; Luk 10:9, 11) beklemtoon nie net die inklusiewe en God as beskermheer nie, maar ook die tydelike en ongeregtigde aard van Romeinse imperiale mag. Hierdie boodskap het verklaar dat Rome—en elke ryk soos dit—sou val, en dat ’n nuwe heerskappy van geregtigheid besig is om die wêreld in te dring.
Om Jesus as die gekruisigde Messias van die God van Israel te bely, tereggestel onder Pontius Pilatus, is om Rome se wrede waarskuwing te erken: enige alternatiewe evangelie sal met die dood beantwoord word (Green 2011:2393). Die kruisiging was Rome se boodskap an enige een wat durf hierdie ryk teenstaan. Hoewel moderne Christene nie meer onder Romeinse heerskappy leef nie, bly die daaglikse belydenis van Christus gekruisig ’n radikale verklaring. Dit beteken nie net bevryding van die sonde nie, maar ook ’n uitdrukking van lojaliteit en vertroue aan Christus se passie vir die heerskappy van God. Hierdie belydenis bevestig dat gelowiges geroep is om geregtigheid en deernis te beliggaam in ooreenstemming met God se wil (Van Eck 2014a:101).
Om in geloof te leef in die skadu van die kruis en die lig van die opstanding is om lojaliteit te betoon aan die evangelie van God soos dit in Jesus geopenbaar is. Só ’n lewe word gekenmerk deur vrede, sosiale harmonie, welsyn, barmhartigheid, deernis, geregtigheid, gesondheid, die gemeenskaplike beswil, en hoop vir almal (Van Eck 2014a:128). Die belydenis van die gekruisigde en opgestane Christus beteken meer as geloof in ’n historiese gebeurtenis. Dit is ’n verbintenis tot teenwoordige, veranderende optrede. Dit is ’n belydenis dat Christus onderdrukkende en gewelddadige sisteme ontbloot en dekonstrueer (Meylahn 2013; vgl. ook Wagner & Van Niekerk 2025; Žižek 2000).
NOTAS
11 Korintiërs is in ongeveer 55 n.C. geskryf, voor die evangelie-narratiewe, (Borg 2012:31; Wischmeyer 2012:161).
2Vgl. ook Romeine 5:6–10; 1 Korintiërs 1:18; 2:2; Galasiërs 2:19–20; 3:1; 6:14; Filippense 2:8; Kolossense 1:20; 2:14–15.
3Alhoewel, uit ’n teologiese perspektief behoort die kruisiging en opstanding van Jesus as ’n eenheid gelees word (die kruis kan nie los van die opstanding verstaan word nie), fokus hierdie bydrae spesifiek op die betekenis van Jesus se dood aan die kruis. In kort kan die verhouding tussen die twee gebeure soos volg opgesom word: die kruisiging verteenwoordig die magsinstansies se ‘nee’ vir die boodskap van Jesus. Die dominante magte—naamlik die Romeinse imperiale gesag en die tempel-elite (Van Eck 2014a; 2014b)—het Jesus se boodskap verwerp en, deur Jesus te kruisig, ook die tipe heerskappy van God soos verkondig deur Jesus verwerp. Volgens Romeinse reg is Jesus regmatig gekruisig. Die opstanding, daarenteen, dui op God se bevestiging van Jesus as die ware en betroubare bemiddelaar tussen God (die beskermheer) en die mensdom (God se kliënte). Die opstanding is God se duidelike ‘ja’ tot Jesus. In totaliteit vorm kruisiging en opstanding ’n enkele gebeurtenis wat die gewelddadigheid van die Romeinse wet as onregverdig ontbloot, en sodoende die ideologiese fondamente van die Romeinse Ryk ondermyn (vgl. Meylahn 2009, 2013; sien ook Wagner & Van Niekerk 2025). Soos Paulus dit stel in 1 Korintiërs 1:18: ‘Die woord van die kruis is dwaasheid vir dié wat verlore gaan, maar vir ons is dit die krag van God.’
4Vir ’n onlangse ontleding van Romeine 6:1–4 en Romeine 5–8 in geheel, sien Potgieter (2020:88–96). In hierdie studie bied Potgieter (2020:10–15) ’n kultureel-sensitiewe noukeurige lees van die Griekse teks van Romeine 5–8, met gebruik van konseptuele metafoor-teorie. Onder andere, is een van die kern bydraes van die studie die bewusmaking dat metaforiese taal nie beteken dat metafore bloot beeldspraak is nie. Inteendeel, metafore vorm kognitiewe kaarte (modelle) van die werklikheid, en voorsien dus die konseptuele raamwerke waardeur mense hul wêreld interpreteer en verstaan. Kortliks: die krag van metafore as kognitiewe kaarte wat die werklikheidsbeeld vorm en dus ook optrede beïnvloed, word hier beklemtoon.
5Die jaar 2025 merk 1700 jaar sedert die Konsilie van Nisea in 325 n.C.—algemeen bekend as die ‘Niseno-Konstantinopolitaanse’ Konsilie. Hierdie vergadering het die grondslag gelê vir die wyd gebruikte Geloofsbelydenis van Nisea, wat in 381 n.C. uitgebreid en ’n finale vorm bereik het. In die weergawe van 325 word bloot gesê dat Christus ‘gely het’, gevolg deur verwysing na sy begrafnis en opstanding. Die frase ‘onder Pontius Pilatus’ is eers in die uitgebreide weergawe van 381 ingevoeg (Kategismus van die Katolieke Kerk §195; Kim 2021; Edwards 2021). Al noem die 325-belydenis slegs dat Christus gely het, is dit steeds belangrik om te let dat daardie lyding die gevolg is van Jesus se passievolle verkondiging van die heerskappy van God—’n heerskappy wat ten diepste in stryd was met beide die Romeinse Ryk en die tempel-elite (vgl. Borg & Crossan 2008).
6Tacitus verwys, vanuit die perspektief van die administratiewe titels van sy eie tyd (ca. 110–112 n.C.), anakronisties na Pilatus as ‘prokurator’ (procuratorem). ’n Klipinskripsie wat dateer uit ongeveer 30 n.C. identifiseer Pilatus egter nie as prokurator nie, maar as praefectus Iudaeae (prefek van Judea; vgl. ook Matt 27:2; Green 2011:2388).
Borg, M. & Crossan, J.D., 2008, The last week: What the gospels really teach about Jesus’s final days in Jerusalem, SPCK, New York.
Borg, M.J., 2011, Speaking Christian: Recovering the lost meaning of Christian words, SPCK, New York.
Borg, M.J., 2012, Evolution of the word: The New Testament in the order the books were written, HarperOne, New York.
Crossan, J.D., 2007, God and empire: Jesus against Romen, then and now, HarperOne, New York.
Crossan, J.D., 2010, The greatest prayer: Rediscovering the revolutionary message of the Lord’s prayer, HarperOne, New York.
Crossan, J.D., 2015, Jesus and the violence of scripture: How to read the bible and still be a Christian, SPCK, New York.
Edwards, M.J., 2021, ‘The creed’, in Y.R. Kim (ed.), The Cambridge companion to the council of Nicaea, pp. 135–157, Cambridge University Press, Cambridge.
Elliot, N., 1997, ‘The anti-imperial message of the cross’, in R.A. Horsley (ed.), Paul and empire: Religion and power in Roman imperial society, pp. 167–183, Trinity Press, Harrisburg.
Green, J.B., 2011, ‘The death of Jesus’, in T. Holmén & S.E. Porter (eds.), Handbook for the study of the historical Jesus: The historical Jesus, Vol. 3, pp. 2383–2408, Brill, Leiden.
Kim, Y.R., 2021, ‘Introduction’, in Y.R. Kim (ed.), The Cambridge companion to the council of Nicaea, pp. 1–16, Cambridge University Press, Cambridge.
Meylahn, J-A., 2009, ‘Oikonomy: Towards the impossible possibility of justice in the context of globalisation’, Dutch Reformed Theological Journal 50(1&2), 148–159.
Meylahn, J-A., 2013, ‘Divine violence as auto-deconstruction: The Christ-event as an act of transversing the neo-liberal fantasy’, International Journal of Žižek Studies 7(2), 1–19.
Potgieter, A., 2020, ‘Contested body: Metaphors of dominion in Romans 5–8’, HTS Religion and Society Series, Vol. 7, AOSIS, Cape Town. https://doi.org/10.4102/aosis.2020.BK248.01.
Schneider, G., 1984, ‘The political charge against Jesus (Luke 23:2)’, in E. Bammel & C.F.D. Moule (eds.), Jesus and the politics of his day, pp. 403–414, Cambridge University Press, Cambridge.
Van Eck, E., 2014a., ‘Mission, identity, and ethics in mark: Jesus, the patron for outsiders’, in J. Kok, T. Nicklas, D.T. Roth & C.M. Hays (eds.), Sensitivity towards outsiders: Exploring the dynamic relationship between mission and ethics in the New Testament and Early Christianity, pp. Mohr Siebeck, Tübingen.
Van Eck, E., 2014b, ‘Inclusivity as the essential nature of the gospel’, in J. Kok & J.A. Dunne (eds.), Insiders versus outsiders: Exploring the dynamic relationship between mission and ethos in the New Testament, pp. 49–84, Gorgias Press, Piscataway.
Wagner, M.A. & Van Niekerk, R.J., 2025, ‘Testifying to Christ crucified: The crucifixion as deconstructing event’, [in voorbereiding].
Wischmeyer, O., 2012, ‘1 Corinthians’, in, O. Wischmeyer (ed.), Paul: Life, setting, work, letters, pp. 149–172, T&T Clark, London.
Žižek, S., 2000, The fragile absolute or why is the Christian legacy worth fighting for?, Verso, London.
Robert J. van Niekerk
Universiteit van Pretoria
Departement Nuwe Testament en Verwante Literatuur
john.vanniekerk@up.ac.za