Hierdie jaar word ons pragtige skool 121 jaar oud op 4 Oktober 2025. Laerskool Danie Malan se geskiedenis het begin in 1904 waar Me. M. Juby, ‘n Engelse dame, die eerste hoof van 24 leerders was. As twaalfde hoof van die skool sedert 2009 is dit my voorreg om aan die stuur te staan van 1348 leerders. As hoof en oud-leerder van die skool is ek trots op die skool se tradisies en karakter.
By Danie Malan strewe ons daarna om ‘n plek te skep waar kinders veilig voel, tuis voel en reg is om te leer. Ons het ‘n span toegewyde onderwysers wat daagliks hul beste gee om die leerders toe te rus vir die wêreld daarbuite.
Ons het ‘n volledige toegeruste Graad R sentrum. Die sentrum spog met vier pragtige klasse, ‘n boomryke speelarea en ‘n verskeidenheid klimapparaat. Kom kyk gerus wat die sentrum bied. By ons graad R sentrum leer ons leerders speel-speel slim word.
Op akademiese gebied neem ons jaarliks deel aan eksterne nasionale eksamens om seker te maak dat ons voldoen aan die standaarde wat van ons verwag word.
Ons Graad R-3 leerders se kurrikulum is uitgebrei en musiek, Robotika en Setswana klasse word ekstra aangebied. Ons Graad 1-6 leerders besoek weekliks ons leessentrum om hul leesbegrip en spoed te verbeter.
Ons bied ‘n wye verskeidenheid sport en kultuuraktiwiteite aan. Op sportgebied bied ons atletiek, rugby, netbal, sokker, sagtebal, krieket, jukskei, skaak, gholf en tennis aan. Op kulturele gebied bied ons ‘n senior en junior koor, junior en senior revue, redenaars, kunswedstryd en kuns aan. Ons moedig graag deelname aan. Ons glo dat leerlinge op laerskool aan ‘n verskeidenheid aktiwiteite moet deelneem ten einde te bepaal wat vir hom of haar die beste is. Ons spanne presteer altyd baie goed en ons leerlinge geniet dit om deel te neem.
Ons ses waardes, respek, omgee, verantwoordelikheid, eerlikheid, uitnemendheid en integriteit word aan ons leerders voorgehou. Ons kyk gereeld waar ons leerlinge op heterdaad kan betrap, waarin hul een van die waardes sigbaar voorstel.
Ons bied ‘n wye verskeidenheid pretaktiwiteite aan soos ons jaarlikse kaskar, kleurfees, waterkaskenades, boeresport en waatlemoenfees, wat ingesluit is by die skoolgelde. Ons skool het geen fondsinsamelings nie.
My droom en visie vir 2025 is dat elke kind sy of haar volle potensiaal sal bereik in die klaskamer, op die sportveld en op kultuurgebied. Ek hoop dat elke onderwyser sy of haar passie kan uitleef en ‘n verskil in kinders se lewens sal maak. Ek wens dat elke ouer tyd sal maak vir hul kinders, aan hul waardes en beginsels sal leer en dat hul in vennootskap saam met die onderwysers sal werk. Dankie aan almal wat reeds ‘n verskil maak, want die toekoms is in ons hande.
Voorspoed vir 2025!