Die Kerkraad
Kommissies en hul werksaamhede
Kommissies en hul werksaamhede
Die Kerkraad as regspersoon bestaan uit die leraars, voorsitters en ondervoorsitters van die verskillende kommissies, asook die dames van die kerkkantoor. Hul verantwoordelikhede sluit die beplanning, organisering, koördinering, leiding, en beheer oor alle gemeentelike aktiwiteite in, met ‘n fokus op die opdrag en roeping van Harmonie. Kontak gerus die kerkkantoor indien jy betrokke wil raak by enige van die kommissies.
Kommissie vir Administrasie
Voorsitter: Gert Kruger
Ondervoorsitter: Johan du Toit
Die Kommissie het 'n interne en eksterne funksie.
Intern fokus dit op die bestuur van administrasie, personeel, bestuur en finansies om effektiewe funksionering van die gemeente te verseker.
Ekstern word 6% van die inkomste aan die NK Sinode oorbetaal en 1% aan die Ring van Kimberley.
Wat finansiële beleid en prosedure betref, word fondse ingesamel vir die gemeente se bedryf- en bedieningsverantwoordelikhede deur middel van kollekte, ACB, internetbetalings, debietorders, basaar, jaarlikse dankofferfees, en funksies soos wild- en wynveilings en die Kuier-Kuier Kersmark.
Lidmate dra self by tot hul maandelikse dankoffers, of kan reël dat dit deur die kerkkantoor afgehaal word.
Jaarliks word begrotings vir inkomste en uitgawes opgestel en die finansiële jaar loop van begin Maart tot einde Februarie. Finansiële state, wat jaarliks geoudit word, is by die kerkkantoor beskikbaar vir insae, en enige navrae kan aan die voorsitter van die kommissie gerig word.
Kommissie vir Ampsbediening en Diensverhoudings
Voorsitter: Riaan Bode
Ondervoorsitter: Bernard Fourie
Die funksie van die ampsbediening is om die struktuur en werksaamhede van die bediening te beplan, te rig, te koördineer, leiding te gee en uit te voer. Dit sluit in voortdurende motivering, toerusting, die beskikbaarstelling van hulpmiddels, en die bemagtiging van gemeenteleiers om hul roeping en taak doeltreffend te vervul.
Onder die ampsbediening val:
Omgeegroepbediening: Omgeegroepe ondersteun en bevorder geestelike groei deur gebed, lofprysing en sosiale kontak, insluitend bybelstudie, breiklubs en jeugbyeenkomste.
Diakonale bediening: Ondersteun lidmate in nood, siekte, en krisisse en voorsien kospakkies aan behoeftige gesinne.
Predikante en personeelbediening: Versorg predikante en personeel se geestelike en fisiese behoeftes.
Senior burger omgeebediening: Sorg vir die geestelike en fisiese behoeftes van senior lidmate, met ’n weeklikse Bybelstudie by Minerva Gardens.
Pastorale bediening: Ondersteun die gemeente se pastorale behoeftes met ’n span van beraders, predikante en omgee-lidmate.
Kommissie vir Eiendom
Voorsitter: Pieter van Eck
Ondervoorsitter: Derick Payne
Die kommissie bestaan uit twee ouderlinge (voorsitter en ondervoorsitter), die koster, en ’n leraar wat ex officio dien. Lede kan ook gekoöpteer word indien nodig. Die dagbestuur bestaan uit die voorsitter, ondervoorsitter, koster en leraar.
Die kommissie neem verantwoordelikheid vir die instandhouding, beheer, herstel, diens en netheid van die onroerende en roerende eiendom soos van toepasing.
In die kerkkantoor is ’n boek beskikbaar waarin enige defekte, herstelwerk of probleme met betrekking tot die gemeente se eiendom en toerusting aangemeld kan word, sodat dit onder die koster se aandag gebring word. Lidmate word hartlik uitgenooi om enige probleme self in die boek aan te teken, of hulle kan die kerkkantoor kontak en versoek dat die saak namens hulle geregistreer word.
Kommissie vir Kommunikasie
Voorsitter: Richard Roberts
Ondervoorsitter: Antonie Stols
Die kommissie is verantwoordelik vir die voortdurende ontwikkeling en implementering van ’n effektiewe kommunikasiestelsel om seker te maak dat die gemeente volledig ingelig is oor alle aktiwiteite en gebeure. Dit sluit in elektroniese kommunikasie, sosiale media, aankondigings, en die opneem en verspreiding van eredienste via ons YouTube-kanaal.
Verder bemark die kommissie ook aktiwiteite en projekte binne en buite die gemeente en bewaar die gemeente se geskiedenis deur belangrike gebeure op sosiale media te deel en elektronies te argiveer.
Raak betrokke:
Ons nooi almal met ervaring of wat belangstel in tegnologie en klank om deel te word van ons tegniese span tydens eredienste en ander funksies. Navrae, voorstelle en idees kan aan die voorsitter van die kommissie gerig word.
Kommissie vir Woordbediening
Voorsitter: Elmarie du Toit
Ondervoorsitter: Amanda Bothma
In die NG Kerk se geskiedenis het die bediening van die Woord altyd sentraal gestaan. In Kimberley-Harmonie bou ons voort op hierdie tradisie, omdat ons glo dat die Woord van die Here die belangrikste plek in ons bediening moet inneem. Deur die Woord hoor ons die evangelie, leer ons die liefde van God ken, verstaan ons Jesus se verlossing, en word ons deur die Heilige Gees gelei en getroos.
Die kommissie ondersteun die leraars in die bediening en die organisering van spesiale dienste soos Kersfees, Paasfees en Pinkster, en help ook met die beplanning van liturgiese behoeftes vir die eredienste.
Midweek Bybelstudie
Elke Woensdag is daar twee geleenthede om aan Bybelstudiegroepe deel te neem, een om 10:00 en een om 18:00 in die kerk. Materiaal word vooraf voorsien en almal is welkom om aan te sluit.
Lidmate met ’n passie vir hierdie bedienings kan by die groep aansluit.
Familiebediening
Voorsitter: Eljoh Koortzen
Ondervoorsitter: Anneri Liversage
Die doel van die kommissie is om kinders en gesinne te ondersteun in hul geloofsgroei deur hulle te help om ’n lewende verhouding met Jesus Christus te ontwikkel en om God as die middelpunt van die gesin te plaas, wat tot aktiewe betrokkenheid by die gemeente lei.
Kategese: Kategese bied ondersteuning aan verbondsouers in hul taak om hulle kinders in die geloof op te voed, terwyl die primêre verantwoordelikheid steeds by die ouers bly. Alle kinders woon die begin van die erediens by saam met hul ouers, waarna hulle tydens die kinderkerk in die lapa bymekaar kom.
Junior Kategese: Kinders in Gr. 1-5 verdeel na die kinderkerk in kleiner klasse onder leiding van kategete om die les prakties toe te pas. Die klasse eindig om 10:30.
Senior Kategese: Gr. 6-8 woon die volledige erediens by saam met hulle ouers en verdaag daarna vir kategese, waar hulle in groepe saam met hul kategeet werk tot 10:40.
Belydenisklas(Woordskool): Gr. 9-11 leerders woon die belydenisklas by, onder leiding van ’n leraar in ’n driejaae-siklus, wat die predikante deurlopend betrokke hou by hierdie groepe.
Missionalebediening
Voorsitter: Conrad Pretorius
Ondervoorsitter: Strauss Jordaan
Bybelverspreiding
Ons versamel Bybels om aan mense sonder Bybels te versprei en ondersteun die Bybelgenootskap se versoeke.
Hospitaalbediening
Elke week word toebroodjies, koffie, tee en sop uitgedeel by die Onkologie-afdeling en Kindersale van die Provinsiale Hospitaal. Bybels word aan pasiënte gegee, en ondersteuning en berading word aan pasiënte en gesinne verskaf.
Harmonie Breigroep
Elke Dinsdagoggend kom ons breigroep bymekaar, en die gebreide items word aan Kimberley Provinsiale Hospitaal se kraamafdeling geskenk, veral vir premature babas.
Nepalbediening
Twee lidmate doen sendingwerk in Nepal. Ons bid vir hulle en verkoop jaarliks kalenders as fondsinsameling.
Ons Huis Aftree-Oord
Ons werk saam met die ACVV by Ons Huis Aftree-Oord, waar ons finansiële hulp en gereelde besoeke bied. Maandeliks bring ons toiletware en beskuit vir die inwoners.
Sally Aucamp
Ons besoek Sally Aucamp, Huis vir Gestremdes weekliks vir die ontwikkeling van klein en groot motoriese beweging, spelterapie en sosiale ontwikkeling.
Verhoudingsbediening
Die Verhoudingsbediening van die gemeente bestaan uit vier aksiegroepe:
Vroue met Vreugde
Voorsitter: Anita de Klerk
Ondervoorsitter:
Hierdie groep vroue fokus op geselllige byeenkomste om die vroue van ons gemeente, sowel as vroue buite die gemeenskap, sosiaal en emosioneel te bedien en te bederf. Hierdie komitee organiseer funksies soos, o.a. ’n Winterkersfees-ete, Potjiekos-proe-aande, ‘n damesoggend,’n Moedersdagete en die Kuier-Kuier Kersmark.
Manne-aksie
Voorsitter:
Ondervoorsitter: Edrich Lubbe
Hierdie groep organiseer wilds- en wynveilings, asook ander funksies en manne-aande en gebruik die fondse om projekte soos die Lapa en sonkragstelsel te befonds.
Aksie Goue Jare
Voorsitter: Paul Kruger
Ondervoorsitter: Ester Kruger
'n Aksie wat fokus op die samesyn van lidmate ouer as 65, met 'n kwartaal funksie waar daar oor aktuele sake gepraat word.
KMK - Jong lidmaat aksie
Voorsitter: Danie Hanekom
Ondervoorsitter: Dinette van der Spuy
Hierdie groep reël sosiale geleenthede vir jonger lidmate (ouer as 18) wat gekenmerk word deur saamkuier, lofprysing, en ’n boodskap.
Logistieke Diensgroep
Voorsitter: Hannes Louw
Ondervoorsitter: Jan le Roux
Die logistieke diensgroep is verantwoordelik vir die logistieke steun aan al die aktiwiteite wat deur Kimberley Harmonie aanbied word. Die diensgroep werk nou saam met die Eiendom kommissie, Vroue met Vreugde en Manne-aksie en is verantwoordelik vir die verkryging, beheer en instandhouding van alle bedryfsitems en toerusting wat Kimberley Harmonie benodig om ‘n doeltreffende logistieke steun te lewer.
Diakonalebediening
Voorsitter: Fernette Fourie
Ondervoorsitter: Annamarie Ellis
Die Diakonale Bediening ondersteun gemeentelede wat onder finansiële druk verkeer deur te help met hul basiese maandelikse behoeftes. Die kospakkieprojek is een van die maniere waarop ons kruideniersware insamel om vir hierdie gesinne te sorg. Enige finansiële bydrae of skenking van kruideniersitems word met groot dankbaarheid ontvang.