🌐 Boodskap vir die Week  23 AUG 2026 - 30 AUG 2026

WANNEER JOU HART TE SWAAR VOEL

Daar is dae wanneer ons glimlag, aangaan met ons werk en met mense praat, maar diep binne-in ons voel ons oorlaai.

Ons dra bekommernisse wat niemand sien nie. Ons dra vrae waarvoor ons nog nie antwoorde het nie. Ons dra soms skuld oor die verlede en vrees vir die toekoms.

Maar Jesus sê:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” – Matteus 11:28

Jesus vra nie dat jy eers alles moet uitsorteer voordat jy na Hom toe kom nie.

Hy sê eenvoudig: Kom.

Kom met jou moegheid.

Kom met jou vrae.

Kom met jou hartseer.

Kom met jou bekommernis.

Kom met jou hele hart.

Jy hoef nie alles vandag op te los nie. Jy hoef nie môre vandag al te dra nie. Daar is ’n God wat groter is as dit wat jou vandag oorweldig.

Neem vandag ’n oomblik en sê:

“Here, ek lê dit neer.
Ek kan dit nie alleen dra nie.
Maar U kan.
Ek vertrou U.”

Gebed

Here Jesus,

ek kom vandag na U toe met alles wat my hart swaar maak.

U weet wat ek dra.

U weet waarvan ek bang is.

U weet waaroor ek bekommerd is.

Vandag lê ek dit voor U neer.

Gee my die genade om dit nie weer terug te vat nie.

Help my om U te vertrou, selfs wanneer ek nie die uitkoms kan sien nie.

Gee my vrede in my hart en hoop vir môre.

Dankie dat ek nie alleen hoef te dra nie.

Dankie dat U my dra.

Amen.

Kyk gerus na ons kort boodskap: “Lê dit neer” op ons Youtube Kanaal en neem ’n paar minute om saam stil te word voor die Here.