Heuningdraer

Enkele uittreksels uit ons kwartaallikse gemeenteblad Die Heuningdraer.

SY BESKERMING... Gedig deur Essie

posted Aug 31, 2014, 5:34 AM by Nederduitse Gereformeerde Kerk Outeniqualand

Helder sterre-prag
Skitter-blink in die nag
God is op wag
tot die eerste strale van die dag.

OUNIQUA SE WEESKINDERS... Johann Richter

posted Aug 31, 2014, 5:31 AM by Nederduitse Gereformeerde Kerk Outeniqualand

Olifante het ’n besonderse wyse van kommunikasie met mekaar. So het Ouniqua die hulpkrete van die olifant weeskinders, of wit olifante soos mense hulle noem, in die huise van Outeniqualand gehoor. Na verskeie oproepe het die gemeente die weeskinders begin loslaat uit hulle motorhuise, stoorkamers en spaarkamers. Daar was groot opgewondenheid onder hulle met 'n slurp op 'n nuwe tuiste.

Op 5 Julie om 08:00 was die Wit Olifanttent vol mense wat die weeskinders in kartondose gepak en so bly was om hulle te kry. Hulle het nuwe huise gekry en daar het ’n nuwe lewe voorgelê!


Baie dankie aan die gemeentelede wat Olifant sensitief was. Daar is baie wat net nie sover gekom het om weeskinders vry te laat nie. Vir baie mense is dit ’n geleentheid om iets te bekom wat hulle normaalweg net nie sou kon bekostig het nie, vir ander sommer net ’n winskopie.

Ouniqua sal weer roep vorentoe, luister tog asseblief. Gee ’n olifantweeskindjie weer ’n nuwe lewe!

Outeniqualandgroete,
Ouniqua.

* * * * *

WAS OUTENIQUALANDERS VAN DESTYDS “COMMON”? WATWOU!!!... Alten Claassen

posted Aug 31, 2014, 5:24 AM by Nederduitse Gereformeerde Kerk Outeniqualand   [ updated Aug 31, 2014, 5:28 AM ]

Ek skryf oor die ± 14 jaar voor einde 1956, want daarna is ek hoërskool en skoolkoshuis toe - ‘n heel nuwe lewensondervinding.
Vandag se jongmense, en ook andere wat nie van beter weet nie, kan maklik, wanneer hulle ‘n Afrikaanse film, soos bv. “Faan se trein”, sien, dink dat die Afrikaner, ook van Outeniqualand van destyds, “common” was.
Ek het gedurende daardie einste “destyds” opgegroei en ek ag my dus beskore om hierdie wilde opinie in die kiem te probeer smoor. Ek kan ook nie juis verder praat as net Outeniqualand nie, want op daardie stadium was my wêreldjie maar baie klein.
Ja, teen vandag se standaarde was ons mense, of liewer ons mense se lewenstyl, maar baie eenvoudig, maar ons was beslis nie “common” nie. Inteendeel, ons was eerlike, opregte, christelike en eintlik trotse mense. En ons was nie trots omdat ons baie besittings gehad het nie, maar ons was mense van inbors.
Aan aardse besit was ons eintlik maar arm. Daar was wel ‘n klompie ryk mense en jy het wel so bietjie respek gehad vir ‘n ryke, maar man tot man was daar nie veel van ‘n klasseverskil nie.
Ons plattelanders was maar almal boermense. Die plasies was oor die algemeen bitter klein, want boerdery was redelik intensief en die werktuie baie primitief teen hedendaagse standaarde gemeet. Vandag se groter plase is maar eintlik ‘n samevoeging van ‘n klomp kleintjies. My pa het sy stukkie grond in ongeveer 1920 gekoop.
Ek het eendag vir hom gevra hoeveel hy betaal het.
Sy antwoord: “£2 ‘n morg”.
Ek: “Hoekom het Pa dan so min gekoop?”
Hy het my verergd aangekyk en gesê: “Omdat £2 dêm baie geld was”.
Wat het boerdery nou eintlik behels? Nie veel nie, maar ons mense moes hard werk om daardie “nie veel nie” te vermag. Onthou, hier was geen elektrisiteit nie en gevolglik ook geen besproeiing nie. Die ryk mense het Lister enjins gehad wat darem ligte kon laat brand - die kerk het ook later een aangeskaf. Die arm mense het kerse en lampe gehad. As jy destyds in die nag hier oor die bulte huiswaarts gekeer het, het jy hier en daar ‘n liggie sien skyn deur ‘n venster - verder was dit pikdonker. Vandag lyk dit al soos ‘n dorp.
Akademie was vir ons kinders belangrik. Ek dink dit is die dissipline wat deur ons ouers en onderwysers in ons gekweek was, wat gemaak het dat ons altyd ons beste wou lewer. Skoolwerk was dus ‘n prioriteit, maar huiswerk en leer is saans gedoen by kerslig. Terwyl dit nog dag was, moes eers al die huis- en werftake afgehandel word. Skoolrapporte moes altyd aan ons ouers voorgelê word, en wat was nou lekkerder as jy ‘n “mooi” rapport kon voorlê en jy sien ‘n vriendelike skynsel in jou ouers se oë. Ouers se aanprysing en aansporing was soos ‘n “sterretjie” op jou voorkop.
Higiëne en netheid was baie belangrik, veral vir my ma. Onthou, hier was geen elektrisiteit nie en dit het dus baie geverg om alles reg te hê.
Ons kinders het basies drie stelle klere gehad - kerkklere, skoolklere en plaasklere. Dit was inderdaad maar min, dalk net een stel van elk, en dit word met die tyd afgegradeer - kerkklere word skoolklere, skoolklere word plaasklere en plaasklere word lappe.
Gelapte broeke (gatlappe) was destyds algemeen, maar my ma sou my nooit skool toe gestuur het met ‘n gelapte broek nie - dit was plaasklere. Klere wat nie gekoop kon word nie want geld was skaars, is deur my ma op haar Singer naaimasjien aanmekaar geflans en gelap.
En dan moes jou klere altyd skoon wees. My ma het ‘n wasvrou gehad en alles is met die hand gewas daar onder by die kuil, en op die gras oopgegooi om te bleik en oor die bosse gehang om droog te word. Strykwerk was my ma en susters se taak - nie met ‘n lekker elektriese stoomyster nie, maar met ‘n swart strykyster wat op die houtstoof warm gemaak is en deeglik op ‘n lap afgevee moes word sodat dit nie die strykgoed swart smeer nie.
So, ja, teen vandag se standaarde was ons lewenstyl noodgedwonge bitter eenvoudig, maar ons was ordentlike mense - beslis nie “common” nie.

(Dankie Alten vir die perspektief op Outeniqualand van toeka. Hulle was inderdaad kultuurskeppers! ...RED.)

Lentegebed... Beatrix Smuts

posted Aug 31, 2014, 5:14 AM by Nederduitse Gereformeerde Kerk Outeniqualand   [ updated Aug 31, 2014, 5:17 AM ]

Liewe Heer, maak tog die lente wakker sodat elke kind, klein diertjie en ou mens weer kan kerjakker.

Dit was vir mens, dier en plant 'n haas onuithoudbare winter, en ons verlang reikhalsend na lentehitte en ontwaking, na groeilus en werklus.

Dankie Heer dat ons reeds die krieweling van die mooiste, mooiste maand in ons stram ledemate voel.


Ons weet dis deur U toedoen en genade.

Ons vra dat die somerson ons sal laat ontdooi tot goeie dade.

U naam ter eer.

Amen.

HEUNING VAN HERINNERING... Hester Vorster

posted Aug 31, 2014, 5:11 AM by Nederduitse Gereformeerde Kerk Outeniqualand

Die kombers...

Augustus 2013. My mooi sterk man, Barnie, verswak by die dag. Hy eet geen vaste kos meer nie en ek en my dogters, wat my kom bystaan, besef dat sy einde baie naby is. Dit was sy wens om by die huis te sterf. Vir ons wat na hom moet omsien, is dit natuurlik ’n hartseer en ook ’n frustrerende tyd. Die liggaam is broos maar die gees is so sterk soos altyd, onafhanklik, eiewillig, wil nog steeds dinge self doen, maar die liggaam wil nie saamspeel nie. Kommunikasie is veral ’n probleem as gevolg van sy gehoorprobleem. Ons skryf maar vir hom briefies, maar teen die einde is hy so swak dat hy nie meer kan praat nie. So dit is maar ’n kwessie van raai wat hy wil hê of nodig het. Joyce is ’n verpleegster en dit is wonderlik om haar hier te hê om ons by te staan.

Patricia bring verskeie bolle wol saam om ’n kombers te brei wat sy in ’n boek gesien het. Om ons besig te hou, besluit ons almal om ook blokkies te brei of te hekel. Ons sit vir Barnie ’n bed in die sitkamer, sodat ons almal by hom kan wees. Dit is laatmiddag die 13de. Ek sit langs die bed en hou sy hand vas - die TV is aan maar niemand kyk eintlik nie - die konsentrasie is maar sleg - die patrone loop skeef en deurmekaar. Joyce kyk op en sê: “Mamma, hy is weg." So het hy stilletjies weggeglip na die Here toe.


Soos die ander familielede bykom, begin van hulle ook blokkies maak. Net daar besluit ons dat almal, mans inkluis, blokkies moet maak vir die kombers – ’n herinneringskombers – ter nagedagtenis aan iemand wat vir ons lief was en vir wie ons lief was.


So is almal ingespan, en dié wat nog nooit ’n breipen of hekelnaald vasgehou het nie, word gou touwys gemaak! Dit maak nie saak as die blokkie so ’n bietjie skeef of krom is nie, of daar gaatjies is waar steke laat val is nie, elke blokkie is gebruik – ’n kleurvolle kombers waaronder twee of drie ouens op ’n koue wintersdag snoesig kan kuier.


’n Nagedagtenis, ’n onthou kombers! Nou nie een waarmee ons ’n prys kan wen nie, maar ’n kombers wat die geaardheid van die familie weerspieël. Die middelblok het twee harte – Barnie en ek. Dan is daar 6 knoppies wat die ses kinders simboliseer, twaalf knoppies vir elke kleinkind, en 4 vir die agterkleinkinders. Om die rand is drie rye knoppies vir dié wat in die familie ingekom het en wat nog gaan bykom. Dit weerspieël ook die verskillende karaktereienskappe van elke persoon. Soos die blokkies verskil, verskil die persoonlikhede: die meeste is stemmig, netjies op hulle plek, ander is sag en fyngevoelig, sommige is stewig en betroubaar, ander is kleurvol en uitspattig – en van hulle is vol knoppe en draadwerk – maar is almal tog stewig saamgebind deur ’n band van liefde en verdraagsaamheid wat ons uniek maak, net soos die kombers.


* * * * *

1-5 of 5