Tannie Bokkie
Hester Martha Aletta du Plessis (Bokkie)
16 Mei 1918 - 21 Junie 2008
Tannie Bokkie was ons almal se ekstra Ouma.
Soos wat sy ouer geword het, het sy al hoe verder en verder in haar eie wereld inbeweeg, totdat sy net 'n paar vierkante sentimeter op 'n bed in 'n ouetehuis opgeneem het. Maar haar plek in ons harte was enorm.
Hier is 'n paar gedagtes.
Hester Martha Aletta du Plessis is op 16 Mei 1918 in die distrik Smithfield gebore, maar niemand het haar op daardie naam geken nie. Sy was 'n baba met die sagste hare en haar pa het gese haar hare is soos 'n sybokkie s'n en so het sy Bokkie geword vir almal wat haar geken het.
As sy as klein dogtertjie gevra is wat sy wou word as sy groot is, het sy altyd ges^e "'n oujongnooi". Sy het daarmee volgehou en so deel geword van 'n groter uitgebreide familie en 'n rol gespeel in elkeen van haar broer se kinders en kleinkinders se lewens.
Sy kon pragtig brei en het die mooiste truie gedra en het ons almal geleer om te brei, iets wat Pieter voortgesit het.
Daar was nie 'n dogtertjie met mooier gesmokte rokkies as Ester nie. Elke keer as een klaar is, het sy weer materiaal gekoop en dan was sy weer aan die gang. Toe hoede hoog mode was, het sy en haar suster, Hennie, die vrouens voorsien van die deftigste modelhoede.
Sy het die ys gebreek en was die eerste vrou in die gesin om haar eie motor te koop en haar lisensie te kry. Hoeveel pret het ons nie met daardie motor gehad nie. Toe tannie Hennie voorstel dat ons die motor stilletjies leer bestuur, was dit die motor waarmee ons uiteindelik ons lisensies gekry het.
Saam met haar pligte om Ouma te versorg, was sy die een wat die drie houtkapperkuikens moes grootmaak, nadat haar broer die ouers by die vyebome vergiftig het.
Op die vraag wat sy die graagste wil h^e, was haar antwoord: Om saam met almal in die hemel te wees.
Nou is haar grootste wens vervul.
Begrafnispamflet opgesetel deur Martie Cronje
Ek het Tannie Bokkie gaan besoek om te groet so 'n paar maande nadat ons Kaap toe getrek het. Dit was 'n heerlike sonskynmiddag en ons was gelukkig genoeg dat sy sterk genoeg gevoel het om 'n hele geselsie aan te knoop. Sy het weer vir ons die storie vertel van die dag toe dis slang haar voor die huis gepik het. Hoe hulle met die "ou Pontiakkie" dorp-toe gery het, en die dokter hulle van die dorp af tegemoetgejaag het. Hoe die wond afgebind was, en hoe daar drie druppels bloed in die paraffienbakkie was.
Tannie Bokkie was ons skakel met ons oorsprong. Dis by haar wat ons geleer het van die klipskeur (nog voor ons dit die eerste keer gesien het) van die daskoppietjie, en van die hamerkopnes.
Johannes Cronje