Erfenisprojek: Erfeniskaart vir Brackenfell

Post date: 09-Aug-2011 21:41:26

Kanonkop Voortrekkers wil Erfeniskaart van Brackenfell op Internet skep.

Die Kanonkop Voortrekkers, wat die gebied van Brackenfell reeds sedert 1976 bedien, wil ter viering van die Voortrekkers se tagtig-jare bestaan ‘n erfeniskaart van Brackenfell ontwikkel. Die doel van die projek is om belangstelling te kweek in die geskiedenis van die dorp en sy mense, om bestaande bronne oor die geskiedenis van die dorp uit te brei en meer toeganklik te maak, en om ‘n kaart te ontwikkel, heel moontlik op ‘n internet platform, waar hierdie informasie dan beskikbaar gestel kan word. Die Kanonkop Voortrekkers wil sodoende ‘n diens aan die jeug van Brackenfell en omgewing bied wat volgens personeel van die Brackenfell Biblioteek altyd op soek is na gesaghebbende bronne oor Brackenfell se mense en geskiedenis vir skoolprojekte.

Die geskiedenis van Brackenfell is hoofsaaklik in die goed-nagevorste “Brackenfell van Toeka tot Nou” deur Helena Volgraaf beskikbaar, wat elf jaar gelede net in Afrikaans uitgegee is. Die boek is ‘n wonderlike beginpunt vir so ‘n projek, maar ons wil met vriende in die gemeenskap saamwerk om die informasie wat daarin is uit te bou, en op die internet in Afrikaans en ander amptelike tale beskikbaar te maak. As mens byvoorbeeld Brackenfell op Wikipedia soek (www.wikipedia.com), is daar maar bitter min informasie van enige nut beskikbaar. Ons wil daardie situasie verander en die inwoners van Brackenfell help om te leer uit ons gemeenskaplike geskiedenis.

Enige voorstelle of hulp sal waardeer word. Ons tree tans in gesprek met moontlike vennote in die projek maar hoor graag van enige indiwidue asook ander kultuur, geloofs of gemeenskapsorganisasies, en privaat sektor leiers, wat bereid sal wees om betrokke te raak in die Brackenfell Erfeniskaart projek.

Lees meer hier.

Kontak ons by kanonkop.voortrekkers@gmail.com