Die Jeugkerk het in Februarie 2024 as 'n gesamentlike erediens spesiaal vir jongmense (met fokus op tieners en jong volwassenes) begin. Die NHKA Oos-Londen en NG Gemeente Nahoon, het besluit om kragte saam te span om hierdie inisiatief te begin.
Ons glo vas dat deur hande te vat met ons jongmense ons die toekoms van die kerk nuut kan verbeel. Ons wil in 'n taal en medium kommunikeer wat jongmense verstaan en maklik by kan tuis voel. So wil ons hê dat elke jongmens moet weet dat die kerk van Jesus Christus ook vir hulle bedoel is.
Ons vier graag saam met ons jongmense die roetemerkers in hulle lewe. Daarom het ons die Graad 7 Skoolverwisselingskamp in die lewe geroep. Daarmee wil ons Graad 7's se groot mylpaal saam met hulle vier en hulle help om as gelowiges sin van die nuwe seisoen van hulle lewe te maak.
Ons doel met die Graad 7 Skoolverwisselingskamp is om jongmense te help om hulself ook geestelik vir die nuwe seisoen (hoërskool) van hulle lewe voor te berei.