Huis Izak van Tonder - 'n bekende gebou in Ladismith, is op 28 Julie 1972 ingewy en verskeie uitbreidings is deur die jare aangebring, om 'n verskeidenheid van verblyf aan te bied. Dié tehuis vir senior burgers is een van 47 tehuise wat, onder die toesig van Badisa, bedryf word. Badisa (Ba-rmhartig, Di-ens/Di-konaat, Sa-am('compassion, service, together') is 'n kerklik-gebaseerde sosiale diens organisasie.
Izak van Tonder is op 4 Oktober 1890 in die Ladismith distrik op Buffelskloof gebore en het vanaf 1921 tot 1929 as politieke joernalis by Die Burger gewerk . Die idee vir 'n tehuis vir bejaardes het by hom onstaan, aangesien bejaardes vir hom baie na aan die hart gelê het. Verskeie boeke het uit sy pen verskyn, oa die Geskiedenis van Ladismith in 1952. Hy en sy vrou, Izzie, het kort na hul troue in 1929 na Ladismith verhuis, waar hy 'n winkel begin het en later 'n plasie naby die dorp gekoop het.
Die tehuis is sentraal geleë reg oorkant die NG Kerk en binne loopafstand van die hoofstraat, waar die meeste van die besighede geleë is. Die biblioteek is ook naby die tehuis.
Die ruim sit/eetkamer is ingerig met 'n groot televisieskerm, klavier en 'n klein biblioteek, asook 'n verskeidenheid van speletjies. Kerkdienste word per luidspreker na die sitkamer, sowel as die 3 sonkamers herlei.
Die gronde is ruim, met 'n tuin aan die voorkant van die gebou en daar is 'n binnehof met banke en stoele. Onderdak parkering is beskikbaar vir die woonstelle en die gronde is ten volle omhein met veiligheidsheinings en hekke. Die woonstelle beskik elk oor 'n stoepie wat met diefwering toegemaak is, asook 'n klein tuintjie.