As daar een ding is wat jy baie op universiteit gaan doen, is dit lees. Jy sal egter nie 'n akademiese teks lees soos jy 'n strokiesprent of 'n roman sou lees nie. Akademiese tekste word gewoonlik nie vir ontspanningsdoeleindes gelees nie, maar met 'n baie spesifieke doel - soos om kennis vir 'n toets, eksamen of opdrag te verkry. Akademiese lees werk met die veronderstelling dat die leser aktief en aandagtig met die teks omgaan deur belangrike dele te onderstreep, notas te neem of hoofgedagtes neer te skryf. Die teks moet behoorlik gelees word en dan herhaaldelike kere aandagtig en versigtig herlees word om dit op die beste moontlike manier te verstaan.
Daar is vier leesstrategieë wat jy konstant in jou studies op universiteit moet gebruik. Daar word na die strategieë verwys as soeklees, vluglees, begripslees en kritiese lees. Elke strategie het 'n baie spesifieke funksie met betrekking tot tydbesparing; die bepaling van die relevansie van inligting voor 'n teks volledig gelees word, om seker te maak dat 'n mens die kern van 'n teks verstaan; en laastens om 'n oordeel te vel oor die inligting in 'n teks.
Oor die algemeen, vir al die modules wat studente op universiteit studeer, wil ons hê dat studente die tekste met volle begrip moet kan lees. Die doel daarvan om die hoof handboek by 'n kursus in te sluit, is gewoonlik, as 'n eerste doelwit, informatief van aard. Dit is die tipe teks wat jy gewoonlik moet leer en ken. Ons wil dus hê dat studente spesifieke inligting oor konsepte, teorieë ens. uit sulke tekste bestudeer en onthou. Verder is 'n belangrike uitkoms van al die kursusse op universiteit, dat studente die teorie wat hulle geleer het, in werklike situasies moet kan toepas. Dit is dus van kardinale belang dat jy seker maak dat jy die teorie verstaan (en ken) om dit prakties toe te pas.
Aanvullende tekste is ander relevante tekste (gewoonlik boeke en artikels) wat dalk in die biblioteek gereserveer is of op eFundi geplaas is, wat van jou verwag word om vir 'n spesifieke doel te lees (dikwels vir bykomende inligting of 'n ander perspektief oor 'n spesifieke saak) soos wat die kursus vorder. Selfs al stel die studiegids soms dat jy hierdie bronne kan lees as jy wil om 'n beter begrip van een of ander kwessie te kry, hoe meer jy oor spesifieke kwessies in jou studieveld lees, hoe makliker sal dit word om nuwe inligting wat jy wil bekom, te kontekstualiseer en te verstaan. Hoe meer jy basies van jou studieveld weet, hoe sterker word jou agtergrondkennis en hoe vinniger sal jy nuwe dinge kan leer.
Behalwe om spesifieke tipes tekste te lees en te verstaan, moet jy in gedagte hou dat daar ook van jou verwag sal word om spesifieke tipes akademiese tekste te produseer (skryf). Byvoorbeeld, in toetse en eksamens sal daar vir jou gevra word om vrae te beantwoord om te sien of jy die teorie ken, maar daar sal ook vir jou vrae gevra word om te sien of jy die teorie kan toepas op werklike situasies. In opdragte sal dieselfde kwessies gewoonlik op 'n meer geïntegreerde manier getoets word. Dit beteken dat ons wil sien of jy konsepte en teorie kan toepas, maar ook of jy relevante addisionele inligting oor 'n spesifieke onderwerp uit ander bronne of inligting kan vind en sulke inligting in 'n langer, geskrewe akademiese opdrag (wat dikwels die vorm van 'n argumentatiewe teks aanneem) kan integreer . Daar sal later in die module op die produsering van akademiese tekste gefokus word en breedvoering bespreek word.
Die funksie van 'n teks verwys na dit wat die teks wil bereik. Verskillende tekste doen verskillende goed. Die tipe tekste hang dus af van hulle doel, struktuur en taalkenmerke (die teksfunksie).
Vertelling: 'n Vertelling is 'n kronologiese uiteensetting van gebeure. Dit beantwoord die vrae "Wat het gebeur?", "Waar en wanneer het dit gebeur?", "Wie was betrokke?" en "Wat was die oorsaak?".
Beskrywing: Die doel van 'n beskrywing is om gedetailleerde en objektiewe inligting te gee. Emosioneel gelaaide taal word vermy. Beskrywings evalueer, interpreteer en argumenteer nie, en dit neem dikwels die formaat aan van feitelike bewerings, sonder om teoretiese insigte te betrek.
Verduideliking: Verduideliking word gebruik wanneer meer illustratiewe (verduidelikende) inligting vereis word, soos om interpretasies en analises te doen. Verduidelikings kom dikwels ná beskrywings voor. In baie akademiese artikels, word die "Bevindings" afdeling gevolg deur 'n afdeling genaamd "Bespreking" of "Analise of bevindings", waar die navorser poog om te verduidelik wat die data geopenbaar het.
Bespreking: 'n Bespreking hou nou verband met 'n verduideliking, en die twee word dikwels gekombineer. 'n Bespreking verskil egter van 'n verduideliking, in die sin dat 'n bespreking gewoonlik 'n waarde-oordeel insluit wat gebaseer is op 'n kritiese evaluering. Feite, bewyse en voorbehoude word logies uiteengesit.
Klassifikasie: Wanneer soortgelyke goed saam gegroepeer word, is die skrywer besig met klassifikasie. Klassifikasie word gereeld in 'n tabel aangebied, hoewel dit nie altyd die geval is nie. Die wyse waarop skrywers feite en inligting klassifiseer, openbaar dikwels 'n ideologiese of teoretiese uitgangspunt.
Vergelyking: Vergelyking behels dat ooreenkomste en verskille tussen mense, dinge, aksies of stand van sake, geïdentifiseer word.
Hier is drie tipes tekste waarvan jy moet kennis dra:
Navorsingsartikel: 'n Navorsingsartikel hou die bevindings of oorspronklike navorsing voor wat deur 'n outeur/groep outeurs gedoen is.
Oorsigartikel: 'n Oorsigartikel bied 'n opsomming van die onlangse bevindings van 'n onderwerp, gebaseer op bestaande artikels en studies in plaas daarvan om 'n nuwe studie te onderneem.
Meningsartikel: 'n Artikel wat 'n akademiese perspektief of opinie aanbied oor 'n spesifieke saak, gebaseer op navorsing wat gedoen is. Dit is 'n ingeligte opinie, want dit is gebaseer op navorsing, maar dit het nie die status van 'n onpartydige aanbieding van die feite nie en dit kan beïnvloed word deur die skrywer se persoonlike opinie oor die saak (dit kan dikwels afgelei word uit die titel, wat sinspeel op 'n spesifieke standpunt). Meningsartikels word dikwels ingesluit as hoofartikels in akademiese boeke of tydskrifte, en dit is nie altyd onderwerp aan eweknie-beoordeling nie.