deur Coleen Spadonie
Die Weerligstraal deur Coleen Spadonie is ‘n boek wat die leser op vreemde en dalk bekende paaie neem.
“Om gesond te raak is ‘n proses” (Past. Ferdinand)
Helena die hoofkarakter en verteller van die verhaal, neem die leser op haar reis van ‘n bose verslawing. – Drank. Elke dag is ‘n herhaling van die vorige; net genoeg leë bottels vir die volgende bottel ‘fix’ drank wat haar kan verlos van die onthou en die dink.
Dan gebeur die ondenkbare; sy word in die hospitaal wakker na ‘n nag van amper dood van drank. Van hier af ontmoet ons die mense wat Helena bystaan. Die belangrikste figuur in hierdie verhaal is God, want sonder Hom sou sy nie haar verhaal met ons kon deel nie.
Ons leer ook vir Auntie Katrina en Pastoor Ferdinand ken. Dan word Helena Universiteit toe gestuur en hier kom Fiona en Ben ook in haar lewe. Op ‘n vreemde wyse pas hierdie mense soos legkaartstukkies in by haar lewe. Gaan Helena se lewe na haar ondervinding in die hospitaal verander, of gaan sy terugval in die ou weë?
Met die lees van Helena se verhaal, het ek ernstige bedenkinge gehad. Kan dit waar wees dat ‘n drankverslaafdes oornag kan verander? Nadat ek self met gewese drankverslaafdes gesels het, het ek besef dat dit wel moontlik is met God se Genade en ‘n sterk sielkundige wilskrag. Vir sommige mense mag dit ongeloofwaardig klink of wees, tog kry ek die gevoel dat die skrywer hiermee baie goeie getuienis lewer. Dit bring emosies na vore wat die leser boei en gevange hou. Die taalgebruik is eie aan die skrywer en word met deernis en begrip aangebied. Die gebruik van aanhalings uit die Bybel, wat deur die karakters soos, Auntie Katrina gebruik word, laat die verhaal geloofwaardig voorkom. ‘n Boeiende boek wat die leser uitdaag om dieper as die oppervlak te kyk. Wat vir my opvallend was, is hoe die skrywer dit regkry om God se Liefde en Genade teenoor die mens vas te vang. ‘n Lewendige getuienis van ‘struggles’ en vrymaking van verslawing. Die verhaal van lag, trane van verlies en nog meer. ‘n Klimaks vind plaas wanneer die spinnerak van gebeure ‘n verrassende einde bereik.
Hierdie keurige boek is die moeite werd om te lees en te geniet.
RESENSENT: A Hills - Onafhanklike Resensent van Afrikaanse boeke
deur Coleen Spadonie
Hierdie is nie sommer so 'n boek nie. Hierdie boek is haar eie verhaal waar sy die leser op 'n spesiale pad saam met haar vat. 'n Pad vol dorings-ongekende paaie van emosionele mishandeling, egskeiding en verliese van mense en dinge. Al hierdie dinge wat met mense gebeur, veroorsaak leemtes in hulle lewens. Colleen vertel in hierdie boek van háár leemtes en hoe sy dit reg gekry het om hierdie leemtes te vul. Geloof, Hoop en Liefde = Karoo Leemte.
Hierdie boek is duidelik met eerlike en rou emosies geskryf. Colleen se taalgebruik is goed en sy gebruik ryke beskrywings om uiting te gee aan haar gevoelens en emosies. Dit is duidelik dat veral momente van spanning en konflik in haar verhaal, intens emosioneel en ideologies gelaai is. 'n Uitdagende en buitengewone verhaal van 'n vrou wat deur die vleismeule van die lewe gemaal is, en tog sterker anderkant uitgekom het.
Mag hierdie boek 'n aanwins wees vir elke vrou wat deur die harde storms van die lewe gaan.
RESENSENT
A Hills- Onafhanklike Resensent van Afrikaanse boeke
deur Coleen Spadonie
“Met tyd sien ons gewoonlik watter legkaartstuk waar pas. Soms is ons só haastig, dan neem ons verkeerde besluite en sodoende neem die legkaart langer as wat dit moet.” (Coleen S)
In hierdie verfrissende en anderste verhaal neem Coleen Spadonie die leser op ‘n interessante reis van Annemarie Wessels se lewe.
Nadat sy matriek geskryf het, bly haar ma aan haar karring – “Jy moet opstaan en gaan werk soek, want op my nek gaan jy nie lê nie.” (bls 7). ‘n Hewige rusie ontstaan tussen haar en Mamma. Annemarie trek uit en gaan woon by haar ‘high school lover,’ Josh. Aanvanklik is hulle heel gelukkig, kom tot trou en sy geniet die getroude lewe. Dan word die mat onder haar voete uitgeruk…
Deur ‘n goeie vriendin, Rose, kry Annemarie werk by ‘n weeshuis, Elshaddai. Katie, ‘n spesiale dogtertjie wat in ‘n rolstoel sit en gediagnoseer is met bipolêre gemoedsversteuring, steel Annemarie se hart. Wanneer sy na Katie kyk, lyk dié so bekend en voel dit asof sy haar alreeds ken. (bls 67) Dan gebeur daar ‘n rits voorvalle wat beide Annemarie en Katie se lewens omvêrgooi. Wie is Sonia en gaan die legkaartstukkies in plek val?
Coleen Spadonie se skryfstyl is eie - aard, boeiend en deurspek met interessante en geloofwaardige karakters. Die behendige wyse waarop sy haar teks rangeer dui daarop dat sy haar navorsing goed gedoen het en haar onderwerp goed verstaan. Die storielyn bly regdeur vloeiend. Coleen kry dit reg om met fyn sinspeling ‘n goeie balans te skep. Hierdeur behou sy die leser se aandag, skep ‘n goeie tweestryd en die ontknoping het ‘n interessante slot.
‘n Keurige boek wat die moeite werd is om te lees en te geniet.
RESENSENT A Hills - Onafhanklike Resensent van Afrikaanse Boeke
deur Louise Fourie
Op die Voetpad van God se Wil is 'n besonderse boek - 'n Lewende Getuienis en Wonderwerke.
In hierdie boek vertel Louise van haar siekte en amperse dood, asook getuienisse van haar en haar eggenoot Albie se bediening van God se Woord. Hoe hulle geroep is om mense te vertel van hulle lewenspad en wonderwerke wat plaasgevind het. Hulle wedervaringe wat hulle beleef het en al die seëninge wat hulle ontvang het. Hulle verhuising van Pretoria na Namibië was vir hulle baie moeilik - maar tog het hulle na God se roepstem geluister en gevolg. "Ons het gou besef om 'n dissipel van Jesus te wees, is nie altyd 'n maklike pad nie."(bls. 224) Tog het hulle 'n harde woestynpad gestap om die Woord te bedien.
"Telkemale wanneer ons wou opgee, het die Vader ons herinner aan die gedeelte in Matthéüs 10...vers 40 "Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het..." (bls. 229)
Hierdie boek is met deernis en empatie geskryf. Die leser stap saam met hulle deur die lees van hierdie boek. Louise is duidelik taalvaardig en gebruik ryke beskrywings kwistig, veral oor die plekke wat hulle besoek het. Wat die boek nog meer interessant en spesiaal maak, is die insluiting van gedeeltes uit die Bybel. Louise se skryfstyl is gemaklik en boeiend. Sy deel haar getuienis op 'n lekkerlees wyse en is verstaanbaar.
'n Keurige boek wat 'n mens uitnooi om meer en meer te wil lees.
RESENSENT: A Hills - Onafhanklike Resensent van Afrikaanse boeke
Bestel joune vandag nog!
deur Mariska Kemp
Hierdie besonderse Dagstukkie bundel deur Mariska Kemp is so anders as baie dagstukkie bundels wat ek al gelees het.
In hierdié boek deel sy stukkies van goeie en slegte tye. Moeilike tye - tye wat sy gedink het die lig is weg. Met gepaste Bybelverse wat by elke verhaal pas, bring sy hoop vir elkeen wat deur dieselfde emosies gaan. Hierdie bundel is baie goed saamgestel. Sommige verhale bring 'n glimlag, ander bring 'n knop in die keel of jy huil saam met die skrywer- bv ' 'n Hart in duisend stukke' (bls 60). Daar is 85 kort verhale waaruit mens elke dag iets nuuts kan lees, met 'n bypassende versgedeelte uit die Bybel. Voedsel vir die siel.
Wat veral uitstaan, is die warm Jesusliefde wat uitstraal in Mariska se skrywe. Sy bemoedig die leser op 'n mooi en liefdevolle manier, dat mens sommer 'n paar stukkies op 'n slag wil lees. Sy maak ook gebruik van Engelse gesegdes aan die einde van elke stukkie. Ek haal graag diè mooi een aan van Lailah Grifty Akita - " Waiting taught me, I can't have it my way. But in God's way."
Mariska het 'n besonderse skryfstyl en verteltrant dat dit geskik is vir enige leser om te lees. 'n Pragtige getuienis en ek wil haar gelukwens met die visuele wyse waarop die vertelling aangebied is.
'n Keurige en goedversorgde boek wat die moeite werd is om te geniet en te koester in Jesus se Liefde.
RESENSENT: A Hills - Onafhanklike Resensent van Afrikaanse Boeke
deur Thomas Vermeulen
Thomas Vermeulen se kinderboek, Tommie Tarentaal en Jorg die vreemde Jagspinnekop, se kleurvolle omslag trek dadelik die oog.
Ons maak kennis met spesiale voëltjies, 'n perdeby en ander gediertes soos Jorg, wat in die groot Afrika bos woon. Daar is Ruben die rooivink, Tommie Tarentaal en sy mamma, Freddie die visvanger en Wouter die perdeby. Dan gewaar Ruben vir Jorg, die groot vleisvretende jagspinnekop. Ruben besef dat sy mater, Tommie in groot gevaar verkeer en vlieg dadelik na Truida, Tommie se mamma om haar te waarsku. Intussen het Tommie agter 'n skoenlapper aangehardloop dat hy skoon verdwaal. Wat sal hy voor hom sien toe hy besef hy is ver van sy mamma af? - Jorg, en hy lyk sommer baie lus vir dié klein tarentaaltjie. Met 'n vindingryke plan kry Tommie dit reg om van Jorg af te ontsnap. Dan volg daar skreeusnaakse gebeure, soos die vriende planne beraam om van Jorg ontslae te raak. Gaan hulle dit regkry om Tommie veilig te hou of gaan hy spinnekopkos word?
Ek wil die skrywer gelukwens met hierdie oulike boek waarvan hy die volkleur illustrasies self gedoen het, wat 'n visuele fees is. Die bladuitleg deur Mariska Kemp is besig en modern. Die pittige sêgoed van die gekose karakters is uitstekend en lok heelwat reaksie uit. Die boekie bevat drie hoofstukke wat opmekaar volg. Die kinders sal mal wees oor hierdie uitsonderlike karaktertjies, met hulle vars en kreatiewe taalgebruik. Hierdie unieke boek behoort kinders se verbeelding aan te wakker en jonger lesers kan hieruit hulle woordeskat en ervaringshorison uitbrei; met die insette van hulle ouers of voorlesers. Ek het gehou van die skrywer se skryfstyl en daar is goeie afwisseling in die teks. Hierdie boekie behoort self lesers se aandag te hou en hulle sal dit geniet. Dit is in 'n lekker verteltrant geskryf en die ontknoping het 'n verrassende einde.
Dit was vet pret om hierdie keurige boekie te lees. Oud en jonk behoort hierdie boekie, wat die moeite werd is om te lees, te geniet.
RESENSENT: A Hills - Onafhanklike Resensent van Afrikaanse boeke