OUPAS EN OUMAS - GEE ERKENNING VIR HUL LIEFDE EN OMGEE
Is die kleinkinders lief vir Oupa en Ouma? Is daar ‘n Spesiale band tussen grootouers en kleinkinders?
DIT is weer daardie tyd van die jaar wanneer Oupa’s en Ouma’s hul vere kan regskud vir Bloemnuus en Athalia-uitreik se gewilde jaarlikse Oupa en Ouma Roos Kompetisie. Dit is nie ’n skoonheidskompetisie nie. Ons soek iemand wat lief is vir sy of haar kleinkinders, hulle sommer net bederf en lekker dinge saam met hulle doen, maar ook betrokke is in die gemeenskap. ’n Regte oupa en ouma.
Indien jy dink jy het die beste oupa of ouma, moet jy hulle inskryf vir die kompetisie waarin hulle wonderlike pryse kan wen.
Daar is drie afdelings waarin hulle ingeskryf kan word – Oupa Roos, Ouma Roos en Oupa en Ouma Roos en enigiemand kan sy of haar oupa en ouma inskryf solank hulle net toestemming gee. Dit is ook maklik om hulle in te skryf. Al wat ons benodig is ’n foto van jou oupa, ouma of oupa én ouma Egpaar met ’n kleinkind(ers).
Die foto moet die spesiale verhouding tussen grootouers en kleinkinders uitbeeld, maar dit hoef nie ’n foto deur ’n professionele fotograaf te wees nie.
Die inskrywings vir die kompetisie is oop en die sluitingsdatum is 7 September om 12:00. Die finaliste word gedurende die week van 10 tot 14 September gekies waarna kompetisie-onderhoude die week van 17 tot 21 September gevoer sal word.
Die wenners word op 17 Oktober aangewys op ‘n gala-geleentheid by Monte Bello wat deur Lianda Hurter, Mev. Verenigde Nasies Internasionaal 2011, gereël word.
Enigiemand sal die geleentheid kan bywoon en kaartjieverkope open binnekort.
Al wat jy moet doen om jou gunsteling oupa en ouma in te skryf is om die inskryfvorm in die Bloemnuus in te vul en saam met ’n foto by Athalia Uitreik, Stalsweg 22B, Wilgehof, Bloemfontein, af te lewer. Jy kan dit ook doen op www.athalia.co.za of e-pos die inligting soos op die vorm aan Chris.Smith@volksblad.com saam met ’n hoëresolusiefoto as ’n jpeg-aanhangsel.
REËLS:
Die beoordelaars se beslissing is finaal. Geen pryse sal omgeruil word nie. Werknemers en familielede van Bloemnuus, die ander borge en ook inwoners van Athalia-tuistes, mag nie aan die kompetisie deelneem nie.
Foto’s van deelnemers mag in Bloemnuus en op sy webtuiste gepubliseer word. Deelnemers moet 55 jaar of ouer wees en in die Bloemnuus-verspreidingsgebied woon.
Deelnemers kan slegs in een afdeling inskryf. Alle inskrywings sal volgens die foto’s en die kort motivering beoordeel word waarna die finaliste aangewys sal word.
Daar sal met elke finalis ’n onderhoud gevoer word om die wenners te kies.
Bel Ans Coetzee van Athalia by 082-467-6471 of Chris Smith van Bloemnuus by 051-404-7901 vir meer inligting.