Elandsbaai

Braham van Zyl, Durbanville, skryf: ``D.J.W.'' se brief ``In Sandveld had huise dak van rogstrooi'' in Menings van 14 Mei (1991) maak dit nie duidelik of die skrywer teen die term ``rietdak'' beswaar maak nie. Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal is ``rietdak'' 'n algemeen beskrywende naam vir huise waarvan die dak met die een of ander riet- of grasagtige plantsoort bedek is. Juis in die Sandveld is menige dak gedek met 'n soort platblaar-vleiplant wat langs die Verlorevlei en ander waterkuile groei. Op Elandsbaai is ou visserhuisies waarvan die dak gedek is met 'n vleiriet wat wortel en al uitgetrek is. Mnr. Christie Rabe van die plaas Nonna by Worcester het, soos ``D.J.W.'' in sy beskrywing, aan my vertel hoe die rogstrooi voorberei is. 'n Deel van sy huis se dak, wat met rogstrooi gedek was, het sowat sestig jaar gehou. Dié lewensduur vergelyk goed met rietdakkke s'n. Die egte dekriet, wat op die Suid-Kaaplandse Kusvlakte groei, is van die beste ter wêreld. Uitvoer veroorsaak dat dié reeds duur riet nog duurder word. Die hoë prys van dekriet bied miskien juis die geleentheid vir die ontwikkeling van 'n rogstrooi-dekbedryf. Nuut ontwikkelde dektegnieke maak rietdakke baie beter teen brande bestand, en versekeraars verminder reeds hul premies vir rietdakhuise. As die dekkersbedryf 'n ``veilige'' rogstrooidak ontwikkel, kan strooidakke binne die deursnee-huisbouer se finansiële vermoë kom.