Kennisgewingbord‎ > ‎

NATAL VOORTREKKERS

posted Sep 13, 2016, 7:32 AM by Jaco Erwee
BLOEDRIVIER 10/11 September 2016

Om ’n mylpaal te vier,  is vir enige gemeenskapsinstelling soos ’n skool, kerk of ‘n kultuurorganisasie soos Die Voortrekkers so noodsaaklik soos asemhaling. Mylpale gee ons die geleentheid om terug te kyk en dankie te sê vir mense wat voor ons spore getrap het. Mylpale is ook ’n geleentheid om vorentoe te kyk na nuwe horisonne wat wag om ontdek te word. Die belangrikste is egter dat mylpale vir Die Voortrekkers weer ’n kans gee om ons te herinner aan ons kultuurstorie. Die Voortrekkerstorie is ’n storie wat ons met trots vertel. Dit is ’n lekker storie om te vertel. Die Voortrekkerstorie is een van die Afrikaners se mooiste stories. Natal is deel van ons kosbare kultuurstorie. Om die waarheid te sê, Natal het ons Voortrekkerstorie help skryf. Ons sien vandag steeds Natal se skrywershand  in ons naam, ons getuienis, ons vlag en ons kampe.     

 

ONS NAAM

Die spore van die ou 1838-Voortrekkers is vandag steeds oral in Natal sigbaar en  definieer ons steeds. In 1913, toe die behoefte by CF Visser ontstaan het aan ’n eg Suid-Afrikaanse vereniging waarin die Afrikanerjeug tuis sou voel, skryf hy: “In ons geskiedenis is daar seker geen mooier naam as Voortrekkers nie, en daar is seker geen ander naam waarvan daar vir ons soveel besieling kan uitgaan nie.”

In die naam Voortrekkers,  lê eeue-oue kulturele krag, Afrikaneridentiteit en tradisies opgesluit. Die naam getuig van toekomshoop, dapperheid, wilskrag en visie. Die naam vertel van mense wat nie stagneer het, of hulself geïsoleer het nie, maar wat voortdurend nuwe moontlikhede ontgin het.

 

ONS GETUIENIS

Hier, op Bloedrivier, het die Voortrekkers beloof om in die nuwe land vir die Here ’n kerk te bou. Hulle wou nie net die evangelie uitdra nie, maar ook Christelike samelewingswaardes in hulle land  vestig. Dit is steeds ons roeping. Die Voortrekkers is ’n Christelike organisasie wat in die Drie-enige God glo en Hom wil dien. Die Bybel is die grondslag van ons kulturele dink- en doenwerk. As Voortrekkers wil ons niks anders wees as ’n lig wat vir Jesus skyn in ons land nie. Die fakkel in ons  Voortrekkerwapen is ’n simbool hiervan. Die Geloftekerk, wat Natal Voortrekkers se embleem is, is ook ’n getuienis hiervan.

 

ONS VLAG

As simbool van die band met die Voortrekkers van 1838 is daar reeds in 1919 voorgestel dat die vlag van Die Voortrekkerrepubliek Natalia die amptelike vlag van Die Voortrekkers moes wees. In die eerste Handleiding vir Leiers (1934) verduidelik Visser die betekenis van die Voortrekkervlag as volg:

“In die dae van die Groot Trek was hierdie vlag ’n sinnebeeld van die Voortrekkers se selfstandigheid en eie volksbestaan in ’n eie vaderland waarvoor baie van hulle hul bloed opgeoffer het. Vandag dien dieselfde vlag as die sinnebeeld van Die Voortrekkers se bestaan as ’n onafhanklike organisasie. Deur die vlag te aanvaar bring ons nie alleen hulde aan die dappere vryheidsliewende Voortrekkers wat die binneland van Suid-Afrika beskaaf en bewoonbaar gemaak het nie, maar ons gee daarmee te kenne dat ons wil stry en opruk teen alles wat sleg en onedel is. Ons wil alles wat goed en mooi is uit die lewe van die ou Voortrekkers aanneem, navolg en ons eie maak. Onder hierdie vlag wil ons so lewe dat ons werd is om kinders genoem te word van die heldhaftige baanbrekers ...”

Met die formele stigting van Die Voortrekkers het Mabel Jansen eiehandig die Voortrekkervlag vir die stigtingsgeleentheid gemaak. Generaal Hertzog het op 30 September 1931 hierdie vlag aan Die Voortrekkers oorhandig. Die vlag hang vandag steeds in die hoofkantoor van Die Voortrekkers.

Mabel Jansen, wat ook die eerste Adjunkhoofleier van Die Voortrekkers was, is in 1931 verkies as die provinsieleidster van Natal.

 

ONS KAMPE

Voortrekkers kamp graag. Daar is letterlik honderde spankampe, kommandokampe, oordkampe en gebiedskampe wat jaarliks plaasvind. Wat baie vergeet, is dat ons eerste amptelike kampspore in Natal getrap is.

Die Voortrekkers in Natal het in 1933 ’n eerste amptelike Voortrekkerkamp in Amanzimtoti aangebied. Later jare het Japie Heese die kamp as volg onthou: “Soos feitelik elke Voortrekkerkamp daarna is die eerste kamp gekenmerk deur die vrolike herinnering van sang en kampvuur, van braaivleis en mieliepap, van reën en sonskyn, van vryheid en frisheid wat uit see, bos en dal gekom het om oor ons kamp te swewe.”

Die eerste Hoofleier, dr. NJ van der Merwe, was die kampleier. Sy kampreëls was eenvoudig:

·         “Voortrekkeroffisiere moes deskundiges in die kuns van uitkamp word.

·         Dissipline moes streng gehandhaaf word, sonder om die gesellige gees van Voortrekkerwees te demp.

·         Ongerief van die buitelewe moes deur voorsorg en planmaak oorwin word.

·         Die egte Voortrekkergees is om die naaste te dien en daarom moet daar ’n gees van dienende liefde wees.

Die eerste kamp in Natal het die grondslag geword vir alle Voortrekkerkampe.

 

TEN SLOTTE

Die Voortrekkers in Natal was nooit groot in getalle nie. Op die hoogtepunt van Die Voortrekkers in Natal se geskiedenis was daar  15 Voortrekkerkommando’s  met net oor ’n 1000 geregistreerde lede. Daar is by Die Voortrekkers geen verwagting dat Natal ooit ’n massagetal Voortrekkers sal hê nie.

Natal is vir Die Voortrekkers belangrik, nie oor getalle nie, maar oor die diep Voortrekker- en kultuurspore wat hier getrap is. Natal se Voortrekkerstorie het ons karakter en kultuur gevorm. Natal  is deel van wie ons vandag is. Dit is spore wat ons met dankbaarheid erken, bevestig en wil koester. Die Voortrekkers in Natal kan ons help om die Voortrekkerspore te herontdek, te bewaar en vir ons kinders te ontsluit.

·        Dankie aan elke ouer, onderwyser, volwasse lid wat hand opsteek om te help om die nuwe Voortrekkerstorie in Natal te help skryf .

·     Dankie aan Die Vrystaatse Voortrekkers vir julle dienswerk om nuwe Voortrekkerkommando’s in Natal te vestig. Daar is ure se opoffering, harde werk in Natal ingespit. Dikwels ongesiens. Julle dienswerk is ’n bevestiging van die Voortrekkergees van dienende liefde.

·       Baie geluk met die inlywing van 57 nuwe Penkoppe, Drawwertjies, Verkenners, Heemrade en Voortrekkeroffisiere. Julle maak ons trots.

·       Baie geluk aan die nuwe leierskap in Natal. Julle het ’n groot kultuurverantwoordelikheid. Julle het die volle ondersteuning van die Hoofbestuur en elke Voortrekker in Suid-Afrika en Namibië.  

Die naweek van 10 en 11 September op Bloedrivier is ’n historiese en onvergeetlike gebeurtenis in ons Voortrekkerstorie. Natal se Voortrekkerspore inspireer nie net Die Voortrekkers nie, maar baie Afrikaners,  met toekomshoop.  

 

Danie Langner

Hoofleier

Comments