Venterkunde


Piet se Blog 12 van 2014

posted May 4, 2014, 3:24 PM by Christiaan Venter

Venter Blog 12-14

Van alles en nog wat oor Venters
van heinde en ver
(en van alles wat vir Venters van belang is)

 

Goeiedag mede-Venters en Vriende!

Ek begin hierdie blog skryf so ‘n paar dae voor die groot stemdag op Woensdag, 7 Mei. Ons sal maar moet sien of ek dit voor, op, of na daardie datum voltooi! Gewoonlik word my skryfsels voltooi binne ‘n dag of wat nadat ek daaraan begin skryf het.

Vir die verkiesing – mag die beste span wen, soos ons in rugby voor ‘n wedstryd sê J As dit maar so kon gewees het, wat die politiek betref, né? Dan sal ons land ‘n beter plek wees om in te woon!

‘n Verduideliking en apologie

So ‘n week gelede het ‘n ‘ongelukkie’ my oorgekom, wat my nogal laat dink het aan N.P van Wyk Louw se gedig, ‘Die Beiteltjie’. Ek wou voldoen aan ‘n versoek van ‘n skoolvriendin, om die ‘lyf’ van VenterBlog 11-14 dmv knip, kopieer en plak in ‘n gewone e-pos weer te gee, en om dit dan aan haar te stuur. Ek het nog nooit voorheen soiets gedoen nie, en ek het ook nie geweet hoe om so ‘n e-pos aan net een persoon te stuur nie. Wel, na ‘n lang gesukkel het ek die eerste stap reggekry. Toe ek die e-pos aan haar wou stuur, was haar kontakbesonderhede ge-‘highlight’, en ek klik toe daarop. Wat gebeur toé? Ek sien toe die rekenaar begin e-posse aan al my kontakte stuur, en hoe meer ek dit probeer stop, hoe meer hou hy aan daarmee! L

Ek vra mooi om verskoning dat ek u daarmee eintlik ge-‘spam’ het, maar u sal my seker vergewe, né? J

‘n Paar ‘pluspunte’ nav die ‘ongelukkie’

‘n Hele paar familielede, en selfs my Duits-onderwyseres van 51 jaar gelede (!), het op die e-pos, wat uitgestuur is, gereageer. Almal van hulle was baie vriendelik, en ek besef toe dat wat ek aangevang het nie so sleg is as wat met die ‘Beiteltjie-ou’ gebeur het nie!

Ek het e-posse ontvang, o.a. van Lizette Venter Bruni, Justine Venter Walmsley, Susan Venter Opperman, Schagné Venter, en Sarel Venter. Susan en Schagné woon in Australië, en Justine woon in Engeland.

Schagné is ‘n dogter van die skrywer, Paul C. Venter, en Justine het in Rhodesië grootgeword. Sy het ‘n Engelse moeder, en is, toe sy nog jonk was, saam met haar moeder na Engeland. Sy verstaan dus nie Afrikaans nie en het gevra of daar nie ‘n Engelse weergawe van die blog is, wat ek aan haar kan stuur nie. Ek moes haar ongelukkig teleurstel, maar verwys haar toe na Christiaan Venter se webblad, ‘Die Venters van SA’. (Die skakel is: www.saventers.co.za ).

Ek het geweet dat Christiaan ‘n hele paar van die blogs by sy webblad ‘aangehak’ het, en ek het gedink dat mens ‘Google-Translate’ kan gebruik om bv. Engelse vertalings daarvan te kry. Dit ‘werk’ ongelukkig nie so nie, maar, as u klik op ‘Piet se Blogs’ onderaan die ‘menu’, op die linkerkant van die webblad, sal u uitkom by die ‘blog-blad’. Deur te klik op een van die blog-nommers, kan u daardie blog op die webblad te lese kry.

Regs bo, op u rekenaarskerm, op die webblad, is daar ‘n ‘Translate-tab’. As u daarop klik, kan u vertalings van wat op die webblad geskryf is, in ‘n hele verskeidenheid tale kry. Ek het myself geamuseer deur te kyk na vertalings van wat Christiaan geskryf het – in Engels, Duits, Nederlands, Russies, Frans, Spaans, Italiaans, Grieks, Latyn, Gujarati, en Zoeloe! In die Engelse vertaling word daar na ‘die uwe’ verwys as ‘Pete’, of ‘Peter’ – ja, tót die naam word vertaal! J

Ek hoop om sommer ‘n hele klompie bydraes van Schagné en van ons ander familielede in die diaspora te kry. Hierdie blogs is nie net ‘Piet se blogs’ nie, hoewel hy moet ‘pa staan’ vir die inhoud hiervan.

Hier moet ek sê dat ek probeer sorg dat die blogs die denke en gevoelens van seker die meerderheid Venters sal reflekteer en sal artikuleer, en bydraes en terugvoer van familielede sal baie daartoe meehelp dat ek in voeling bly met hoe ons mense dink oor dinge wat vir Venters van belang is.

Ek moet ook byvoeg dat ek tot dusver ‘n soort ‘eenman-orkes’ was – ek is ‘n MWAM – ‘n middeljarige wit Afrikaanse man! J Ons spesie – ons het ons ‘verstand’ in die vorige bedeling gekry (al het ekself ‘n sg. ‘liberal education’ aan die Universiteit van Natal gehad) – is besig om ‘uit te sterf’, Dit is ons kinders, dws. mense van hulle ouderdom – wat ons vorentoe moet neem. Die toekoms van ons almal is in hulle hande!

‘n ‘Trek’ om die oë, wat eie aan Venters is?

Op Christiaan se webblad, www.saventers.co.za , merk hy op dat daar ‘n sekere ‘trek’ om die oë van ons familielede is – hy verwys na sekere foto’s op sy fotoblad.

In watter mate dink u moontlik dat so ‘n opmerking korrek sou wees, en, indien wel, hoe sou mens so ‘n ‘trek’ beskryf? (Of gaan dit oor ons familielede se oë).

Ek vra die vraag omdat Nina Venter de Villers, wat nog nooit Christiaan se webblad gelees het nie, teenoor my dieselfde opmerking gemaak het.

Ek ontvang graag u menings hieroor, plus foto’s wat moontlik so ‘n mening sou staaf, of sou weerlê. Kan ‘n mens hieroor veralgemeen?

Ander ‘oorerflikhede’   

‘n Nig van ons het aan my gesê dat ek minder oor DNS (‘DNA’)-toetse moet skryf (omdat baie mense dit nie verstaan nie) en meer oor ander liggaamlike eienskappe, wat oorerflik is. Sy het genoem van die kleur van mense se oë en die soorte bloedgroepe wat mens onder Venters, of Venter-familielede kry.

Om sinvol hieroor te kan skryf, moet mens, myns insiens, ‘n genetikus wees, en moet jy alles weet oor Mendel se oorerflikheidswette. Daardie soort kennis het ek nie, maar ek het so ‘n bietjie gaan oplees in die Encyclopaedia Britannica, s.v. ‘Genetics’ en ‘Heredity’.

Ek kan maar net kortweg sê dat daar, ten opsigte van oogkleur, faktore soos ‘dominansie’ en ‘ressessiwiteit’ in berekening gebring moet word. Bruin is ‘dominant’ oor groen en blou, en groen is weer dominant oor blou.

Oor bloedgroep-vererwing, het ek onder ‘Heredity’ in die ‘Britannica’ die volgende gelees: “The four ‘classical’ blood groups O, A, B, and AB, are due to three alleles of a gene. Most human populations have individuals of all four types, and even parents and children, as well as brothers and sisters, may belong to different blood groups.”

Hierdie mededeling word goed geïllustreer tov. die bloedgroepe van myself en my vrou; ons kinders en hulle gades, en ons kleinkinders. My bloedgroep is O+, Hester s’n is A+, ons dogter s’n is O-, en ons seun s’n is, soos myne, O+. Ons dogter se eggenoot s’n is O+, en hulle babadogtertjie s’n is A (my dogter kan nie onthou of dit pos. of neg. is nie). Ons skoondogter se bloedgroep is A-, en haar kinders s’n is A+ en O-.

Vir my is hierdie ‘vererwing’ veel meer ‘kompleks’ as tov. die vererwing van Y-DNS en mtDNS, want by Y-DNS, kry seuns dieselfde Y-DNS patroon (haplotipe) as hulle vaders, en tov. mtDNS kry dogters dieselfde mtDNS patroon (haplotipe) as hulle moeders, behalwe, miskien, vir geringe lukrake mutasies. Afstamming kan daarvolgens met akkuraatheid bepaal word.

Familielede en verjaardae in April 

Baie dankie vir die terugvoer wat ek vanaf familielede ontvang het! Ek het e-posse hieroor vanaf die volgende familielede ontvang: Schagné Venter verjaar op 12 April (soos een van my kleindogters!), Prof. Joop Venter skryf: “My naam is Josef. My pa was Jacobus Daniël Venter. Ek is gebore op 2 April 1932, en my pa, ook op 2 April, 1905.” (Goed uitgewerk!). Hennie Venter skryf dat sy ma se verjaardag op 3 April was, en sy jongste suster se verjaardag is op 13 April; sy oudste suster se verjaardag was op 30 April. Andries Venter skryf: “Beide my seuns (Jan-Albert – 1980, en Zagrijs – 1989) verjaar op 10 April. My moeder is op 19 April 1927 gebore.”

Andries noem ook dat sy seun, Zagrijs, sy BCom (Hons) verwerf het, en dat hy sy leerklerkskap by KPMG doen. Veels geluk aan hom, en aan almal wat gedurende April verjaar het!

Nóg familielede wat in April verjaar

9 Apr. Henko, Kobus; 11 Apr. Louis; 13 Apr. Marnis, Monica, Johan; 14 Apr. Jan; 15 Apr. Henry J.; 17 Apr. Barend; 18 Apr. Vincent; 19 Apr. Francois; 21 Apr. Pieter; 22 Apr. Janneman; 23 Apr. Justus; 24 Apr. Heinrich, Izak; 25 Apr. Bertus; 29 Apr. Corné.

Veels geluk, ook aan hulle!

Twee Duitse webwerwe oor Venters

Die webwerwe is: www.brandigg.ch/nachname/Venter (Switsers) en www.brandigg.at/nachname/Venter (Oostenryks). Die opskrifte van die webwerwe is: “Promis, Firmen, Jedermann … Welches Image”, en dit gaan oor “Der Nachname Venter im Internet”.

As mens op enige van die webblaaie afgaan tot by “Venter bei Facebook”, kry jy tien verwysings na Venters op Facebook. “Die uwe” het ook seker iets ‘verkeerds’ gedoen, want sy naam is by no. 9, as “Facebook User” J.   Daar staan: “Piet Venter/Facebook User”, en die skakel is: www.facebook.com/pr.venter  

Nommer 6 op dié lys is Mandy Venter, ‘n Duitse Venter. Klik op ‘Mandy Venter/Facebook User’, om te sien hoe lyk ‘n Duitse Venter!

As u na foto’s en afbeeldings van, oor, of ivm Venters, wil kyk, kan u regs bo op elke webblad klik by “Sie suchen Bilder zu Venter”. Daar is selfs ‘n afbeelding van drie voorstelle vir ‘n SA Venter familiewapen, wat toe nie die paal gehaal het nie!

Oorsake van kanker

Ek wil graag volgende keer hieroor skryf. U kan solank gaan kyk na die webblad van die American Cancer Society: http://www.cancer.org/cancer/cancercauses/index                                                 

Hartlike groete en seënwense!

 

Piet Venter [ b5c2d8e1f6g15h7i1 ]
Tel. +27 12 651 3229
e-pos:
pr.venter@telkomsa.net  

Venters op die Web: www.saventers.co.za  ; www.venter.org ; www.venter.co

Christo Venter se webblad: www.christo.co.za
Jan Venter se webblad:
http://venter.ibsn.net.au/

'n Venter Gedenksteen

posted Oct 13, 2013, 3:51 PM by Christiaan Venter   [ updated Oct 13, 2013, 3:56 PM ]

Die jaar 1713 was 'n uiters droewe jaar onder in die Kaap. Vanjaar in 2013, is dit net mooi 300 jaar gelede, wat 'n epidemie aan die Kaap gewoed het wat verreikende gevolge vir baie gesinne en families en selfs vir vandag se Suid-afrika ingehou het. Dit was 'n Pokke epidemie. Daar was byna nie 'n gesin wat nie ten minste een lid verloor het nie. Die Venters was geen uitsondering nie. In daardie jaar het ons stamvader en -moeder, Hendrik en Anna (Viljoen) albei gesterf. 

Die inventaris van Hendrik se boedel is gedateer 18 April 1713 en dus het hy voor hierdie datum reeds gesterf. Anna het nie baie lank na Hendrik gesterf nie. Haar boedel is gedateer 15 Junie 1713. Ook van hulle kinders, naamlik Francois en Anna Sabina het in 1713 gesterf. Hoogs waarskynlik ook te wyte aan die pokke.

Tog, ten spyte van baie teenspoed, is die Venters vandag 'n groot familie in Suid-Afrika. Daar is verskillende skattings van die getalle, maar dit is beslis tiene van duisende. Alle rekords so ver dui aan dat die Venters van Suid-Afrika net die enkele stamvader, naamlik Hendrik Venter, het en dus is ons almal familie.

In 1713 het Hendrik en sy gesin op die plaas Vleesbank gebly. Hierdie plaas van ongeveer 50 hektaar is op 25 Augustus 1704 aan hom oorgedra. Waar die oorspronklike stukkie van 50 hektaar presies was, is tans nog deel van 'n ondersoek, maar ons weet dat dit baie naby aan die dorp Riebeeck-Kasteel is.

Nou is daar 'n plan. Die plan is om vanjaar nog 'n gedenksteen op die terrein van die NG Kerk in Riebeeck-Kasteel te laat oprig. Deur Venters, vir Venters. Vir al ons Venters. 

Ons voorgeslagte het oor die afgelope 300 jare baie dinge oorleef. As dinge in 1713 net effens anders verloop het, dan was daar vandag geen Venters in Suid-Afrika nie. As Pieter Venter ook soos sy broer, sy suster, sy pa en ma moes gesterf het, dan was daar niemand om hierdie te skryf nie. In tye soos nou kan ons onthou dat ons nie per ongeluk hier is nie en dat die Venters se begin in hierdie land onder uiters moeilike omstandighede was. En kyk waar's ons vandag.

Die gedenksteen sal 'n tasbare simbool wees te herdenking van Hendrik en Anna se dood in 1713 en ook 'n plek waar elke Venter kan gaan en onthou dat jy hier behoort. Op die oewer van die Bergrivier is ons geplant en van Kaapstad tot Musina; van  Oos-Londen tot Alexanderbaai - daar blom die Venters voort.

__________________________
* Die organisasie ten opsigte van die gedenksteen verloop goed. As enigeen ook graag wil bydrae tot die finansiële aspek van hierdie projek, dan sal dit opreg waardeer word. Kontak asb. vir Piet Venter by pr.venter@telkomsa.net

Venter foto's

posted Jan 9, 2012, 1:19 PM by Christiaan Venter

Die fotogallery is terug, met sommer 'n paar nuwe foto's by. Gaan loer regs onder op die tuisblad. Die vorm van die Venters se oë blyk 'n sterk geen te wees, want daar is duidelike ooreenkoms op baie van die foto's. As iemand lekker interessante foto's het of sommer een van jouself of jou gesin, stuur dit gerus in om ook deel te word van die gallery. Altyd lekker om nuwe gesigte te sien.

Vleeschbank gevind?

posted Jan 6, 2012, 5:29 PM by Christiaan Venter   [ updated Jan 30, 2012, 10:31 PM ]

Die Venters se stamvader Hendrik is oorlede in 1713. Hy het tot met sy dood saam met sy vrou Anna op die plaas Vlijsbank (Vleeschbank/Vleesbank/Vleisbank) geboer. Wanneer presies hulle daar gaan bly het is onseker, maar op 25 Augustus 1704 is die grond amptelik aan hom oorgedra. Dit weet ons na aanleiding van die grondbrief of titelakte (Titelaktes van Stellenbosch, Drakenstein en Swellendam distrikte vir die tydperk 25 Aug 1704 tot 11 Okt 1785 Volume 2, CTD 17.18) D.G. Venter het in sy boek Die Venter-familie reeds in 1957 die titelakte weergegee. Die plaas is destyds behoorlik opgemeet deur ‘n ene Mnr Slotsboo. Hy het die oppervlakte bereken en dit word in die titelakte gegee as 59 morgen en 450 roede. (Ongeveer 51 hektaar.) Hy het ook ‘n skets gemaak op die grondbrief wat links onder gesien kan word. 

Vleesbank kaart soos in titelakte 
Vleesbank kaart rekonstruksie

Regs bo is ‘n illustrasie van hoe die skets van Mnr Slotsboo uiteengesit kan word. Die letters, A,B,C ens. word in die titelakte gebruik en die afstande gegee tussen opeenvolgende punte asook die windrigting wat ingeslaan moet word om by die volgende punt te kom. Mnr Slotsboo se skets is te onduidelik om die letters se posisies uit te maak, so dit moes maar afgelei word. Dit blyk korrek te wees as mens sien dat by presies dieselfde oppervlakte uitgekom word met die indeling soos in die figuur regs bo. Gedeelte A3 is benaderd ‘n reghoek, maar het ‘n klomp punte om die loop van die rivier (E tot H) asook ‘n spruit(?) (B tot E) te volg.

 

Die eerste vraag is natuurlik: “Waar is hierdie plaas gewees?” En die tweede vraag: “Bestaan die plaas vandag nog?” D.G. Venter skryf dat die wyle eerwaarde Dr. A Dreyer wat argivaris van die N.G. Kerk in die Kaap Provinsie was, hom in 1933 beduie het om by die plaas uit te kom. Hy het dit toe as volg in sy boek beskryf: ”As ‘n mens van Hermonstasie af die pad neem na die kant van Riebeekkasteel, d.i. noord-wes kom jy na ‘n myl of wat by die brug oor die Bergrivier. Daar is nog die drif, of soos die dokument dit noem “doordrift”, duidelik te sien en is bewys dat mens op die regte plek is, want vlak daar naby lê die werf van Vleeschbank of “Vlijsbank”. “  D.G. Venter het ook 2 foto’s geplaas in sy boek:

Vleesbank se huis in 1933
Uitsig vanaf Vleesbank

So, bestaan Vleesbank nog vandag in 2012? Dit lyk tog so, of ten minste die plaas wat destyds aan D.G. Venter as Vleesbank uitgewys was. Kom ons kyk na ‘n paar hedendaagse foto’s:

Vleesbank se huis vandag


Uitsig vanaf Vleesbank


Die 2 foto’s bo is by die gasteplaas Du Vlei geneem. Ek het kontak gemaak met die eienaars, Albert en Thereza Du Toit en gevra of hulle iets weet van ‘n Vleesbank/Vleisbank/Venter konneksie met die plaas. Albert Du toit het terug laat weet dat dit wel die regte plek is. Ek plaas hier die relevante inhoud van sy       e-pos, gedateer 24 Des 2011, aan my:

Jy is definitief by die regte Vleesbank (huidiglik Vleisbank). DuVlei is die produk van Du Toit (Du) en Vleisbank (Vlei). Die plaas is al vanaf Maart 1929 in die Du Toit familie se besit. My pa (Jan , oorlede 2004) was 11 maande oud toe hy hier gekom het in 1929. Voor 1929 is die plaas deur Besters besit. Hul het in finansiele moeilikheid geraak en eers Vleesbank A (nou Monte Vista met eienaar Dries Vlok) en toe Vleesbank B (nou Vleisbank met my as eienaar) afverkoop. Die Besters het toe op Vleesbank C (Bellevue)gaan woon. Hulle het Bellevue toe in die sewentiger jare weer verdeel, maar in die tagtigs alles verkoop. Huidiglik is daar ‘n hoenderplaas en ‘n kleinhoewe. Verder is die “ou werf” en 3 x grafte ook nog hier. Dis baie vervalle en vaag, maar ten minste nog herkenbaar.


Albert Du Toit het verder ook genoem dat daar al deur die jare 3 ander Venters, nl. Michilina Josina, Cassie en Michael was wat daar navraag gedoen het oor die plaas se Venter-verbintenis. Hy het hul besonderhede ook aan my verskaf. Dit blyk, maar is nie bevestig nie, dat die ou werfshuis nou deel vorm van die gasteverblyf en te oordeel aan hul webtuiste se foto’s lyk dit na ‘n heerlike plek. Hulle het slaapplek vir 40 mense. Ek sal beslis later vanjaar poog om daar uit te kom en onder andere na die 3 grafte te gaan kyk. Die grafte is ongemerk en aangesien daar deur die jare heelwat verskillende families op die plaas gebly het, is die kans bitter klein dat dit Venter-grafte is. Miskien as daar ander Venters is wat naby woon kan hul dalk gaan oorslaap en ‘n paar foto’s aanstuur vir plasing? Dis deel van al die Venters se gesamentlike geskiedenis. Waar Hendrik se oorspronklike 59 morgen en 450 roede plasie gelee was, is nog nie finaal uitgepluis nie en sal verdere ondersoek verg. Maar dat dit die regte omgewing was waar hy geboer het, dis seker.


Lugfoto van gebied rondom Vleesbank


Pieter Venter - 2de stamvader

posted Jan 6, 2012, 12:38 PM by Christiaan Venter   [ updated Oct 13, 2013, 12:44 PM ]

Pieter word nou algemeen aanvaar as die 5de kind van stamvader Hendrik Venter, en dus 4de kind van Hendrik saam met sy tweede vrou Anna Viljoen. Pieter was gedoop op 18 Oktober 1699 in die NG Kerk op Stellenbosch. Hier is 'n foto van die doopregister en 'n vergroting van sy inskrywing:

Pieter Venter se doopbrief op 18 Oktober 1699

Pieter Venter se doop - 18 Oktober 1699

Hierdie is ontsyfer as Pijeter soon van Henderck Fenter de moeder Anna Filijon de getùgen Pieter Filon en Fijtijn Schalck ijs gedoop den 18 October 1699 danksy die werk van  Lorna Newcomb and Ockert Malan, samestellers, Annale van Nederduits Gereformeerde Moedergemeente Stellenbosch No 1 CD-ROM. Stellenbosch Die Genootskap vir die Kerkversameling, 2004.
Die notaris het seker nooit 'n A vir skrif gekry nie en nog minder vir spelling as mens kyk na die onkonsekwentheid in bv. die twee verskillende spellings Filijon en Filon van broer en suster se van Villion (Viljoen). Die ander kinders van Hendrik se doopinskrywings kan ook besigtig word op e-family se blad.

Wanneer Pieter gebore is, is onbekend, maar natuurlik dan voor 18 Oktober 1699. Hy is getroud op 30 November 1721 met Hester Nel, dogter van Guillaume Nel en Jeanne de la Batte en duidelik 'n Franse meisie. Hulle het op die end 13 kinders gehad, waarvan 11 seuns was. Met 11 seuns en genoeg tyd kan mens 'n groot nasie bou, soos duidelik te siene aan die groot aantal Venters vandag, 300 jaar later. Die Venters se  getalle word geskat rondom 50 000. Pieter is oorlede in 1758, aangesien hy toe vervang is as ouderling in die Zwartland gemeente. Hy verskyn nog in 1755 as een van die ontvangers op die testament van Cornelis van Rooijen in MOOC8/9.29

Pieter is so ver bekend die enigste seun van Hendrik wat 'n nageslag gehad het, wat hom dus ons tweede stamvader maak. Papier genealogie beaam dit so ver. Sy pa en ma is albei in 1713 oorlede, waarskynlik aan pokke soos ontstellend baie ander mense in daardie tyd.


Lang Andries Venter - Die Boerereus

posted Jan 6, 2012, 12:32 PM by Christiaan Venter

Die Boerereus - Andries Venter
Andries was voorwaar 'n groot en lang Venter. Sy lengte word wisselend aangegee as tussen 2.08m en 2.2m. Hy was van Suid-Afrika en het gedien as lyfwag vir wyle Z.A.R. president Paul Kruger. Hy het hom na Engeland vergesel en toe nie weer terug gekeer nie. Die foto langsaan is gestuur deur Brenda Venter, die vrou van Tim Venter van Australie. Hy is 'n agterkleinseun van Andries. Die byskrifte is in Duits omdat dit geneem is tydens 'n besoek in 1907 aan Dortmund in Duitsland. Van Nicolaas Venter is ook verneem dat sy oom Andries Stephanus Venter van Nieu-Zeeland, wat 'n kleinseun van Lang Andries is, vertel het dat Lang Andries wel destyds 'n vrou en 5 kinders in SA agtergelaat het en toe in Engeland getroud is en een seun Andries James Maxfield daar gehad het.
Poskaart met info van Lang Andries Venter

Venter Groeperinge

posted Jan 6, 2012, 12:26 PM by Christiaan Venter

Onder die Venters het daar deur die jare verskillende 'tipes' ontstaan. Redelik bekend is die Riem-Venters, dis nou die lang, skrales en dan is daar die Kalbas-Venters, wat bietjie meer aan die kort en ronde kant is. Die Blikoor-Venters is die Vrystaters en verder is daar ook die Muishond-Venters. Frans Venter vertel die storie so: "Ja, ongelukkig moet ek nou erken dat ek verstaan dat ek (Francois Alwyn, gebore 1944-03-09), by my Pa (Barend, gebore 1912-04-16 en oorlede Junie 1976), verneem het dat ‘ons’ deel van die Muishond-Venters is. Volgens my Pa, het die benaming gekom uit ‘n insident toe daar op ‘n dag tydens ‘n groot Venter-familie-saamtrek ‘n muishond baie onwelkom sy verskyning tussen die spulletjie gemaak het en groot konsternasie veroorsaak het. Daarna het die ‘kontrei’ verwys na die Muishond-Venters." 
Verder is name al genoem soos die Stormberg-Venters, Dopper- en NG-Venters.

1-7 of 7