(By orde bedoel ons “Die Vloei” van die erediens—Wat gebeur Wanneer)
Oproep tot aanbidding:
Eerste lui van Kerkklok—15 minute voor die aanvang van die Erediens.
Tyd vir stilgebed en voorbereiding
Opening
Tweede lui van die Kerkklok— dit kondig die begin van die Erediens aan.
Dan volg daar die Musiek voorspel, Aankondigings vir die Week, Openings Gesang
Aanroeping
Aanvangs Verklaring & Voorbereidings gebed
Aanbidding (Liturgiese sang)
Introïtus (Psalm), Gloria Patri, Kyrie Eleison, Gloria in Excelsis
Gemeentelike begroeting & Kollekte gebed
Lesings uit die Skrif
Eerste Lesing - Sendbrief, Graduaal lied (Lied van die Week), Tweede Lesing - Evangelie
Belydenis – (Apostoliese Geloofsbelydenis)
Gesang
Prediking
Preek
Gesang
Algemene Kerk gebed
Viering van die Heilige Nagmaal
Voorbereiding (liturgiese sang)
Voorbereidings lied, Groot Dankgebed, Lofgesang
Gebed: Onse Vader
Instelling van die Nagmaal
Instellingswoorde,
Gesang—Lam van God (Agnus Dei)
Vredesgroet & Uitnodiging na die Nagmaaltafel
Uitdeling
Ontvangs, Danksegging, Dankgebed
Seën + Wegsending
Naspel + stil gebed
Die Erediens kan in vier dele verdeel word. Hierdie dele noem ons die Hoofmomente van die Erediens. Elke Hoofmoment het sy eie karakter en funksie wat bydra tot die eenheid en sinvolle belewing van die Erediens. Wanneer ek en jy hierdie funksies verstaan kan ons waarlik ʼn wonderlike ontmoeting met ons God ervaar.
® Die Aanvang
® Die Bekendmaking
® Die Viering
® Die Afsluiting en Wegstuur.
Kom ons bespreek nou elke Hoofmoment meer volledig.
Die aanvang het vier fases - vergelyk dit met vier trappe wat lei tot binne die Kerk!
Die eerste trap - Oproep tot aanbidding
Dit is die eerste lui van die klok; gewoonlik so 15 minute voor die amptelike begin van die Erediens. Dit is ʼn publieke diens en almal is welkom en word uitgenooi! Mense gaan die Kerk binne en gebruik die tyd vir stilgebed en voorbereiding.
Die tweede trap - Opening
Die tweede lui van die klok dui die begin van die Erediens aan.
- Daar volg dan ʼn musiek voorspel - Die diens is ʼn feesviering en musiek help almal om te fokus.
- Afkondigings - Die gemeente word gegroet en amptelik verwelkom by die Erediens, die Spreuk v.d. Week dui die tema vir die Sondag aan. Orde reëlings vir die week word bekend gemaak.
- Openings gesang - Dit lei die gemeente na die geestelike deel van die Erediens.
Die derde trap - Aanroeping
Die Erediens is God se diens, Hy is die Gasheer en ons die gaste.
- Die Voorbereidings gebed word begin met die woorde:” In die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees!” Hiermee verklaar ons dat alles wat in die res van die Erediens gaan volg, in die Naam van die Drie-Enige God sal geskied.
- Hierna volg ʼn vermaning aangaande ons afhanklikheid van God se Genade, ons vra vergifnis vir ons sondes en dan volg die Vryspraak waar ons mekaar bemoedig dat ons sondes wel vergewe is en dat God ons aanvaar het as Sy kinders.
Die vierde trap - Aanbidding
Nou volg daar ʼn reeks liedere waarmee ons God aanbid en Sy lof besing:
- Introïtus (Psalm) - Psalms is Bybelse Lofliedere en gebede wat ons sing of saamlees; die antieke kerkgangers het onder die gesang van ʼn Psalm die kerk binnegegaan, op hierdie manier het hulle die diens begin met ʼn Ou Testamentiese gebed.
- Gloria Patri - Dit is die gemeente se antwoord op die Psalm, dit isʼn lofprysing tot God die Vader, die Seun en die Heilige Gees– Sy eer moet besing word van ewigheid tot ewigheid! Amen!
- Kyrie Eleison! - Hierdie gedeelte is ʼn erkenning van die Heerskappy van Christus. Die Romeinse Keisers het verwag dat hul onderdane voor hulle moet neerkniel en uitroep: Kyrie Eleison! Wat beteken: Heer, wees genadig! Die Christene het geweier en uitgeroep: Christe Eleison! - Christus wees genadig. Hiervoor is hul doodgemaak. Deur hierdie woorde te sing vereenselwig ons onself met hierdie martelare omdat daar vir die Christengelowige slegs een Here kan wees - Jesus die Christus.
- Gloria in Excelsis - Dit sluit direk aan by die Kyrie Eleison gedeelte, want as ons dit sing weet ons dat Christus is met ons in die Erediens, daarom is dit ʼn jubelende aanbidding en ons fokus met ons hele wese op ons Here.
Op hierdie hoogtepunt word die Aanvangs Moment afgesluit en beweeg ons na die volgende hoofmoment: Die Bekendmaking.
Hierdie gedeelte begin met ʼn seën. Die prediker seën die gemeente met die verklaring dat die Here is met hulle. Die gemeente op hulle beurt seën die prediker en wens God se genade op Hom omdat hy nie uit homself God se Woord kan bring nie.
Kollekte gebed - Hierdie kort gebed is ʼn samevatting van die totale gedagtegang van die Skrifgedeeltes wat gelees gaan word asook die basiese gedagte van die prediking.
Verskeie Skriflesings - God self leer ons uit die lees van die Skrif. Die gemeente luister staande na die lees van hierdie gedeeltes.
- Die Eerste lesing is uit een van die Sendbriewe as n onderwysing. Hierop antwoord die gemeente met ʼn Halleluja!
- Die Tweede Lesing is uit een van die Evangelies en die gemeente hoor die lering van Christus daarom roep ons uit voor die lesing: Eer aan U, O Here! Na die lesing antwoord die gemeente met: Lof aan U, O Christus! as erkenning dat hulle gehoor het. Tussen die twee lesings word die hooflied van die Erediens gesing.
Geloofsbelydenis - Die Gemeente se antwoord op die lering van God is die belydenis van hul geloof. Dit word hardop en tesame gedoen. Na die geloofsbelydenis volg n Lied ter voorbereiding van die Woord-verkondiging.
Prediking - Die Preekteks word geneem uit een van die lerings van die week. Die prediking is ook ʼn vorm van kommunikasie tussen God en die gemeente.
- Gesang - Die gesang voor die preek is ʼn gebed tot God om die prediking en die prediker te seën en dat die Heilige Gees die harte van die gemeente sal aanraak deur die prediking van die Woord.
- Die kanselgroet kom uit die Bybel (bv.1 Kor.1:3 of 2 Kor.13:13) en word gewoonlik deur die prediker uitgespreek wanneer hy nie die liturgie behartig het nie.
- Lees van die preekteks en gebed. Die Gemeente luister staande na die lees van die teks omdat dit
God is wat gereed staan om die gemeente te bedien en te leer. Die predikant is slegs ʼn instrument
wat God vir hierdie doel gebruik.
- Die preek. Paulus verduidelik die rede vir die prediking van God se Woord in Rom.10:13-17. (:17 - Die geloof kom dus uit wat ons hoor, en wat ons hoor, kom deur die verkondiging van Christus)
Die preek eindig weer met ʼn seënwens (Fil.4:7) en die gemeente bevestig dit met ʼn “Amen”. Die preeklied sluit hierdie gedeelte van die Erediens af en gee die gemeente die geleentheid om te antwoord op die prediking, die lied kan die sentrale gedagte van die boodskap verder uitdra.
- Algemene Kerkgebed - In navolging van Paulus se lering in 1 Tim.2:1-3 tree die gemeente in vir die wêreld, die regering, die algemene Christelike Kerk, die gemeente en vir individue. Die gemeente is ook ʼn bedienaar van die genade van God en die getuie van die grootheid van hierdie Genade. Hierdie gebed het ʼn spesifieke volgorde:
o Intersessie vir God se Koninkryk: die Kerk en sy leiers en dienaars; die prediking van die Evangelie van Christus; vir God se seën op Sy Woord en die Sakramente.
o Intersessie vir lande en regerings: gebede vir orde, geregtigheid en vrede.
o Intersessie vir die pyn en ellende van die mens-dom en die gemeenskap: families, verhoudings, huwelike, armoede en sosiale behoeftes.
o Intersessie vir individue en gemeenskappe: siekte, pyn en hartseer, eensames en diegene in die gevangenisse en ander instellings,
Die Kerkgebed help ons om die Erediens te verstaan : God bedien ons en op ons beurt dien ons God, in die Kerkgebed dien ons weer die gemeenskap.
Die Nagmaal verteenwoordig die eenwording van die gemeente met Sy Here. Die Nagmaal en die Doop is die twee hoof elemente wat die gelowige verbind met Christus daarom kan dit nie ligsinnig aangebied en gebruik word nie.
Die Instellingswoorde asook die wyn en brood is die belangrikste elemente van die Nagmaal. Christus het Homself verbind aan hierdie simbole en die Woorde is Sy eie.
Die liturgiese orde van die Nagmaaldiens is soos volg:
Die Voorbereiding
Die Voorbereidings lied se woorde kom uit Psalm 51. Dit word deur die hele gemeente gesing as
voorbereiding om die Nagmaal te ontvang. Direk na die lied volg die Groot Dankgebed. Die Dankgebed bestaan uit verskeie dele en is n gesprek tussen die prediker en die gemeente. Die dele is:
- Groet: “Die Here is met julle!” en “En ook met jou”
- Uitnodiging tot voorbereiding: “ Verhef julle harte tot God!”
- Uitnodiging tot lofprysing en aanbidding: “ Laat ons dank betuig aan die Here ons God...”
- Dankgebed: “ Dit is waardig en reg....”
Hierna volg die Lofgesang wat geneem is uit Jes.6 :3 (Lied van die Serafs) asook Matt.21:9
(Lied van die skare met Jesus se intog in Jerusalem).
NB– Hierdie gedeelte herinner ons daaraan dat dit nie ons diens is nie en dat ons slegs genooide
deelnemers aan hierdie deel van die Erediens is. Hierdie gedeelte omvou die verlede, die hede en die
toekoms wat voor die Troon van God bestaan.
Die gemeente sing of bid die Onse Vader saam as n Tafelgebed omdat ons nou gereed staan om die
Maaltyd van Christus te geniet.
Die Instelling van die Nagmaal -
Die gedeelte kom hoofsaaklik uit 1 Kor.11:23-26 en word ook die “laaste Testament van Christus”
genoem. ʼn Testament is die laaste bevele en wense van ʼn sterwende persoon. In hierdie “Testament”
gee Christus Homself aan ons. Die instellings woorde is die herhaling van die woorde van Christus
self en vorm die hart of die kern van die Nagmaal viering. Hierdie woorde identifiseer die wyn en
brood met die liggaam en bloed van Christus. Ook word die opdrag om ter herinnering en viering
van die Verlossingsdaad van Jesus Christus byeen te kom, weer bevestig.
- Gesang: Lam van God (Angus Dei)
Hierdie lied dien as n antwoord op die instelingswoorde. Dit bevat enkele teologiese verklarings soos
dat Christus die offerlam is wat geoffer is vir ons sonde; hierdie Offerlam is deur God self voorsien.
Ons vra dat hierdie Lam van God ons Sy vrede sal gee en dat Hy Hom oor ons sal ontferm.
- Vredesgroet & Uitnodiging
Die Vredesgroet kondig die Vrede van God aan en is die aanhef tot die uitnodiging na die Tafel van
Christus. Die uitnodiging bevestig dat geen persoon werklik geskik is om die Nagmaal te gebruik nie,
ons nader die tafel in groot ontsag as wesens geneig tot die sonde. Dit is ons verlange na die verlossing
van ons sonde wat ons dryf om hierdie uitnodiging aan te neem en nie die gedagte dat ons geskik is om
dit te doen nie.
- Die Uitdeling -
Tydens die Nagmaal deel ons in een van die grootste geheimenisse van ons geloof! Ons neem deel
daaraan met groot ontsag en in groot vreugde. In wese is dit n maaltyd van eenwording; ons word een
met ons Here. Dit is om hierdie rede dat die gemeenskaplike beker verkies word bokant individuele
kelkies. Die kelkies word egter wel beskikbaar gestel aan diegene wat siek is of druiwesap verkies.
Na die Nagmaal word n seën uitgespreek en almal beweeg terug na hul sitplekke
- Danksegging –
Die Nagmaal word afgesluit met ʼn gesamentlike danksegging en ʼn dankgebed deur die prediker.
Hierdie gedeelte sluit die Erediens af.
Seën en wegsending.