Ladismith - Die juweel van die Klein-Karoo:
Ladismith is geleë aan die voet van die Klein Swartberge in die Klein Karoo op die bekende Roete 62. Die majestieuse Towerkop met sy gesplete piek hou wag oor die dorp. Halfpad teen Elandsberg - regs van Towerkop - is Stanley de Wit se Liggie wat Stanley in 1963 daar aangebring het . Dit is moontlik die kleinste hidro-elektriese kragopwekker in die wêreld wat dag en nag loop, solank daar water is.
Die dorp is die middelpunt van 'n vooruitstrewende landbou-gemeenskap wat verskeie soorte vrugte produseer vir die binnelandse sowel as die uitvoer mark. Appelkose, perskes, pruime, vye, granate, pere en druiwe word verbou en die afgelope aantal jare word al hoe meer olyfboorde aangeplant. Die unieke Jajoba plant word ook in die distrik verbou. Vrugte word ook op groot skaal gedroog.
Twee kaasfabrieke maak 'n verskeidenheid kase, die plaaslike wynkelder vervaardig wyne en brandewyn. Skape, bokke en volstruise is ook te sien in die distrik.
Die NG Kerk gemeente stig in 1851 af van Riversdal en bou 'n kerk op 'n gedeelte van die plaas 'Ylands Valley'. Dié plaas het aan Baltzazar Klopper behoort en hy het die grond waarop die kerk gebou is, aan die gemeente geskenk. Die dorp is in 1852 uitgelê en na 'Lady' Juana Smith, vrou van die destydse Goewerneur-Generaal, Sir Harry Smith vernoem. Die ongeskonde natuurskoon van die Klein Karoo, die majestieuse berge aan die een kant en die vlaktes aan die ander kant, verskaf 'n diversiteit van landskappe. Die onbesoedelde lug en aangename klimaat, vriendelike inwoners, min verkeer op die paaie en relatiewe lae misdaadsyfers maak dit die ideale aftreeplek waar al die interessante dinge wat die dorp en omgewing bied, ontdek en beleef kan word.