Daar is verskeie skilderagtige roetes wat deur vrugbare valleie, geleë aan die voet van die berge, kronkel.
Hoeko vallei, die geboorteplek van C J Langenhoven, is sowat 15 km oos van die dorp geleë. Die wingerde en vrugteboorde met die berge as agtergrond, sorg vir asemrowende taferele in die lente en herfs.
Verder oos is Zoar en Amalienstein, voormalige sendingstasies gestig deur die Berlynse Sendinggenootskap. Stop by die R62 Kontreiwinkel op Amalienstein vir iets te ete en drinke.
Die asemrowende Seweweekspoort is naby Amalienstein geleë. Ongelooflike rotsformasies troon weerskante van die smal, kronkelende pad wat vir 17 km deur die poort loop, uit. Seweweekspoortpiek is die hoogste piek in die Wes-Kaap en is baie gewild onder bergklimmers - so ook Towerkoppiek wat nog steeds deur bergklimmers beskou word as een van die moeilikste pieke om sonder toue te klim.
Vir die dapperes (die paspad is smal en moeilik), is daar die ongelooflike gesig vanaf die Bosluiskloofpas - die koppies van die Karoo wat tot by die Gamkapoortdam strek.
Naby Vanwyksdorp draai 'n mens af na die Rooibergpas - nog 'n unieke ervaring met 'n vista van vlaktes en koppies na die suidekant en die Klein Swartberge aan die noordekant.
Ten weste van die dorp is daar Buffelspoort, Vanzylsdamme, Voorbaat en Dwarsrivier - almal skilderagtige valleie met wingerde, boorde, damme en ou plaashuise.
In die valleie is daar ook 'n verskeidenheid van verblyf beskikbaar - van 'n 4-ster gasteplaas tot basiese self-sorg huisies.
Die dorp spog met nie minder as 8 verskillende boustyle nie, oa die Ladismith styl, wat 'n vereenvoudigde Georgiaanse styl is, wat hier ontstaan het om by die warm somersklimaat aan te pas. Die huise kom voor as dubbelverdiepings, maar is in werklikheid 'n enkelverdieping met 'n hoë solder, voorsien van luggate in die mure ('Ladismith oë'), wat sorg dat lug in die solder sirkuleer.
Verskeie tipes van Victoriaanse boustyle is te sien - sommige weelderig en ander meer eenvoudig. Ander style wat voorkom is volksboukundig, Edwardiaans, Kaap-Hollandse herlewing, 'Regentskap' en Litaus - die ou sinagoge wat moontlik die enigste van sy soort in Suid-Afrika is.
Die geskiedkundige neo-Goetiese Otto Hager kerk, aan die onderpunt van Kerkstraat, is 'n nasionale gedenkwaardigheid (een van 6 op die dorp) en is 'n landmerk op die dorp.
Elandsberg - 13 km roete na Stanley se liggie - ongeveer halfpad teen die berg op.
Towersig - 2 tot 12 km roete in die heuwels bokant die dorp.