Die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye/eeue
Ons bely: “Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye.” Maar wat beteken dit regtig?
1. Nie ’n mitologiese Seun nie
In die ou Griekse wêreld was daar baie verhale van helde wat kinders van gode was – half-mense, half-gode. Maar die Jesus wat ons bely as Seun van God is iets totaal anders. Hy is nie ’n mitiese figuur nie. Ons belydenis is nie ’n storie soos dié van Herakles of Achilles nie. Dit is nie iets tussen fantasie en geskiedenis nie – dit is waarheid wat ons geloof vorm.
Toe Petrus bely: “U is die Christus, die Seun van die lewende God,” sê hy nie Jesus is soos een van die Griekse gode se kinders nie. Nee – hy sê: Jesus ís God self. Nie ’n afgeleide goddelikheid of ’n hemelse helper nie, maar die lewende God in ons midde.
2. Wat beteken “Seun van...” in die Bybel?
In Hebreeuse en Ou-Testamentiese denke beteken "seun van..." nie noodwendig afstamming soos ons dit verstaan nie. Dit wys op identiteit. As iemand "seun van die koning" genoem is, beteken dit: hy is self koning. As iemand genoem word "seun van die timmerman", beteken dit: hy ís die timmerman.
So wanneer Jesus die Seun van God genoem word, sê die Bybel nie Hy is ‘minder as’ God nie, maar dat Hy self God is. Dit is nie ’n tweede figuur wat uit God ontstaan het nie. Dit is ’n belydenis van volle identiteit met God die Vader.
3. Hoe het Petrus dit geweet?
Jesus self sê: “Vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader in die hemel.” Geloof in Jesus as Seun van God kom nie uit logiese redenasie nie, maar uit openbaring. Dit is die werk van die Heilige Gees in die hart van die gelowige. Dit is ’n wonder van geloof – en dit gebeur nog steeds, ook in ons harte.
4. Die Ou Testament het reeds na Hom gewys
Die idee dat God by sy mense sou kom woon, is nie nuut nie. Die profete het dit voorspel. In die Ou Testament lees ons van Immanuel – God met ons – en van die stad wat genoem sal word: “Die HERE is daar.” Jesaja sê selfs: “’n Kind is vir ons gebore ... en sy naam is Ewige Vader, Vredevors.”
Die Ou Testament se hoop en afwagting het gekonsentreer op Een wat sal kom – nie bloot 'n priester of koning of profeet nie, maar God self. In Jesus Christus glo ons dat hierdie verwagting vervul is.
5. Wat beteken “eniggebore”?
Die woord "eniggebore" wys nie op geboorte in ’n tyd of op 'n fisiese proses nie. Dit beteken uniek, enig in sy soort, en dra die klank van liefde. Die Vader het die Seun van ewigheid af lief – Hy is die eniggebore, geliefde Seun. Hierdeur word ook onderskei tussen Christus en enige geskape wese: Hy is nie een van vele nie. Hy is die Een, uniek en verhewe.
6. “Gebore uit die Vader voor alle eeue” – hoe verstaan ons dit?
Hier bely ons iets diep en moeilik: dat Jesus as Seun van God nog altyd bestaan het. Daar was nooit ’n tyd toe Hy nie was nie. Daar was nooit ’n oomblik toe die Vader bestaan het sonder die Seun nie. Die kerk het dit later saamgevat in die woorde van die Athanasius-belydenis: “Die Vader was nooit sonder die Seun nie.”
Die Seun is nie gemaak of geskep nie. Hy is van ewigheid af “gebore” – maar nie soos ons geboorte verstaan nie. Hierdie “geboorte” wys op ’n ewige verhouding van liefde en eenheid tussen die Vader en die Seun. Dis iets wat ons nie met ons gewone woorde kan verklaar nie, maar wat ons met verwondering en geloof kan bely.
7. God se liefde in die Drie-eenheid
Wanneer ons sê Jesus is die Seun, gebore uit die Vader, sê ons iets oor hoe liefde binne God self werk. In die hart van God is daar van ewigheid af 'n liefdevolle verhouding – Vader, Seun en Gees. Dit is nie ’n statiese God nie, maar ’n lewende, liefhebbende God in beweging.
Hierdie verhouding is nie onderling in rang of tyd nie. Die Vader het nie eers bestaan en toe die Seun voortgebring nie. Hulle bestaan saam – in volmaakte eenheid en liefde – van altyd af.
8. Woorde kan nie alles sê nie
Hierdie dinge is moeilik om in gewone taal vas te vang. Ons gebruik beelde soos “vader” en “geboorte”, maar dit is net maniere om iets van die waarheid aan te dui. Ons mag nie hierdie beelde verabsoluteer nie. Die misterie van God is groter as ons begrip – maar nie groter as ons geloof nie.
Daarom het die kerk in haar wysheid maar bly gebruik maak van die beste woorde wat sy kon vind – al is dit soms tegnies of selfs verwarrend. Ons verstaan dalk nie alles volledig nie, maar ons weet dit is waar, want dit word geopenbaar deur God self.
Slotgedagte: Die eerste en die laaste
Jesus is die eerste en die laaste. Daar is niemand voor Hom nie – en ons wag ook op geen ander nie. Hy is die vervulling van alles. Hy is die Een na wie die Ou Testament uitgereik het, en die Een wat vandag nog koninklik regeer.
Wanneer ons bely: “die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle eeue,” sê ons met verwondering: Hy is God. Hy is liefde. Hy is die een wat ons red – van altyd af, tot altyd toe.