PRETORIA
1928 Dodge Victory Six - 'n brief deur JB van der Merwe
Die geskiedenis van die ou kar begin by Oupa Andries van der Merwe. Hy was die eienaıar van 'n 1926 Chrysler. Hy het my vertel dit was van die eerste sessilinder Chryslers wat ingevoer was en hy so gelukkig was om een te bekom teen 'n goeie prys. Die kar het met die volgende eerstes gespog: soliede staal wielnawe, eerste hidroliese brieke wat anders as latere karre rondom die briekdromme getrek was en nie binne nie. Die eienaar van die garage wou die kar van pa koop om in geheel te herstel maar pa weier en gee hom liewer aan 'n ou boer verniet wat sommer die hele bak afgooi en 'n plat bak opsit sodat hy daarmee kan gaan jag.
Nodeloos om te sê hy toe later sommer net daar staan en oproes. Ek was so kwaad oor die hele besigheid dat Pa toe skuldig gevoel het. As kompensasie sê hy toe ek moet na ou Fordsman se kar gaan kyk wat daar by sy huis op klippe slaan. Wat ek gesien het was 'n ou Dodge wat met bande verwyder daar op klippe staan. Die seil van die permanente dak was voos en die verf was plek-plek verbleik. Ek het egter ingestern want ek het gesien dat hy presies die enjin van die ou Chrysler gehad het. Ons het tewens later uitgevind dat dit die eerste model Dodge was wat deur Chrysler oorgeneem was en ter selfdertyd die eerste ses sililnder Dodge geword het. Ek het die vyf bande by ou Forsman gevra en so op die los 'rims' hulle gaan oppomp en toe aan geskroef. Die petroltenk was deur geroes maar ons het die vakuumtenkie gevul en met een van ons sesvolt batterye het ons oë toegeknyp en die aansitter getrap. Hy het onmiddelik gevat en daar ry ek met hom huistoe.
Die herstelwerk het toe begin. Sitplekke is oorgetrek, die dak het 'n nuwe seilstuk gekry en die petroltenk het die ou van die garage vir my reg 'gebraze' (koper sweis). Ek het hom toe Rustenburg toe geneem vir sy lisensie. Daar het 'n neef van pa wat die toetsman was, die lisensie uitgereik maar terselfdertyd in my oor gefluister dat ek nie weer met hom 'n draai in Rustenburg moet gooi nie. Ek is met hom Johannesburg toe en daar het hy langs swaer Piet se garage 'n staanplek gekry.
Op hierdie stadium het ek vir Kotie ontmoet. Met die kuier daar by hulle het die kar voor die huis gestaan toe haar broer Rudy ingestorm kom en skree "Wie se kar is buite?" Ek moes toe eers verduidelik en hom vir 'n 'drive' vat.
Dit het toe later 'n bietjie van 'n probleem geword toe ek en Kotie getroud is en ek 'n pos in Pretoria gekry het. Ons het toe Mers hulle se huis te huur gekry en moes 'n klein karretjie aanskaf omdat sy nog in Johannesburg gewerk het. In l956 toe ons getrou het het ek die Dodge weer op blokke gesit in die stoor op die plaas. Toe kry ek 'n pos Bloemfontein en toe weer een in Durban. Toe ek die pos by die destydse Tegnikon in Pretoria kry het hy toe reeds dertien jaar gestaan en toe besluit ons om hom weer te gaan haal.
Ons is met ons 203 Peugeot daar weg na Marikana toe en het gedink ons sal hom daarmee kan terug tou. Daar gekom moes ons eers weer die wiele laat pomp en die rottemis van die enjin afkrap. Ons het toe maar petrol in die groot tenk en die vakuum tenkie gegooi en die ses volt battery, wat błykbaar nie te goed gelaai was nie, ingesit. Hy wou egter nie vat nie en het hom toe maar begin tou so sukkel-sukkel maar toe ons Saartjies nek vat toe sien ons hy sal hom nie daar kan op sleep nie. Ons maak hom toe maar los en stoot hom net daar om hom om te draai dat ons hom maar kan terug tou. Met die neus afdraand kom die ondeundheid by op en ek sit hom in tweede rat maak die rem los en begin afdraand ry. Ek los die koppelaar en hy vat onmiddelik en net daar draai ek om en kies koers Pretoria toe. Naby ons huis onthou ek van die groot voetbal wedstryd tussen Noord Transvaal en WP maar vleg deur alles tot by ons huis.
Vir Petro se troue het ek toe die enjin laat opdoen deur Dommisse Enginering Works, die enigste wat bereid was om dit te doen. Hulle het nuwe 'sleeves' en ontvormde suiers ingesit. Ek het hom toe oor geverf en alle kleinighede reggemaak. Petro is toe vervoer en ons het alles bevredigend gevind maar ons kon hom daarna nie ordentlik inry nie met al die bulte en dale hier by ons en het ons hom maar in die garage geparkeer totdat Andre hom hier kom wegvat het.