Stamboom

Hier kyk ons na wat ons weet van ons stamvader en van die oorsprong van die Venters.
 

Die Stamvader - Hendrik Venter

A. Wie was Hendrik voor hy aan die Kaap gekom het?

Huidiglik is daar heelwat aktiewe navorsing rondom wie die SA Venters se stamvader werklik was, of eerder, wie hy eintlik was voor hy na Suid-Afrika toe gekom het. Oor sy lewe in Suid-Afrika en sy doen en late is daar redelike konsensus. Tot onlangs was dit baie algemeen aanvaar dat onse Hendrik afkomstig was van Hameln in Duitsland, maar dit blyk onwaar te wees. Om te lees oor die Heinrich Conrad von Dempter van Hameln Duitsland teorie, lees gerus die artikel(30KB) van Gerrit Venter oor die SA Venters se Europese voorgeslagte. Hierdie artikel het verskyn in Familia 43 (2) 2006, pp. 36-37.
 
Maar ons kan met erns vra of Hendrik Venter dieselfde persoon as Heinrich Conrad von Dempter was - die man van Hameln.
Om hierdie vraag te beantwoord moet daar eers weer noukeurig gekyk word na die von Dempter familie en hulle geskiedenis. Die von Dempter familie was ‘n baie bekende familie in veral Hildesheim en Hameln, Duitsland. Hulle het besighede besit en sommige het selfs gedien as burgemeester van Hameln. Tobias von Dempter se huis (die Dempter Huis) is vandag steeds te sien en is ‘n besienswaardigheid vir toeriste. Volgens die argiewe in Hameln, Hildesheim en Munchen was die von Dempter van oorspronklik “Eggers” en het dit von Dempter geword na aanleiding van die dorpie Deventer in Nederland waarvandaan hulle oorspronklik geëmigreer het. Die oorspronklike “stamvader” Heinrich von Dempter was ‘n handelaar of koopman (kaufmann). Die nageslagte van Heinrich von Dempter is ook opgeteken en dit blyk nie so vaag te wees as wat meestal aanvaar word nie. Die naam Heinrich is ook die stamnaam van die von Dempter familie en is steeds so in gebruik (saam met ander, natuurlik). Sommige van die nasate wat nie in Hildesheim of Hameln agtergebly het nie, het blykbaar ook terug geval op die oorspronklike van Eggers en hierdie familie het ook steeds Heinrich as die stamnaam. In ander lande, byvoorbeeld die VSA, het die naam later Henry geword, maar hul dui steeds hul voorvaders aan as Heinrich. Ander name in die familie is Johann, Tobias, Wilhelm, Christian ens. Hierdie families se Y-DNS blyk R1b1 te wees. (Ten minste, die wat hulle laat toets het). Die Eggers familie is die eerste keer (so wil dit voorkom) opgeteken tussen 742 en 814. Gedurende die tydperk toe die von Dempter familie in Hildesheim en Hameln was, was daar net 2398 inwoners in Hameln en 5500 in Hildesheim en almal is opgeteken. Wat betref ons stamvader Hendrik Venter, is daar absoluut geen rekord sover dat hy vanaf Hameln in Duitsland was nie. In al die rekords in die Kaapse argiewe, word hy altyd opgegee as vanaf Hamel. Die mense wat in die Kaap geland het en wie vanaf Hameln, Duitsland afkomstig was, is ook altyd so opgeteken, naamlik Hamelin of Hamelen. Nooit Hamel nie. Hendrik het ook nooit enige van sy kinders vernoem na die von Dempter familie nie, en sy kinders het dit ook nooit gedoen nie. Hy het ook nooit die naam Heinrich of Conrad gebruik nie en wanneer hy kontrakte geteken het, het hy meestal “HF” geteken. Hier en daar het hy met “X” geteken.

So wie was Hendrik as hy nie Heinrich von Dempter was nie? M.a.w., waar was ons stamvader dan vandaan? Hierdie vraag word tans nog ondersoek. Lees meer.
Die hele aangeleentheid rondom Hendrik se ware herkoms bly steeds ietwat van 'n misterie en ons gaan dalk nooit bo alle twyfel weet presies wie hy was voor hy Kaap toe is nie.
  

B. Onse Hendrik aan die Kaap.

Die huidiglik algemeen aanvaarde teorie is dat Hendrik Venter in ±1683 as soldaat in diens van die VOC na die Kaap gekom het. Hy is sowat twee jaar daarna bevorder na die rang van adelborst (kandidaat-offisier), en het waarskynlik in 1688/89 ‘n vryburger geword toe sy kontrak met die VOC verstryk het. Of Hendrik werklik 'n soldaat was, is ook nie 100% seker nie. Dit blyk dat die VOC in daardie jare enige nuwe werknemer as 'soldaat' geklassifiseer het, ongeag watter rol/beroep hy werklik sou vervul en dieselfde met adelborst. Dit blyk moontlik net posvlakke te verteenwoordig het. Sien bv. die volgende.
Daar is egter opgaafrolle wat wys dat Hendrik reeds in 1682 eiendom besit het en geboer het. Dit kon nog nie die plaas Nasaret gewees het nie. Hy het ‘n gedeelte van Nasaret by Hendrik Cornelisz gekoop, maar Cornelisz het die plaas Nasaret eers op 17 September 1692 bekom. So, Hendrik kon sy gedeelte eers daarna bekom. (Willem Adriaan van der Stel het ook ‘n gedeelte van Nasaret gekoop en was Hendrik se buurman). Hendrik Venter het weliswaar ‘n eiendom gekoop van Hendrik Cornelisz op 22 Februarie 1690 en dit is opgeteken as ‘n huis en erf in Stellenbosch. Sover kon daar nêrens ‘n rekord in die argiewe opgespoor word wat aandui dat Hendrik ‘n kleremaker was nie, so dis onseker hoekom Darrell Hall daarna verwys in sy boek A Venter Family History. Hendrik is altyd opgeteken as ‘n landbouer (boer). – Terloops, niemand in die von Dempter familie het ooit geboer nie. Hulle was altyd handelaars of sakemanne.
Die VOC was ‘n kommersiële instansie wat wins nagestreef het en het dus baie noukeurig rekord gehou van inkomstes en uitgawes, belasting, populasie en enige handel wat gedryf is. So is Hendrik Venter ook opgeteken in die slawe transaksie register, waar hy slawe gekoop of verkoop het. Hy is verder ook opgeteken in hofstukke, waar hy onder andere deur Matijs Greef en Hendrik Rode gedagvaar is omdat hy nie betaal het nie. Matijs Greef het verder ook vir Hendrik Venter gedagvaar nadat laasgenoemde hom met die dood gedreig het. Op 25 Augustus 1704 is die plaas Vleeschbank (Vlysbank) aan Hendrik Venter toegeken en in 1710 verkoop hy sy gedeelte van die plaas Nasaret aan Johan Viljoen.

Hendrik het op 17-07-1690 met Johanna Mostert getrou, maar sy is vroeg oorlede. Toe op 9-12-1691 trou hy met Anna Viljoen (Villion) wie se pa 'n Fransman was en haar ma 'n Nederlander. Hierdie Fransman Villion, is die stamvader van die Viljoens in Suid-Afrika. Hendrik en Anna het 9 kinders gehad waarvan 6 seuns was. Van al 6 het net een kinders gehad, of so blyk dit in elk geval. Die een was Pieter Venter en hy is dan 'n tweede stamvader vir al die SA Venters. 
Hendrik en sy vrou Anna is oorlede in 1713, gedurende die pokke-epidemie. Hy is oorlede voor 18 April 1713, want dit is toe die inventaris van sy boedel gepubliseer is. Volgens die rekords is hy begrawe op 2 Mei 1713 en sy vrou op 11 Mei 1713. Reinier van de Sande het die perdewa vir die begrafnis voorsien en Paul Roux het die begrafnisklere gemaak en die begrafnis voltooi vir Hendrik. Francois Guto het Anna se begrafnis voltooi. Die vraag is, as hy voor 18 April reeds oorlede was, maar eers op 2 Mei begrawe is, waar en hoe was hy gestoor gewees? Dis nogal 'n lang periode.

Die boom

'n Redelik volledige uiteensetting van die vroeëre Venter stamboom is redelik vrylik beskikbaar in familie registers te vinde in groot biblioteke. 'n Goeie bron is opgevat in GISA(Genealogiese instituut van Suid-Afrika) se volume 14 van familieregisters. Hierdie boek is te koop teen ongeveer R400 by GISA. Neem in gedagte dat hierdie bron nie 100% volledig is nie, daar is ontbrekende Venters.

Venter registers is ook elektronies beskikbaar. Wie presies verantwoordelik was vir die opstel van hierdie elektroniese weergawes is onseker, maar dat dit 'n reuse werk was, is inderdaad baie seker. Hierdie registers het ongelukkig heelwat foute in, so indien jou persoonlike navorsing strydig is met die inhoud hier, bly dan eerder by jou eie bevindinge! Ten spyte van die foute wat daarin voorkom, is die volgende twee leêrs tog dikwels van nut.

Venter Genealogie/Stamboom Deel 1(996KB)

Venter Genealogie/Stamboom Deel 2(1.5MB)

Hierdie twee leêrs het inligting wat strek tot by doodsdatums in die 1980's. So inligting rondom nuwe toevoegings en sterftes na die 1980's ontbreek heeltemal. Daar is ook natuurlik heelwat verlore takke en individue hoër op in die boom. Om die nuwe Venters by te sit sal 'n groot, groot werk wees. Hierdie werk word al oor baie jare lank verrig deur Prof Barend Venter. Sy boek oor die Venters is nog in wording en die afwagting vir die publikasie daarvan is groot.