Familiewapen

Hierdie bladsy word afgestaan aan die Venter Heraldiek. Dankie aan Piet Venter vir sy groot bydrae tot die inligting.

Pieter Venter se seel soos gegee in Allan Loxton se boek: Die Afrikaner-voorgeslag met familiewapens uitgegee in 1933.  Voorstelling van eertydse Venter familieskild, in Cor Pama se boek: Die Wapens van die Ou Afrikaanse Famiies uitgegee in 1959.  Voorstelling van eertydse Venter familiewapen

DIE GESKIEDENIS BETREFFENDE ONS FAMILIEWAPEN

In 1781 het een van ons stamvader se nasate, Pieter Venter, ‘n wasseël gebruik, met ‘n lopende diergestalte daarop. Dié seël is later in die Kaapse argief gevind. Dit lyk na 'n leeu, wat 'n algemene teken was op wapens en seëls. In 1957 is ds. Douw Gerbrand Venter se boek, Die Venter-Familie, gepubliseer. In Hoofstuk 1 van die boek, oor Familiewapens, skryf hy soos volg: “Allan Loxton in ‘Die Afrikaner-voorgeslag met familiewapens’, gee op bl. 35 ‘n afdruk van ‘n seël wat aan die Venters moes behoort het”. Dit is van ‘n dier wat soos ‘n leeu of ‘n wolf lyk.” Op bl. 10 skryf DG Venter dat hy ‘kennis gemaak het’ met mnr. C. Pama se mooi boekie: “Heraldiek in Suid-Afrika”, en dat hy dadelik in korrespondensie met hom getree het. Hy skryf dan verder soos volg: “Die wapenskild wat my indertyd geskenk is, het ek aan hom gestuur vir beoordeling en advies. Mnr. Pama het geen meer lig oor die Venter se seël, wapen of wapenskild kon bring nie. Maar hy was so goed om volgens die beginsels van die heraldiek ‘n ontwerp-wapenskild te teken en te stuur.” In sy brief aan DG Venter sê Pama die volgende: “U het die goeie gedagte gehad om uit die seël dan ‘n heraldiese wapen op te bou. Egter kan die seël dan nie in sy geheel op die skild geplaas word nie, dog dit is beter om die seëlfiguur heeltemal uit die seël te lig en dan op die skild te plaas as ‘n wapenfiguur. Die seëlveld is eenvoudig die agtergrond wat in die wapen die skild is. Ek glo dit sal ook aanbeveling verdien om die dier ‘n tong te gee. Die weglating van die tong op die afbeelding van die seël is waarskynlik alleen maar ‘n onnoukeurigheid van die seëlmaker of tekenaar. Ons moet dit nie bestendig nie. Wanneer die dierfiguur op die helm as helmteken herhaal word, kan die grond natuurlik weggelaat word omdat die dier nou op die ‘wrong’ van die helm rus. Die kleure van die skild: goud en rooi, kan in die ‘wrong’ en dekklede herhaal word. Hoe hierdie wapen dan gaan uitsien, het ek op bygaande tekening geskets. Ek het die skild skuins geplaas wat die oorspronklike stelling van die skild in die ou (Gotiese) heraldiek was en wat teenswoordig algemeen toegepas word. Ek het ook die oop helm op die skild geplaas pleks van die geslote helm. In die Engelse heraldiek word dit nie gedoen nie, dog die familie Venter is van Duitse herkoms en op die vasteland van Europa is dit gebruiklik. Soos ek die wapen geskets het, is dit dus uit ‘n heraldiese oogpunt heeltemal korrek.” DG Venter skryf dan verder: “Van die ontwerp gee mnr. Pama die volgende heraldiese omskrywing: ‘In goud ‘n wolfagtige dierfiguur, op ‘n losse grond geplaas. Alles rooi. Helm met rooi-silwer wrong en silwer-rooi dekklede. Helmteken: die figuur uit die skild sonder grond direk op die wrong geplaas’.” Hoofstuk 1 van DG Venter se boek word afgesluit met die volgende opmerkings: “Hiermee het ons dus nie eintlik verder gekom as wat ons was nie. Tog het ons ‘n wins te boek nl. dat ons eerstens ‘n ontwerp-skild vir die Venters van Suid-Afrika het wat aan die eise van die heraldiek beantwoord en wat, soos dit my voorkom, ‘n kleurryke en waardige wapenskild is. Tweedens weet ons deur mnr. Pama dat ons binne afsienbare tyd ‘n eie kantoor vir Heraldiek in Suid-Afrika sal hê, waar ons, ás die Venters daarvoor eens word, dit kan laat registreer. Derdens, het ons as Venter-familie ‘n takie om te verrig, nl. die vasstelling en registrasie van ‘n wapenskild vir ‘n familie wat seker tog op soiets aanspraak kan maak na goed twee en ‘n halwe eeu se geskiedenis en uitbreiding. DG Venter het dit in 1957 geskryf – die Venters is nou reeds amper 330 jaar in Suid-Afrika.
Robert Venter se persoonlike wapen. 'n Wapen wat verkeerdelik met Venter geassosieer word.

DIE STAND VAN SAKE VANAF 1957

DG Venter het in die vooruitsig gestel dat ‘n familiewapen vir die Venters geregistreer sou word sodra Suid-Afrika sy eie Buro vir Heraldiek sou kry. Die Buro is in 1962 gestig, maar geen familiewapen vir die Venters is ooit geregistreer nie. Daar was wel ‘n mnr. Jacobus Venter wat in 1969 ‘n wapen vir homself laat registreer het, maar dit geld nie as ‘n Venter-familiewapen, dws. ‘n wapen vir alle Venters nie. Buitendien het dit ook, benewens ‘n lopende rooi leeu en drie wit golwings op blou, ander heraldiese figure, soos ‘n oskop en ‘n ‘wassenaar’ (sekelmaan), bevat, wat die persoonlike keuse en voorkeur van mnr. Venter verteenwoordig het. Dan is daar ook in C. Pama se boek, Die Groot Afrikaanse Familienaamboek, ‘n voorstelling van ‘n ‘Venter-wapen’ wat as volg beskryf word:
Wapen: In goud op ‘n los grond ‘n gaande leeu, alles rooi. Helmteken: dieselfde leeu. Dekklede: rooi en silwer.
Baie persone beskou hierdie wapen as die SA Venter-familiewapen; ander weet nie van so ‘n wapen nie, en was al van gedagte dat die persoonlike wapen van die Amerikaner, Robert Venter, eintlik die familiewapen is van alle Venters. Nóg ander persone is of was van mening dat ons familiewapen ‘n vis uitbeeld wat stroomop swem, en ander persone, moontlik vanweë ‘wapensmousery’, het al selfs gedink dat ons familiewapen ‘n ‘griffioen’ as heraldiese figuur het.

Sommige mense sal seker ‘n saak daarvoor probeer uitmaak dat Pama se uitbeelding van ‘n ‘Venter-familiewapen’ nou deur tydsverloop (‘verkrygende’ verjaring en regswerking) die status verkry het van, dat gesê sou kon word dat dit tans ‘gemeenregtelik’ die familiewapen van die SA Venters is. Maar soiets is net moontlik waar daar algemene aanvaarding van so ‘n toedrag deur familielede is, of ten minste deur die oorgrote meerderheid van hulle. Dít kan beslis nog nie gesê word tov. die derduisende SA Venters nie, en, in werklikheid is daar talle Venters wat die Pama-wapen (soos dit in sy boek uitgebeeld word) nie as die familiewapen wil hê nie.

Daar is ‘n paar ander aspekte wat hier in gedagte gehou moet word:
a. Die Raad vir Heraldiek het ‘n besluit geneem dat geen ‘familiewapen’, soos dit in Pama se boek uitgebeeld word, as familiewapen geregistreer mag word nie.
b. Daar kan geen ‘familiewapens’, as sodanig, geregistreer word nie, dws. ‘n volledige wapen (met al die bykomstighede) kan nie as ‘n sekere familie se familiewapen geregistreer word nie.
c. Daar kan wél ‘n skild met die toepaslike heraldiese figure daarop in die naam van ‘n Familiebond geregistreer word. Die boonste een-derde van die skild moet blanko gelaat word, en moet wit of liggeel wees.
d. Individue kan individuele wapens laat registreer, en hulle kan, in geheel, hulle eie ontwerpe gebruik, of hulle kan die wapen van hulle familie se familiebond (as daar een gestig is, en die Bond ‘n bondswapen het) as grondslag gebruik, en dan hulle eie onderskeidende merktekens of figure in die blanko-gedeelte van die skildhoof aanbring. Verder sal/kan hulle ook hulle eie ontwerpe en kleure aanbring tov. die bykomstighede, dws. die helm, helmteken, wrong en dekklede. Dan kan hulle ook ‘n eie wapenspreuk in die wapenlint onderaan die skild hê.
Venter Familiebond se wapen. Venter Familiebond se skild met oop skildhoof waarin Venters hulle eie idees kan invoeg.

DIE BONDSWAPEN VAN DIE JOHANNES VENTER FAMILIEBOND

Piet Venter, voorsitter van die Johannes Venter Familiebond, skryf:

Dit was nogal ‘n lang proses vandat ons begin het met idees oor hoe ons Bondswapen behoort te lyk, en die sketse daarvan, wat eers deur Dawid en toe Louis, twee van ons lede vir ons geteken is, ná ‘n stemproses verminder is vanaf sestien na vyf. Ons kon nie konsensus oor ‘n wenontwerp bereik nie – quot homines tot sententiae, ‘soveel hoofde, soveel sinne’, lui die spreekwoord ?, en toe is besluit dat ons ‘n stemming sou hou, waaraan die stigterslede sou deelneem. Deur meerderheidstem is daar besluit op ‘n ontwerp vir die wapenskild van die Johannes Venter Familiebond, wat in heraldiese taal só beskryf word (die blasoen): WAPEN: Kepersgewys verdeel van rooi en swart, oor die verdelingslyn heen ‘n goue omgekeerde gaffel, tussen, in die skildhoof regs ‘n silwer Hugenote kruis, en links ‘n goue klimmende leeu, en in die skildvoet ‘n goue proteablom, silwer gesaad; ‘n silwer skildhoof. [‘n Heraldiese beskrywing is ‘n spieëlbeeld van hoe die ‘kyker’ na die skild kyk]. In Engels lui dit só: ARMS: Per chevron Gules and Sable, over the partition a pall inverted Or, between in chief dexter a Huguenot cross Argent, sinister a lion rampant Or and in base a protea flower Or; a chief Argent. Hierdie beskrywings en die ontwerp van die Bondswapen van die Johannes Venter Familiebond / Johannes Venter Family Association is gepubliseer in Staatskoerant no. 32281, G.K. no. 627, gedateer 5 Junie 2009.

DIE SIMBOLIEK VAN DIE BONDSWAPEN

Mense kan verskillende menings hê oor die simboliek verbonde aan ‘n wapen. In ons geval het dit nie gebeur dat ons eers gedink het aan iets wat simbolies voorgestel moes word en dat ons daarna mooi of gepaste heraldiese embleme sou soek nie – dit was ook nie ‘n geval dat ons eers besluit het wat mooi is, en toe gedink het watter simboliek ons daaraan kon heg nie. Ons Bondswapen was eerder die produk van ‘n mengsel van bg. twee moontlikhede, en dit het geskied, so glo ek, deur ingewings van Bó – ‘n vérlangse familielid het juis ‘n beroep gedoen dat ons van hierdie kwessie ‘n gebedsaak moes maak. My eie subjektiewe mening oor die simboliek verbonde aan die Bondswapen is soos volg:

1. Die hoofkleure van die wapen is swart, rooi en goud / geel – dit is die kleure van die Duitse en Belgiese vlae. Dit dui op ons stamvader, Hendrik Venter, se vermeende afkoms (soos vroeër gedink is) vanaf Hameln in Duitsland, en die latere insig dat hy eintlik afkomstig was vanaf Hamel in die ou Wes-Vlaandere. Wes-Vlaandere is deel van België, maar die dorp Hamel (vroeër deel van Wes-Vlaandere) is sedert 1678 deel van Frankryk! (Hendrik Venter is waarskynlik weg uit Hamel voordat dit deel van Frankryk geword het, en om ook blou in die wapen te gebruik het, sou nie deug nie!)

2. Die wapenskild word verdeel in drie segmente, wat geskei word deur ‘n ‘onderstebo’ gaffel, of omgekeerde heraldiese “Y” (soos in UP se wapen) – dit is een van die moontlike verdelingswyses van die segmente van ‘n skild. Die segmente is soos volg, beginnend by die belangrikste daarvan:

              a. In die linkerkantste, boonste segment, op rooi, is daar ‘n silwer Hugenote-kruis, wat simbolies is van
                  een of meer van die volgende: (i) Ons stammoeder, Anna Viljoen (Anne Villion), en Hester Nel  
                  (Esther Niel), die vrou van ons stamvader se seun, Pieter, was albei Hugenote-dogters – die SA  
                  Venters het dus van die staanspoor af ‘Hugenote-bloed’ in hulle are gehad, as mens dit so kan stel.
                 (ii) Pieter sou in sy ouerhuis ‘n Hugenote-opvoeding gekry het vanweë sy moeder se afkoms. (iii) Die
                  Hugenote-kruis simboliseer ook die feit dat die SA Venters deur die afgelope meer as drie eeue  
                  grotendeels lidmate was van Calvinistiese kerke. (Die Hugenote was Calviniste). (iv) Die duif  
                  simboliseer die   werking van die Gees in ons – een van ons lede het juis ‘n beroep gedoen dat ons ‘n
                  heraldiese element moes vind wat ons mense se geloof en ons Christelike waardes sou simboliseer.  
                  [Ek kan aan niks beter dink nie as juis die Hugenote-kruis met sy duif om hieraan uitdrukking te gee -
                  hier dink mens aan die heilsweg, die via salutis, en ook aan Gal. 5:22, oor die vrugte van die Gees:  
                  liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, en
                  selfbeheersing]. (v) Die Hugenote-kruis is gemodelleer op die Maltese kruis, ook bekend as die kruis
                 van St. Johannes (“St. John’s”), en dit is beslis meer as toeval (en baie toepaslik) dat ons Bond die
                 naam dra van die Johannes Venter Familiebond.

            b. In die regterkantste, boonste segment, is daar ‘n ‘klimmende’ (“rampant”) goue leeu, op rooi, wat die  
                 eintlike betekenis van ons van simboliseer, te wete ‘krygsman te voet’, en ook die leeuemoed wat so ‘n
                 krygsman moet hê. [Navorsers van vroeër jare, soos wyle J.D.A. Krige en prof. G. Nienaber, het geglo
                 dat “Venter” afgelei is van ‘n ou Gotiese woord / ‘wortel’ fantr, wat herinner aan die woord ‘infanteris’
                 vir ‘voetsoldaat’]. Daarbenewens is ‘n leeuefiguur as heraldiese embleem simbolies van die stryd wat
                  gevoer word teen onheil in die lewe, en dit hou weer verband met wat in (a), hierbo, gesê is. [Daar is  
                 dus ‘n noue verband tussen die figure in die twee boonste segmente, maar dis vir my meer
                 bevredigend dat hulle deur ‘n vertikale balk geskei is, ánders as in die geval van Hameln se
                 stadswapen met sy meulkruis, wat deur ‘n brullende leeu ‘vasgehou’ word. Ons wou in elk geval ook
                 nie die stadswapen klakkeloos naboots in ons Bondswapen nie. Vir ons lê die Hugenote-kruis nader
                 aan die hart].

            c. In die onderste segment (die ‘skildvoet’) is daar (op swart) ‘n goue-en-silwer/wit protea, die nasionale
                 blom van Suid-Afrika. Dit simboliseer die feit dat ons juis SA Venters is, in teenstelling met bv. my  
                 Amerikaanse vriend en ons vangenoot, wat van resente Duitse afkoms is. Hy en sy familie is nie
                 geneties aan ons verwant nie – ek verwys hier na ons R1a1 haplotipe, en húlle R1b1b2 haplotipe, wat
                dit bevestig. Vir my suggereer die protea, wat ons nasionale blom is, dat die Venter-familie ook ‘n
                mooi en kosbare blom is in die tuin van Suid-Afrika – ons is hier om te bly, want ons is van Suid-
                Afrika, en ons wil ‘n positiewe bydrae tot hierdie land se toekoms lewer, tot eer van ons Ewige Koning.