Op hierdie bladsy / On this page:
Didelta carnosa var. tomentosa het aan die begin van Augustus hulle gesiggies begin wys. Hulle groei welig in die duinehabitat langs die see. Mens sien hulle veral teen die duine buite Struisbaai op pad L' Agulhas toe. Gedurende September lewer hulle 'n skouspel naby die soldatepoel na die punt se kant toe. In Engels heet hulle Hairy Salad Bush en in Afrikaans Harige Kusslaaibos of Harige Seegousblom. Die groot geel daisy blomme en silwer blare maak van hulle die ideale blomme vir 'n kustuin en boonop is hulle windbestand en waterwys.
Leucospermum truncatum (Aug - Des) Hierdie laaggroeiende speldekussing speel ’n belangrike rol in die fynbos-ekosisteem. Sy helder oranje blomme is ryk aan nektar en lok suikerbekkies, suikervoëls en ander voëls wat help met bestuiwing. Bye en ander insekte besoek ook die blomme. Die kalksteenspeldekussing help ook om sand en grond te stabiliseer en dra ook by tot die gesondheid en veerkragtigheid van die hele fynbos-ekosisteem. Jy sal hulle op Struisbaai sien as jy oor die kop OK toe ry. Hulle groei veral aan die linkerkant van die pad.
Helichrysum retortum (Flask Everlasting of Seestrooiblom) is ‘n laaggroeiende sewejaartjie. Hulle het silwer blaartjies en blink wit blommetjies met pienk/maroon puntjies. Die strooiblommetjies is nou aan die oopgaan, langs die plankepaadjie, oppad na die suidste punt op L' Agulhas in die Nasionale Park. Die Helichrysum-spesies is inheems en deel van die fynbos van die Wes-Kaap. Hulle groei graag naby die see op klipperige duinesand.
Agathosma collina Hierdie Duineboegoe met sy helder geel-groen blare is 'n geharde struik wat in Oktober begin blom en aanhou tot Aprilmaand. Hulle kom algemeen op kalksteenkoppies voor asook in duineveld waar hulle help om die duine te stabiliseer. Jy sal dit in groot getalle vind as jy met Zoetendalstraat langs ry. Dit groei al langs die voet van die Agulhasberg. Dit staan nie bekend vir enige medisinale waarde nie, maar wel vir sy pragtige vertoning in die veld en selfs in tuine.
Satyrium cranium (Sept - Nov) Rootrewwa / Pink Satyr Orchid is 'n geharde meerjarige plant. Hulle staan nou in volle blom en kan oral in die veld en selfs langs strate en in tuine gesien word. Dit hou van sanderige grond, maar kom ook voor in kalksteengebiede. Die plant dra 'n klomp ligpienk tot rosige blommetjies wat styf ingeryg teen die steel sit. Vanweë kusontwikkeling, indringerspesies en ondeurdagte stroping van die plante, het getalle baie afgeneem.
Syncarpa argyropsis Hierdie Witsewejaartjie blom nou en as mens opkyk teen die Agulhasberg kan jy jou verbeel dat dit wit skape is wat daar teen die hange wei.
Van nader beskou is dit 'n digte struikie met silwer-grys blare. Op die oomblik is dit oortrek met spierwit papieragtige blomme wat geel is in die middel. Die struikie kan tot 70cm hoog raak en blom van Sept tot Des.
Ferraria crispa is 'n meerjarige plant en geofiet wat tot die genus Ferraria behoort en is deel van die fynbos.. Dit word ook die Spinnekopblom of Starfish Lily genoem.
Hulle blom van Julie tot Okt. Ek vind hulle hier op L' Agulhas op erwe waar daar nog nie gebou is nie. Die blomme is roomkleurig met bruin spikkels en die blomblare is gekartel. Die blare is 'n valerige liggroen en is diggepak op die blomsteel. Die blom leef net 'n paar uur wanneer die son lekker warm skyn. Die blom se reuk lok vlieë en brommers. Die stuifmeel is presies op die regte plek op die blom, sodat dit op die brommer se rug kan vassit, gereed vir bestuiwing.
Waarlik 'n baie besonderse plant, so jammer dit word voor die voet uitgestoot wanneer daar op 'n erf gebou word.
Disa cornuta (Golden Orchid of Inkspot Disa) is een van die stewige disa's.
Ek het hulle op twee plekke in Struisbaai raakgeloop. Hulle groei tot 70cm hoog. Die blare is swaardvormig en die stam stewig en regop. Die blomme het kort blomsteeltjies en kyk effens af. Die boonste kroonblaar is ligpers, vandaar die naam Inkspot Disa. Die ander twee blomblare is silwer-wit met 'n swart oog. Van naby beskou, 'n pragtige blommetjie.
Hulle begin in die lente blom en jy sal nog tot in Februarie van die blomme kan sien.