23 Januarie 2013

Post date: 23-Jan-2013 20:13:21

Beste ouers

Dit was baie lekker om Vrydagaand weer al die gesiggies te sien! Baie dankie vir julle moeite om hulle op ‘n Vrydagaand te bring.

Baie welkom aan al die nuwe kinders en ouers. Sluit so spoedig moontlik aan want slegs geregistreerde lede mag aan die Gebiedsaktiwiteite deelneem en dis iets om nie te mis nie!

Soos gewoonlik is daar weer baie dinge aan die gang.

1) Spanbyeenkoms Vrydag 25 Januarie 2013

Plek: NG Kerk Proteahoogte

Tyd 18:00 – 19:00

Drag: Blou Voortrekker golfhempie en jean en die erkenningsbaadjie

Nuwe Voortrekkers kom in gewone klere tot ons voorraad hempies gekom het.

2) Jaarprogram:

Ek heg vir julle die jaarprogram aan. Om te help met die finansiële beplanning het ons die geskatte koste van die aktiwiteite aangetoon.

PD: Penkop (seuns)/ Drawwertjie (dogters) in gr 1-7

Verkenners: Hoërskool leerlinge in gr 8-12

Die aantal punte wat elke aktiwiteit tel word ook aangetoon. Alhoewel ons die kinders aangmoedig om aan aktiwiteite en kampe deel te neem is dit nie verpligtend dat hulle alles bywoon nie. Ons sal vooraf sê wat op elke aktiwiteit aangebied word en die kind kan besluit of dit by sy belangstelling pas.

2.1) Potjiekos-kompetiesie 15 Februarie:

Die span-offisier sal julle kontak met die span se reëlings. Ouers is welkom om te kom saam kuier.

2.2) Verkenner vlotvaart 22/23 Februarie:

Dis nou groot pret hierdie. Die vorms is reeds aan die kinders versprei.

Dit gebeur jaarliks op die Bergrivier in Velddrif. Daar word deurnag vlot gebou en sodra die gety die Saterdagoggend inkom word daar geroei dat die biesies bewe. Ouers is welkom om te kom deel in die plesier. Ons beplan ook om hierdie jaar ‘n volwasse vlot in te skryf. Kontak my as julle meer inligting soek.

As iemand met die volgende kan help sal ons dit baie waardeer:

· Sleepwa of klein vragmotortjie om 12 staaldromme en die balke te vervoer

· ‘n Bakkie om die sleepwa te sleep

· Iemand wat handvaardig is wat ons kan help om spane en ‘n roer te maak. Ons roer lê onder op die bodem van die Bergrivier…

2.3) Gr 6 Sterrekunde spesialisasie 8-12 Maart:

Die vorms is reeds aan die kinders uitgestuur. Kontak my asb indien julle dit nie ontvang het nie.

Sluitingsdatum vir inskrywings: 27 Februarie

2.4) Verkenner Bakgatkamp 8-12 Maart:

Hierdie is ‘n kamp vir werwing van nuwe hoërskool lede. Ons moet begin depositos betaal en wil net graag ‘n aanduiding hê van moontlike getalle. Die idee is dat elke Verkenner ‘n maat saambring.

Voorlopige beplanning is ‘n kamp by Montagu teen ongeveer R300- R350 per kind. Ons kan dalk na ander terreine kyk as die kostes tans ‘n problem is.

Laat weet asb jou kind se offisier teen Vrydag.

3) Gemeenskapsdiens:

Daar is baie mense in ons eie gemeenskap wat swaar kry. Laerskool Bastion het ‘n toebroodjie projek waar hulle vir die kinders pouses kos gee – heeltemal diskreet. Ons as kommando wil baie graag ‘n deeltjie bydra. As daar iemand is wat bereid is om te help broodjies maak kan julle my laat weet. Andersins kan julle die einde van die maand ‘n pak los lekkers (iets wat individueel toegedraai is) ekstra in die inkopie mandjie gooi en die volgende 2 Vrydae vir ons bring. Ons sal dit dan aan die skool besorg om darem ietsie lekker saam met die broodjie te kan gee.

Voortrekker Groete

Hannalene