Newton se eerste, tweede en derde bewegingswette
Stel Newton se eerste bewegingswet: 'n Liggaam sal in sy toestand van rus of beweging teen konstante snelheid volhard tensy 'n nie-nul resulterende/netto krag daarop inwerk.
Definieer traagheid as die weerstand van 'n voorwerp teen enige verandering in sy
toestand van beweging. Die massa van 'n voorwerp is 'n kwantitatiewe maatstaf van sy traagheid.
Bespreek waarom dit belangrik is om veiligheidsgordels te dra deur Newton se eerste bewegingswet te gebruik.
Stel Newton se tweede bewegingswet: Wanneer 'n resulterende/netto krag op 'n voorwerp inwerk, sal die voorwerp in die rigting van die krag versnel teen 'n versnelling direk eweredig aan die krag en omgekeerd eweredig aan die massa van die voorwerp.
In simbole: a α Fnet, konstante m en a α m, konstante Fnet, en dus Fnet = ma
Teken kragtediagramme en vrye kragtediagramme vir voorwerpe wat in ewewig is of wat versnel.
Pas Newton se tweede bewegingswet op 'n verskeidenheid ewewigs- en nie-
ewewigsprobleme toe wat insluit:
'n Enkele voorwerp:
- Wat op 'n horisontale vlak beweeg met of sonder wrywing
- Wat op 'n skuinsvlak beweeg met of sonder wrywing
- Wat in die vertikale vlak beweeg (hysbakke, vuurpyle, ens.)
Twee-liggaam-sisteme (wat met 'n ligte nie-rekbare tou verbind is):
- Beide op 'n plat horisontale vlak met of sonder wrywing
- Een op 'n horisontale vlak met of sonder wrywing en 'n tweede wat vertikaal
hang aan 'n tou oor 'n wrywingslose katrol
- Beide op 'n skuinsvlak met of sonder wrywing
- Wat beide vertikaal hang aan 'n tou oor 'n wrywingslose katrol
LET WEL: Wanneer 'n voorwerp versnel, moet die vergelyking Fnet = ma apart in
die x- en y-rigting toegepas word. Indien daar meer as een voorwerp is, moet 'n
vrye kragtediagram vir elke voorwerp geteken word en Newton se tweede wet
moet op elke voorwerp afsonderlik toegepas word.
Stel Newton se derde bewegingswet: Wanneer voorwerp A 'n krag op voorwerp B
uitoefen, oefen voorwerp B GELYKTYDIG 'n krag van gelyke grootte in die
teenoorgestelde rigting op voorwerp A uit. (Die kragte is dus 'n interaksie tussen twee liggame.)
Identifiseer Newton III-kragpare (aksie-reaksiepare) en noem die eienskappe van die kragpare (aksie-reaksiepare). Wanneer die kragte geïdentifiseer word, moet dit duidelik genoem word watter liggaam 'n krag op watter liggaam uitoefen en watter tipe krag dit is, bv. die aarde oefen 'n afwaartse gravitasiekrag op die voorwerp uit, en die voorwerp oefen 'n opwaartse gravitasiekrag van gelyke grootte op die aarde uit.