Venterkunde‎ > ‎

Vleeschbank gevind?

posted Jan 6, 2012, 5:29 PM by Christiaan Venter   [ updated Jan 30, 2012, 10:31 PM ]

Die Venters se stamvader Hendrik is oorlede in 1713. Hy het tot met sy dood saam met sy vrou Anna op die plaas Vlijsbank (Vleeschbank/Vleesbank/Vleisbank) geboer. Wanneer presies hulle daar gaan bly het is onseker, maar op 25 Augustus 1704 is die grond amptelik aan hom oorgedra. Dit weet ons na aanleiding van die grondbrief of titelakte (Titelaktes van Stellenbosch, Drakenstein en Swellendam distrikte vir die tydperk 25 Aug 1704 tot 11 Okt 1785 Volume 2, CTD 17.18) D.G. Venter het in sy boek Die Venter-familie reeds in 1957 die titelakte weergegee. Die plaas is destyds behoorlik opgemeet deur ‘n ene Mnr Slotsboo. Hy het die oppervlakte bereken en dit word in die titelakte gegee as 59 morgen en 450 roede. (Ongeveer 51 hektaar.) Hy het ook ‘n skets gemaak op die grondbrief wat links onder gesien kan word. 

Vleesbank kaart soos in titelakte 
Vleesbank kaart rekonstruksie

Regs bo is ‘n illustrasie van hoe die skets van Mnr Slotsboo uiteengesit kan word. Die letters, A,B,C ens. word in die titelakte gebruik en die afstande gegee tussen opeenvolgende punte asook die windrigting wat ingeslaan moet word om by die volgende punt te kom. Mnr Slotsboo se skets is te onduidelik om die letters se posisies uit te maak, so dit moes maar afgelei word. Dit blyk korrek te wees as mens sien dat by presies dieselfde oppervlakte uitgekom word met die indeling soos in die figuur regs bo. Gedeelte A3 is benaderd ‘n reghoek, maar het ‘n klomp punte om die loop van die rivier (E tot H) asook ‘n spruit(?) (B tot E) te volg.

 

Die eerste vraag is natuurlik: “Waar is hierdie plaas gewees?” En die tweede vraag: “Bestaan die plaas vandag nog?” D.G. Venter skryf dat die wyle eerwaarde Dr. A Dreyer wat argivaris van die N.G. Kerk in die Kaap Provinsie was, hom in 1933 beduie het om by die plaas uit te kom. Hy het dit toe as volg in sy boek beskryf: ”As ‘n mens van Hermonstasie af die pad neem na die kant van Riebeekkasteel, d.i. noord-wes kom jy na ‘n myl of wat by die brug oor die Bergrivier. Daar is nog die drif, of soos die dokument dit noem “doordrift”, duidelik te sien en is bewys dat mens op die regte plek is, want vlak daar naby lê die werf van Vleeschbank of “Vlijsbank”. “  D.G. Venter het ook 2 foto’s geplaas in sy boek:

Vleesbank se huis in 1933
Uitsig vanaf Vleesbank

So, bestaan Vleesbank nog vandag in 2012? Dit lyk tog so, of ten minste die plaas wat destyds aan D.G. Venter as Vleesbank uitgewys was. Kom ons kyk na ‘n paar hedendaagse foto’s:

Vleesbank se huis vandag


Uitsig vanaf Vleesbank


Die 2 foto’s bo is by die gasteplaas Du Vlei geneem. Ek het kontak gemaak met die eienaars, Albert en Thereza Du Toit en gevra of hulle iets weet van ‘n Vleesbank/Vleisbank/Venter konneksie met die plaas. Albert Du toit het terug laat weet dat dit wel die regte plek is. Ek plaas hier die relevante inhoud van sy       e-pos, gedateer 24 Des 2011, aan my:

Jy is definitief by die regte Vleesbank (huidiglik Vleisbank). DuVlei is die produk van Du Toit (Du) en Vleisbank (Vlei). Die plaas is al vanaf Maart 1929 in die Du Toit familie se besit. My pa (Jan , oorlede 2004) was 11 maande oud toe hy hier gekom het in 1929. Voor 1929 is die plaas deur Besters besit. Hul het in finansiele moeilikheid geraak en eers Vleesbank A (nou Monte Vista met eienaar Dries Vlok) en toe Vleesbank B (nou Vleisbank met my as eienaar) afverkoop. Die Besters het toe op Vleesbank C (Bellevue)gaan woon. Hulle het Bellevue toe in die sewentiger jare weer verdeel, maar in die tagtigs alles verkoop. Huidiglik is daar ‘n hoenderplaas en ‘n kleinhoewe. Verder is die “ou werf” en 3 x grafte ook nog hier. Dis baie vervalle en vaag, maar ten minste nog herkenbaar.


Albert Du Toit het verder ook genoem dat daar al deur die jare 3 ander Venters, nl. Michilina Josina, Cassie en Michael was wat daar navraag gedoen het oor die plaas se Venter-verbintenis. Hy het hul besonderhede ook aan my verskaf. Dit blyk, maar is nie bevestig nie, dat die ou werfshuis nou deel vorm van die gasteverblyf en te oordeel aan hul webtuiste se foto’s lyk dit na ‘n heerlike plek. Hulle het slaapplek vir 40 mense. Ek sal beslis later vanjaar poog om daar uit te kom en onder andere na die 3 grafte te gaan kyk. Die grafte is ongemerk en aangesien daar deur die jare heelwat verskillende families op die plaas gebly het, is die kans bitter klein dat dit Venter-grafte is. Miskien as daar ander Venters is wat naby woon kan hul dalk gaan oorslaap en ‘n paar foto’s aanstuur vir plasing? Dis deel van al die Venters se gesamentlike geskiedenis. Waar Hendrik se oorspronklike 59 morgen en 450 roede plasie gelee was, is nog nie finaal uitgepluis nie en sal verdere ondersoek verg. Maar dat dit die regte omgewing was waar hy geboer het, dis seker.


Lugfoto van gebied rondom Vleesbank


Comments