Op ‘n graad 8 groep se eerste skooldag kom hulle in die saal bymekaar. Nadat die res van die skool in die skool se vierkant stelling ingeneem het, stap die graad 8’s met vrolike musiekbegeleiding voor die skool verby en neem stelling in by die vlagpaal. Hulle word deur die skoolhoof verwelkom, waarna hulle kan sit.
Hulle neem by elke skoolopening stelling in by die vlagpaal en word eers deel van die res van die skool die oggend na die Inburgeringskonsert en nadat die Insweringseremonie afgehandel is.
Die skool se brug by die D-blok word heilig verklaar vir alle graad 8 leerlinge. Hulle mag eers oor die brug stap na die Insweringseremonie afgehandel is.
Die insweringsplegtigheid vind die oggend na die Inburgeringskonsert plaas. Met die insweringsplegtigheid moet die graad 8-groep die onderstaande suksesvol aflê:
Hulle graad 8 liedjie sing;
Die skoollied sing;
Hul erekode aflê.
Na bostaande gebeur het, mag hulle hul skoolbaadjie vir die eerste keer aantrek en dan na die skool toe stap om hul plek in die vierkant in te neem. Hierna vind die Stafseremonie plaas waar die graad 8 groep hul deel van die staf kan aanskroef om hul eenheid met die skool te versimboliseer
Elke graad en ook die onderwysers het ‘n deel van ‘n staf. Elke graad kan die eerste Vrydag nadat die skool begin het by die skoolopening en nadat hulle hul graadkreet bevredigend geskreeu het, hul deel van die staf by een van die adjunkhoofde kom inskroef. Alle grade en die personeel kan hul deel inskroef, behalwe die graad 8 groep wat hul deel eers na die Insweringsplegtigeheid kan inskroef.
Die eerste Sondag nadat die skool begin het, word daar ‘n diens om 16:00 op die paviljoen gehou. Die doel van die diens is om die seën van ons Hemelse Vader op die skool af te bid. By die geleentheid maak die skoolhoof ook die jaartema bekend.
Binne die eerste 3 weke nadat die skool begin het, word ‘n Kompasdiens vir die matrikulante en hul ouers gehou om hul te seën en te motiveer vir hul matriekjaar.
Die Big Brag is ‘n geleentheid voor die Interhoër waar die atlete spesiale erkenning kry. Dit gebeur op die A-veld waar die gemeenskap bymekaarkom. Die atletiektoeskouers kom op die paviljoen bymekaar. Die atlete stap per graad voor die paviljoen verby – met hul graadvoog heel voor. Die atlete gaan sit per graad uiteindelik voor die toeskouers op stoele op die A-veld. Die afrigters stap laaste verby en gaan sit ook op die stoele by die atlete.
Die stafseremonie word ook weer gedoen by die Big Brag waar elke graadgroep se atlete hul deel van die staf inskroef en die afrigters hul deel om die Zwarrie-eenheid te versimboliseer.
Die toeskouers doen dan ‘n spesiale vertoon om erkenning te gee aan die atlete en afrigters.
Hoërskool Zwartkop het ‘n hele paar rugby-tradisies waarop ons trots is:
Die eerste rugbyspan het ‘n besondere en tradisieryke spankamer wat heilig verklaar word. Geen ander rugbyspelers, Zwarries of ouers mag in die kamer ingaan nie.
Voor elke tuiswedstryd dans die All Star dansers voordat die eerste span opdraf. Net voordat die eerste span opdraf, maak die All Star dansers en die res van die Zwarrieleerders ‘n erewag vir die eerste span.
Ons het ‘n capping seromonie. Wanneer ‘n 1ste span speler 5 wedstryd vir die 1ste span begin het, kry die betrokke speler ‘n pet met ‘n nommer op wat sy eie persoonlike besitting raak. Die speler se naam kom ook op ‘n bord in die 1ste spankamer.
Die volgende tradisie is wanneer ‘n 1ste span speler geswaard word. Om in aanmerking te kom vir die swaard, moet die 1ste span speler 20 wedstryde vir die 1ste span begin het. Die swaardgeleentheid is ook baie spesiaal, want dit gebeur in die vierkant voor die hele skool. Die 1ste span speler se naam kom ook op ‘n bord wat in die 1ste spankamer is.
Nog ‘n tradisie is die graskas wat met wegwedstryde saamgeneem word. Gras van ons eie A-veld word saamgeneem na die skool waar ons weg speel en die 1ste span kaptein strooi dan die gras op ons opponent se veld voor die begin van die 0/14A wedstryd.
Die laaste tradisie is waar die 1ste span kaptein met tuiswedstryde met die swaard omhoog op die veld opdraf voor die begin van die 1ste span wedstryd.
Net voordat die matrikulante se eindeksamen begin, is daar ‘n seëndiens waar die matrikulante – in hul skooluniforms - en hul ouers ‘n diens bywoon en waar daar seën vir hul eksamen en toekoms toegebid word.
Onderwysers wat langer diens as 10 jaar by Hoërskool Zwartkop het en wat die diens van die skool verlaat – hetsy bedanking of aftrede, word baie spesiaal van afskeid geneem tydens ‘n skoolopening. Daar word deur die skoolhoof ‘n huldeblyk van elk van hulle gelewer, waartydens die persoon(e) by die vlagpaal staan. Die skool sing vir oulaas die skoollied vir die persoon(e), terwyl die persoon(e) die vlag hys. Na die vlaghysing stap die persoon(e) voor die skool verby, waartydens die prefekte, VLR en die onderwysers ‘n erewag staan.
Met die laaste skoolopening van die matrikulante kom hul weer soos met hul eerste skoolopening in graad 8, in die skoolsaal bymekaar. Sodra die ander grade stelling ingeneem het in die vierkant, beweeg die matrikulante onder musiekbegeleiding voor die skool verby – van Wes na Oos (in graad 8 was dit van Oos na Wes). Nadat die hele matriekgroep stelling aan die Oostekant van die vierkant ingeneem het, word hul vir oulaas verwelkom en genooi om te sit. Na ‘n godsdienstige opening en ‘n item, lewer die hoofseun en hoofdogter vir oulaas hul toesprake. Die matrikulante sing vir oulaas die skoollied vir die skool.
Na die matrikulante se laaste skoolopening beweeg hulle saal toe waar hul na ‘n Power Point aanbieding kyk en waar hul 5 jaar in Zwarrieland vir hul in beeld op die skerm gegooi word.